Ons is nou in die tyd van die opstanding. Dit is die tyd van Jesus se verskyning aan mense wat die opstanding bevestig. Hierdie fees vier die kerngebeure wat die Christelike geloof definieer. Ons vier fees oor die dood van ons Koning. Vir enige buitestaander en ongelowige ‘n domheid, maar vir ons die oploop na die klimaks van algehele en triomfantelike oorwinning oor die dood.
Kom ons gesels verder oor Jesus se hantering van die dood in Sy bediening op die aarde. Lasarus – Johannes 11.
Net soos met Jairus is die woorde en optrede van Jesus net nadat hy in kennis gestel word van die verpletterende nuus, ‘n hele studie werd. Ek probeer om dit in my denke in te brand om op te steun in tye van krisis. Onthou met Jairus het Hy gesê: Moenie vrees nie – bly glo.
In Jairus se geval word Jesus vertraag oppad na sy huis toe, maar in Lasarus se geval, vertoef Hy met opset – sommer lank en dit maak Hom heeltemal te LAAT.
Dis ‘n vreeslike verwyt wat Martha Hom tegemoet mee loop – Here, AS U…… hier was, en dis asof sy besef hoe erg haar woorde van verwyt is, sodat sy probeer opmaak met geloofswoorde. As Jesus dan haar geloof antwoord – glo sy Hom nie onvoorwaardelik nie en probeer verder die situasie in ewigheidsterme sien.
Jesus se woorde is: Jou broer sal opstaan. Letterlik ongelooflike woorde in hierdie situasie na vier dae se hartseer en pyn.
Belangrik hier vir die geloofsnederlaag is – teleurstelling in Jesus se reaksie.
Hoe dikwels is ons opvatting van die oplossing ons eie struikelblok. Ons vorm dadelik ‘n prentjie van die antwoord op ons gebed – hoe dit moet gebeur en veral wanneer dit moet gebeur.
Dis amper asof mens – SKOON geloof – moet beoefen – sonder vooroordeel en vooropgestelde idees. IS ons regtig gereed vir die MANIER waarop Jesus gaan antwoord. Sekerlik is Maria en Martha se pyn vererger deur hulle teleurstelling dat Jesus nie gekom het, toe hulle hom laat weet het nie. Dit is duidelik uit Martha se eerste woorde, wat verwyt is. Hoekom Here, is jy te laat?
Te laat is ‘n geweldige verwyt met ‘n element van finaliteit.
Dit impliseer – geen oplossing. Die hele ding is nou ‘n ramp – in hierdie woorde : te laat orienteer ek myself om die slegste moontlike gebeure te aanvaar en te hanteer. Van GELOOF in hierdie katastrofe – scenario is daar amper geen sprake nie.
In sulke donker denke van verwyt en teleurstelling, HOOR Martha nie Jesus se kalm, seker oplossing nie. Sy woorde word oorskadu deur haar eie “verduideliking” en interpretasie. Sy sien nie SY Almag, en beheer raak nie en sy vergeet van al die vorige wonderwerke wat sy sekerlik ken.
Net nog ‘n gedagte oor VERWYT. In enige verhouding is dit belangrik om die – ja, ek het jou mos gesê – woorde, uit te skakel. Dit is vir die mens so lekker om te verwyt en dan in te vryf dat ek die hele tyd reg was en jy verkeerd en kyk nou – die omstandighede regverdig my voorspelling. Dit was vir my ‘n heerlike ontdekking om uit te vind dat God nie verwyt nie. Hy sal nie sê nie: Ek het soveel jaar gelede met jou gepraat – jy nie geluister nie – kyk nou hoe groot is die gemors.
NEE – Sy woorde klink anders – Hy sê [Jesaja 1:18] :
Kom nou, laat ons die saak uitmaak – al was julle sonde soos skarlaken, ek sal dit wit maak soos sneeu
en in Hebreërs 4 : 7:
VANDAG, as julle Sy stem hoor, verhard nie jou hart nie.
Daar is geen gemors te groot vir God om reg te maak nie.
Geen ramp is vir Hom ‘n verrassing nie en niks vang Hom uit sonder ‘n plan nie. Hy is ALMAGTIG. Hy kan altyd enigiets regmaak. Miskien glo jy Hy kan maar nie dat HY WIL nie.
Hy WIL vir jou die oplossing wees en dit kan ek sê op grond van die Woord. Hebreërs 11:6:
Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Wie tot God nader moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek, beloon. AMPL: He is a rewarder of those who diligently seek Him.
Terug by Martha – moenie haar te gou oordeel nie. Haar tradisie het nie in die opstanding uit die dood geglo nie. Sheol was die doderyk waarheen almal, goed en sleg, gegaan het om ‘n skadu, vreugdelose bestaan te voer – ‘n bêreplek vir siele. Dit is die doderyk se sleutels wat Jesus by Sy dood geneem het en gaan oopsluit het. Dus – Martha spreek die lering wat sy by Jesus gekry het, in haar donkerste uur uit en dit gee haar hoop, maar nogtans mis sy die direkte impak en aksie van Jesus se woorde dan en daar. In Sy teenwoordigheid oorweldig die finaliteit van die dood haar nog.
Terug by Lasarus – Jesus se woorde: It is designed in order that you may come to believe. Lees weer in Johannes 11 : 15.
Ek daag jou uit om dit te glo – dink net hoe sal vrees uit jou lewe verdwyn. Ek dink die grootste moontlike luuksheid in hierdie lewe, is om sonder vrees te leef.
Jesus se woorde kon nie die omstanders oortuig van wat Hy gaan doen nie, MAAR daar is niks op aarde wat so oortuig soos God in AKSIE nie. Jy kan maar praat, maar die opwekking self het harder gepraat as enige woorde.
Die gevolg was tweërlei – baie mense het geglo en sommige het besluit om Hom dood te maak. Met die luukse terugkyk op ‘n welbekende storie kan mens skaars die onlogiese redenering verstaan: Hy het nou net aan hulle bewys Hy het mag oor die dood en hulle besluit nogtans om die dood te gebruik om van Hom ontslae te raak.
Niemand is so blind as hy wat nie wil sien nie. Jy kan so hardnekkig die WOORD (Jesus) verwerp, dat jy nie die wonderwerk sien nie – vir my ‘n skrikwekkende moontlikheid. Kyk jy so in jou eie omstandighede of vooropgestelde idees vas, dat jy nie SIEN wat Hy vir jou doen nie.
Wat is die oplossing: Johannes 16:8: Die Heilige Gees oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. When he comes, he will prove the world to be in the wrong about sin and righteousness and judgment:
Stel jouself oop vir oortuiging. Gee aandag aan die gedagtes wat jou “pla”. Dink na oor situasies en laat toe dat die Heilige Gees in jou lewe inspreek. Dan sal jy die krag van sondebelydenis ervaar : bely as iets jou pla – beoefen jou gewete. Die Heilige Gees oortuig altyd in volmaakte liefde en jy sal gewaarborg beter anderkant uitkom as wat jy dink.
Judas 24 – dis die waarborg en die laaste woord in alles – ook vir vandag.
Now to Him Who is able to keep you without stumbling or slipping or falling, and to present you unblemished (blameless and faultless) before the presence of His glory in triumphant joy and exultation – with unspeakable, ecstatic delight —
In hierdie uitroep van jubelende vreugde vier ons ons plek in die heelal wat ons slegs as gevolg van die opstanding kan beleef.
Moenie ophou feesvier as die Paasnaweek verby is nie. Ons fees gaan aan. Ons is deel van die groep waaraan Hy verskyn en sê: Kom raak aan My. Dit is waarlik Ek. Ons kan nie nou ophou met die viering nie. Ons hou aan totdat ons die Hemelvaart en Pinkster vier met volgehoue vreugde en dankbaarheid.