300.  Die Brood, die Wyn, die Kruis.

[Paas 2024] 

Ons vier Paasfees.  Dit is soms ‘n contradictio in terminis omdat die dood van ‘n persoon nie werklik ‘n rede vir feesvier is nie.  Mense praat deesdae van ‘n begrafnis as die viering van ‘n lewe.  Die aard van so ‘n seremonie het oor die jare baie verander, van ‘n baie sombere geleentheid tot iets wat mens sou dink eerder by die dinge wat ons as Christene oor die dood glo, sou inpas.

Dood was nog altyd so finaal en so buite die beheer van ‘n mens, dat ons alles doen en alles gee om die dood te beheer.  Mediese dienste verg duisende der duisende in enige geldeenheid om die onkoste om ‘n liggaam aan die gang te hou, te dek.  Daarmee saam wil die mense besluit oor die lewe van ‘n baba en ‘n oue van dae – die begin en einde van die lewensverloop van ‘n mens.  Die mens dring aan daarop om te beheer wat eintlik God se realm is.

Tog is dit onmoontlik om lewe te skep.  Net God gee lewe.  Navorsing het ver gevorder, tot by al die komponente van ‘n lewende sel, behalwe dat die samestelling van alles tot niks lei nie – daar is geen lewe nie.  Ons kan lewe vernietig – geweldig effektief.  Moderne wapens en moderne medisyne getuig daarvan.  Dit is egter die bron, die skepping van lewe wat die slimstes ontduik.

Ons weet God is die Bron van lewe.  God se asem is die asem van lewe in ons.  God het in Adam geblaas, Jesus op Sy dissipels en die beginsel van alle lewe gevestig – die Heilige Gees.  Daarom leef ons eers werklik by wedergeboorte wanneer die Heilige Gees ons gees laat herleef. 

As God lewe skep is Hy ook die onderhouer van lewe.  Hy gee nie iets wat ons in ons nietigheid en beperkinge moet aanpak sonder Sy voorsiening en beskerming nie.  Hongersnood is altyd ‘n gevolg van sonde en meestal ‘n oordeel oor goddeloosheid en afgodery.  ‘n Geseënde oes is een van die wonder-beloftes van ‘n goddelike lewe.

Brood is die basiese voedsel om lewe te onderhou en ‘n simbool van God se Voorsiening.  Dit is konkrete aspek van die verhouding tussen God en die mens.  Brood in jou hand is ‘n tasbare bewys van die onsienlike God.

Jesus het homself die Brood van die Lewe (Johannes 6:53-58) genoem – een van die sewe EK IS-stellings in die Evangelie van Johannes.  Ons, sy Kerk, is brood.

Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. (1 Korintiërs 10:17)

Ons leef uit die Brood van die Lewe, ons is een brood en ons ontvang brood uit die Hand van God as voorsiening vir ons lewe soos die manna in die woestyn (Eksodus 16:33), en die vermeerdering van die brood op die berg vir die skare waar Jesus in Sy groot genade met oorvloed voorsien het (Johannes 6).

Boonop word ons siele gevoed met die Woord soos in die simboliek van die toonbrode uitgebeeld word, waarvan die priesters twaalf op die tafel in die Heilige Plek van die Tabernakel uitgestal het.  Saam met olie en wierook is die graanoffer aan God gebring, ons offer uit Sy voorsiening.  Die graanoffer was olie en koring gemeng, gebak op die altaar sodat die volk die heerlike geur daarvan kon geniet.

Daarom is Brood deel van ons Pasga.  Jesus se liggaam, waarvan ons deel is, is geskeur en verbrysel, om die Voorhangsel na die Allerheiligste oop te maak.  Elke keer as ons die Brood van die Nagmaal eet, verklaar ons die dood van Jesus.  (1 Korintiërs 11:26)

Sal ons dan nie ook die Gewer van Lewe, ware lewe, erken die oomblik as ons die Brood van die Nagmaal in ons hand neem nie?  Net soos die Emmaus-gangers so lank gelede, toe hulle in blindheid en wanhoop die storie aan die vreemdeling wat saam met hulle loop, vertel – hulle teleurstelling met die tragedie van die afgelope dae, die wreedheid van ‘n Romeinse kruis, die skelwoorde van die skare nog alles vars in hulle geheue met ‘n dowwe, onsekerheid oor die interpretasie daarvan en soveel twyfel in die hoop wat hulle gekoester het.  Die brood in die Hand van Jesus het hulle “voorhangsel” geskeur.

“Sien” die Brood in Jesus se hand, wat dit aan jou bedien en “sien” die wonder van die Fees.  Kan ons vleeslike begeertes saam met die koringkorrel sterf en in ‘n nuwe lewe saam met Hom opstaan? (Johannes 12:23-24;  Filippense 3:10-11)

Net so die beker van die Nagmaal.

Die beker van danksegging, waarvoor ons God dank, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?  (1 Korintiërs 10:16)

Wyn was saam met water algemene en daaglikse drank, simbolies van goddelike genade.  Wyn word gesimboliseer met intieme liefde in Hooglied. (1:2,4; 4:10: 5:1; 7:9;8:2)

Net soos wyn in die Bybel vreugde en feestelikheid en selfs geestelike verligting en insig simboliseer, speel dit ook ‘n rol in die gehele geloofsbeeld, as dit met die woede van God geassosieer word. (Openbaring 14:19-20) Op verskeie plekke word dit in verband met oordeel en straf genoem.  Dit herinner ons aan die geregtigheid van God wat met sonde en boosheid afreken.

In Spreuke word dit dikwels genoem in verband met feesviering wat spruit uit wysheid en geestelike leiding.  Dit simboliseer die soeke na wysheid en die onderskeiding van keuses wat lei tot ‘n lewe van geregtigheid.

Net so waarsku die Bybel teen die misbruik van wyn om die fisiese effek van die fermentasie van die proses na te jaag.  Daar is ook gevalle waar totale weerhouding van enige wyn voorgeskryf word.  (Levitikus 10:9; Rigters 13:2-7; Lukas 1:11-17;  Lukas 7:33)

By die laaste Pasga wat Jesus met sy dissipels gevier het, het Hy die wyn as die simbool van sy Bloed voorgehou en so die Kruisdood gekoppel aan die wonder van saligheid.  Dit is die grootste wonder ooit.  Sy Bloed is gestort om ons redding te bewerkstellig.  Daarom is dit elke keer ‘n heilige oomblik as ons die slukkie wyn neem om ons op ‘n konkrete wyse te herinner aan die Kruis, die Bloed en ons wedergeboorte as ‘n Kind van die Allerhoogste God.

Ons wedergeboorte stel ons in staat om die “nuwe wyn” van Jesus se leerstellinge te leef.  Sy lering kon nie in die wynsakke van tradisionele vooroordele en bygeloof van die leiers van Jodedom fermenteer nie.  Fermentasie is die simbool van verandering en vernuwing.  Net soos die druiwe gepars en geprosesseer word, so word ons getransformeer in die verloop van ons wandel met Jesus.  Die proses vereis die aflegging van ou gewoontes en denkpatrone en ‘n hele nuwe manier van leef.

Toe Jesus die water in wyn verander by die huwelik in Kana het Hy sy superieure krag oor die prosesse van die natuur bewys.  Dit was die eerste wonderwerk.  Hy het daarmee ‘n hele nuwe bedeling aangekondig.  Wedergeboorte en die verandering in ons binneste is net so ‘n wonder soos die water in die kanne wat in ‘n oogwink wyn geword het.  Niemand het gesien wat gebeur het nie.  Die resultaat was oorweldigend.

Kom ons juig as ons die Brood en die Wyn in ons hand hou en die Kruis van Jesus vier – dood wat dood, alle dood, fisies en geestelik, oorwin het.  Omdat Hy gesterf en opgestaan het, kan ons sterf vir ons ou lewe en opstaan in ‘n nuwe lewe – die ware Lewe wat geen dood ooit van ons kan wegneem.

Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.  (Romeine 6:11)

Dit is moontlik gemaak met die Kruisdood van Jesus.  Dit word ook in ons doop-fees konkreet gemaak.

Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei. (Romeine 6:3,4)

Wat ‘n voorreg om ons “doodsfees” met al die simboliek van nuwe lewe te vier en nie met geraamtes, grafte en spoke nie.  Ons is die sout en lig van ons wêreld, ons “anders”-wees tot redding van almal om ons.

Geseënde Paasfees!


Lewer kommentaar