149. Vrygemaak om te bid.

[Johannes 4]

Is aanbidding een van daardie onderwerpe wat jy vermy? Dis net so onverstaanbaar. Het God ons heldeverering nodig? Moet ek regtige elke dag vir Hom vertel hoe wonderlik Hy is. As Hy dan God is, kry Hy werklik plesier uit seker woorde wat ek tot Hom uiter?

Kom ons kuier verder by die vrou in Samaria. Sy noem aanbidding spontaan, nadat sy die gesprek met Jesus het wat haar lewe oopvlek. Sy teenwoordigheid en woorde haal iets uit haar binneste wat die goddellike in Hom erken en sy vra oor aanbidding.

Die Samaritane was ver verwyder van die “ware” voorskrifte oor aanbidding van God se volk. Hulle was desperaat vir iets onvervals en gesaghebbend. Hulle het besef hulle doen nie goed in die area van hulle godsdiens nie, ver van Jerusalem, verworpe deur die Jode en die godsdiensleiers. Die verlange na waarheid was die uitroep van hulle harte.

Ons kyk vandag na verse 22-42 in Johannes 4.

Die Samaritane het die Psalms en die profete verwerp. Hulle Bybel was net die eerste vyf boeke van Moses. Hulle was verdink van bygeloof, wat heel moontlik waar was. Oor eeue het hulle ander gode van die nasies om hulle bygesleep en dan maar Jehovah ook aanbid net omdat hulle te bang was om Hom weg te laat.

Vrees en onkunde is die teenoorgestelde van liefde en kennis.

Valse aanbidding is om te kies wat vir jou gemaklik is en die res uit te laat. ‘n Eensydige godsdiens regverdig allerhande vals leerstelling uit die Bybel.

In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. (1 Petrus 3:15)

Bygeloof se basis is vrees. Hulle godsdiens was nie gegrond in die begeerte om lief te hê of om te dien nie. Dit was beter om net veilig te speel. Aanbidding het uit vrees gekom, nie liefde nie.

Ware aanbidding is geestelik omdat God gees is. Rituele is nie belangrik nie, die hart is.

Soos die kommentaar dit stel: (my beklemtoning)

It is the spirit of a man, which is the source of his highest dreams and thoughts and ideals and desires. The true worship is when man, through his spirit, attains to friendship and intimacy with God. Genuine worship does not consist in coming to a certain place nor in going through a certain ritual or liturgy nor even in bringing certain gifts. True worship is when the spirit, the immortal and invisible part of man, speaks to and meets with God, himself immortal and invisible.

Die vrou word bewus van die wonder-woorde wat tot haar gespreek word. Sy besef dit kan net van iemand kom wat so spesiaal soos die Messias is, wat ook by die Samaritane ‘n diep hartsverlange was. Hierdie besef berei die weg vir Jesus om Homself aan haar te openbaar. Jesus is haar droom wat waar word.

Die dissipels was heel moontlik in ‘n toestand van skok toe hulle Jesus met die vrou sien praat. Die Rabbi’s het neergekyk op vroue en geleer dat die woorde van die Wet beter af is verbrand, as om dit aan ‘n vrou te probeer leer. Teen hulle standaarde gemeet, kon Jesus nie ‘n meer rewolusionêre ding gedoen het nie. Hulle sou Hom net daarvoor kon kruisig.

Die dissipels praat nie met die vrou nie. Hulle vra ook nie vir Jesus waarom Hy met haar praat nie. Hulle was dalk al bietjie meer gewoond aan Sy ongewone manier. Dit is ‘n wonderlike stap vir ware dissipelskap – om nie te vra waarom nie en ou vooroordele en tradisies wat verwond te verwerp.

Die vrou haas haar terug na die dorp. Sy was anders as ‘n rukkie tevore. Sy los haar waterkruik. Dit beteken sy was van plan om terug te kom.

Sy het haar eie sondige natuur erken (Lukas 5:8). In die teenwoordigheid van Jesus word gekonfronteer en vrygemaak. Sy was verstom oor Jesus se vermoë om binne in haar diepste wese te sien en haar vry te maak van al haar geheime verwonding en seer. Bindinge is meestal geheim.

Jesus openbaar nie net sonde nie, ook potensiaal. In vryheid kan ons ware lewe begin. Sy kon weer die wêreld in die oë kyk.

Met sy dissipels volg Hy weer ‘n sekere patroon van gesprek, wat die geestelike en fisiese teenoor mekaar stel. Jesus se moegheid verdwyn sodra Hy die nood in die vrou sien.

Ware voedsel is om die wil van God te doen. Jesus doen dit perfek. Sy hart klop soos God s’n.

Hy is deur God gestuur. Dit was sy voedsel en dit het Hom versadig.

Johannes beklemtoon dit deurgaans:

In Johannes 5:38 praat Jesus van die werke van Sy Vader; Johannes 17:4 sê Hy Hy het die werke van Sy vader voltooi; Johannnes 6:38 sê Hy Hy het die wil van Hom wat Hom gestuur het ,gedoen; Johannes 10:18 sê Hy Hy leef die voorskrif van die Een wat Hom gestuur het; Johannes 14:23 beklemtoon Hy dat die opdrag van die Een Wie Hy lief het Hom vergenoegd maak.

Vir ons is die enigste ware geluk in die lewe en oorwinning oor die gebroke wêreld om die wil van God te doen.

Ware aanbidding is om die Woord van God in Sy teenwoordigheid te hoor en dit te bid.

 Heilige Gees gebed is om te luister en dan te bid.

Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.”  Toe die Samaritane by Hom kom, het hulle by Hom daarop aangedring om by hulle te bly. Hy het twee dae daar gebly.

Nog baie meer van hulle het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; en hulle het vir die vrou gesê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.”

Ware aanbidding volg op openbaringskennis – warm en persoonlik. Ons moet ook daar by die put van lewende water met Jesus gesels. Dit is uniek, individueel en spesifiek.

Daar is geen twyfel oor aanbidding in die teenwoordigheid van Jesus. Al die rituele en onsekerheid verdwyn wanneer Hy daar is.

Alles is hoorsê totdat:

Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, (Job 42:5)

 

Sit op ‘n stil plekkie en maak jou oë toe. Gebruik jou Heilige Gees-beheerde verbeelding om jou te verbeel Jesus sit by jou. Vat Sy hand en rus jou kop op Sy skoot. Hou jou prentjie in jou kop terwyl jy jou gedagtes gevange neem en jou lewe voor Hom bring. Sê dat jy jou lewe oorgee.

Terwyl jy so in Sy teenwoordigheid sit, neem kennis van die gedagtes wat by jou opkom. Bring dit alles voor Hom. Bid daaroor. As dit ontstellend is, sonde is, of skuld by jou wek – bid ‘n gebed van belydenis en “sien” hoe jou sonde, jou seerkry en al jou bekommernis en vrees in Sy liggaam aan die Kruis verdwyn.

Ons kenmerk is die leë kruis, maar in hierdie gebed sien jy Jesus wat aan die Kruis hang en jou sonde en bekommernis dra. Moenie dit weer op jouself laai nie. Hy het nie verniet gesterf nie.

Skryf jou gebed en die dinge wat by jou opgekom het in Sy teenwoordigheid neer. Aanbid Hom en dank Hom vir verligting en vryheid. Jou aanbidding sal spontaan uit ‘n diepe bewuswording van Sy teenwoordigheid vloei.

You will show me the path of life;

In Your presence is fullness of joy;

At Your right hand are pleasures forevermore. (Psalm 16:1)

 

 

 

83. Die altaar van alles.

Die beginsel om die altaar op sy oorspronklike plek binne die ruïne van die Tempel op te stel, is in my hart grafeer.

Aanbidding by die altaar was ‘n kragtige besluit om vrees, vyandskap en onsekerheid te stuit. Eenheid rondom die voorskrifte van Moses wat hulle samehorige aanbidding verseker het, was hulle beskutting.

Dit was seker moeilik om die herstelwerk aan hulle huise en erwe net so te los, toe die priester hulle na die tempelruïne vir ‘n fees ontbied. Tog stel Esra 3:1 dit duidelik:

Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom.

Die Fees van die Tabernakels (Loofhuttefees) word steeds ongeveer September gevier. [Levitikus 23 en Deuternonomium 16] Net soos van ouds is dit ‘n vrolike fees, ‘n tyd waarin die volk die uitkoms in die woestyn en al die genade dade van die Here moet onthou en vier. Die voorskrifte bepaal jolige, kommervrye feesdae waarin die goedheid, guns, genade en wonderwerke van God gedenk word deur almal teenwoordig – familie, gaste, predikante, bediendes en vreemdelinge. Die blote onthou van God se voorsiening sal ‘n verskil maak aan lewe na die fees – ‘n vars verwagting vir uitkoms. Die Fees het die fokus op die kernbeginsels van aanbidding herbeklemtoon. Deuternonomium 16:14:

Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing.

Die Fees was prioriteit. ‘n Aanbiddingsfees was die eerste stap in die herstel van die volk, sonder die beperkinge van vyandige, heidense omstanders soos tydens die ballingskap. Hulle het sekerlik die vryheid van hulle eie land geniet. Wat ‘n fees moes dit nie gewees het nie! Ek kan my net voorstel hoe hulle met palmtakke en tamboeryne gedans het.

Die feesvieringe het die toekomsplanne se klem bepaal en gesorg dat die tempelherstel aan die gang kom. Esra 3:7:

Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië.

Die Fees is gevier soos dit voorgeskryf is – as it is written. Die Woord van God was die ware fondament, die hoeksteen van aanbidding. Die oggend- en aandoffer is gebring volgens die voorskrifte van die Wet van Moses. Die Woord is die gids vir aanbidding. Volgens die Woord se voorskrifte is ons aanbidding ‘n lieflike geur wat voor die Troon opstyg, nie ‘n vleeslike gruwel soos die goue kalf nie.

Jesus het die eerste woorde van sy bediening vir ons die riglyne neergelê. Matteus 4:17:

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Matteus 9:13:

Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

Die besluit om die altaar op sy plek te stel is die immigrasie na die onsienlike koninkryk van God op aarde. Dit is ‘n eenvoudige besluit wat ons ganse bestaan op die altaar sit en ‘n splinternuwe, geesgebore lewe in ons skep. Dit is bekering wat ons vrymaking uit die slawerny van sonde vier. Ons lewe op die altaar bring ons in die vryheid van aanbidding in ons beloofde land. Ons vier die uitkomste van die verlede met ons dankbaarheid en prysgesange.

Gryp die tamboeryn Bodemklipvriend, al is die bouwerk nie klaar nie. Die oproep om fees te vier is nie beperk tot die suksesvolle afhandeling van die herstelwerk nie. Dit is gereelde herdenking van seën en uitkoms van die verlede, sodat dit waarmee jy nou besig is, deur die Here geseën word.

Jy voel dalk net soos die bannelinge, oorstuur en oorweldig met die taak voor jou. Dit is juis die tyd om die altaar reg te skuif, die offers te herstel en die boumateriaal vir die tempel te bestel. Kom ons praat Nuwe Testament-taal. As die sorge van die lewe jou so rondruk soos op ‘n stormsee, is dit tyd om na Jesus te roep, sodat Hy die storm stil maak. Dink weer aan jou wedergeboorte, ervaar in jou gees die koninkryk van God waarin jy saam met hom sit in die onsienlike as ‘n prins en skuif jou kroon reg op jou kop.

Nadat Jesus met Nikodemus praat oor wedergeboorte en die koninkryk van God, verduidelik Hy verder: Johannes 3: 5,6: The Message.

Jesus said, “You’re not listening. Let me say it again. Unless a person submits to this original creation—the ‘wind-hovering-over-the-water’ creation, the invisible moving the visible, a baptism into a new life—it’s not possible to enter God’s kingdom. When you look at a baby, it’s just that: a body you can look at and touch. But the person who takes shape within is formed by something you can’t see and touch—the Spirit—and becomes a living spirit.

Dit is die alles-omvattende altaarondervinding. Die Gees van God wat skep in jou sodat jy word wat God beplan vir jou lewe. Soos Hy asem in Adam ingeblaas het, so het Hy sy asem, sy Gees in jou geblaas vir ‘n nuwe lewe. Jy sit in die onsienlike saam met Christus, jy loop jou loop deur die lewe op koninkrykswette en staan vas teen die vyand, triomfantelik en volmoed. [Bodemklippe 74,75 en 76]

Wat gebeur in hierdie onsienlike koninkryk van God op aarde as ons oor die drumpel tree? Ons is uitgenooi na ‘n fees. ‘n Vrolike herinnering aan voorsiening, uitkoms, wonderwerke en beskerming is ons opdrag. Moenie dat die vyand jou vreugde-fees steel nie. Nehemia 8:11:

Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse HERE. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting.

Herstel die fees in jou lewe. Hou ‘n dankfees vir vorige gebedsbeantwoording en al die wonderbare uitkoms waarin Hy so oorvloedig vir jou gesorg het. Begin met die Christen-kalender – dis nou 40 dae voor Paas, die heel belangrikste Christelike fees. Maak iets besonder van Pinkster en Kersfees, maar begin jou eie feeste, jou eie uitgemerkte dae van dankbaarheid en hou ‘n jolige partytjie.

Onthou Adam se eerste dag was die Sabbat – ‘n dag van rus saam met God oor sy wonderbare skepping. Wat is die aard van jou Sabbat? Is dit ‘n feesdag tot eer van die Here? Ek pleit maar weer vir ‘n geestelike dagboek waarin jou spesiale insigte en gebedsbeantwoording opgeteken word.

Jou besluit het reaksie in die hemel. As jy tot God nader, sal Hy tot jou nader. [Jakobus 4:8] Hy is ‘n beloner van die wat hom soek. [Hebreërs 11:6] Hy sal jou sonde vergewe. [Jesaja 1:18] Hy belowe vrug. 2 Korintiërs 9:10:

God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.

Dit staan geskrywe uit die antieke tye. Deur al die eeue staan die Woord vas om altyd te slaag in wat God beplan. Psalm 138:2:

For You have magnified Your word above all Your name.

Hebreërs 6:13,14:

Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met ‘n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met ‘n eed by Homself bevestig en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ‘n baie groot nageslag gee.”

Ons is die saad van Abraham in Christus en daarom is die belofte op ons van toepassing. Is dit nie ‘n rede om fees te vier nie?

Galasiërs 3:16:

Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.

Die altaar het in die voorhof by die ingang van die tempel gestaan. Dit was die toegang tot die Heilige en Allerheiligste. By die altaar word ons sonde vergewe, by die waskom word ons doop herdenk sodat ons waardig kon wees om in te gaan in die teenwoordigheid van ons Vader. Dit is ware aanbidding – in gees en waarheid. Ware aanbidding hang nie van ‘n gebou, ‘n gemeenskap of gemeente, ‘n liturgie of ritueel af nie. Dit is die verootmoediging van die hart om die Tuin-verhouding te herstel. In die woorde van Jesus: Johannes 4:23:

Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.

Die aard van ons offer op die altaar is vrywillig en daagliks volgens Esra 3:4.5. Die resultaat van hierdie toewyding is die mees kosbare beloning ooit. Exodus 29:42:

Julle nakomelinge moet altyd ‘n brandoffer vir My bring by die deur van die tent van ontmoeting. Dit is waar Ek julle sal ontmoet en met jou sal praat.

Dit is rede vir ‘n fees. Dit is die begeerte van ons hart. Sy woorde is kosbare juwele wat ons verander en versier.

Dit is die glorie-gesprek van alle eeue!

14. Antieke woorde van krag en waarheid

Ons almal ken die Onse Vader. Selfs ongelowiges sal min of meer weet waarvan jy praat as jy die praat van die Onse Vader. So bekend dat die relatiewe kort gebed ‘n artikel bygekry het. Dit is DIE Onse Vader. Die kragtigste reeks woorde wat oor die lippe van enige mens kan kom.

Daar is net EEN. Hy is gesing, voorgedra, opgesê en gebid.  Herhalings daarvan was die voorwaarde vir vergifnis deur eeue van strakke, koue kerke en skole. Liefdelose leiers het die woorde as oordeel oor mense se koppe gehou. By dood en geboortes, ewe gepas, dwarsdeur die eeue, oor tale en grense en volke. Daar was seker nog nooit ‘n reeks woorde meer aan misbruik en misverstand onderwerp, as hierdie gebed van Jesus. Ten spyte van alles, is dit seker die kragtigste reeks woorde wat oor die lippe van enige mens, sonder enige aansien van persoon, kan kom. Soveel getuienisse is uit hierdie gebed gebore. Volwassenes wat as kinders gedwing is om die gebed te leer, het dit onthou in donker, bange oomblikke en die salwing wat nooit met tyd kan verflou nie, ervaar. Kom ons bid dit weer saam.

Ons het al vlugtig geraak aan die wonderlike begrip om die grote, heilige God VADER te noem. Jesus kom as ‘n inkarnasie van Yahweh van die Ou Testament en Hy kom stel Hom voor as ‘n liefdevolle, betrokke, warm Pappa, wat omgee en gee, met oorvloedige voorsiening in elke moontlike situasie.  Reeds in Deutronomium 14:1 sê God julle is die seuns van God, Jeremia 31:9 Ek is die Vader van Israel en Deutronomium 32:6 Is Hy nie die Here die God julle Vader wat julle gemaak het nie.

YAHWEH was die groot EK IS, selfvoorsienende, almagtige Skepper. Daarby was Sy voorskrifte geweldig en menslik amper onbereikbaar. Die Hebreërs van ouds is gekies om die liefde, goedheid en teenwoordigheid van hierdie Skepper-God, nie alleen te ervaar nie, maar so uit te leef dat al die ander volke van die aarde uiteindelik hierdie God sal aankleef en ervaar. Hierdie volk is magtiglik uit slawerny bevry, in die woestyn-leerskool opgehef tot die verbondsvolk wat hulle in slawerny net vaagweg van bewus was, en met aanskoulike en verstommende wonderwerke in ‘n land van hulle eie gevestig is. Met verloop van tyd, in afvalligheid en ongehoorsaamheid en daarby ‘n geestelike hoogmoed wat hulle God eksklusief aan die etnisiteit van hulle Joodsheid gekoppel het, met absolute en veroordelende uitsluiting van enige ander, het hulle in ‘n kragtelose, armsalige, godsdienstig-gebonde nasie ontwikkel, wat in die eerste eeu ‘n omstrede, vernederde uithoek van die magtige Romeinse Ryk was. Vir hierdie geestelik uitgemergelde behoeftiges, kom sê Jesus – ontspan oor al julle voorskrifte en vereistes om God te plesier – Hy is julle Vader. Hy sal sorg.

Die lyntjie van een lied sê: It is your Father’s joy to give to all who will receive.

Romeine 8: 15 For the Spirit which you have now received is not a spirit of slavery to put you once more in bondage to fear, but you have received he Spirit of adoption, producing sonship, in the bliss of which we cry: Abba Father.

Die woord ABBA is die woord wat ‘n klein kindjie sy pa sou noem, soos ons sê Pappa. Dis familiêr, warm, naby, vol vertroue en liefde. Net Jeus het hierdie woord kom vestig vir God die Vader. Daar is niks anders in Joodse literatuur wat God die Vader op hierdie vertroulike manier aanspreek nie.

Deur die Heilige Gees is ons verseker van ons kindskap. Galasiërs 4:6:

And because you are sons, God has sent forth the Spirit of His Son into your hearts, crying out, Abba Father.

Dit bevestig eens en vir altyd die verhouding met God.

As mens die vaderskap van God aanvaar, dan impliseer dit natuurlik die broederskap van die mens. Belangrike aspek van oordeel en vergifnis soos wat ons verder in die gebed sal sien.

Net een klein opmerking oor die detail van God se liefde:

  • In Matteus 10:29 staan daar: Are not two sparrows sold for a penny? And not one of them will fall to the ground without your Father’s will.

 

  • In Lukas 12:6 staan daar: Are not 5 sparrows sold for 2 pennies. And not one of them is forgotten before God.

 Dis duidelik dat die 5e mossie in die transaksie van 2 pennies ingegooi is as ‘n bonus en dus in die berekening absoluut GEEN waarde gehad het nie. Selfs hierdie mossie is nie vergete nie. Moet nooit toelaat dat die vyand jou waarde in God se oë verminder nie – jy weet nou dat Hy jou nooit ooit sal vergeet nie. Hy ken jou naam. (Jesaja 45:3) Die hare op jou kop is getel. (Lukas 21:18)

Jesus vestig in die eerste sinnetjie die begrip: HEMEL.

Die hemele in die woorde van Jesus, is nie die tradisionele gedagte van die hemel as geografiese blyplek van God iewers in die heelal nie – onbereikbaar en misterieus. Die hemel is die onsigbare wêreld waarvan mens net in gebed bewus van word. Dit kan ook miskien verduidelik word as die heerskappy van God. As Hy sê in Matteus 18:18 Alles wat julle op aarde bind sal in die hemele gebonde wees dan bedoel Hy in die onsigbare geesteswêreld hier om ons – nie in Sy woonplek nie – hoekom sou ons iets in die hemel waar Hy is wil bind – daar is alles mos klaar reg.

In die eerste woorde van Johannes die Doper en Jesus sê hulle: Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekomMatteus 3:1 en 4:17. Die koninkryk van God is die onsigbare koninkryk van gelowiges wat Jesus kom stig het. In Galasiërs sê hy dat die sondaars NIE die koninkryk van die hemele sal beërwe nie. Dis nie ‘n oordeel dat hulle die hemel sal mis eendag as hulle sterwe nie. Dis die seker wete dat jy al die beloftes en seën van die koninkryk hier op aarde mis, omdat sonde jou ervaring van God se teenwoordigheid verhinder. Sonde is om jou doel te mis. Missing the mark sê die Engels.

Die woord heilig moet ook duidelik gedefinieer word. Die konkordansie definieer dit so: afgesonder vir ‘n spesifieke doel – set apart for a specific purpose. Dis hoekom ons kan sê seker objekte in die tempel is heilig, of sommer ligtiglik – hoekom kan ek nie jou pen leen nie – is dit heilig?

Die Naam van die Here is heilig – het net een doel. Kan nie sommer vir enigiets aangewend word nie. Die Naam is Sy karakter, die volheid en omvang van Sy krag en heerlikheid. In Sy Naam is genesing, voorsiening, beskerming, kragtige uitkoms en liefde wat vir niks stuit nie.

Die Here se wil word afgebid in die volgende sin. Jesus het volle vertroue in Sy Vader se wil. Hy weet die wil van God in elke persoon se lewe, is die mees perfekte scenario wat moontlik kan bestaan. As elke mens God se plan volg, sal hy altyd volmaakte vrede sonder vrees ervaar. Ek glo dat daar ‘n volmaakte plan is vir elke lewe op aarde, selfs die mees onwelkome baba. Dit is nie’n yster, bloudruk wat in elke detail nagevolg moet word en by die eerste fout van die spoor af gestuur word nie. Die plan van God vir jou is om jou volle potensiaal te bereik, ‘n plan waarin jy die Heilige Gees leiding volg en jou gesonde verstand wat Hy aan jou gee.  Foute en sonde kan nooit die plan vernietig nie, en jou eie keuses verwerp nie die plan nie, solank jy jou keuses in gebed onderwerp.

Ons bid vir die wil van die Here op aarde, omdat die hemel waar Hy is reeds die volmaakte omstandighede het. In die hemel is die wil van die Vader onbevraagteken en die omstandighede is volmaak. Hier op aarde is dit ‘n gebedstrewe om die wil van die Vader te volg. Dit is daarvolgens wat ons ons lewe wil inrig. God se volmaakte wil op aarde, maak dit hemel – daardie heerlike toestand onder Sy heerskappy en gesag.

Jy mag dalk vra – Wat is die wil en hoe kan ek weet wat die wil van God is. Die wil van God word uiteengesig in Sy Woord. Dit is die eerste stap – studeer Sy woord, hoor wat Hy vir jou sê en as jy jou lewe al hoe meer inrig volgens Sy Woord – met oorgawe van bekommernis en vrees in kinderlike vertroue, sal Hy al hoe meer Sy spesifieke Wil vir jou omstandighede aan jou bekend maak deur oortuiging en Skrif wat dit ondersteun.

Volgende keer praat ons oor die volgende stukkie wat gaan oor ons behoeftes, vergifnis en die bose.

Was so lekker om weer te gesels.