‘n Plan van aksie is ‘n positiewe gedagte. Dis goed om ‘n besluit te neem en dan ‘n paar planne uit te werk vir die implementering van die besluit. Dit dui op beheer oor toekomstige gebeure. Dis mos net menslik. Ek wil seker maak dinge loop reg. Dis strategiese en antisiperende denke – waardevol in enige werkplek of persoonlike uitdaging.
Dan tref die groot vraagstukke of kwessies van die lewe ‘n mens en al die mooi uitgewerkte planne is in ‘n rookwolk van onsekerheid en verwarring. Onder die gebrokenheid van ‘n vervloekte aarde word ons gekonfronteer met ‘n skynbaar oneindige reeks teleurstellings, siekte, mislukkings en boosheid. Die aanval van ons vyand is onverwags, fel en pynlik.
Ons weet waar ons hulp vandaan kom en ons vlug tot onder die vleuels van die Almagtige, wat nooit sluimer of slaap nie.(Psalm 121,91) In studie en gebed, uit die passie van ons gebrokenheid en behoefte, kom die salwing op ons “ore” en “oë” en ons sien saam met ons Vader in die “verborgene” – die onsienlike vanwaar ons saam met hom sit in hemelse plekke. (Efesiërs 2:6)
Geestelike insig (openbaringskennis) is die gouderts van die pyn-pad.
Dis nie altyd kitsoplossings wat volg nie. Die krisis, siekte of teleurstelling sleep voort. Soms is dit stryd waar ons die koperboog moet span en ons hand geleer word om oorlog te voer. (Psalm 18:35)
Dis ‘n kronkelpad, soms in die mis en soms in die donker. In die donkerste ure vind ons God in die duisternis. (Psalm 18:29; Eksodus 20:21)
Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid? (Psalm 88:13)
…toe sy lamp bo my hoof geskyn het,
ek by sy lig die duisternis deurwandel het; (Job 29:3)
Ons assosieer God met lig, maar daar is nêrens ‘n plek waar Hy nie is nie. (Psalms 139:7,8)
En…dis juis die punt – om God te vind. Ons wil Jesus sien – oral en altyd. Waarom leef ons die Koninkrykslewe? Om te verander, te transformeer om soos Jesus te wees. (Filippense 3:10,11, Amplified)
Ons wonder-belofte is dat Jesus homself aan ons sal openbaar. Dis in die grootste van stryd, die diepste van krisis, die seerste van siekte wat ons die genadige salwing van insig en goddelike aanraking ervaar.
Josua staan buite die mure van Jerigo. Jerigo was ‘n prominente stad met indrukwekkende mure en groot welvaart. Die stad was op ‘n heuwel (volgens die argeoloë) met ‘n 4,6m muur van klip gebou, so breed dat strydwaens resies op die muur gejaag het. Die argeoloë het bewys van kruike vol koring gevind wat die kort tydsduur van die beleg bevestig. Die inval in Jerigo het kort na die oes plaasgevind. Dit bevestig die Bybelse weergawe dat Jerigo ingeval is kort na die Israelitiese Paasfees. Argeologiese bevindinge bespiegel oor ‘n aardbewing wat plaasgevind het, sodat die mure aan die voet van die heuwel so ingeval het, dat ‘n rommel-brug gevorm sodat die Israeliete oor die verwoeste mure kon klim om in die stad in te kom.
Hoë, sterk mure en ‘n aardbewing op die regte tyd? Klink na ‘n fabel, nie waar nie? Die stryd waarin jy nou is, is nie bekend nie. Niemand het die handleiding daarvoor geskryf nie, veral nie jou rol uitgespel nie. Josua het voor hierdie vyand-stad net so vreemd en vol vrees gekamp. Hy was doenig in sy tent die aand voor die mars moes begin, toe hy ‘n Man voor hom sien staan.
Die Man het nie bekend voorgekom nie, in die volle uitrusting van ‘n soldaat met ‘n ontblote swaard. Lees saam met my:
En terwyl Josua by Jerigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande?
En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die Here; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê?
Toe sê die leërowerste van die Here vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen. (Josua 6:13-15)
Wat ‘n ontmoeting! ‘n Man met ‘n ontblote swaard wat oorlog-gereed voor die stryd opdaag – en dit nie ‘n gewone soldaat nie – die leërowerste van die Here. ‘n Hele ekstra weermag word by Josua se mens-magte gevoeg.
Josua val neer en aanbid die Man.
Die Bybel praat dikwels van die Engel van die Here wat met ‘n hoofletter geskryf word. Al die ander verwysings na engele word met kleinletters geskryf. Die woord engel beteken boodskapper.
Die Engel van die Here verwys na die pre-inkarneerde Jesus. Dit is die Seun , wat van alle eeue af by die Vader was, wat hom aan die mense van die Ou Testament openbaar het. Geen gewone engel sou ooit aanbidding aanvaar nie. Johannes word tereggewys in Openbaring 22 omdat die engel wat aan hom verskyn so oorweldigend majestueus en goddelik is, dat Johannes op sy knieë wil neerval.
Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!” (22:9)
Aanbid God alleen, net soos Jesus aan die duiwel gesê het. (Matteus 4:10) Die Man wat aan Josua verskyn het, het Josua se aanbidding aanvaar en aangemoedig.
Die Israeliete is gereed om die eerste groot stryd aan te durf om die land wat aan hulle belowe is terug te neem. Die land word deur ‘n verskeidenheid nasies onwettig bewoon, wat die land ingeneem het terwyl hulle slawe in Egipte was. Ons lewens word ingeneem terwyl ons die slawe van sonde is.
Voor Josua se grootste toets as leier van Israel, wat die eerste grootse vesting van die Beloofde Land moet aandurf, is Jesus self daar om die geveg aan te voer. Hy het nie ‘n lang relaas oor die dag van môre nie, wat sekerlik vir Josua baie onsekerhede en vrese ingehou het. Hy sê die belangrikste woorde wat die super-strategie vir onmoontlikheid aandui.
Trek jou skoene van jou voete want die plek waar jy staan is heilig. Jesus se teenwoordigheid maak die oorlogsveld heilig. Jesus is daar om jou pyn-pad te heilig. Al jou weerstand en rebellie, klagtes en murmurering, selfs woede omdat jou lewenspad nie volgens jou eie voorskrifte en begeertes verloop nie, vervaag in die Lig van die Gesalfde van God, die Engel van die Here.
Hierdie gebeure is wonderbaar. Eeue en eeue later klou ek vas aan die beeld van Jesus in oorlogsgewaad en my heilige pyn-pad is onderworpe aan aanbidding. Lofprys en dankbaarheid is my mantel, die Woord my swaard, die Kruis my krag en die vrede wat alle verstand te bowe gaan, my behoud.
O, mag die ek die duisternis van onsekerheid sonder vrees betree… daar waar God is.