247.   Bring die klippe

Dit gaan oor onthou – die klipstapeling van herinnering.  Ons vergeet so gou wat God gedoen het.  Is ons werklik so anders as die karakters in die stories van geweld en geloof in Joshua en Rigters?  Die verwyt van die Rigters-skrywer is sommer al in die tweede hoofstuk:

Al die mense van sy [Joshua] leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.  (Rigters 2:10)

Regtig?  Hoe kon hulle vergeet?  Hulle het sewe jaarlikse feeste gehad om hulle aan die wonderdade van die Here te herinner.  ‘n Pad deur die Rooi See uit slawerny om hulle in die Beloofde Land te bring volgens die belofte aan Abraham in ‘n Bloedverbond wat vas staan, asook die aanbidding-vieringe wat aan die oestye gekoppel is.  Hulle het die Tabernakel gehad en die hele Levi-stam wat hulle moes bedien om die beloftes van die Verbond en die morele riglyne van die Wet van Moses aan hulle te leer en  in te skerp.  Hulle is uitvoerig gewaarsku oor die seëninge en die vervloekinge wat aan hulle keuses  gekoppel is (Deuteronomium 28 en 30 – wonder-woorde oor die omvang van God se seën en die vervloekinge wat soveel wat om ons aangaan verduidelik.)

Hulle het die altaar gehad.  Die altaar wat Joshua gebou het op die walle van die Jordaan om die groot wonderwerk van die volk se droogvoet-deurgang  triomfantelik Kanaän in, te herdenk.  Die klippe het hulle van die bodem van die rivier af gedra om op die walle ‘n altaar te bou.  Bodemklippe lyk anders as walklippe.  Twaalf klippe om die wonderwerk te onthou.  Joshua het die opdrag gegee:

Dit moet onder julle as ‘n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ moet julle vir hulle sê … die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ‘n blywende herinnering daaraan.”  (Joshua 4:6,7 ev)

Dit is Bodemklippe – die simbole van jou reis saam met die Here.  Wat is jou altaar vir die tyd wat kom?  Wat het gebeur toe die Jordaan vloed in 2020 en oorspoel in 2021?

Kon jy saam met die perde hardloop op droë grond?  (Jeremia 12:5)

Ons word elke dag oorweldig met inligting; nuus uit die gemeenskap sowel as wêreldwye gebeure.   Die oorgrote meerderheid nuus, wat noukeurig en gesofistikeerd aan ons opgedis word op ‘n wye verskeidenheid media-fronte, dien die agenda van die openbare debat.  Dit word verfyn en gedistilleerd aangebied om die zeitgeist, die brandende agenda van die beïnvloeders, te ondersteun.   In die proses verloor die inligting objektiwiteit en selfs soms relevansie tot die oplossing van die probleme in die gemeenskap.  Die vlambare kwessies word ge-identifiseer en ge-etiketteer tot ‘n histeriese hoogtepunt wat woedend in die strate op plakkate en in  skelwoorde druk op die leiers en wetmakers sit. 

Ons vergeet onsself.  In ons daaglikse bestaan is ons so opgenome in die persoonlike drukgang van opinie-vorming oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe waaroor ons geen mag het nie, of wat ons dalk glad nie aangaan nie.  Word ons omring met die dwaas wat nie belangstel in insig nie; hy wil net sy eie opinie bekend maak. (Spreuke 18:2)?

Val ons ook in die lokval van ‘n opinie oor alles?  Is dit nie wat die konfrontasie met nuus vir ons voorhou nie?

Kom loop saam met my op die hoë plekke met die voete van ‘n ribbok.  Ek weet ek het altyd die hoë plekke as moeilike paaie geïnterpreteer, maar met meer insig kan ek die hoë roeping van die hoë plekke onderskei.  (Habakuk 3:19) 

Dit is ‘n verhewe lewe, hoog bo die vloed – ‘n lewe van uitnemendheid met kalm onderskeiding en geseënde ou paaie. 

Tog het my volk My vergeet

en wierookoffers gebring vir gode wat nie bestaan nie,

gode wat my volk laat struikel het op sy pad,

op die pad wat hy van ouds af loop;

hy het op ompaaie begin loop,

op ongebaande weë. (Jeremia 18:15)

Spreuke gaan verder:

Waar daar goddeloosheid kom, kom daar krenkende optrede,

en saam met die belediging kom die skande.

Die woorde van ‘n mens kan diep waters wees,

‘n bruisende stroom, ‘n bron van wysheid. (Spreuke 18:3,4)

Die Ou Testament het dikwels die werk van die Heilige Gees met water gesimboliseer.  Kan ons eerder op die Heilige Gees staatmaak vir ons elke dag se woorde?  God belowe: 

Ek sal volop water gee op die dorsland,

strome op die droë grond.

Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders,

my seën op jou nakomelinge. (Jesaja 44:3)

Die “droë grond” van ons denke en woorde sal met lewende water oorspoel word en die dors na wysheid geles word, met die vrede wat alle verstand te bowe gaan.  Die Heilige Gees moet ons wêreld interpreteer.  Hy trek ons in die intieme lewensirkel wat in die liefde en teenwoordigheid van die Almagtige onderhou word.

Tog vergeet ons weer en weer.  Die vloed lyk so vreesaanjaend.  Die ondier uit die see dreig.  Wat sal ons doen om te onthou hoe groot God is?

Bou ‘n altaar.  ‘n Altaar is gebou om lewensveranderende momente te herdenk.  Daar is ‘n hele hoop voorbeelde.

Toe Noag sy altaar bou het God ‘n verbond met die aarde en die mensdom gemaak.

Toe het Noag ‘n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring. 

Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so ‘n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie.

“So lank as die aarde bly bestaan,

sal saaityd en oestyd nie ophou nie,

ook nie koue en hitte,

somer en winter, dag en nag nie.” (Genesis 8:20-22)

Die verbond wat God met die skepping gemaak het, staan tot in alle ewigheid.  As Hy sê: EK SAL staan dit vir ewig.  Hy is onveranderlik – net soos die seisoene en nag en dag wat ons lewe beheers.   Dit is die verbond met die lig en duisternis.

God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. (Genesis 1:5)

Hierdie woorde is die ewige verbond met die dag en die nag.  Jeremia (33:20) beskryf God se aktiwiteit in die Skepping as verbondsaksie.  Die verbond met die dag en die verbond met die nag bestaan vir altyd om die karakter van God te  onderskryf – elke dag.  Hy verbreek nie sy verbond met die natuur nie – hoe sou Hy dan ooit sy belofte aan jou verbreek?  Bekommer jy in die aande of die dag gaan breek?  Kan jy dalk onthou dat die dag nie gebreek het nie?

Net so maak God ‘n verbond van redding met elkeen wat die Kruis van Jesus aanvaar.  Dit is die waarborg van sy beloftes – dit is ‘n waarborg van uitvoering en sukses in volmaakte liefde tot jou voordeel.

Bou jou altaar nie uit jou eie trots of eie pogings nie, maar van dit wat jy uit genade ontvang het.  Jy is die kanaal van seën.  Lewende water sal uit ons binneste vloei…

As julle ‘n altaar van klip vir My wil oprig, mag julle dit nie van gekapte klip bou nie. Sodra julle met die beitel daaraan kap, sal julle dit ontwy.  (Exodus 20:25)

Die altaar is die elemente van genade, nie ons “gekapte klip” nie.  Kain het sy eie pogings geoffer, Abel het die lewe gebring wat God gegee het, volgens die voorskrifte.

Offer jou woestyn-tye, die wonderwerke in tye van hoogspanning op die altaar van danksegging en getuienis.  Aanbid God wat uithelp in die dag van nood.

‘n Gedig van Dawid.

Neem my in beskerming, o God;

ek soek skuiling by U.

Ek het vir die Here gesê:

“Ek behoort aan U,

daar is vir my niks goeds nie behalwe by U. (Psalms 16:1,2)


Lewer kommentaar