260.   Pak klippe in die voetpaaie

Klippe praat met my.  Dis nou maar eenmaal so.  Vandat ek van die Jordaan-klippe van Joshua se tyd gelees het, en besef het hoe anders die klippe uit  die middel van die rivier – bodemklippe – in vergelyking met wal-klippe gelyk en gevoel het, het my oë vir klippe oopgegaan.  Die klippe in my lewe is altaar-klippe wat spreek van lewensveranderende momente met God, maar ook die klein wit klippies van die kerk in Openbaring met wie God praat oor die steentjies met ‘n nuwe naam (Openbaring 2:17 en Bodemklippe 93).  Klippies om saam te dra in die boesem-sak van getuienisse.

Die OAB noem dit ‘n keursteen – uitgesoek en spesiaal.  Die Engels van hierdie webtuiste word Pebbles of Perpetuity genoem – klippies met ewigheidswaarde.  Daar is soveel simboliek in hierdie metafoor.  Dawid het keer op keer God sy Rots genoem.  Hy het agter en in groot rotse geskuil in die wildernis.  Hy het ‘n kleintjie gebruik om sy reus dood te skiet – dink net aan die krag van daardie “pebble”.  Net een van die rivier-steentjies van Dawid het die reus verslaan en die uitkoms van die hele skaakmat-situasie tussen die Israeliete en die Filistyne in triomfantelike feestelikheid ten gunste van die Israeliete gedraai.  Klippe en klippies met krag wat ons die oorwinning laat smaak.

Rivier-steentjies en veld-steentjies – Nederlandse woorde wat ons kan leen om ons gedagtes te verwoord en te verryk.  

Kleintyd op die plaas het ek gehoor van klippe in die voetpaaie.  Dit is vasgelê in my herinneringe omdat dit so ‘n kragtige natuur-storie is.  Die Departement van Bodembewaring was baie aktief en effektief waar nuwe saaigrond en weigrond ontwikkel is.  Die advies was om voetpaadjies vol klippies te pak.  Die proses wat die natuur gebruik om die voetpad heeltemal toe te groei en die littekens van ondeurdagte mens-gedrag te oorkom, is deur ‘n man in ‘n kakie-kortbroek en kniekouse met ‘n groot koppie koffie en nog groter anysbeskuit in sy hand aan my gesin verduidelik.  Dit was een van die voordele van sy plaasbesoeke.   Nadat hy lang ente op die plaas geloop het en kontoerwalle uitgemeet het, het hy sy verposing in die plaashuis met plaas-lekkerte geniet.  Ek was klein – onder tien jaar oud – en ek het aan sy lippe gehang.  

Die groot vyand is erosie.  Voetpaaie word slootjies, slootjies word slote en hulle word naderhand gragte en kuile wat die hele geaardheid van die veld verander.

Pak maar die vlei-klippies in die voetpaaie, het hy my boer-broer aanbeveel.  ‘n Sleepwa-vol uit die vlei sal genoeg wees, het hy gemeen.  Die wind sal die grond daaroor waai en die grassaad “plant”.  Die reën sal dit tussen die klippies laat ontkiem.  Een seisoen en die voetpad sal skaars sigbaar wees.  Twee seisoene, en jy sal sien die natuur het gewen – met bietjie hulp. 

Jare later het ek kinders deur laerskool gehelp lees.  Toe moes ek leer van disleksie en lees-probleme.  Een ma het haar vier kinders in hand geneem, die opleiding vir disleksiese terapie self gedoen en hulle almal tuis geleer.  Sy het verduidelik.  Daar is paadjies in hulle brein wat sy moet verander.  Sy maak nuwe lees-paadjies met die regte spelling.  Die sleutel was herhaling met ander tegnieke daarby.

Nou se dae sien ek baie mense met vrees en depressie.  Hulle kan eenvoudig nie anders dink nie.  Vrees het ‘n pad gemaak, ‘n voetpad aanvanklik, maar dan word dit ‘n sloot en ‘n grag van verkeerde denke.  Hulle kan net die negatiewe en die ergste scenario sien.  Die brein-sloot “praat” verdoemenis en wanhoop soos ‘n wafferse doemprofeet vir wie daar genoeg bronne is – tel net jou foon op.  Hoop en geloof is lankal in die stof platgetrap want elke dag se nuus stort die stormwater in die denkpatroon se voetpad af om die verkeerde denke te versterk.

Ons het klippe nodig en ons moet vragte vol in die breinpaadjies pak.  Ons bodemklippe – getuienisse van groot uitkoms deur ‘n getroue, liefdevolle Pa wat nog altyd gesorg het – sal die paadjie se erosie keer.  Sakke vol seëninge wat in die voetpad uitgestrooi word en getel word sodat die lewenstorme ons nie oorweldig nie.  Ons steentjies van hoop met die nuwe naam wat niemand ken nie.  (Bodemklippe 93 se verduideliking van Openbaring 2)

Pak vrees by die horings – daardie skerp horings wat altyd steek en seermaak sodat die bloed loop.  Die Woord van God sal jou skoon was (Efesiërs 5:26) en jou moed gee (Hebreërs 13:5-7).

Ek weet nie aldag of ons bedoel is om so als te weet nie.  Ons word oorweldig met die nuus van die wêreld, meestal katastrofies, wat ons moet verwerk, terwyl ons absoluut niks daaraan kan doen nie.  Die strate is vol woede omdat mense voel hulle moet optree. Klimaatsverandering, die pandemie en ander sosiale kwessies word in die sosiale media op ‘n onverantwoordelike wyse op jong kinders gelaai, wat nie die kennis of vermoë het om op te tree nie.  Hulle voel belas en belaai en verantwoordelik vir hulle eie toekoms, sonder die toerusting van die vrede wat net die Vredevors kan gee, vir Wie die nasies die “klein stoffies op die skaal is (Jesaja 40:15).

Woon en werk rustig voort, sê Psalm 37.  Moenie vrees nie, sê die Bybel honderde kere.  Vertrou die Skepper, die Almagtige wat alles in sy Hand hou, bo alles jou lewe in liefde en goedheid waarvan Hy die Bron is.

Blaai en lees jou Bybel.  God sal jou lei.  Lees hoeveel maal Dawid benoud was, in lewensgevaar, en dat God hom uit al sy bange node gered het.  Saul, die koning, het hom met alles wat ‘n koning tot sy beskikking het gejag.  Op die ou end is Saul dood en Dawid het gelewe en sy doel geleef.  God is groot en sy Woord keer nie leeg terug nie.  God se doel vir jou is die beste wat jy ooit kan hê – ‘n uitnemende lewe.  Lees maar weer my lewenslied – Jesaja 55.

Pak die voetpaaie van vrees vol klippe – Bodemklippe uit die middel van die vloed-Jordaan wat vir jou opgedroog het sodat jy kan deurstap sonder vrees (Joshua 4 en Bodemklippe 5).


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s