Ons almal ken die Onse Vader. Selfs ongelowiges sal min of meer weet waarvan jy praat as jy die praat van die Onse Vader. So bekend dat die relatiewe kort gebed ‘n artikel bygekry het. Dit is DIE Onse Vader. Die kragtigste reeks woorde wat oor die lippe van enige mens kan kom.
Daar is net EEN. Hy is gesing, voorgedra, opgesê en gebid. Herhalings daarvan was die voorwaarde vir vergifnis deur eeue van strakke, koue kerke en skole. Liefdelose leiers het die woorde as oordeel oor mense se koppe gehou. By dood en geboortes, ewe gepas, dwarsdeur die eeue, oor tale en grense en volke. Daar was seker nog nooit ‘n reeks woorde meer aan misbruik en misverstand onderwerp, as hierdie gebed van Jesus. Ten spyte van alles, is dit seker die kragtigste reeks woorde wat oor die lippe van enige mens, sonder enige aansien van persoon, kan kom. Soveel getuienisse is uit hierdie gebed gebore. Volwassenes wat as kinders gedwing is om die gebed te leer, het dit onthou in donker, bange oomblikke en die salwing wat nooit met tyd kan verflou nie, ervaar. Kom ons bid dit weer saam.
Ons het al vlugtig geraak aan die wonderlike begrip om die grote, heilige God VADER te noem. Jesus kom as ‘n inkarnasie van Yahweh van die Ou Testament en Hy kom stel Hom voor as ‘n liefdevolle, betrokke, warm Pappa, wat omgee en gee, met oorvloedige voorsiening in elke moontlike situasie. Reeds in Deutronomium 14:1 sê God julle is die seuns van God, Jeremia 31:9 Ek is die Vader van Israel en Deutronomium 32:6 Is Hy nie die Here die God julle Vader wat julle gemaak het nie.
YAHWEH was die groot EK IS, selfvoorsienende, almagtige Skepper. Daarby was Sy voorskrifte geweldig en menslik amper onbereikbaar. Die Hebreërs van ouds is gekies om die liefde, goedheid en teenwoordigheid van hierdie Skepper-God, nie alleen te ervaar nie, maar so uit te leef dat al die ander volke van die aarde uiteindelik hierdie God sal aankleef en ervaar. Hierdie volk is magtiglik uit slawerny bevry, in die woestyn-leerskool opgehef tot die verbondsvolk wat hulle in slawerny net vaagweg van bewus was, en met aanskoulike en verstommende wonderwerke in ‘n land van hulle eie gevestig is. Met verloop van tyd, in afvalligheid en ongehoorsaamheid en daarby ‘n geestelike hoogmoed wat hulle God eksklusief aan die etnisiteit van hulle Joodsheid gekoppel het, met absolute en veroordelende uitsluiting van enige ander, het hulle in ‘n kragtelose, armsalige, godsdienstig-gebonde nasie ontwikkel, wat in die eerste eeu ‘n omstrede, vernederde uithoek van die magtige Romeinse Ryk was. Vir hierdie geestelik uitgemergelde behoeftiges, kom sê Jesus – ontspan oor al julle voorskrifte en vereistes om God te plesier – Hy is julle Vader. Hy sal sorg.
Die lyntjie van een lied sê: It is your Father’s joy to give to all who will receive.
Romeine 8: 15 For the Spirit which you have now received is not a spirit of slavery to put you once more in bondage to fear, but you have received he Spirit of adoption, producing sonship, in the bliss of which we cry: Abba Father.
Die woord ABBA is die woord wat ‘n klein kindjie sy pa sou noem, soos ons sê Pappa. Dis familiêr, warm, naby, vol vertroue en liefde. Net Jeus het hierdie woord kom vestig vir God die Vader. Daar is niks anders in Joodse literatuur wat God die Vader op hierdie vertroulike manier aanspreek nie.
Deur die Heilige Gees is ons verseker van ons kindskap. Galasiërs 4:6:
And because you are sons, God has sent forth the Spirit of His Son into your hearts, crying out, Abba Father.
Dit bevestig eens en vir altyd die verhouding met God.
As mens die vaderskap van God aanvaar, dan impliseer dit natuurlik die broederskap van die mens. Belangrike aspek van oordeel en vergifnis soos wat ons verder in die gebed sal sien.
Net een klein opmerking oor die detail van God se liefde:
- In Matteus 10:29 staan daar: Are not two sparrows sold for a penny? And not one of them will fall to the ground without your Father’s will.
- In Lukas 12:6 staan daar: Are not 5 sparrows sold for 2 pennies. And not one of them is forgotten before God.
Dis duidelik dat die 5e mossie in die transaksie van 2 pennies ingegooi is as ‘n bonus en dus in die berekening absoluut GEEN waarde gehad het nie. Selfs hierdie mossie is nie vergete nie. Moet nooit toelaat dat die vyand jou waarde in God se oë verminder nie – jy weet nou dat Hy jou nooit ooit sal vergeet nie. Hy ken jou naam. (Jesaja 45:3) Die hare op jou kop is getel. (Lukas 21:18)
Jesus vestig in die eerste sinnetjie die begrip: HEMEL.
Die hemele in die woorde van Jesus, is nie die tradisionele gedagte van die hemel as geografiese blyplek van God iewers in die heelal nie – onbereikbaar en misterieus. Die hemel is die onsigbare wêreld waarvan mens net in gebed bewus van word. Dit kan ook miskien verduidelik word as die heerskappy van God. As Hy sê in Matteus 18:18 Alles wat julle op aarde bind sal in die hemele gebonde wees dan bedoel Hy in die onsigbare geesteswêreld hier om ons – nie in Sy woonplek nie – hoekom sou ons iets in die hemel waar Hy is wil bind – daar is alles mos klaar reg.
In die eerste woorde van Johannes die Doper en Jesus sê hulle: Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekom. Matteus 3:1 en 4:17. Die koninkryk van God is die onsigbare koninkryk van gelowiges wat Jesus kom stig het. In Galasiërs sê hy dat die sondaars NIE die koninkryk van die hemele sal beërwe nie. Dis nie ‘n oordeel dat hulle die hemel sal mis eendag as hulle sterwe nie. Dis die seker wete dat jy al die beloftes en seën van die koninkryk hier op aarde mis, omdat sonde jou ervaring van God se teenwoordigheid verhinder. Sonde is om jou doel te mis. Missing the mark sê die Engels.
Die woord heilig moet ook duidelik gedefinieer word. Die konkordansie definieer dit so: afgesonder vir ‘n spesifieke doel – set apart for a specific purpose. Dis hoekom ons kan sê seker objekte in die tempel is heilig, of sommer ligtiglik – hoekom kan ek nie jou pen leen nie – is dit heilig?
Die Naam van die Here is heilig – het net een doel. Kan nie sommer vir enigiets aangewend word nie. Die Naam is Sy karakter, die volheid en omvang van Sy krag en heerlikheid. In Sy Naam is genesing, voorsiening, beskerming, kragtige uitkoms en liefde wat vir niks stuit nie.
Die Here se wil word afgebid in die volgende sin. Jesus het volle vertroue in Sy Vader se wil. Hy weet die wil van God in elke persoon se lewe, is die mees perfekte scenario wat moontlik kan bestaan. As elke mens God se plan volg, sal hy altyd volmaakte vrede sonder vrees ervaar. Ek glo dat daar ‘n volmaakte plan is vir elke lewe op aarde, selfs die mees onwelkome baba. Dit is nie’n yster, bloudruk wat in elke detail nagevolg moet word en by die eerste fout van die spoor af gestuur word nie. Die plan van God vir jou is om jou volle potensiaal te bereik, ‘n plan waarin jy die Heilige Gees leiding volg en jou gesonde verstand wat Hy aan jou gee. Foute en sonde kan nooit die plan vernietig nie, en jou eie keuses verwerp nie die plan nie, solank jy jou keuses in gebed onderwerp.
Ons bid vir die wil van die Here op aarde, omdat die hemel waar Hy is reeds die volmaakte omstandighede het. In die hemel is die wil van die Vader onbevraagteken en die omstandighede is volmaak. Hier op aarde is dit ‘n gebedstrewe om die wil van die Vader te volg. Dit is daarvolgens wat ons ons lewe wil inrig. God se volmaakte wil op aarde, maak dit hemel – daardie heerlike toestand onder Sy heerskappy en gesag.
Jy mag dalk vra – Wat is die wil en hoe kan ek weet wat die wil van God is. Die wil van God word uiteengesig in Sy Woord. Dit is die eerste stap – studeer Sy woord, hoor wat Hy vir jou sê en as jy jou lewe al hoe meer inrig volgens Sy Woord – met oorgawe van bekommernis en vrees in kinderlike vertroue, sal Hy al hoe meer Sy spesifieke Wil vir jou omstandighede aan jou bekend maak deur oortuiging en Skrif wat dit ondersteun.
Volgende keer praat ons oor die volgende stukkie wat gaan oor ons behoeftes, vergifnis en die bose.
Was so lekker om weer te gesels.