[Johannes 3]
Mense praat van die hel. Christene praat van die hel. Hoe maklik sê ons: sjoe, hulle gaan deur hel. Die kerk praat van die hel, veral die ouer, wettiese, slaat jou met die Bybel oor die kop soort kerke. Ek besef daar mag nog van hulle aan die gang wees – hoe verskriklik!
Ek wens regtig ons kon vir eens en altyd ‘n onderskeid maak tussen georganiseerde godsdiens en die kerk. Die kerk is so ‘n pragtige en spesiale konsep. Ons behoort van die Kerk van Jesus te praat – ‘n vergadering van mense wat kinders geword het wat hulleself aan die transformerende krag van die Heilige Gees oorgegee het. Die kerk is nie mens-monsters met genoeg wilskrag om vergeefse reeltjies na te kom in ‘n poging om God of ‘n denominasie tevrede te stel nie.
Ons kuier in die pragtige hoofstuk van wedergeboorte. Om in die koninkryk van God ingebore te word is die gevolg van ‘n eenvoudige besluit om jou lewe aan Jesus oor te gee en Sy werk aan die Kruis te aanvaar. Die wonderwerk wat volg is ‘n herbore gees, immigrasie in die onsigbare Koninkryk van God op aarde. Daar is geen hel, net hemel. Wat is hel en hemel dan? Wel, ek kan sê: maklik.
Hel is waar God nie is nie, hemel is waar God is.
Oor die algemeen sal hel definieer word as ‘n onderaardse plek van foltering soos beskryf word in die betekenis van die woord Tartarus in 2 Petrus 2:4. Hades en Sheol is onderskeidelik die Grieks en Hebreeuse woorde vir die onderwêreld of die doderyk. Gehenna in die Nuwe Testament (Markus 9:43, Matteus 10:28) is ‘n plek war liggam en siel vernietig word. Dit mag verwys na die tweede dood waarteen Jesus dikwels gewaarsku het.
Wat ookal die hel is, waar dit is en hoe mens daar beland is sekerlik iets wat elke persoon vir homself besluit. Vir my is die hel op aarde wat ek om my sien, genoeg om my in die arms van my hemelse Vader te laat invlug. Ek kies die hemel. Ek wil leef in die Skaduwee van die Almagtige en die Skuilplek van die Allerhoogste. (Psalm 91:1)
Wat bid ons dan in die Onse Vader: Laat U koninkryk kom, U wil geskied op die aarde, net soos in die hemel. Dit is vir nou.
Die gebed is geskryf in die tipiese Hebreeuse styl van paralellisme. Die koninkryk van God is waar God is en waar Sy wil gedoen word. Ons lewe in die koninkryk is om aan die wil van God te onderwerp, afhanklik van Sy voorsiening te leef, op Sy beskerming staat te maak en uit Sy Woord as Bron van wysheid te leef.
Volledige onderwerping aan die Wil van God is ons nommer een prioriteit. God se wil is duidelik. Daar is nie duisternis nie, daar is Lig. Hy het dit toeganklik vir almal gemaak. Geen verwarring, geen onsekerheid. Lees Sy woord – dit is Sy wil. Sy wil en plan vir jou lewe sal uit die blaaie van die Bybel na jou toe huppel en die musiek van aanbidding in jou ore word.
Hy het aan ons die mag gegee om kinders van God te word. (Johannes 1:12)
Die ewige lewe is ‘n God-lewe wat begin op daardie oomblik wat jy die besluit neem om ‘n kind van God te word. Die klem is nie soseer op die tyd in die begrip ewig nie, eerder op die kwaliteit van lewe. ‘n Aardse lewe kan nooit vir ons die lewe van oorvloed gee wat Jesus belowe nie.
Wedergeboorte is ‘n rasionele besluit met bonatuurlike gevolge. Genade bring ons by die punt van geloof en die gevolg is ‘n nuwe lewe, ‘n herbore gees. Dit is ‘n onherroeplike oorgawe aan God en ‘n Gees-lewe.
Soos die een van die kommentare dit stel:
It is requalifying experience opening up the possibilities of our whole being to the supernatural dimension of life and fitting us for a beginning in God’s kingdom order.
Net soos Jesus gesê het: ons word uit water en die Gees gebore. Water maak skoon en die Gees maak lewend.
Wat uit die vlees gebore word is vlees, maar wat uit die Gees gebore word is gees. Die vlees is beperk, die Gees is onbeperk. Die Gees is lewe, God-lewe in ons.
[Johannes 3:7-13]
Daar is twee soorte misverstand: ‘n persoon wat misverstaan omdat hy nie die kennis of ondervinding het om die implikasie van die woorde werklik te verstaan nie en ‘n persoon wat misverstaan omdat hy nie die implikasie van die woorde wil verstaan nie. Enige mens kan met opset sy verstand vir die waarheid sluit.
Nikodemus moes van die nuwe lewe leerstelling geweet het.
Laat vaar al julle oortredings en kry ‘n nuwe gesindheid, ‘n nuwe gees. Waarom wil julle sterf, Israel? Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie,” sê die Here my God, “maar dat hy hom bekeer en bly lewe.” (Esegiël 18:31-32)
Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. (Esegiël 36:26)
Die profete het gepraat van ‘n nuwe mens, die noodsaaklikheid om heeltemal te verander en ‘n nuwe mens te word.
Nikodemus het nog ‘n beswaar gehad. Hoe is dit moontlik? Dis tog fisies onmoontlik en belaglik om te dink.
Die Griekse woord vir gees is pneuma wat ook wind beteken. In Hebreeus beteken ruach wind of asem. Ons verstaan nie die wind, hoe dit waai, maar ons ondervind die effek daarvan. Voor ons die rigting van die wind kan bepaal, sien ons die lug wat in die blare beweeg. Soveel dinge van die Gees verstaan ons nie, maar die effek van die Gees is duidelik en daarom kan ons dit nie ontken nie.
Die krag van ‘n getuienis is die werk van die Heilige Gees en die krag daarvan kan nie ontken word nie.
Daar was eenmaal ‘n man wat getuig het van die nuwe lewe in Jesus toe die mense hom as ‘n gek uitmaak omdat hy glo Jesus het water in wyn verander. Hy het vasgestaan en vertel hoe Jesus in sy huis bier in meubels verander het!
Ons weet nie presies hoe alles werk nie. Daar is dinge wat ons glo wat ons nie kan sien nie. Meestal sien ons nie ‘n brein nie, maar ons hoor die woord en sien die effek van denke in ‘n persoon.
Jesus sê aan Nikodemus: Ek praat van die alledaagse en jy verstaan nie, hoe sal ek praat van die diep dinge van God? Die intellektuele waarheid van Jesus is een ding. Hoe verander daardie waarheid jou innerlike mens? Hoe ondervind jy die krag?
Meestal aanvaar ons ‘n voorskrif van ‘n dokter sonder om die werking van die medisyne te verstaan en waarlik te weet wat die uitwerking daarvan op elke deel van ons anatomie sal wees nie. Net so verstaan ons nie die ingewikkelde detail van ons redding nie. Soveel bly ‘n misterie, maar ons sien die effek en aanvaar dit met ons verstand.
Jesus se outoriteit oor die waarheid word in die laaste deel van die gesprek weer bevestig. Jesus praat van God omdat Hy direk uit die hemel kom en die enigste ware bron van inligting is. Sy gesag en die waarheid van Sy lewe is in Sy dood bevestig. Hy is die enigste een wat die Vader se hart werklik ken, juis omdat Hy die liggaamlike vorm van God se denke is.
Op hierdie stadium van die gesprek is die onseker waar die gesprek met Nikodemus eindig en Johannes se eie woorde voortgaan .
Hy verwys na die storie van die slang in die woestyn. Ons sal daaroor in die volgende stukkie gesels.