261.   Wag, vertoef, bly staan

261.  Wag, vertoef, bly staan

[Paas 2022]

Dit is die oomblik na die besef dat alles anders is as wat verwag is – gedagtes wat maal van skok, onsekerheid en besluiteloosheid.  Wat nou?

Elke Paasfees wil ek graag iets nuuts van die Here leer – ‘n nuwe insig oor die gebeure wat tyd en ewigheid bepaal het.  Ek het hierdie jaar eers heeltemal besef watter impak die Opstanding op Maria gehad het.  Ek ken die storie.  Ek het dit al baie gelees, maar ek weet dat die Woord van God onuitputlik en multi-dimensioneel is.   Ek het voorberei vir die Paas-meditasie wat ons aanlyn op skerms saam oor die wêreld geniet, toe ‘n paar lyntjies na my toe aangehuppel kom.  Dit was vars en vol blydskap, soos altyd as die Woord oopgebreek word.

Lees saam met my die goue woorde in Johannes 20.

Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk. 

Toe sien sy twee engele met wit klere aan daar sit waar die liggaam van Jesus gelê het, een waar die kop en een waar die voete was. 

Hulle vra toe vir haar: “Mevrou, waarom huil jy?”

Sy antwoord hulle: “Omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en vir Jesus daar sien staan, maar sy het nie geweet dat dit Hy is nie. 

Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”

Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”

Jesus het vir haar gesê: “Maria!”

Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.

Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”

Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!” En sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.

In die eerste verse van die hoofstuk lees ons van die resies van Petrus en Johannes wat Johannes amper komies beskryf.  Hy het die hardlopery gewen, maar by die ingang van die graf bly staan – onseker, geskok – die steen was weggerol.  Petrus, ai, klassiek Petrus, het in sy voortvarendheid in die graf ingegaan en alles bekyk.  Die lyfdoeke was daar in die vorm van Jesus se liggaam, maar die kopdoek was eenkant opgevou – ‘n teken dat Hy terugkom.  Die twee mans het huis toe gegaan sonder om te verstaan.  Volgens hulle was die situasie nie vinnig oplosbaar nie.  Miskien is ‘n vergadering met die ander dissipels nou die volgende stap.  Miskien het hulle Maria nie eers ‘n tweede gedagte gegee nie.  Hulle het nie vir haar gevra wat sy gaan doen nie.

Maria het ook nie geweet nie.

Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk om in die graf in te kyk.

Wou sy weer seker maak dat daar niks is nie?  Toe sy inkyk was daar nie niks nie.  Twee engele het aan haar verskyn.  Die engele was nie net sigbaar nie, hulle het met haar gepraat.  Sy ontbloot die gebrokenheid en diep verlange van haar hart voor die engele.

Haar gesprek met die engele lei haar om Jesus self te sien.  Sy herken hom nie.  As sy gedink het hy is die tuinopsigter, was Hy in staat om sy identiteit van haar te weerhou, sodat Hy heel gewoon voorgekom het.  Sy huil haar hart uit by die tuinman.  Hy roep haar naam en sy herken hom.

Wat ‘n ontmoeting!  ‘n Vrou wie se passie vir haar Heer en Leermeester (Rabboeni is hoe sy hom aanspreek) haar laat vertoef en so ‘n onbeskryflike spesiale oomblik laat ervaar.  Sekerlik wou Maria aan sy voete neerval en sy voete soen soos vantevore, maar Jesus keer haar met hierdie uitsonderlike woorde:

“Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. 

Kom saam met my op deur die deur van Openbaring 4, sodat ons die triomfantelike binnekoms van Jesus voor die Troon van God saam met Johannes kan ervaar.  Onthou ‘n deur in die Bybel is altyd simbolies van openbaringskennis.

Kom ons lees Openbaring 5.  “Sien” die beeld van die vier lewende wesens, die Troon met die reënboog en die vier en twintig ouderlinge.  [Sien Bodemklippe 96 en 97]

Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”

Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. 

Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.

Johannes word getroos met die Leeu uit die stam van Juda en toe hy kyk sien hy ‘n Lam, die Een wat geslag is, wat waardig is om die boekrol (die geskiedenis van die mensdom) te neem en die seëls oop te maak.  

Jesus het  opgevaar na die hemel om as eerste gerf van die Beweegoffer Fees (Levitikus 23:10), voor die Vader te verskyn, sodat die dispensasie van die Heilige Gees en die Kerk kan begin.  Die Fees van die Beweegoffer (eerste ryp are van die oes) word in die Opstanding vervul.

Kom ons gryp dan kragtiglik vas aan die hoop wat ons bely, want die God wat beloof het is getrou. (Hebreërs 10:23)  

Dink maar net aan die grootsheid, die uniekheid, die krag en heerlikheid van een vrou wat in skok bly staan het.  Sy het Jesus self ontmoet.  Sy  alleen het deur haar trane haar Meester ervaar toe Hy die hemel en heelal in sy Hand neem omdat Hy die prys betaal het en uit die dood opgestaan het.

Juig en jubel o vroue van vergifnis en heerlikheid.  VIVIT – Jesus leef!


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s