Dit is net nooit heeltemal reg nie, nie waar nie? Wanneer laas het jy diepe tevredenheid en hoopvolle verwagting uit ‘n verkiesingsuitslag, ‘n toespraak van ‘n wêreldleier of die optrede van internasionale en nasionale instansies gevoel? Die wêreld se leierskap is meestal ‘n teleurstelling. Soveel van die waardes wat oor eeue in die filosofie en sosiale wetenskappe as goed en reg voorgehou is, word afgekraak en uit die strate beskreeu.
‘n Paar jaar gelede was die teleurstelling diep in ons huis gevoel en dis beslis nie die eerste keer nie. Ek troos myself dikwels uit die geskiedenis, omdat dit so ‘n goeie voorbeeld van al die bloedvergieting en wreedheid van mislukte leiers is. Die antieke geskiedenis veral is ‘n een reuse bloedige slagveld van imperiale ambisie met die konstante veroweringsoorloë wat daarmee saamgaan. Sonder die moderne konsepte rondom menseregte en mens-waardigheid was dit vir die gewone mens ‘n stryd om oorlewing te midde van groot omwentelinge en ontwrigting. Soms dink ek selfs met die moderne sosiale geregtigheid waarop ons steun, gaan dit nie veel beter nie.
Soos met alles, is daar leiding en troos in die Woord van God. Ons klou vas aan die Skrif in Jesaja 40:15.
Kyk, nasies is soos ‘n druppel uit ‘n leersak; hulle word beskou as net ‘n lagie stof op ‘n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is.
Dit was ‘n heerlike “ontdekking” in die Skrif met ‘n beslissende vertroosting wat ons harte kalmeer het. God is groot en Hy heers. Dit is die goeie tyding – Jesaja se woorde wat oor al die eeue heen oor my siel spoel.
Hoe lieflik op die berge is die voete van ‘n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat ‘n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as koning!” (Jesaja 52:7)
Dit is die beginsel wat bo alles in ons hart ingebrand moet word. God is in beheer en elke belofte van beskerming en voorsiening oor elke burger van Sy Koninkryk, staan vas, ten spyte van regerings en owerhede wat in goddelose en leuenagtige, korrupte, politieke en finansiële manewales probeer regeer. Die regerings van ons wêreld is na alles in God se realm van heerskappy, net die fyn stoffies op die skaal.
Dit is net dat die stof in ons oë waai en ons visie aantas. Ja, daardie fyn stoffies, die nasies, is in ons oë en dit brand. Ons is oorweldig met inligting, die sensasionele hoofopskrifte wat die verste uithoeke van die wêreld in ons hand aflewer, soveel so dat ons met afgestompte siele soos gehipnotiseerde media-verslaafdes ronddwaal.
Daar is net een ding wat help vir oë vol stof en dis ‘n oogbad. Ons ken mos almal die klein plastiek houertjie met die skoon water wat ‘n oog-irritasie en selfs ‘n infeksie uitspoel.
‘n Geestelike oogbad is ‘n effektiewe fokus-verskuiwing wat bewustelik en intensioneel die beginsels van die Woord ondersoek en bedink. Dit is God self wat die modder uitwas en jou vars en versorg, met hoop vir die toekoms en krag vir die dag, laat. So skryf Paulus in Efesiërs 5:26 (OAB). God bad sy Kerk in die water van die Woord …om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord. Net so belowe Hy ‘n reiniging met Sy eie woorde aan sy dissipels. (Johannes 15:3)
Dit is wat Hy belowe, van die vroegste tye af.
Die Here is die Een wat voor jou uitgaan; Hy is by jou, Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie.” (Deuteronomium 31:8)
Die Here is goed, ‘n toevlugsoord in tye van bedreiging. Hy sorg vir wie by Hom skuil, (Nahum 1:7)
Daar is net een pad vorentoe en dit is op die Heilige Hoofweg.
En dáár sal ‘n grootpad wees en ‘n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel — selfs die dwase sal nie dwaal nie. (Jesaja 35:8)
Dit is ons pad, ‘n eksklusiewe pad net vir diegene wat dit gekies het. Klim uit onder die dwase misleiding van wat om jou aangaan en stap in die kalmte van ‘n vleiland, ‘n land vol waterbronne, wat eens ‘n dorsland was. (Die hele Jesaja 35 is ‘n vreugde-roep.)
Dan is daar ‘n interessante byvoegsel:
Sotte sal nie daar ronddwaal nie. (Afr 2020)
Genade, hier in die nuutste vertaling van die Bybel in Afrikaans lees ek ‘n Totius-woord van die 1933-vertaling raak. Dit is ‘n heerlike, emosioneel-belaaide sielskreet – die sotte.
Ek voel sommer beter en verlig. Die dom, onlogiese, leuen-heerskappy van die straatstemme en hulle ewe dwase leiers van misleiding loop nie my pad nie, die bergpad vol lieflike voete wat die goeie nuus, die boodskap van vrede en vreugde, bring.
Hoor die trompet van die boodskapper: Jou God heers as koning.
Hier is die boodskap wat uitbasuin oor al die eeue: (Romeine 8:31- 39)
WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
Wie sal ons skei van die liefde van Christus — verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.