In hierdie laaste week voor Paas is dit altyd goed om ‘n tree terug te staan en die gebeure van daardie donker Vrydag so lank gelede met ‘n objektiewe menslike oog te beskou. Tot op daardie stadium is die geskiedenis ‘n storie van oorheersing deur een of ander antieke beskawing, wat sy politiese en kulturele hoogtepunt, militêr op die res van die wêreld afdwing. Hier op die draaipunt van die eeue, is dit ook nie anders nie. Die beeld van Nebukadneser van Babel se droom, wat deur Daniël in die sesde eeu voor Christus uitgelê is, is nog steeds aan die uitspeel in die tyd van die Kruis. Babel, die beeld se kop van goud, is die ryk in wes-Asië wat die heerskappy by Egipte oorneem, afgee aan die ryk van Darius, die Meed, gevolg deur Xerxes van Persië (Ester pas hier in). Die ryk van die Mede en Perse moet kniebuig voor die Griek, Alexander die Grote, en die magtige voete van yster en klei – Rome – neem oor.
In die tyd van Jesus is die Romeine hooghartig en wreed. Die oorheersing is hardhandig en onregverdig. Hoewel die Romeinse reg vandag nog ‘n voorbeeld van superieure intellektuele denke is, geld dit nie vir nie-Romeinse burgers in die tyd van Jesus nie. Dis net ‘n totale wreedaard wat ‘n kruisdood kan uitdink en toepas. Duisende mense word tereggestel aan ‘n kruis, die doodstraf is maklik afdwingbaar en word toegepas om die geringste opstand of teëstand te onderdruk.
In ons sigbare wêreld is die dood ‘n finaliteit waarmee rekening gehou moet word. Jesus het hierdie misterie en die vrees wat dit inboesem, erken in die insidente waar hy op aarde met die fisiese dood te doen gehad het. In hierdie wrede tyd, waar ‘n mens se lewe goedkoop is, is die dood ‘n verskrikking, omhul in vrees en bygeloof.
Daar was 3 insidente waarop hy die dood gekonfronteer het . Dit was inderwaarheid ‘n konfrontasie, want dis beskou as ‘n magtige vyand – finaal en onbekend. Jairus se dogter, die weduwee van Nain en Lasarus word in volgorde in Markus 5, Lukas 7 en Johannes 11, opgeteken. In die geval van Jairus en Lasarus het Hy gesê hulle slaap. Die mense in beide gevalle het dit verkeerd verstaan – by Jairus het hulle hom uitgelag en by Lasarus het sy dissipels gesê as hy slaap sal hy beter word. Jesus moes toe vir hulle in “menstaal” sê – verstaan tog, by julle standaarde – hy is dood! [Johannes 11: 14.]
Jesus se woordgebruik is belangrik – amper asof Hy die fisiese dood nie erken nie. Die dood kry ‘n statusverlaging!! Die tweede dood [Openbaring 20:6 en 21:8] is die dood wat gevrees moet word. Dit is die dood wat Jesus geweet het, Hy is gestuur om te oorwin deur Sy bloed. Hy sê aan die gemeente in Openbaring 2:11 – hy wat oorwin sal nie deur die tweede dood geraak word nie. Hier gaan ons terug na die eerste beginsels van Bodemklippe in Filiipense 3:10 en 11 – die opstanding uit die dood in hierdie lewe.
In beide gevalle is Jesus geroep na die krisis van ‘n siekbed wat in menslike wysheid tot die dood gelei het. In die geval van die weduwee lyk dit asof Jesus amper “toevallig” op die begrafnis afkom (niks in Jesus se lewe was ooit toeval nie) en dan ingryp sonder uitnodiging op grond van sy simpatie met die ma. Kom ons laat hierdie geval vir eers daar.
Jairus en Lasarus se groot krisis het gekom toe Jesus oënskynlik “opgehou” is en toe te laat is. Met ander woorde: die dood het Jesus voorgespring. Dood is so finaal en so onbestrede, daar is dadelik magtelose aanvaarding in die familie. Die naastes en die mees geraaktes aanvaar en deins terug.
Kom ons kyk na die agtergrond. Jairus is die leier van die Sinagoge. Hy is ‘n baie belangrike, verantwoordelike en hoog aangeskrewe mens. ‘n Mens sou dink dat hy ‘n dienskneg sou stuur om Jesus te roep. Hy stuur nie ‘n bediende nie. Hy verlaat sy kind se sterfbed om self Jesus te roep. Uit sy oogpunt: ‘n vernedering met groot risiko. ‘n Mens kan jou net voorstel – ‘n paniekerige haastigheid in Jairus. Kan Jesus nie maar ook hardloop nie? Maar Jesus stop en praat met die vrou wat aan hom aanraak en genesing kry. In Jairus se gedagtes kon haar wonderwerk seker wag. Sy het immers nog geleef en geloop. Sy kind het gelê en die dood was menslik gesproke onvermydelik. Hy kon seker Jesus verwyt het dat die oponthoud die “laaste spyker in sy kind se kis” was. Toe hulle uiteindelik weer oppad was toe kom die tyding – TE LAAT!
Jairus se mense gee vir hom die boodskap. Jesus is nou nie meer nodig nie. Mens kry die indruk hulle was amper verlig. Hulle het dalk nie saamgestem met hierdie “wild goose chase” van Jairus nie. Hulle woorde: Hoekom val jy die Meester nog lastig? [Markus 5:35] gee die indruk dat hulle Jesus van die hele petalje wil weghou. Hulle wil druk op hom sit om terug te val op die bekende proses van hartseer en rou wat vooraf deur die gemeenskap voorgeskryf is. Die krisis het sy volle verloop geneem, die worst case scenario het getref. Duidelik is die gevoel: Kom nou, Jairus, aanvaar die dood. Niemand kan nou nog iets doen nie. Gedra jou Jairus. Tree op met die waardigheid van rou.
‘n Joodse huis in rou was regtig iets geweldig. Daar is weeklaers gehuur om ‘n groot lawaai te maak by die huis en by die graf. Die weeklaers het op hulle bors geslaan, oor die lyk gehang, hulle hare uitgetrek en hulle klere geskeur. Fluitspelers (selfs ‘n arm man moes minstens twee hê) is gehuur. Geskeurde klere is vir 30 dae gedra en na sewe dae kon die skeur baie rof toegewerk word, maar moes nog duidelik sigbaar wees. ‘n Persoon wat rou mag nie werk nie, mag nie Bybel lees nie (want dis ‘n vreugde), moes eiers in sout en as gedoop eet. Dan was daar nog die bygeloof. Alle water is uit die rouhuis sowel as die bure se huise verwyder, want, het hulle geglo, die doodsengel doop sy swaard in water. Die betrokkenes moes buite hulleself wees van hartseer en is daarom ook van die wet vrygestel.
Hierdie voorskrifte het van ‘n Joodse huis ‘n patetiese, plek van weeklaag gemaak met alles gefokus op die finaliteit van die dood en magteloosheid van die mens daarteen. Die oorwinningshoop van die Christelike geloof was heeltemal onbekend.
Stel jou net voor : hoe rewolusionêr en in skreeuende kontras Jesus in hierdie desperate lawaai, met kalmte, sekerheid en doelgerigtheid instap. Totaal ongekend in hierdie situasie.
Let op Sy woorde: Jairus, moenie vrees nie. Bly glo! Onthou Jairus het groot geloof alreeds gewys en Jesus komplimenteer sy geloof. Hierdie woorde is belangrik as jou krisis draai na slegste moontlik.
Hy stuur die mense weg, vestig kalmte en as ek mag opmerk – meer rasionaliteit in Sy teenwoordigheid. Hy verwyder die geraas, te veel gepraat, ou gewoontes en bygeloof. Sy teenwoordigheid maak al die verskil. Hy kom met kalmte en woorde van sekerheid.
Sy woorde word in die Grieks geskryfde Nuwe Testament in Aramees aangehaal: Talitha cumi – dogter staan op. Hoekom?
Baie spesiaal : daar was sekerlik soveel liefde, soveel simpatie, soveel deernis en soveel krag in daardie eenvoudige doodskonfrontasie dat dit volgens een kommentaar vir die Bybelskrywers onvertaalbaar gevoel het. Jesus se woorde in kontras met die wreedheid van die geskreeu en gekla.
Die onbeskryflike, onmoontlike het gebeur – die dood is oorwin. Jesus is rasioneel en prakties, met die opdrag om vir haar iets te gee om te eet. Amper asof hy sê: moenie in die emosie van die oomblik die praktikaliteite vergeet nie.
Hy sê ook om stil te bly oor die wonderwerk. Hierdie wonderwerk was privaat en kalm, sonder die fanfare van die tyd. Jesus het geweet hoe ‘n geweldige aanslag teen die wonderwerk van die mense sou kom. In stilte is daar beskerming – so ‘n duidelik boodskap van sekerheid. Geen verduideliking is nodig vir jou bonatuurlike uitkoms nie. Natuurlik sou die mense sien die dogtertjie lewe. Onthou die Israeliete moes stilbly toe hulle om Jerigo loop. Hulle het net die sewende keer geskreeu. Hulle moes stilbly in die aanslag van gespot en gevloek. Dis die beskerming van stilte.
Meer as 10 jaar gelede, was ek eenmaal in die kerk in Hermanus. Dit was die United Church se diens op die Donderdagaand voor Paas. Hulle noem dit die diens van Tenebrae – dis die Latynse woord vir duisternis of skaduwee. Die beskrywing daarvan is soos volg:
The distinctive ceremony of Tenebrae is the gradual extinguishing of candles while a series of readings and psalms is chanted or recited.
Die seremonie was pragtig. Die duisternis van die Tuin van Getsemane is herdenk. Kerse in die vensterbanke van die kerkie is met elke skriflesing wat deur die gemeentelede self hanteer is, uitgedoof, totdat die kerk in algehele duisternis was. In totale stilte is een groot kers voor in die kerk opgesteek – die hoop op die Opstanding.
So was dit ook. In die Tuin van Getsemane is die werklike oorwinnig behaal. In die diepste duisternis is die oorwinning van die Lig sonder twyfel sigbaar.
Tydens hierdie Paastyd, moenie die tyd van stilte vergeet nie. Die rasionele kalmte waarmee die duisternis van die Seun van God in Sy doodsoomblik herdenk word. Die oënskynlike oorwinning van verskrikking, met die seker wete – die Opstanding volg. Lewe en Lig seëvier!
Volgende week – die opwekking van Lasarus. Gebeure kort voor die Paasfees van daardie tyd, lei tot die kritiek en veroordeling wat die kerkleiers opsweep om Jesus se teregstelling te beplan, wat kort daarna plaasvind. Lasarus se triomfantelike oorwinning oor die dood op grond van die stem van Jesus wat hom uit die kloue van verskrikking uitroep.