365. Die nasies rommel en raas

In ons gesprek laas keer het ons gemerk dat die antieke geskiedenis sowel as die afgelope tweeduisend jaar ‘n tyd van politieke, ekonomiese en sosiale omwenteling was.  Dit was ook nooit anders in die bestaan van God se volk.  ‘n Mens sou dink na die oorloë om die Beloofde Land in besit te neem, daar ‘n tyd van vrede en voorspoed sou wees, maar niks op hierdie aarde is ooit ideaal.  

Een van die leë beloftes van kommunisme was ‘n soort Utopia van ongekende vrede wanneer die werkers, die gewone mense oor almal regeer.  Godsdiens was die opium vir die volk om hulle na ‘n beter bedeling te laat uitsien.  Kommunisme sou die hemel aarde toe bring. Ons weet almal hoe dit uitgewerk het.

Hemel hier en nou is die kern van die Evangelie boodskap. Dit is waarom ons bid: Laat U wil geskied in die hemel so ook op die aarde. Dit het my lank geneem om die sinnetjie in die Onse Vader te verstaan.  Ek het besef dat die hemel nie ‘n ver afgeleë woonplek van God iewers in die heelal is nie.  Die hemel, of hemele is die onsigbare realm hier by ons, ook daar waar ons met boosheid te doen het.  Waar God se wil geskied is dit hemel, as ons dit verstaan as ‘n ideale plek van veiligheid en voorspoed. Daar waar Sy wil geskied, is Hy teenwoordig en dit is hemel. 

Jesus het die onsigbare Koninkryk van God op aarde kom vestig.  Sy woorde aan Pilatus onderstreep juis die feit: My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.

Is u dan tog ‘n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ” (Johannes 18:37)

Hier is ‘n sleutel tot die Koninkryk van God, die aardse onsigbare Koninkryk waarvan ons burgers word deur wedergeboorte.  Wedergeboorte is ‘n rasionele besluit om die werk van Jesus aan die Kruis persoonlik te aanvaar en jou lewe aan Hom oor te gee sodat die Heilige Gees in jou kan woon – jou gees word herbore. Dit is die enigste manier hoe ons die onsigbare Koninkryk van God “sien”. (Johannes 3) 

Kom ons juig dat dit moontlik is.  Ons nooi die Heilige Gees in ons innerlike wese in, om ons te transformeer deur die vernuwing van ons denke. (Romeine 12:2)  Dit is ‘n proses van “anders dink” teen-intuïtief leef en daaglikse onderwerping aan God se beginsels, glad nie ‘n kits-oplossing vir al die duisternis waarin ons elke dag gedompel word nie.

Dit is met hierdie nuwe denke dat ons ons wêreld in die oë kyk. Dit is in die lig van God se gesag wat ons oor ons lewe en denke nooi, dat ons die nuus van die nasies met ‘n ander perspektief beskou.  

Ons God regeer. 

Hoe lieflik op die berge is die voete van ‘n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat ‘n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!” (Jesaja 52:7)

Natuurlik lyk dit nie so nie.  Dit skyn heeltemal die teenoorgestelde te wees. Enigiemand wat enige nuusbron betree is bewus van moord en doodslag, oorlog en bloedvergieting, onbeskryflike grootskaalse menslike lyding en dit is net die deel wat dit maak tot in die kollig van die media. 

Te midde van alles funksioneer die Koninkryk van God, nie die kerke of denominasies nie, die ware, bloedgewaste, wedergebore kinders van God. (Johannes 1:12; 1 Johannes 3:1) Hulle is die Kerk, die Liggaam van Christus, die Nuwe Jerusalem, wat die krag van God in die wêreld leef.  (1 Korintiërs 12:27)

In die lig van Christus en sy oorwinning oor die dood en hel kan ons weer  na die wêreld om ons kyk. 

Wee! Die gedreun van baie volke – soos die dreuning van die oseane dreun hulle. Die gedruis van nasies – soos die gedruis van magtige water druis hulle. Ja, nasies – soos die gedruis van magtige water, druis hulle. 

Maar Hy berispe hulle, en hulle vlug ver weg. Hulle word voortgedryf op die bulte soos kaf voor die wind, soos tolbosse voor ‘n stormwind. (Jesaja 17:12,13)

Elke keer as die nuus my uitlok tot vrees en woede, is God se beheer oor die lotgevalle van die nasies my troos. Teleurstelling in leiers en dit wat hulle aanvang is deel van die daaglikse trauma van menswees. Dit is weer, net soos altyd, die Woord van God, woorde wat lewe, wat mens in staat stel om die tree terug of dalk liewer die tree boontoe te gee en die “bril” van hemelse perspektief op te sit. (https://bodemklippe.com/2014/05/12/42-kry-vir-jou-n-bril/)

Die bril wat jy moet opsit, is die Woord.  Dit is die woorde van die ou profete wat deur die geskiedenis die chaos en vernietiging van “die nasies” gesien en beskryf het, soms in realiteit, soms in profetiese insig.

Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal. As Hy die eilande op ‘n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies.  (Jesaja 40:15)

Wat is dan op God se skaal?  Verseker die Kruis aan die een kant. Die enigste moontlikheid op die ander kant vir balansering is mense-siele. Die doel van die Kruis is uitredding en die transformasie van mense.

Dit was vir my ‘n openbaring lank gelede toe ek besef daar is altyd ‘n reënboog te siene.  Dit hang net af van hoe die son of lig val en die prisma wat beskikbaar is om die kleure te wys. Ek kan skuif, die gordyn ooptrek, die son inlaat en die reënboog sien. ‘n Reënboog is die simbool van die Verbond van God met Noag, die belofte van seisoen en die ritme van tyd, wat vir ons gegee word en die hoop op Gees-beheerde omwenteling, wat ons wonderwerke noem, te bevestig. Die beloftes van die Woord is so seker en gewaarborg soos die dagbreek en die seisoene. (Genesis 8:22)

Laat die Son van Geregtigheid skyn. Kry die prisma van hemelse perspektief in jou hand.  Skuif jou denke. Kyk reg. Kry vir jou ‘n bril van hoop.

Maar vir julle wat ontsag het vir my Naam, sal die son van geregtigheid deurbreek met genesing in sy strale. Dan sal julle uitgaan en bokspring soos kalwers wat op stal was, en julle sal die goddeloses vertrap. Ja, hulle sal as onder die sole van julle voete wees, op die dag wat Ek voorberei,” sê die Here, Heerser oor alle magte. (Maleagi 4:2,3)

Ek het verlede keer die Miktaam-psalms genoem.  Dit is ‘n groep van ses psalms, gemerk met die misterieuse Hebreeuse term, miktaam.  Meeste kommentare dink dit is ‘n musiekterm en gaan oor die uitvoering van die lied. Dit is Psalms 16, 56, 57, 58, 59 en 60.  Almal is deur Dawid geskryf in tye van ekstreme gevaar en stryd met Saul of ander vyande. 

In al hierdie Psalms is daar ‘n tema van ‘n onwrikbare vertroue op God, ‘n uitroep om uitredding en ‘n sterk Messiaanse hoop.  Dit is interessant om net die inleidende vers te lees wat gaan oor die omstandighede waarin Dawid die Psalm geskryf het. 

Lees dit met ‘n oop gemoed sodat die Woord jou siel kan binnedring en die vrede wat alles verstand te bowe gaan jou hart en sinne kan bewaar.  (Filippense 4:7)

Lees en lees weer… jou trane in God se kruik… in die boekrol opgeskryf…beloftes…dankoffers…lig van die lewe…troue liefde…waarheid…wraak…oordeel…bloed…lofsang…

Maar ek, ek sing van u krag.

In die môre jubel ek oor u troue liefde,

want U was vir my ‘n toevlugsoord,

‘n skuilplek op die dag van my nood.

My Sterkte, ek wil U besing.

Ja, God is my toevlugsoord,

die God aan wie ek toegewy is.


Lewer kommentaar