“There comes a moment when people who have been dabbling in religion (man’s search for God) suddenly draw back. Supposing we really found Him? We never meant it to come to that! Worse still, supposing He had found us?” C.S. Lewis, Miracles.
Die oomblik dat jy weet, God sien jou. Hy is nie meer die ver konsep van ‘n verwyderde godheid wat dalk sy kop draai en sy alomsiende blik op jou sou vestig nie. In ‘n oomblik besef jy Hy het jou vrees gesien, Hy het jou gebed geantwoord; dit wat jy uitgeroep het, het reaksie ontlok. Daardie oomblik sien jy sy arm beweeg… in jou guns.
Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God. (Jesaja 52:10, OAB)
Kyk, die Here HERE sal kom as ’n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.(Jesaja 40:10, OAB)
Die ou vertaling se pragtige woorde maak dit so duidelik. Ek sien die beeld van moue oprol vir werk. Dit is amper asof die ou profeet God in aksie sien. Sy almag en goedheid vloei in sy arm om uit te strek en jou aan te raak.
So het Moses God se regterhand besing en aangedui dat God se krag in sy aanraking na ons deurvloei.
o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand. (Exodus 15:5, OAB)
Die Psalmis sing oor God se hand en arm.
’n PSALM. Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp. (Psalms 98:1,OAB)
Eeue later in die magtige ontmoeting van Maria, die ma van Jesus, met die engel wat vir haar die boodskap oor haar swangerskap bring, sing sy dit in haar loflied
Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen…(Lukas 1:51)
Dit is alles goed en wel dat die wonderdade van God so in die Bybel beskryf word, maar wat van vandag? Ons leef in die vrees van die dag. Ons stry teen siekte en vernietiging. Ons probeer die beste maak van die wêreld wat aan ons gegee is, met die vaardighede waarmee die lewe ons toerus. Ons kyk na dit wat om ons aangaan en twyfel maklik of wonderdade nog bestaan.
Die post-moderne gesanik saai skeptisisme oor die basiese kinderlike geloof waarmee ons grootgeword het, as ons so gelukkig was dat geloof in ons ouerhuis geleer is. Meeste kinders vandag word goddeloos en godloos opgevoed. Waar is daar buitengewone hulp beskikbaar? Is daar nog iets soos ‘n wonderwerk?
Die enigste manier om die God van wonderwerke te ontmoet, is deur homself – die Seun wat Hy gestuur het om homself aan die mensdom te openbaar. Waarvoor is Jesus bo alles bekend? In ‘n post-moderne samelewing met die geraas van die Nuwe Ateïsme om ons, is die wonderwerke van Jesus die eerste ding wat spottend en smalend aangeval word. Water in wyn – regtig? ‘n Maagd wat swanger word – ons weet tog waar babas vandaan kom!
Christene steier en dink onmiddellik dat hulle nie bonatuurlike kan verduidelik nie. Die teenkant is kwansuis die wetenskap. Gewoonlik is ons nie geskool in die probleme wat die wetenskap nie kan verduidelik nie. Geen mens kan verduidelik wat energie is nie, so ook nie wat bewussyn is nie. Dit is wel beskryfbaar, maar nie verduidelikbaar nie. Daar is ‘n verskil. Alle wetenskaplikes sal erken dat energie en bewussyn wel bestaan, hoewel dit nie verduidelik kan word nie. Dus moet hulle erken dat hulle die bestaan en funksionering daarvan aanvaar, sonder om dit te verstaan. Waarom moet ek verduidelik hoe Jesus God en Mens was?
Dit is noodsaaklik om die normale en natuurlike verloop van sake te erken, voordat mens ‘n wonderwerk kan waardeer. Dink vir ‘n oomblik: as dooie mense gereeld lewe of vyfduisend dakloses op ‘n gereelde basis teen ‘n berg gaan sit en uit een piekniekmandjie gevoer word, is dit nie meer ongewoon nie.
‘n Wonderwerk is God se bonatuurlike – bo die wette van die natuur wat daagliks om ons geld en uitspeel – en buitengewone aksie in my spesifieke geval. Dit is dikwels in my binneste, wanneer my vrees, woede en diep gedagtewêreld deur die inwerking van die Heilige Gees verander. God, rol sy moue om in my omstandighede dinge bonatuurlik te verander sodat sy ingrype verligting en genesing bring.
Omstandighede is die energieveld vir wonderwerke. Hoe sal ons weet wat ‘n wonderwerk is as ons nooit een nodig het nie? Daar in die hoek van paniek en moedverloor, strek God sy arm uit en rig ons op.
En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ’n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou. (Deuteronomium 5:15, OAB)
Die mees kritieke aspekte van ‘n wonderwerk is om dit te sien, te erken en te onthou. Wonderwerke word in ons gedagtes geoordeel en gekategoriseer. Daar is kleintjies en grotes. Dit is belangrik om ALMAL te sien en die Here daarvoor te prys. Die insig om God se werk in ons lewe te sien, is ‘n kosbare Heilige Gees gawe.
Wonderwerke en die getuienis wat daaruit voortvloei is die goud wat deur vuur gelouter is van die Koopman in Openbaring. (3:18)
Die Psalmis waarsku teen ‘n ligtelike omgang met wonderwerke.
Ons voorvaders het in Egipte nie ag geslaan op u magtige dade nie, hulle het nie gedink aan al u dade van trou nie, hulle het teen U in verset gekom by die Rietsee. (Psalms 106:7)
Selfs die dissipels het die wonderwerke nie genoeg geag nie
For they failed to consider or understand [the teaching and meaning of the miracle of] the loaves; [in fact] their hearts had grown callous [had become dull and had lost the power of understanding].(Mark 6:52, AMPC)
Sterk woorde! Laat ons die wonder-arm van God se ingrype hoog ag en ophef tot die bodemklip op die altaar van ons lewe (die walle van die Jordaan – Joshua 4), sodat ons nooit ooit die belediging van verstandeloosheid en verharde harte uit Jesus se mond hoor.