267. Die Antwoord

Die hele wêreld vra daarna.  Antwoorde!   Die vrae is te veel en te moeilik.  Die reaksies op die groot vraagstukke en kwansuise antwoorde kom so vinnig en fel dat verwarring en geweld volg.  Die leiers gryp na aardse wysheid, gevestigde ideologie, onbewese kits-oplossings wat links en regs op die mensdom afgedwing word met al die moontlike inligtingskanale – betroubaar en onbetroubaar.  Klassieke liberalisme wat aan almal die reg op ‘n veilige mening toegewys het, is skielik op die altaar van moderne agendas wat geen teenstand duld nie.  Waardes en beginsels uit antieke wysheid word sonder nadenke in woede en onvergenoegdheid “gekanselleer”.

Uit die afgelope paar jaar van internet-bediening, het ek kosbare beginsels geleer.  Uit ‘n verskeidenheid predikers wat die kansels met waardigheid en wysheid en harte vol passie en diensbaarheid met die Woord van God gevul het, het ‘n paar belangrikhede uitgestaan.  Die eerste ses van hierdie kort verklarings kom uit ‘n bediening in Kalifornië.  Aan die einde het ek een bygevoeg omdat ek hou van die getal sewe.

  1. God is goed
  2. God is teenwoordig 
  3. Niks is onmoontlik
  4. Jesus het die volle prys betaal
  5. Ek is betekenisvol
  6. Daar is misterie
  7. Die swaard  (die Woord) is uitgetrek

Al ons grootste stryd kan onder hierdie beginsels beantwoord word.  Dit is die basis van ons geloof en die antwoord op elke situasie – al lyk dit hoe onmoontlik en oorweldigend.

Ons soek antwoorde.  Dis goed.  Jesus sê, Vra!  Dis egter nie al wat Hy sê nie.  Hy sê, Soek en Klop met beloftes en waarborge wat op al drie opdragte volg.  Vra en kry antwoorde, soek en vind en klop en die deur sal oopgemaak word.   (Matteus 7:7)

Vra jou vrae aan die Een wie se naam Wysheid is.  (Spreuke 8). Moet egter nie vashaak by die vra nie.  Gaan verder.  Soek die Gewer van die antwoorde totdat die deur oopgaan – die deur wat niemand kan sluit nie.  (Openbaring 3:8)  Dis by die klop wat die wonderwerke in die sienlike realm ingebid word.

Klop het ‘n wonderbare tweeslagtigheid.  Ons klop sodat daar vir ons oopgemaak word, maar meer belangrik is ons aan die ontvangkant van ‘n klop.  Ons is aan die binnekant wanneer God sê: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. (Openbaring 3:20)

In Judea van ouds was ontbyt vroeg en gejaagd as die mense vroeg roer vir werk en verpligtinge.  Middagete was ingepak in ‘n knapsak (gewoonlik gebrei uit ‘n bok se maagvelletjie).  Die aandete  was tuis, dikwels in die koeligheid van die aandwindjie op die dak van die huis.  Die familie het bymekaargekom en die ete was uitgestrek oor ‘n hele aand van saamgesels.  Dit is na hierdie maal wat Jesus verwys in Openbaring 3:20.  Die aandete, die saam sit en die dag se gebeure deel.  

CS Lewis skryf: I know now Lord, why you utter no answer. You are yourself the answer.  Before your face the  questions die away.  What other answer would suffice?

Dit is wanneer daar vir God oopgemaak word, dat die dubbeldeure oopgaan, die bronspoorte oopgebreek word en sluitbalke van yster stukkend gekap word.  (Jesaja 45:1,2))  Dit is feestafel in die Vallei van Doodskaduwee (Psalm 23) waar jou hoof vet is met olie en jou beker oorloop.  Die gevolge van die Jesus-fees is ‘n lewe waarin goedheid en guns op jou spoor bly en jou nooit verlaat nie, al voel dit so.  Die Hebreeus vir volg het ‘n betekenisnuanse wat dui op agtervolg. Lank gelede het een prediker verduidelik dat goedheid en guns twee bloedhonde op jou spoor is.  Wees bewus van die seën op elke aspek van jou lewe in die hitte van die stryd.

In sy teenwoordigheid is die oplossing vir alles.  Alles moet wyk voor die krag van ons Skepper.  Hy is die Skepper van die wonders wat die James Webb ruimte teleskoop nou afneem – sterreprag en kosmiese skoonheid soos wat ons nie ons wildste drome kan voorstel nie.

Vra, soek, klop – die Antwoord is sy Aangesig.

Die antwoord

Hy besluit

ek weet dit tog

kan ek dit dan beheer

of manipuleer?

ek sug, ek huil

ek bid, ek soek,

‘n antwoord wat MY pas

in genade kry ek vrede

in stilte kom die krag 

Sy plan, Sy doel

God besluit

weer en weer

die Antwoord


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s