Deesdae is vroue-stemme oral – helder, duidelik en kragtig. Die debat rondom vroue-regte en gelykheid is lewendig en soms vurig, om nie te praat van die keuses wat sommige vroue maak om eerder ‘n man te wees nie. Ek het nog nooit gewens ek is ‘n man nie, maar ek het in ‘n relatiewe “veilige” Westerse samelewing groot geword – in elk geval wat basiese respek vir ‘n vrou aanbetref.
Hoe sou ek moontlik reageer het as ek in ‘n Midde-Oosterse gemeenskap geleef het, waar vroue wreed onderdruk word? Dalk is daar ‘n paar vroue wat die voorregte van mans in daardie gemeenskappe bewonder en begeer. In haar outobiografie, Infidel: My Life maak Ayaan Hirsi Ali dit duidelik hoe onderdanig sy aan haar jonger boetie moes wees en hoe gou hy in sy lewe geleer het dat hy hoër in die sosiale hiërargie is as sy. Hy kon haar lewe hel maak en hy het soms, tot sy ma hom ‘n goeie les geleer het, maar sy ma was in werklikheid ook laer in status as hy. Ayaan het in Somalië en Saudi Arabië in Islam grootgeword. Sy het later uitgewyk na Nederland sodat sy hulp kon kry by Westerse ginekoloë vir die skending as gevolg van FGM.
Lank voor die vestiging van Islam lees ons van merkwaardige vroue in die Bybel, wat met dapper energie, ‘n kragtige innerlike oortuiging van wat reg en verkeerd is en ‘n diep vertroue in God, hulle hardvogtige gemeenskaps-uitkyk op vroue-status heel goed kon bestuur en ook soms kon manipuleer. Dink maar aan Debora as rigter en leier (Rigters 4) in die Vroeë Ystertydperk, Hulda die profetes (2 Konings 22:14) en die vrou van Spreuke 31 wat enige vooruitstrewende, moderne vrou se rolmodel kan wees.
God het bedoel dat ‘n man een vrou het en dat die vrou aan hom gelykstaan in ‘n verhouding wat in die heel begin uitgespel is. Daar is geen bewys in die Bybel dat vroue onderdanig aan mans moet wees, behalwe aan haar eie man, omdat dit die wonder-verhouding van Christus en sy Bruid (die ware Kerk) simboliseer. God het die mens gemaak – man en vrou het Hy hulle geskape. (Genesis1:27) Dit is die wonderbare span in die hemel-plan. ‘n Man wat sy knie buig voor sy God en ‘n vrou aan sy sy, is die onstuitbare krag van ‘n gemeenskap. ‘n Huwelik en ‘n familie is ‘n God-idee. Die onderdrukking van vroue is ‘n heiden-idee en uitgevoer op die slegste moontlike maniere.
In Dawid se tyd – middel Yster-tydperk, sowat ‘n duisend jaar voor Jesus – lees ons van ‘n merkwaardige vrou.
Abigail is ‘n brawe vrou. Sy is wakker, effektief en mooi en sy gebruik al haar talente om ‘n moordlustige koning se planne te swaai. Haar “instrumente” is legendaries – kos en vriendelikheid met ‘n groot porsie nederigheid en diensbaarheid daarby ingemeng. Sy herskryf ‘n hele stuk geskiedenis met blitsige besluite, vinnige optrede en ‘n grootse spyseniering-oorvloedigheid waarmee sy ‘n hele weermag voer.
Abigail is op haar knieë voor ‘n woedende Dawid wat daarop uit is om wraak te pleeg en die beledigings wat Nabal, Abigail se man, hom toegesnou het, met bloed te wreek. Sy vierhonderd manne bewe van plunder-lus en verwoesting-gereedheid. Tussen die aaklige moordlus in Dawid se gemoed en ‘n beter uitkoms vir die situasie, is ‘n vrou op haar knieë. Sy maak ‘n lang en op die punt af toespraak met groot oortuigingskrag. Sy herstel Dawid se sin vir skoonheid en sy status as gesalfde van die Here. Sy bring Dawid terug tot by ‘n bewustheid van God se Plan en nie sy eie gekrenkte ego as fokus nie.
Dawid doen goeie werk daar in die wildernis, waar hy vlug van Saul se moordplanne vir hom. Hy vind dat hy nie alleen is nie. Daar is groot getalle voortvlugtendes, rowers en moordenaars. Roof en aanranding was aan die orde van die dag.
Hy bring ‘n groep van vierhonderd bymekaar wat later groei tot seshonderd en koördineer hulle in ‘n effektiewe weermag om beskerming te bied aan die boere in die omgewing. Die “bende” verstotelinge en uitgeworpenes vind waardigheid en betekenis as deel van Dawid se veg span en bou lojaliteit teenoor hom op. Hier in die spesifieke deel van hierdie wildernis, beskerm Dawid en sy bende die veewagters van Nabal wanneer hulle bedreig word deur aanvallers van buite. Dawid is effektief en die veewagters is dankbaar. Hulle bring getuienis vir hom terug na die boer, Nabal.
Tog was die manne vir ons baie goed; ook is ons nie beledig nie, en ons het niks vermis al die dae wat ons saam met hulle rondgetrek het toe ons in die veld was nie.
Hulle was ‘n muur om ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het. (1 Samuel 25:15-16)
Dawid kry dit reg om ‘n soort orde in die wildernis te vestig en Nabal se veewagters trek voordeel daaruit. Skaapskeerdery is harde werk en aan die einde daarvan is dit tradisie om ‘n groot fees te hou. Die werkers ontspan en geniet groot partytjies oor meerdere dae. Dawid en sy manne is naby en stuur ‘n boodskap dat hulle graag ‘n deel van die kos sou wou ontvang. Dit is ‘n redelike versoek in die lig van die tradisie van gasvryheid van die tyd.
Nabal is ‘n deugniet – ‘n sot in ou Afrikaans, ‘n fool in Engels. Hy klink na ‘n onredelike man wat tot gevolgtrekkings spring en dan uitvaar in woede. Sy bediendes respekteer hom nie. Hulle wend hulle tot sy vrou, Abigail. Nabal weier Dawid se versoek en beledig hom in die proses. (1 Samuel 25:10)
Dawid is woedend. Dis nie moeilik om sy bende in ‘n emosionele moordlus op te werk nie. Hulle sal hom terugbetaal in geweld en vat wat hulle wil hê.
Mag God so aan die vyande van Dawid doen en so daaraan toedoen, as ek van almal wat aan hom behoort, tot môre een laat oorbly wat manlik is. (1 Samuel 25:22)
Skielik word Dawid Saul. Sy trots is gekrenk en sy status as beskermheer en voorsiener vir sy mense is aangetas.
Maar hierdie storie het ‘n vrou om mee te reken. Abigail hoor wat aangaan. Sy weet presies hoe Dawid gaan reageer. Sy is ook nie oningelig nie – sy weet wie hy is. Sy pak ‘n fantastiese fees op donkies en muile.
Toe het Abígail gou tweehonderd brode geneem en twee sakke wyn en vyf toebereide skape en vyf mate gebraaide koring en honderd rosynekoeke en tweehonderd vyekoeke en dit op esels gesit. (1 Samuel 25:18)
Wat ‘n vrou! Sy kan ‘n weermag tevrede stel – sommer gou. Sy het diep gedelf in haar fees-voorrade en vir Dawid ‘n piekniek gepak wat mens sekerlik net in die Bybel van kan lees! Hoed af vir haar!
Haar vinnige optrede verhoed ‘n bloedbad en sonde. Sy kalmeer die lot mans se woede met donkies vol kos.
Haar nederige houding en haar kragtige woorde swaai die hele situasie. Hoe sal Dawid nou ‘n vrou op haar knieë aanval? Sy herinner Dawid aan sy status as die gesalfde van die Here en sy roeping as koning. Sy beledig haar man om dit duidelik te maak dat sy nie met sy belediging van Dawid saamstem nie. Sy soek nie na woorde nie. Die hele kwessie is vir haar baie duidelik en sy beheer al die woede en moordlus van haar knieë af.
Haar eie sin vir regverdigheid gee haar die energie om haar fees en oorvloed met die “buurtwag” te deel. Sy tree heeltemal onafhanklik van haar man op, op ‘n manier wat vroue van daardie tyd selde gedoen het. Sy vra Dawid om haar te onthou as die profesie oor sy koningskap uitspeel. Sy absorbeer al die woede en haat in haar woorde.
“Forgive my presumption! But God is at work in my master, developing a rule solid and dependable. My master fights God’s battles! As long as you live no evil will stick to you.
If anyone stands in your way,
if anyone tries to get you out of the way,
Know this: Your God-honored life is tightly bound
in the bundle of God-protected life;
But the lives of your enemies will be hurled aside
as a stone is thrown from a sling. (1 Samuel 25:28-29, The Message)
Dawid buig voor haar goeie argument. Hy luister na ‘n vrou – nogal uitsonderlik vir ’n man van daardie tyd. Dalk kan daar meer bloedvergieting gestuit word deur te luister. Dawid erken sy wraaklus en word gekalmeer. Dis asof Abigail se woorde perspektief en balans bring. Nabal word nie gestraf nie, maar aan die Here oorgelaat. Dawid se lewe word weer deur God se genade gekenmerk, nie die sotheid van sy vyand nie.
Dis ‘n lewensbeginsel. Ons is in die wildernis om uit te vind wat God doen en in harmonie met sy Plan te kom. Hy bring ons op die plek wat ons kan hoor. Die geklank van sy Woord en sy Stem word gedoof deur die media en informasie oorlading dat ons eintlik versigtig moet kies om in die stilte van die wildernis in te gaan sodat ons kan hoor en die versugting van ons eie hart kan verwoord. Daar sal ons weet hoe om God se Plan te leef en nie ons eie stryd te voer nie.
Dawid komplementeer Abigail.
En Dawid het uit haar hand aangeneem wat sy vir hom gebring het, en vir haar gesê: Gaan op in vrede na jou huis! Kyk, ek het na jou geluister en jou in guns aangeneem. (1 Samuel 25:35)
Abigail beskerm Dawid met haar dade en woorde. Haar oog is op hoër dinge. Sy gryp in omdat sy oortuig is van die saak.
Sy verneder haarself in oorwinning in.
Die wildernis leer Dawid God se genade. Hy word herinner om God se stryd te stry – hy stop en luister – die resep vir sukses. Hy luister na Abigail, wat niemand as belangrik sou ag nie. Haar aksie bring ‘n hele weermag tot stilstand. Haar skoonheid staan in skrille kontras met ‘n wêreld van wraak en materialisme waar mans veg vir hulle eie satisfaksie. Barbaarse denkpatrone wat lei tot bloedvergieting word gestuit en geswaai met redelikheid en skoonheid – nie net fisiese skoonheid nie – net innerlike skoonheid kan so ‘n drastiese en blywende voordeel inhou.
Einde van die storie? Sy gaan huis toe na ‘n simpel en bombastiese man wat hom oorgee aan ‘n dronk partytjie. Sy konfronteer hom nie – baie wys – maar vertel hom die volgende oggend wat sy gedoen het. Haar weergawe oortuig hom dat sy sy lewe gered het. Hy kry ‘n hartaanval en sterf tien dae later. Dawid hoor dit en laat Abigail kom. Hy trou met haar. Hy laat nie ‘n mooi en slim vrou deur sy vingers glip nie.
Is jy die vrou wat voor die Herder-koning kniel en die beste van jou talente aan sy voete oorgee tot voeding vir sy mense – sy bende verstotelinge – soos wat die kerk maar is?