153. ‘n Ou, ou storie vir die nuwe jaar.

[Johannes 5]

Kom ons gaan terug? Tot by ons geboorte. Nee, selfs verder terug. Tot by Jesus hier op aarde? Baie verder terug. Kom ons gaan terug tot by die begin. Die begin van wat? Die begin van alles. Kom ons gaan leer ‘n les uit die heel eerste hoofstuk van Genesis wat die storie van die Skepping aan ons gelowiges vertel. ‘n Wonder-wêreld geskep aan die Hand van ‘n wonder-God met sy wonder-Woord.

Hoekom sou mens so ver terug wou gaan? Is daar dan enigiets om daar te leer wat hoegenaamd enige toepassing op ons moderne lewe kon hê? Wel, Dawid kon iets leer uit die ou, ou stories.

Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. (Psalms 119:18)

Kom ons kyk met verligte oë na een van die mees bevrydende beginsels van alle tye en pas dit toe op hierdie jong jaar.

God-beginsels bring God-betrokkenheid. Dit is iets om oor opgewonde te wees.

In die vorige Bodemklippe het ons gesels oor die man by die bad van Bethesda wat deur Jesus genees word ten spyte van 38 jaar siekte en geloof in ‘n nuttelose bygeloof. Die verstommende en verblydende wonderwerk vind op die Sabbat plaas – en die Jode is woedend.

Ons het al oor die Fariseërs se noukeurige nakoming van die letterlik duisende reëls oor die Sabbat gepraat. Ek haal aan uit Bodemklippe 144: ‘n Koninklike ontmoeting:

‘n Voorbeeld hiervan was die reëls oor die Sabbat. Geen werk mag op die Sabbat gedoen word nie, ook nie deur bediendes of diere nie. Werk is oor eeue deur menige leermeesters definieer. Die Mishnah, die gekodifiseerde wet, het 24 hoofstukke net oor die Sabbat bevat. Die Talmud wat die Mishnah veklaar, het 64 kolomme fyndruk oor die Sabbat bevat. Die Babiloniese Talmud verklaar die Sabbat oor 156 dubbelblaaie. Een rabbi het twee jaar lank aan een van die 24 hoofstukke oor die Sabbat in die Mishnah studeer.

Net ‘n vinnige voorbeeld: Om ‘n knoop in ‘n tou te maak op die Sabbat was sonde, maar om ‘n vrou se onderrok te knoop was toegelaat. As jy op die Sabbat ‘n emmer in ‘n put sou wou laat sak, was dit toegelaat om dit met vroue onderklere te doen, maar nie met ‘n tou nie. Dit sou God tevrede stel en plesier – so het hulle geredeneer!

Die Skrifgeleerdes het die besonderhede uitgewerk en die Fariseërs het hulle lewe gewy om dit uit te leef. Net ‘n besondere soort mens sou sy hele lewe wy aan die uitlewing van die Wet in soveel detail. Die woord Fariseër beteken: afgesonderd en toegewy vir ‘n spesifieke doel.

Teen hierdie agtergrond kan ons kyk na die reaksie op die wonderwerk by Bethesda. So ‘n wonder-genesing was ‘n geleentheid vir ‘n vreugde-fees. Die nuus van die genesing het skerp veroordeling uitgelok omdat dit op die Sabbat plaasgevind het. Afgesien daarvan dat Jesus in die genesingsproses “gewerk” het, het die man sy bed opgetel en gedra. Die Skrifgeleerdes het 39 klassifikasies van werk uitgespel en om jou bed te dra was beslis een van hulle.

Jeremia het oor die Sabbat gepraat (17:19-27) sowel as Nehemia (13:15-19). In Nehemia is dit duidelik dat hy nie wou hê hulle op die Sabbat nie handel dryf nie. Die Rabbi’s in die tyd van Jesus was so streng dat ‘n naald in jou jassak, vals tande of ‘n houtbeen nie aanvaarbaar was nie. Die kleinste onbenulligheid is tot ‘n kwessie van lewe en dood verhef.

Hulle neem die man onder kruis verhoor en hy sê hy weet nie wie hom genees het nie. Later egter ontmoet hy Jesus in die tempel en rapporteer dadelik aan die kerkleiers dat dit Jesus is, wat hom genees het. Hy is onmiddellik van sy wonderwerk-vreugde beroof omdat hy sy lewe van steniging probeer red. Hy wou argumenteer dat dit nie sy skuld was dat hy die wet oortree het nie.

Die beskuldigings is na Jesus geslinger – die werkwoord is so gebruik dat dit ‘n aanhoudende proses beskryf. Johannes skryf hier om te verduidelik dat Jesus dikwels die argwaan van die kerkowerhede uitgelok het.

Jesus verdedig Homself deur daarop te wys dat God nie op die Sabbat ophou werk nie en dus ook nie Hy nie.

Soos een van die kommentare dit stel: “The sun shines; the rivers flow; the processes of birth and death go on the Sabbath as on any other day; and that is the work of God.”

Natuurlik het God ophou werk in die storie van die Skepping in Genesis 1. Wat is nou eintlik die verskil? God het gerus na Sy Skeppingswerk, maar Hy is in groter “werke” van genade, oordeel, liefde en hulp in tye van nood, sonder uitsondering te alle tye aktief.

Hoe sou dit wees as ons nie om Sy hulp en leiding sou kon bid nie, aangesien dit die Sabbat is? Is dit nie heeltemal belaglik nie? Natuurlik is dit! God is altyd daar en Sy wonderwerke kom vinnig en kragtig te alle tye, elke dag, maak nie saak wat die dag se naam of funksie is nie.

Dieselfde geld vir ons. Ons dade van liefde en genade oor almal om ons, gaan nie stilstaan omdat ‘n dag ‘n naam gekry het nie. Die Sabbat-beginsel is soveel hoër en meer kragtig as onbenullige klein reëltjies.

Die Jode het egter met groot drama en veroordeling gereageer. Jesus het Homself soos God voorgehou en geleer dat Hy vry is om altyd te help net soos God. Daar is geen groter taak as om die pyn en lyding van die wêreld om ons te verlig nie. Ons uitreik in liefde is goddellik en 24/7 beskikbaar net soos Jesus.

Wat dink jy van die Sabbat hier in die 21e eeu? Is dit toepasbaar op die moderne lewe? Is jy bereid om jou oor oop te maak vir die stem van die Here oor jou Sabbat? Wat hoor jy?

As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê. (Jesaja 58:13,14)

Hoor hoe The Message dit stel:

“If you watch your step on the Sabbath
    and don’t use my holy day for personal advantage,
If you treat the Sabbath as a day of joy,
    God’s holy day as a celebration,
If you honor it by refusing ‘business as usual,
    making money, running here and there—
Then you’ll be free to enjoy God!
    Oh, I’ll make you ride high and soar above it all.
I’ll make you feast on the inheritance of your ancestor Jacob.”
    Yes! God says so!

Ons leef in die dispensasie van die Heilige Gees. Ons Sabbat hoef nie noodwendig op ‘n Saterdag of Sondag te wees nie. Dit kan verander soos dit prakties is om hierdie heerlike weeklikse fees oor die goedheid van God te vier.

Die onderliggende beginsel is dat God jou seën met rus wanneer jy jou tyd afsonder. Geniet die tyd om jouself uit die mallemeule van alles wat ons lewe noem, te haal en terug te sit met gedagtetyd oor God en jou lewe. Dit is ‘n guns van God oor jou en jy besluit self om dit uit te leef. Bou dit iewers in.

Dit is dalk een van die groter uitdagings vir hierdie nuwe jaar se ietise nuut.

Jesus het aan die man gesê om nie weer te sondig nie sodat daar nie dalk iets erger oor hom kom nie. Sonde en siekte was in die Joodse denke nou verbind. Vergifnis was die eerste stap in die soeke na genesing.

Goddellike genesing bring groot verantwoordelikheid. Dit is nie sommer terug na die normale as God so ‘n magtige ingrepe in jou lewe bring nie. Dit is ‘n lewe onder die vaandel van genade en liefde soos een wat ryklik vergewe is.

Ons lewe verander ingrypend as dit in ‘n wonderwerk vir ons gegee word.

Baie belangrik egter: ons kan nooit sonde en siekte verbind soos die Jode van Jesus se tyd nie. Ons leef in ‘n gebroke wêreld en dikwels kom lyding uit die verwonding van ‘n sondige wêreld. Ons dra nie die sondelas van die wêreld nie. Jesus het dit aan die kruis gedoen. Ons is egter grootliks onder die impak van ons leefruimte. Ons “verdien” nie siekte as ‘n gevolg van persoonlike sonde nie.

Ons “verduidelik” nie siekte aan die hand van sonde nie. Ons vra God om Homself in elke situasie opnuut te openbaar.

 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ‘n man wat van sy geboorte af blind was. Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. (Johannes 9:1-3)

Daar is mense in die kerk was hulle vryheid as ‘n verskoning vir sonde gebruik (Galasiërs 5:13). Daar is ook diegene wat sondig in die vertroue dat God se genade hulle weer sal red (Romeine 6:1-18).

Daar is altyd mense wat die liefde en genade van God as ‘n verskoning vir sonde sal gebruik. Ons kan maar net dink wat die vergifnis van Jesus gekos het om te weet dat ons sonde God se hart breek en Jesus weer kruisig. [William Barclay]

Genesing kom in ‘n nederige kniebuig en is nooit goedkoop nie. Jesus waarsku die man om verantwoordelik te leef en sy wonder-gawe nie as ‘n lisensie vir sonde te gebruik nie.

Na die wonderwerk onttrek Jesus. Dit beteken letterlik hy draai weg, kom uit die skare uit en gaan na ‘n plek van eensaamheid. Hy wou verdere argumente en bespreking vermy. Dit is soms goed om net weg te loop. Ons kan nie al die argumente wen nie. Neem jou Sabbat ook van die groot en moeilike kwessies van die lewe.

Uiteindelik is dit vir elkeen om self te besluit.

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, (Filippense 2:13)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s