154. Die Enigste Een, Alles in Een.

[Johannes 5]

Deesdae is ‘n pakket so gewild. Iemand ander dink lank en skep ‘n kombinasie om in ‘n paar behoeftes te voorsien of ‘n paar luukshede saam te verskaf en verkoop dit in ‘n mandjie of ‘n pakkie. In ‘n kitskos ry is daar verskeie kombinasie om van te kies, sodat dit vir jou minder moeite is om oor die bykosse en drinkgoed te dink. ‘n Verskeidenheid lekkerte in ‘n mooi verpakking en selofaan omhulling is ‘n gemaklike geskenk vir uitgerekte genot.

Hier in Johannes 5 lees ons vir die eerste keer een van die langer diskussies wat die vierde Evangelie kenmerk. Johannes skryf sy interpretasie van Jesus se woorde in die drie jaar van Sy bediening met meer as ‘n halwe eeu se Heilige Gees inspirasie en insig. Hy beklemtoon Jesus as die ware Messias, die beloofde Een wat sou kom, die Lam van God, die Lig van die wêreld en elke ander titel wat in die gedagtes van die Jode sowel as die Grieke kon wees.

Die gedeelte (5:19-47) is volgepak met goeie dinge wat die superieure lewe van Jesus as die antwoord vir elke moontlike vraag van die mens verduidelik. Hy is die Alles in Een – die enigste pakket wat jy ooit mag nodig kry.

SEUN VAN DIE MENS

Vir die Jode het hierdie titel wat Jesus homself gee, herinner aan die woorde van Daniël (7:1-14). DIE Seun van die mens – nie ‘n seun van ‘n mens nie.

Die visioene van Daniël was alles oor wrede, oorheersende wêreldryke: die leeu met arendvlerke was Babilon, die beer met die ribbebene was die Mede, die luiperd met vier vlerke en vier koppe was Persië en die ergste gedierte wat nie eers ‘n naam kry nie met ystertande was die Macedoniërs (Grieke) onder Alexander die Grote. Alles sal verbygaan en die bloedige verdrukking van die despote sal alles met ‘n sagte mens vervang word.

Jesus het die ganse mensdom tot sy oorspronklike skeppingsdoel teruggebring.

Tussen die twee testamente het ‘n literatuur ontstaan wat die goue eeu van die Messias belowe. Die Jode het die Messias die Seun van die Mens genoem en dit is die titel wat Jesus vir Homself gee. Hy verklaar in geen onduidelike terme dat Hy die EEN is wat hulle verwag.

  • Hy doen wonderwerke van genesing (Jesaja 35:6 en Jeremia 31:8-9).

 

  • Hy wek die dode op. Slegs God het mag oor lewe en dood. (Deuteronomium 32:39; 1:17, 1 Samuel 2:6, 2 Konings 5:6)

 

  • Finale oordeel is in die hande van die Messias.

 

Dit het buitengewone moed en durf gekos om hierdie woorde in die publiek te verkondig. Hy het geweet om so te praat was ‘n doodsvonnis in die hande van die Ortodokse leiers. Die mense wat die woorde hoor en Sy wondewerke sien het slegs twee alternatiewe gehad – om Hom te aanvaar as die Beloofde Een of Hom te haat as ‘n ketter.

Jesus was net aan Sy vader gehoorsaam uit liefde vir Hom, net soos ons gehoorsaamheid aan Hom uit liefde moet kom en nooit uit dwang of kerkreëls nie.

Jesus was baie gemaklik met Sy identiteit teen al die mag van die Joodse ortodokse leiers. Hy was vreesloos. Hy het goed geweet dat Sy woorde misverstaan word en Sy lewe in gevaar stel.

Vir Hom was Sy missie van oneindige groter belang as die goedkeuring van mense.

God is die bron van lewe. Dit is nie moontlik om ten volle te leef sonder die Here nie. Jesus maak dit moontlik – ‘n goddellike lewe in hierdie wêreld sowel as na die fisiese dood. In Jesus het ons ALLES vir alle tye.

OORDEEL

 God oordeel. Jesus se koms is ‘n oordeel opsigself. In Hom is oordeel oor sonde opgelos. Om Jesus te aanvaar is lewe en die enigste pad na vrede en vreugde. Jesus oordeel volgens die perfekte wil van Sy vader (5:30).

Ek het altyd oordeel gevrees. Ek het nie besef hoe ek kan ontspan in die goeie nuus van die Evangelie as daar oordeel ter sprake is nie. My eie sonde en my besef van onwaardigheid het my laat bekommer oor ‘n God wat oordeel.

God het my vrese aangespreek en aan my openbaar hoe die wêreld oordeel nodig het. Ons kan nooit boosheid en sonde konfronteer sonder oordeel nie. Ons moet presies weet wat reg en verkeerd is – dis oordeel God se oordeel is die oplossing van die probleem, Dit maak dit beter, nie slegter nie.

Ons kan nooit regverdig oordeel nie. Ons is in stryd met ons eie trots, vooroordeel, jaloesie, onverdraagsaamheid, afkeur, onkunde en ons eie status en ego. Hofprosedures genereer derduisende bladsye gesprek om by ‘n regverdige en juiste oordeel uit te kom.

God alleen is volmaak. Hy weet alles en oordeel uit perfekte liefde, terwyl Hy op die troon van genade sit.

Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Mercy triumphs over judgment. (James 2:13)

Die getuie van een persoon is onaanvaarbaar (Deuteronomium 17:6; 19:15; 2 Korintiërs 13:1). ‘n Persoon kan sy eie saak stel nie. Dit is sy woord teen ‘n ander. Ons is in die bevoorregte posisie om Jesus as advokaat in die hemel te hê. Hy is die Seun van die Mens en hy het die mag om te oordeel by Sy vader gekry (5:26).

GEESTELIKE DOOD

Jesus is in sy lyding vereer en Hy het daarmee die pad oopgemaak vir eer in ons lyding. Dit maak nie saak wat die lewe ons kant toe gooi nie, ons kan in Sy lyding enige vernedering in ‘n triomf omskakel. Ons het sekerheid dat geen dood of lewe ons sal vernietig en ons nikswerd maak nie. Dit is so duidelik in die geskiedenis van die eerste kerk wat so vervolg is. Nooit het hulle Jesus se opstandingsoorwinning betwyfel nie.

Jeus is die lewe en Hy is dit vir ons nou dadelik. Sonder Hom is ons dood al lewe ons nog. Dooie mense het dooie werke en dooie gedagtes. Die kern van die evangelie is redding van ‘n lewende dood.

Die lewe wat God belowe is nuwe verhoudings met:

  • God – vrees word liefde en afstand word intimiteit;
  • mense om ons – haat word liefde, selfsug word diens, bitterheid word vergifnis;
  • self – swakheid word krag, frustrasie word sukses, spanning word vrede

Om geestelik dood te wees is om op te gee om goed te doen. Die lewe is ‘n progressie en as ons stil staan glip ons terug. Moedeloosheid laat mens terugval. Geestelike dood maak mens gevoelloos, onsensiteif, gemaklik met boosheid en leuens sonder simpatie en liefde. ‘n Stomp gewete is ‘n seker teken van geestelike verval. (Die beste beskrywing van so ‘n toestand is in Efesiërs 4:17-10.)

Ons lewe en besluite hier op aarde bepaal ons ewigheid. Ons nuwe lewe begin nou – in Jesus (5:24,25)

Jesus praat van ‘n ander getuie en bedoel God die Vader (5:31-40).

Hy noem ook Johannes die Doper wat van Hom getuig het.

‘n Lamp wat skyn word aangesteek. ‘n Lamp kan nie self die aansteekwerk doen nie. Dit is in werklikheid “geleende” lig. Die lig kom uit ‘n ander bron – vuur of elektrisiteit.

Johannes die Doper se boodskap was ‘n gids tot belydenis. ‘n Lig is slegs tydelik totdat die bron afgesny word. Johannes het sy lewensdoel bereik. Hy is gebore om te getuig.

‘n Nader getuie tot Jesus is Sy werke. Toe Johannes die Doper uit die tronk vra of hy werklik die Messias is, het Jesus laat weet dat Sy werke van hom getuig. God is die uiteindelike getuie.

Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie.

(1 Johannes 5:10)

Die Jode het geglo God is onsigbaar en niemand kan God sien nie, nie eers Moses nie (Deuternonomium 4:12). Hulle het geglo God is ‘n oortuiging in die mens se gemoed en Jesus spreek dit aan in hierdie gedeelte. Dit is God self wat in ons hart werk aangaande Jesus.

DIE WOORD

Die Woord van God was vir die Jode alles. Jesus was duidelik in die Ou Testament. Hulle was die beste skrifgeleerdes in die ganse wêreld – hoe kon hulle Jesus nie herken nie?

Die woord vir Skrif wat hier gebruik word is graphe en dit beteken outobiografie. God skryf die Bybel as ‘n outobiografie deur die hande van gees-geïnspireerde mense. Dit is die ewige stem van God om Sy karakter aan ons te openbaar.

Hoe lees ons die Bybel? Om ‘n argument te voer of om God te ken? Die Bybel is ‘n verslag van God in aksie. Dit is nie net heilige woorde nie, dit is heilige stories van ‘n heiige God.

Daar is net een manier om die Bybel te lees en dit is om Jesus in elke hoofstuk te sien. Hy is die hoogste openbaring ooit. Die Jode het God se woorde aanbid en nie Sy werke nie. Dit is nie die woorde wat lewe gee nie, dit is die EEN wat die woorde spreek wat die lewe gee.

Die doel van Jesus se woorde is dat elkeen gered word. Dit is vir ons, nie vir Homself, dat Hy praat. Hy sê: Ek het jou lief en Ek wil jou red.

Voor en na Jesus se tyd op aarde was daar oor eeue talle mense wat aanspraak gemaak het op die titel Messias. Hoekom sou hulle eers al hierdie mense oorweeg het? ‘n Seker teken van ‘n vals profeet is dat sy boodskap die mense gerusstel en volgens hulle begeertes belyn is. Vals profete is ingestel op aardse mag en voorspoed. Jesus het gekom met die Kruis, gesterf en leef in alle ewigheid. Die vals Messiasse is almal dood en vergete.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het geleef in die bewondering van mense. Almal kon hulle herken aan die manier wat hulle aangetrek en opgetree het. Hulle het gehou van die respek wat hulle kon afdwing. Hulle hele lewe is gewy aan God, Sy wet en Woord en tog kon hulle Jesus nie herken nie. Hoekom?

As enige mens homself aan sy medemens meet, sal hy God se stem nie hoor nie.

Jesus wys daarop dat Moses oor Hom skryf (5:46). As ons die Bybel lees, sien ons Jesus in elke hoofstuk, selfs so lank terug soos die begin van alles. Jesus verwyt die mense en sê dat selfs Moses hulle sou oordeel omdat hulle Hom nie herken nie. Hulle het soveel waarde aan Moses geheg, maar herken nie die Een van wie hy skryf nie.

Die grootste voorreg van die Jode het hulle grootste oordeel geword. Al hulle kennis het hulle niks gehelp nie.

Nou het ons die kennis. Ons het die verantwoordelikheid om aksie te neem op grond van ons kennis van Jesus.

 

Liewe Bodemklipvriende,

Ek gaan vir die volgende maand reis en sal eers na middel-Februarie terug op my pos wees. Ek weet altyd ‘n ruskansie bring nuwe inspirasie.

Mag die Here julle almal ryklik seën terwyl julle dieper en dieper in Sy Woord indelf. Hy is altyd aktief betrokke by almal wat Sy woord met ‘n afhanklike hart lees.

Maleagi 3:16-18.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s