Enigiemand wat Afrikaans sing sal weet van die vierperde-wa – ‘n tradisionele Langenhoven-liedjie van ‘n naamlose wa wat aankom en heeltemal te swaar gelaai is.
Ek dink die woorde het toepassing op ons planeet, ‘n soort metafoor vir ons ou wêreld – ‘n oorlaaide wa met vier perde – ‘n rooie, ‘n swarte, ‘n witte en ‘n vaal een. Dit is die vier perde van die apokalips wat skuim om die bek, volspoed hardloop. ‘n Weghol-wa wat ruk en pluk met oorlog, hongersnood en siekte, ekonomies en finansiële verdoemenis en te midde alles die wit perd van oorwinning met bloed op sy klere want geen oorwinning is moontlik sonder ‘n bloedige geveg wat lewens aan albei kante eis. [Bodemklippe 99]
Ek is gewoonlik nie bang vir ‘n perd nie, hoewel ek nie ‘n ruiter is nie. Ek bewonder perde. In die fliek, Lord of the Rings het hulle daarin geslaag om ‘n perd en sy ruiter vreesaanjaend voor te stel – groot, swart perde met bloed wat oral uitdrup.
Die mooiste beskrywing van ‘n perd is in Job. God self spreek die wonder-krag van ‘n perd en sy vreesloosheid in oorlog uit.
“Gee jý vir die perd sy krag,
sit jý vir hom maanhare aan?
Het jý gemaak dat hy kan spring soos ‘n sprinkaan,
dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?
Hy kap die grond met sy pote en trippel rond,
met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.
Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie,
hy deins nie terug vir oorlog nie. (Job 39:22-25 ev)
Geo-politiese en globale gebeure is skrikwekkend onstabiel op die oomblik. Die oorlog in Europa byt aan ons eie sakke in terme van inflasie, rentekoerse en petrolpryse. Skielik is die ou skeidslyne weer sigbaar, ideologie weer vooropgestel en die groot kanonne op die voorpunt van ‘n tradisionele oorlog. Die straat-stemme oor rassisme, aborsie, seksuele voorkeure en persoonlike wapens skel en skreeu verdoemenis oor mekaar uit. As ek die nuus kyk, is die wêreld vir my lelik, die mense vasgevang in woedende histerie en hartverskeurende verwarring en tragedie en die politici en leiers grootbek en korrup, slagoffers van eie waan, groot ego’s en ‘n wêreldbeskouing wat rigied en sonder genade aangehang moet word.
Is daar een aan wie ek my lewe en toekoms sou kon toevertrou? Is daar een wat insig en wysheid weerspieël? Geld, mag en seks regeer, soos nog altyd.
Dis die groot prentjie met al die geraas en gemors wat ons siele daagliks vanuit ons gekose skerms kontamineer. In die gemeenskap waar ek leef is daar mense wat intense persoonlike krisisse hanteer oor verskeie maande, selfs jare nou al. Vir sommige sal 2022 uitstaan as ‘n jaar van krisis en katastrofes.
Ek verlang na stille waters, groen weivelde en ‘n beker wat oorloop. Waar sal ek dit kry? Op die oomblik is dit net die antieke woorde van ‘n wonder-boek wat op bonatuurlike wyse vir ons bewaar is oor soveel eeue, wat my siel kan stilmaak – die woorde van Gees en lewe soos wat Jesus belowe het. (Johannes 6:63) Ek word gewas met die water van die Woord. (Efesiërs 5:26)
Ek weet natuurlik goed waar ek stilte en verkwikking kry. In die vallei. Dit het my ‘n rukkie geneem om te besef dat die uitkoms en rus IN die vallei van doodskaduwee is. Die Psalm belowe nie uitkoms voor die feestafel gedek word nie. Die feestafel is in die vallei. Die olie drup, die vyande is daar en moet toekyk – nie skielik van die toneel af nie. Dis juis daar waar goedheid en guns my volg en ek al die dae van my lewe in die “huis” van die Here woon.
Dawid wat geskryf het oor die waters, weivelde en vallei in die skaduwee van dood (Psalm 23), het nie ‘n tempel van aanbidding gehad nie. God het in ‘n tent “gewoon” en Dawid in ‘n “huis van sederhout”. (2 Samuel 7:2) Dawid het die Verbondsark (die simbool van God se teenwoordigheid in die Ou Testament) met groot moeite na Jerusalem gebring nadat dit by die Filistyne beland het in die tyd van Eli. Nadat die Ark deur die Filistyne, wat groot konsternasie met die Ark in hulle midde beleef het, aan die Israeliete teruggegee is, is dit vir meer as twintig jaar gestoor. In Jerusalem sou Dawid die Tempel bou om sy geliefde Here God, te eer. God het dit nie toegelaat nie en Dawid se seun, Salomo, het die Tempel gebou. Dawid het geskryf oor die tent waar die Ark gestaan het en gesê een dag daar is beter as ‘n duisend daarbuite. (Psalm 84:11)
Dawid het geweet van skaduwee. Hy het tien jaar in die woestyn en wildernis van suidelike Judea gevlug en rondgedwaal om die haat, jaloesie en moordplanne van Saul te ontvlug. Hy skryf oor die Skaduwee van die Allerhoogste as skuilplek van alles wat sy wêreld hom mee wou lamlê en doodkry.
God verander nie – dit sing die Kerk al eeue lank. Ons wêreld is ook vol haat, jaloesie en moord. Daar is vir ons die Skaduwee en die Feestafel met stille waters en groen weivelde in die Vallei van Doodskaduwee waar die wêreld woed en raas.
Uit die pen van ons Nuwe Testamentiese “Psalm”-skrywer wat ons nie altyd so erken nie, maar wat uit sy hart die woorde laat vloei wat genees met herstel en hoop.
Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge?
Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?
Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.
Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape behandel word.”
Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte
of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Romeine 8:31-39)
Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? God is vir ons en hy regeer.
Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7)
Bodemklip-vriend, jy is nie geroep vir die groot prentjie nie. Moenie toelaat dat die oorlaaide wa op jou siel se voorstoep kom parkeer nie. Jesus roep jou as getuie in Jerusalem (jou gesin), dan Judea (jou familie), daarna Samaria (jou bure van wie jy nie eintlik hou nie) en daarna die res van die wêreld, waar Hy jou spesifiek sal lei. (Handelinge 1:8) God se struktuur vir die samelewing is familie. Dink net vir ‘n oomblik waarteen die felste aanslag vandag is. Teen familie natuurlik! Elke moontlike helse asblik word omgekeer om die familiestrukture van ons gemeenskap te verbrokkel.
Staan vas in elke belofte van God sodat jy die versterkte bronsmuur kan wees en die “volk” jou volg en nie jy vir hulle nie. (Jeremia 15:20)
Die res kan onder die “mat” van Jesaja 40:15 ingevee word.
Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer,
soos ‘n stoffie op ‘n skaal.
As Hy die eilande op ‘n skaal sit,
is hulle soos stofdeeltjies.
[Miskien moet ek net iets verduidelik. Ek was nog op hoërskool toe die skrywer van The Cross and the Switchblade, David Wilkerson, gepreek het oor ‘n visioen wat hy gesien het van die wêreld in die laaste dae. Hy het beskryf hoe hy sien dat die hel sy asblikke op die wêreld omkeer en oorlog verklaar teen elke aspek van goedheid en skoonheid in ons gemeenskap. Dit het my bygebly. Ek “sien” dit om my.]