191. Wonderboom van God in aksie.

[Nuwejaar 2019]

Die ritme van die natuur en die sekerheid van die seisoene is altyd vir my ‘n bron van inspirasie.  Daar is soveel in wat ons beleef op ‘n daaglikse basis wat ons aanspoor om elke woord van die Woord van God te glo.  Ek het al soveel maal Genesis 8:22 aangehaal ek is seker elke Bodemklipvriend ken dit al “van buite” soos die ou mense gesê het.  Die taal het ‘n ritme net soos die betekenis van die woorde.

“So lank as die aarde bly bestaan,

sal saaityd en oestyd nie ophou nie,

ook nie koue en hitte,

somer en winter,

dag en nag nie.”

Elke mens wat in die kille greep van winter vasgevang is, weet verseker een of ander tyd draai die seisoen en is daar verligting.  Soveel sielkundiges en beraders vind ‘n simboliese gelykenis van ‘n lewe in die seisoene van die jaar.

Ons lewe is nie konstant nie en dit is soms moeilik om die tekens van lente in die winter te sien, maar dit is ALTYD daar. Dit vereis ‘n naby kyk om te sien dat die botseltjie van elke blaartjie in die koudste en donkerste dae van die winter gereed sit om, ongesiens deur meeste, te ontvou en die draai van nog ‘n seisoen te aktiveer.  Ons ken mos die tekens van lente.  Die bome kry eers net so ‘n groen skynsel – ‘n ligte groen, ‘n nuwe groen. Daarna word dit ‘n dieper en duideliker kleur.

Gewoonlik met die draai van die kalenderjaar sit hierdie mensgemaakte telling van tyd en seisoen ons in die middel van winter in die noordelike halfrond en somer in die suidelike halfrond.  Die eerste dag van ‘n nuwe jaar is òf baie koud òf baie warm en dis moeilik om die draai van die seisoen te visualiseer.  Dit is presies soos ons verbeeldingsoefening van geloof, wat met hoop en ‘n vaste vertroue die bewys word van dit wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1)

Die visuele en atmosferiese ervaring van ‘n seisoen terwyl die teenoorgestelde werklikheid is, is ‘n uitdaging. Soms is dit presies wat die Here van ons verwag.

Die goue draad van simboliese leerervarings is een van die kosbaarhede van die Woord.  Ons weet daar was drie elemente in die Verbondsark wat in die Allerheiligste in die Tabernakel gestaan het.  Dit was goue bak met manna wat nooit vrot geword het nie, die kliptafels waarop die wet neergeskryf is en die staf van Aäron wat in een dag gebot, gebloei en vrug gedra het.

Ons het nou net die seisoene bespreek. In die winter is die botsel gereed, maar dis baie maande voordat die blaartjie uitstoot en dan neem dit minstens nog ‘n paar weke voordat die vrug vorm.   Dis eers  ‘n paar weke daarna dat die vrug reg is vir die oes.

Aäron se staf was ‘n droeë stuk hout.  ‘n Staf was ‘n wandelstok, ‘n instrument om skape aan te keer en dalk ‘n skaap se poot te haak wat oor ‘n afgrond wil stort of wegdwaal.  Dit was ‘n bekende en geliefde bykomstigheid vir enige man in daardie tyd.  Dink maar aan Dawid in Psalm 23 wat skryf dat God se stok en staf hom vertroos.  Jesus beskryf homself as die goeie Herder, een van die sewe EK IS-stellings in Johannes se Evangelie.

Hierdie dooie stuk hout kry goddellike lewe en stoot oornag ‘n vrug uit.  Die vrugdraende “kierie” soos die NAB (Nuwe Afrikaanse Bybel) dit noem, is ‘n teken vir die Israeliete van God se keuse oor die stam van Levi as die priesters vir die volk.

Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra.  (Numeri 17:8)

Baie eeue later lees ons van die amandeltak in Jeremia 1.  Die skrif was vir my ‘n lewenslyn in ‘n baie donker tyd.  Dit was God se bemoediging aan my dat Hy nie my gebede of Sy beloftes aan my vergeet het nie.

Die woord van die Here het tot my gekom: Wat sien jy, Jeremia? Ek het geantwoord: “Ek sien ‘n amandeltak.”

Die Here het geantwoord: Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.

Die Hebreeuse woord vir “amandeltak” herinner aan die woord vir “gereed staan”.

Die volle impak van die kragtige simboliek van die amandeltak is nog meer duidelik in die Amplified vertaling.

Moreover, the word of the Lord came to me, saying, Jeremiah, what do you see?

And I said, I see a branch or shoot of an almond tree [the emblem of alertness and activity, blossoming in late winter].

 Then said the Lord to me, You have seen well, for I am alert and active, watching over My word to perform it.

Die amandelbloeisel bloei eerste, reeds in laat winter.  Dit kondig die lente aan.  Dit is net soos toe God in die tyd van Daniël die ballingskap met ‘n paar jaar verkort het. Hy sny die winter kort.  Die simbool van God in aksie – gereed om Sy beloftes te vervul en aan jou waar te maak – is die eerste bloeisel van die seisoen, wanneer niks anders soos lente lyk nie.

Hoe gaan jy 2019 binne?  Dit is menslik onmoontlik om die toekoms te ken. Ons antwoord vir die onsekerheid in die toekoms is HOOP.  Dit is die vaste vertroue om in geloof God se aksie te verwag en die bewys daarvan in die amandelbloeisel te ervaar wanneer niks lyk asof dit gaan uitwerk.

Hoe weet jy dat God vir jou sal optree? Dit is die kern van God se belofte van die vroegste tye af.

Lees en HOOR die gedruis van oorvloed.

Die HERE het sy heilige arm ontblootvoor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God. (Jesaja 52:10, OAB)

Om jou arm te ontbloot, beteken om jou moue op te rol.  Dit dui aan dat jy gereed maak om te werk.  God sit gereed om in te gryp in jou lewe en 2019 as die genadejaar van sy groot werk in jou lewe aan te kondig.

’n PSALM. Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp.

Die Here het sy oorwinning bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.

Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig; die hele wêreld het gesien dat ons God die oorwinning behaal het. (Psalms 98:1-3, OAB en NAB)

In hierdie eerste dae van 2019 bevestig die Here sy liefde en trou aan ons.  Dit is werklik iets om oor te dans.

Kom ons gaan die Nuwejaar in op ‘n huppelstap van vreugde oor die uitkoms en voorsiening van 2019.

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s