[Johannes 6]
Ons hou tog so van die suksesstories. Mense wat uit niks iets word. Fabelagtige rykdom, bekendheid, invloedryke besighede, koninklike feëprinses lewens en asemrowende skoonheid dwing bewondering en verering af, soms met eerlike blydskap, soms met jaloesie daarby. Ons meet mekaar aan sukses en droomlewens wat met drif en determinasie nagejaag word. Ambisie om die toppunt van jou keuse te bereik is reg. Min sal ons bereik sonder dit. Die wêreld is soveel beter af met mense wat die beste wil doen en die hoogste sport wil bereik.
Dis tog goed om te besef dat berekende innerlike krag die enigste manier is om ‘n suksesvolle lewe suksesvol te leef. Mens kan dit dalk so uitdruk: welslae vir ‘n lewe van sukes.
Vroeg in Jesus se bediening was Hy bekend. Mense het oor Hom gepraat. Populêre opinine kom met oordeel en Hy was bewus van die omstredenheid van Sy bediening. In Sy eie woorde:
Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (Matteus 10:34)
Net soos Hy die fel kritiek en die bewondering van mense moes verdra en hanteer, so is aardse beroemdheid vandag. Soeke na bekendheid is in sekere beroepe die seker teken van sukses. ‘n Naam op die lippe van die massas vereis sekere opofferings en die besef dat nie net die goeie, maar ook die mislukking en swak besluite die media se regbankhammer nie ontsnap nie.
As die lewe ‘n moeilike draai maak, is die nie aangenaam om die koue, hatige interpretasie in die publike domein te hanteer nie. Soms is daar jaloesie en ‘n goeie maat “schadenfreude” (vreugde oor die ongeluk van ander mense) by die woorde ingemeng wat diep kan verwond. Media aandag was al dikwels ‘n uitdaging aan kernwaardes. ‘n Lewe van roem kan net suksesvol wees met ‘n diep afhanklikheid aan die wysheid van God vir krag en leiding deur die brutaliteit van publieke opinie.
Wat van ons? Ons is die man in die straat met die klip in die hand. Ons voel vry om met woorde te stenig en die skandale van bekendes met die veiligheid van anonimiteit te dissekteer. In ‘n lewe van goddellike uitnemendheid is daar geen plek vir skinder nie. Ban dit uit jou woorde en laat jou woorde bou en nie afbreek nie. Onthou Lukas 6:31:
Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.
As ons skinder, sal ons ook beskinder word. Ek glo daar is ‘n leuengees in elke brokkie skindernuus. Net my houding of stemtoon kan ‘n storie draai. As ons nie versigtig voor God ons woorde weeg nie, is ons tong ‘n instrument van geweld met bloedige gevolge.
In hierdie eerste verse van Johannes 6 vind ons Jesus by die See van Galilea met ‘n menigte wat Hom volg. Hy trek terug van die mense met net Sy dissipels by Hom. Jesus het altyd tyd gemaak vir diep gesprekke met Sy dissipels. Jesus het tyd gemaak vir gebed. Hy het bewustelik argumente vermy. Alleentyd is nie ‘n teken van nederlaag nie. Dit is die essensie van ‘n suksesvolle publieke lewe. Tyd saam met God is die sekerheid van wyse denke en ‘n suksesvolle lewe.
Van Kapernaum tot by die ander kant van die See van Galilea was ongeveer ses kilometer. Die mense het Jesus gevolg. Hulle was verstom oor Sy leer en het meer daarvan begeer. Hulle het op land gevolg. Naby die dorpie Betsaida was ‘n plein met korter gras. Dit was die ligging vir ‘n wonderwerk.
Die skare het gaan sit, sekerlik meer as normaalweg. Met die Paasfees naby was duisende mense op reis. Pelgrims oppad na Jerusalem moes hier verby op hulle roete om Samaria te vermy.
Die mense het Jesus se simpatie geroer. Hulle was honger en moeg. Filippus was oorspronklik van Betsaida, so dit was logies om hom te vra (Johannes 1:44). Dit sou meer as 200 denarii kos om die skare te voed. Ongeveer vier pennies het een denarius gemaak en dit was die gemiddelde dagloon van ‘n arbeider. Een maaltyd vir die skare sou meer as ses maande se arbeidsloon kos.
Andreas het die seun met die vyf gortbroodjies en twee vissies gevind en na Jesus toe gebring. Andreas het altyd mense na Jesus gebring. Gort was die goedkoopste van alle broodsoorte. Dit was eintlik net kos vir armes en diere. Die vissies was heel moontlik die grootte van sardiens. Gepekelde vis was stapelvoedsel daar om die meer. Vars vis was ‘n luukse. Vis moes preserveer word om te hou en is gewoonlik gedroog en gesout.
Die mense het gesit en Jesus het die voedsel geseën. Hy het opgetree soos die vader van die huis en ‘n dankgebed gebid. Hy het God as die Bron van die voorsiening erken.
Neem ‘n oomblik en dink aan jou tafelgebed. Toe Jesus die brood neem by die laaste ete saam met Sy dissipels het Hy gesê: Onthou my. (Gebruik dit tot my gedagtenis). Dit geld nie net vir Nagmaal (wat in elk geval heelwat later deur Paulus ingestel is) nie. Dit geld vir ELKE maaltyd wat ons eet. Onthou Jesus. Onthou God as ons voorsiener.
Bid ‘n unieke dankgebed by elke maatlyd waarin jy die Here loof en nie een van Sy weldade vergeet nie (Psalm 103:3). Moenie verval in ‘n rympie om die ritueel verby te kry nie.
[Moet ook nie so lank bid soos my Oupa sodat my Ouma aan die tafel op haar arms aan die slaap geraak het nie. Siestog, sy het sekerlik ‘n besige dag gehad. Hulle het haar jare lank daaroor gespot.]
Die mense het die voedsel uit die hande van die dissipels ontvang. Die dissipels was ‘n interessante groep uit ‘n verskeidenheid agtergronde. Hulle het die brood volgens elkeen se unieke persoonlikheid uitgedeel. Hulle verteenwoordig die groot verskeidenheid bedienings in die kerk vandag. Ons bedien volgens kultuur en persoonlikheid soos die omstandighede vereis.
Die belangrikste hiervan is dat die brood deur Jesus gebreek is, Jesus se stempel van goedkeuring dra en deur Hom geseën is.
Almal het geëet, almal het genoeg gehad. Die woord wat hier gebruik word beteken heeltemal genoeg, volledig.
Die oorskiet is opgetel in bottelvormige mandjies waarsonder geen Jood sy huis verlaat het nie. Dit was ook gewoonte om altyd iets vir die bediendes te los. Oorskiet spreek van oorvloed.
Pelgrims en arbeiders het gewoonlik kos byderhand gehad. Dit is baie moontlik dat elke persoon daardie dag kos by hom gedra het. Mense is selfsugtig en menslik. Gedurende ‘n reis sou die kos noukeurig slegs vir eie gebruik oor ‘n paar dae beplan word. Dit sou waagmoed kos om padkos te deel, met geen oorweging vir die dae wat volg. Vir enigiemand om sy kos te deel daardie dag was ‘n wonderwerk van onselfsugtige denke. Dit was geloof in aksie om fyn beplanning oorboord te gooi en ‘n fees van vreesloosheid te geniet. Die wonderwerk in die harte van mense maak die wonderwerk soveel meer intens.
Die maaltyd van goddellike voorsiening het ‘n heilige maal geword. Die woorde van Jesus het hierdie ete bo alle ander verhef. Sy teenwoordigheid het alles verander. Gewone kos het geeskos geword.
Kom ons kyk na die mense in hierdie wonderwerk.
Die kontras tussen Filippus en Andreas is merkbaar. Filippus is die realis en spel die feite uit. Andreas bring wat hy het.
Dit is ‘n super-belangrike beginsel. Wat gebeur as ek bring wat ek het met ‘n uitroep vir Jesus se seën? Jesus sal alle gebrek vul. Ons voorsien die goedere vir ‘n wondwerk.
Die seun het ‘n belaglike klein bydrae gemaak. Enigiemand kon daarna kyk en hom uitlag. Dit was totaal absurd om te dink dat ‘n skare met daardie bietjie gevoed kan word.
Jesus kan wonders doen met dit wat ons bring. Mis jy uit omdat jy dink wat jy het is te min?
Bietjie is baie in God se hand.
Is jy probleem-georienteerd? Sien jy eerder die desperaatheid van ‘n situasie onder die banier van realisme? Mense wat niks dink van wonderwerke komplimenteer hulleself met realisme en ‘n feite-oordeel.
Dink jy aan die mense wat jy na Jesus toe bring? Dink aan jou kinders en wat hulle in die Koninkryk van God gaan bereik.
[Daar is ‘n storie van ‘n ou Duitse skoolmeester wat elke oggend as hy die klas begin sy pet afgehaal het en voor die seuns in sy klas gebuig het. Een het hom gevra waarom hy dit doen en sy antwoord was: “Mens weet nooit wat hierdie seuns eendag sal bereik nie.” Hy was reg – een van hulle was Martin Luther]