[Johannes 3]
Ons wêreld is so op status, titels en range ingestel. Ons het allerhande reëltjies en regulasies wat ons moet volg wanneer ons koninklikes en bekendes ontmoet. Meestal voel ons ons moet goed voorbereid met die beste voet voor in ons uitgedinkte uitrusting die mees belangrike lede van ons samelewing ontmoet. In die lande waar werklike koninklikes nog saak maak, is mense hoog geëerd as hulle eenmaal in ‘n leeftyd na ‘n paleis genooi word. Ander sal in die straat uitkamp vir ‘n verbygaande flits van die bekende gesigte wat op die drastoele van moderne media paradeer word.
Hoe dan, het ‘n ere leier van Joodse Jerusalem die Prins van die hemel ontmoet? Dit was ‘n koninklike ontmoeting, sonder twyfel, soos soveel ander in die stof en hitte van Judea lank gelede. Hierdie een was anders. Dit was ‘n nagtelike samekoms, in die geheim en heel moontlik heel informeel op die vloer van ‘n kamer iewers in ou Jerusalem.
Die vertelling van die ontmoeting vind ons in Johannes 3.
Nikodemus was ‘n ryk man. Na die kruisiging het hy mirre en alwyn gebring – ongeveer vyftig liter daarvan wat heelwat geld gekos het (Johannes 19:39). Hy was ‘n Fariseër. Daar was nooit meer as 6000 van hulle. Hulle het as die Broederbond bekendgestaan. Hulle het met ‘n eed voor getuies beloof om hulle lewe aan die studie en uitlewing van die Wet te wy.
Die Wet was die mees heilige ding in die hele wêreld. Dit was die eerste vyf boeke van die Ou Testament. Die Wet van God het alles omvat vir ‘n goeie lewe en dit moes aanhoudend bestudeer en verklaar word. Daar was bepalings vir elke moontlike oomblik van die lewe. Die verklarings en verduidelikings het ontwikkel in voorskrifte vir elke denkbare situasie van die lewe.
‘n Voorbeeld hiervan was die reëls oor die Sabbat. Geen werk mag op die Sabbat gedoen word nie, ook nie deur bediendes of diere nie. Werk is oor eeue deur menige leermeesters definieer. Die Mishnah, die gekodifiseerde wet, het 24 hoofstukke net oor die Sabbat bevat. Die Talmud wat die Mishnah veklaar, het 64 kolomme fyndruk oor die Sabbat bevat. Die Babiloniese Talmud verklaar die Sabbat oor 156 dubbelblaaie. Een rabbi het twee jaar lank aan een van die 24 hoofstukke oor die Sabbat in die Mishnah studeer.
Net ‘n vinnige voorbeeld: Om ‘n knoop in ‘n tou te maak op die Sabbat was sonde, maar om ‘n vrou se onderrok te knoop was toegelaat. As jy op die Sabbat ‘n emmer in ‘n put sou wou laat sak, was dit toegelaat om dit met vroue onderklere te doen, maar nie met ‘n tou nie. Dit sou God tevrede stel en plesier – so het hulle geredeneer!
Die Skrifgeleerdes het die besonderhede uitgewerk en die Fariseërs het hulle lewe gewy om dit uit te leef. Net ‘n besondere soort mens sou sy hele lewe wy aan die uitlewing van die Wet in soveel detail. Die woord Fariseër beteken: afgesonderd en toegewy vir ‘n spesifieke doel.
Die Fariseërs was meestal baie seker en oortuig van hulle keuses in die lewe en tog wou Nikodemus met Jesus praat.
Hy was ‘n lid van die Sanhedrin, ‘n raad van 70 Joodse leiers wat die hoogste hof van die Jode gevorm het. (Moses het 70 regters aangestel om hom te help regeer – Exodus 18.)
Nikodemus was ook lid van ‘n vooraanstaande familie, wat Judea as diplomate in Rome verteenwoordig het en uit wie se geledere die ambassadeur na Pompeii gekom het.
Dit is verstommend dat hy met Jesus wou praat.
Hy het in die nag gekom. Dit kon beteken dat hy nie homself of Jesus aan die geskinder van die mense wou blootstel nie. Hy wou privaat van aangesig tot aangesig praat – presies wat ons ook vandag wil doen.
Dit was ‘n gewoonte van die Rabbi’s om in die nag te studeer, sodat hulle nie gesteur word nie. Gedurende die dag was Jesus gewoonlik met mense omring. Nikodemus wou ‘n diep gesprek in privaatheid voer.
Hy het die hoofdoel van sy lewe, sy opvoeding en vooroordeel eenkant toe geskuif en met die man kom praat wat ander van sy klas as ‘n moeilikheidmaker sou beskou. Sy ontmoeting met Jesus was ‘n genade-wonder.
Die wonderwerke en leringe van Jesus het sy ore bereik en hom aan die dink gesit. Hy wou self ondersoek instel. Ondersoek is nooit sleg nie. Moenie sommer die eerste storie wat jy hoor glo nie. Gaan terug na jou Bybel toe en doen jou navorsing onder direksie van die Heilige Gees. Hy is ons leermeester en sal ons herinner aan wat Jesus gesê het. (Johannes 14:26) Jesus se eie antwoord in die nagtelike ontmoeting, is wat ons vandag nog soek.
Jesus volg ‘n sekere gesprekstruktuur. Hy sê iets wat misverstaan word. Deur so te praat lok hy gesprek uit en plant vrae. Enigiemand kan omdraai en sê dis nonsens. Dit is net as jy bly en luister dat die lig deurbreek.
Nikodemus is beïndruk met die wonders en tekens. Jesus sê daar is dinge wat belangriker is as wonders en tekens – die diep verandering van ‘n mens se innerlike – wedergeboorte.
Nikodemus kan hom nie voorstel wat ‘n geestelike geboorte is nie. Dit is tog nie moontlik om fisies weer gebore te word nie.
Jesus gebruik die woord:
– anothen, wat beteken van die begin af, totaal, radikaal,
weer, die tweede keer,
van bo af.
Dit is moeilik om al drie hierdie betekenisse in een woord vas te vang behalwe om van ‘n nuwe geboorte te praat. Dit is so ‘n radikale verandering – ‘n hele nuwe begin. Dit is nooit ‘n menslike proses nie – dit is net moontlik deur die krag en genade van God.
Nikodemus verstaan dit letterlik. Hy besluit dit is onmoontlik. Hoe kan hy ooit ‘n antwoord vir sy vraag kry?
Maak die antwoorde wat jy in gebed kry nie sin nie? As dit verwarring bring is daar hindernis. Ons het nodig om te sit en tyd te spandeer om die gesprek verder te voer. Nikodemus wou die radikale verandering hê en hy het besef dis menslik onmoontlik.
Die konsep van ‘n nuwe geboorte is deur die skrywers van die Nuwe Testament aangegryp: 1 Petrus 1:3,22-23. Jakobus 1:18, Titus 3:5, Romeine 6:1-11,1 Korintiërs 3:1-2, 5:17, Galasiërs 6:15, Efesiërs 4:22-24, Hebreërs 5:12-14.
Die idee van wedergeboorte was nie nuut in Joodse denke nie. Om ‘n proseliet te word (‘n nie-Jood wat die Joodse geloof aanneem) is beskryf as iets soos ‘n nuwe geboorte. Alles van die verlede is afgesny.
Die misterie-godsdiens van die Grieke het ‘n lydende, sterwende en opgewekte god beskryf. ‘n Passiespele met die tema is rondom middernag opgevoer met wierook en ‘n geweldige emosionele ritueel wat die aanbidder aan die einde met die god laat een word om saam met hom uit die dood op te staan. Hierdie eenheid is as ‘n tweede geboorte beskryf en het ‘n algehele vernuwing impliseer soos die dag sterf en ‘n nuwe dag begin. Die eerste kos van die aanbidder was melk soos vir ‘n pasgebore baba.
Die hele antieke wêreld het na wedergeboorte gesmag. Sommige het in osbloed gebad om ‘n wedergeboorte te simboliseer.
Wedergeboorte omskryf vier dinge: ‘n nuutgemaakte self, die koninkryk van die hemele, ‘n kind van God en die ewige lewe.
Die koninkryk van die hemele is die onsigbare koninkryk wat Jesus op aarde kom bevestig het. Dit is ‘n besluit wat hierdie wonder laat gebeur. (Matteus 3:2; 4:17; 18:3)
Word ‘n kind. Word ‘n burger.
Die gesprek gaan voort…