As daar iets is wat ons uit die afgelope twee jaar moes leer, is dit geduld. Ek is seker in die begin van die virus-manewales sou ons gedink het teen 2022 is alles oor en kan ons normaal aangaan met ons lewe. Nou stap ons aan na die einde van die eerste maand in 2022 en dinge sleep en draai. Dit het al heelwat beter gelyk, maar dan is daar een of ander paniek oor nog ‘n variant en vrees herleef. Net sodra die ou mensdom heel trots en voortvarend dink hy kan die oorwinning aankondig, kom slaan die lang draakstert van die virus nog ‘n maal ‘n pynlike hou.
Dit is die kenmerk van vrees en trots – dit is skielik op jou – ongevraagd, onwelkom en ongeskik soos ‘n knaende kind wat net nie nee vir ‘n antwoord vat nie. Vrees en trots vlug nie maklik nie. Die twee sterk manne van ons innerlike arriveer gou en vertrek traag. Dis weer en weer ‘n kop-skuif om vrees en trots die nekslag toe te dien en vry te leef. Dit is nou maar eenmaal ‘n geestelike oorlog, ‘n stryd, ‘n slagveld – daarom het ons wapens.
In die eerste vers van Maleagi se derde hoofstuk het die woord skielik my opgeval. Ons is so gewoond om vermaan te word oor ongeduld. Ons leef in die kits-generasie. Alles moet gou gebeur. Ek self is al ongeduldig met stadige internet en stadige bediening. Ek genereer nie geduld sonder nadenke nie. Ek moet myself in hand neem en aanspreek sodat ek geduld toon waar dit nodig is, veral tenoor my medemens. Die sondige natuur word nie sommer afgesterf nie – hy steek sy lelike woede-kop heel onverwags hier uit my eie hart.
Ek is natuurlik nie sy slagoffer nie. Vir my is daar ‘n ander bedeling – ‘n vinnige oplossing! Ek leef in die kragtige realm van vergifnis en Heilige Gees-gawes.
Ek gaan nou my boodskapper stuur,
Hy sal die pad voor My uit regmaak,
en dan sal die Here na wie julle soek,
skielik na sy tempel toe kom.
Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien,
gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. (Maleagi 3:1)
Ons weet hierdie Skrif verwys na Jesus. Ons weet dit was die profeet se aanmoediging aan die volk dat God sy Verbondsengel, die Lig van die wêreld, wat Abraham as ’n lig gesien het toe hy half aan die slaap was in die proses waar God met hom ‘n verbond gesluit het, sodat Abraham sy kant van die verbond kon nakom. God het ‘n verbond met homself gesluit. Jesus was die Verbondsengel wat toe reeds in Abraham se plek ingestaan het, omdat ons as mense nooit in staat sou wees om ‘n verbondsbelofte aan God na te kom nie. Jesus het sy rol as die plaasvervanger volbring, lank voor Abraham Isak moes gaan offer. God se Plan en die fynste besonderhede van sy doelstellinge met die mens, is aan ons uitgespel van die vroegste tye af,
Ons weet Jesus het gekom en alles geleef wat God bedoel het en toe gesterf het, volgens die Plan van die Allerhoogste.
Waar staan ons nou? Ons is op die plek waar ons skielik die uitkoms sien. Ons ken die God wie ons soek. Ons wag nie meer nie. Ons leef aan die anderkant van die belofte – prys die Here! Ons uitkoms is gou en nou dadelik. Die tyd is afgetel, die Kruis is volbring, die Heilige Gees is uitgestort sodat ons die lewe-gewende asem van God in ons innerlike wese ervaar en uit die krag wat ons ontvang leef.
Hoekom voel dit nie so nie? Daar is net een skuldige een in die tempel van God, een slang in die Tuin – die duiwel, die ou satan en sy spoke, Vrees en Trots.
In Dawid se Psalms is daar dikwels ‘n dringendheid vir onmiddellike uitkoms. Ons weet Dawid was tien jaar in die wildernis waar hy van Saul gevlug het en waar die vorming vir sy koningskap plaasgevind het. Het die jonge Dawid dalk ingenome gevoel met sy salwing as koning? Hy was heel opgewonde toe hy na die paleis ontbied is om as musikant in die teenwoordigheid van die koning self op te tree. Alles het verkeerd geloop. Die koning van wie Dawid gedink het hy die fynskrif van koningskap gaan leer, word sy grootste vyand. Hy word verneder, die wildernis in, waar God hom in diepe afhanklikheid van God se voorsiening vir sy regering voorberei.
Vrees spreek die Bybel in oormaat aan sodat ons weet dat God ons nooit sal verlaat nie. Daar is ‘n belofte oor vrees vir elke dag en getuienisse van wonder-ingrepe om die waarheid van die belofte te waarborg.
Trots is ‘n skelm sluipdief wat inkruip waar hy nie hoort nie en alles kontamineer. Wat laat ons ons welgeval? Wat blok die seën van die Here? Dawid skryf dat die Here het ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees lief (Psalm 51:19,OAB)
Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val. (Spreuke 16:18)
Hiskia het egter nie dankbaarheid betoon vir dié weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself, en dit het die toorn van die Here oor hom en oor Juda en Jerusalem gebring. Hy en die inwoners van Jerusalem het egter berou gekry oor die selfingenomenheid, en die toorn van die Here het toe nie in die tyd van Hiskia oor hulle gekom nie. (2 Kronieke 32:25,26)
Ingenomendheid met jouself, trots op dit wat jy bereik, trots op wie jy ken – alles is seën-blokkers. Trots bring die toorn van die Here oor die koning en die volk. Berou en belydenis spoel die kanaal van seën weer oop.
Hiskia het vir die amptenare sy rykdom gewys toe hy sy getuienis moes gee. (Jesaja 39) Hy was trots op die seën van die Here, maar het nie aan God die eer gegee nie. Dawid se wildernis-jare het hom geleer dat die seën van die Here maak ryk en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie. (Spreuke 10:22, OAB)
Nebukadneser moes in vernedering gras vreet voordat hy sy knie voor die Allerhoogste God gebuig het. (Daniël 4:29-37) Na groot skande het hy verklaar:
Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.(Daniël 4:37)
Kry klaar met vrees en trots – seën volg skielik…gou…nou dadelik!