246. Die Skaal van Skaarste

As kinders het ons dikwels met ‘n miernes gespeel.  Miere is fassinerend.  Hulle loop in lang rye en kan met ‘n verstommende doelgerigtheid na een of ander eindbestemming aanstryk.  Die rytjie is baie lank; meeste in enkel-gelid.  Ons het allerhande hindernisse in hulle pad gesit om te kyk wat hulle doen – ‘n klein hopie sand, of ‘n klippie of ‘n langer stokkie of ‘n sloot – wat ook al.  Dit het die miere se ry opgebreek.  Hulle het so effens deurmekaar gemaal en heen en weer geloop.  Dan het een van hulle die leiding geneem en die hindernis oorkom – of bo-oor, of kant toe met ‘n ver ompad.  Hulle het altyd weer hulle rigting gekry en min of meer koers gehou.

Die mensdom, van iewers in die buitenste ruim se perspektief, het seker oor die afgelope virus-maande (as ek dit so kan noem), soos miere wat maal en ‘n ompad soek, gelyk.  Die hindernisse is geïdentifiseer en net soos die miere is daar oplossings gesoek om die struikelblokke te oorkom.  Die mediese wetenskap is op die voorfront.  Hulle het gemaal en gedink, uitsprake gemaak, paniekerig geraak, advies gegee soos wat hulle goedgedink het, om lewens te red.  Enige goeie dokter wil lewens red – dis ook reg so.  Tog het mense gesterf; sommer baie.  Hoe meer mense doodgegaan het, hoe meer het owerhede en wetenskaplikes rondgetas en planne saamgeflans om hulle reputasie, wat onwillekeurig met virus-politiek verbind is, te red.  Wel, niemand kon gesien word om niks te doen in die aangesig van die “laaste hindernis”, die “finale vyand” – die dood.  Die statistiek rondom dood, spook die statistici – een uit een – dit was nog altyd so.

Die vaalperd galop oor die aarde net soos hy al vir eeue doen.  Siekte, pes en dood – so het Johannes eeue gelede die seël, die getuie tot die geskiedenis van die mensdom, wat die Boekrol van God se Plan verseël het, gesien.  Ons  geskiedenis is vol pes en dood; soms sien mens dit duideliker en die afgelope maande was juis so.

When the Lamb broke open the fourth seal, I heard the fourth living creature call out, Come!

 So I looked, and behold, an ashy pale horse [black and blue as if made so by bruising], and its rider’s name was Death, and Hades (the realm of the dead) followed him closely. And they were given authority and power over a fourth part of the earth to kill with the sword and with famine and with plague (pestilence, disease) and with wild beasts of the earth. (Revelation 6:7,8.  Amplified) 

Dieselfde visioen  van die vier perde oor die aarde is eeue voor Johannes in Sagaria 6 beskryf.  Vir die verduideliking van die vier perde van die Apokalips sien Bodemklippe 99.

Die sewe seëls van Openbaring en die verdere verduideliking van die sewe trompette en die sewe goue bakke verklaar alles wat om ons aangaan deur die geskiedenis heen en in die wêreld vandag.  Dit is dieselfde gebeure uit verskillende hoeke gesien.

Die siekte het ons getref, maar hoe nou gemaak?  Hoe sal die miere-mensdom weer rigting kry?  Terwyl die vaalperd van siekte en dood vertrap en verinneweer, hardloop die swart perd in sy spoor met verwoesting onder sy hoewe.

Toe Hy die derde seël oopmaak, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Gaan uit!”

Ek het gesien: daar was ‘n swart perd. Sy ruiter het ‘n skaal in sy hand gehad. ” (Openbaring 6:5) 

Die swart perd word vereenselwig met die ekonomie en kommoditeite, in  ou Israel, hoofsaaklik koring (meel vir die rykes), gars (die arm man se brood), wyn en olie.  Die wingerd en olyfbome was meer standhoudend as die graan waarvan die oeste kon teleurstel.  Dit was dus moontlik dat die luukse goedere soos wyn en olie beskikbaar was. maar die daaglikse stapel skaars en duur was.  Dit is wat beskryf word in die sesde vers van Openbaring 6: Toe het ek iets soos ‘n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir ‘n dagloon en net drie skeppies gars vir ‘n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.”.

‘n Dagloon kon een skeppie koring of drie skeppies gars koop, te min vir die broodwinner om  vir sy gesin te sorg.  Dit is die tragedie van skaarste vir meeste van die wêreld se bevolking.  Armoede is die realiteit rondom ons, oor alle eeue. 

Die simbool van die skaal in die hand van die ruiter op die swart perd, dui op skaarste.  As iets afgemeet word, is daar beperkte hoeveelheid daarvan.  Dit moet geweeg en gemeet en bereken word.  

In skerpe kontras staan die Skaal van God.  Aan die een kant is die Kruis aan die ander kant alles wat die wêreld ooit kan opdis – sonde, skaarste, teleurstelling, dood, siekte en ellende.  Die Skaal van God balanseer altyd.  Die Kruis is genoeg.  Die nasies is die “klein stoffies”.  (Jesaja 40:15)

Die afmeet en aankoop van lewensmiddele impliseer oorlewing en die stryd wat soveel mense het om net liggaam en siel aanmekaar te hou.  God se maat staan ook in skrille kontras met alles wat die wêreld bied.    

Gee, en vir julle sal gegee word:

‘n goeie maat,

ingestamp, geskud en propvol,

sal hulle in julle hande gee.

Met die maat waarmee julle meet,

sal ook vir julle gemeet word.”  (Lukas 6:38)

Jesus se woorde wat mens met ‘n giggel van tevredenheid en verwagting vul.  

Ek is al weer terug op die plaas, langs die dorsmasjien met reuse goiingsakke waarin die goue koring vloei.  Die uitlaatpyp word toegemaak en die sak kry ‘n goeie skud sodat minstens twintig sentimeter spasie bo-in bykom.  Dan word die koringsak propvol gemaak, voordat die (vanmelewe  was dit gewoonlik) vroue met die groot, krom naalde die sak deeglik toewerk.  Maak die prentjie en “sien” hoe die Here jou voorsiening-sak ‘n goeie skud gee sodat dit voller word.

Is jy geskud deur virus-politiek, virus-ekonomie en ander virus-kwessies – vrees, frustrasie, teleurstelling, hartseer, dood, siekte en nog meer?  Kom kruip onder die Vleuels in, sodat jy naby genoeg is om sy Stem te hoor, dat jou sak geskud word om meer te ontvang. 

Die koring wat deur Josef aan sy broers gegee is, VOOR sy versoening met hulle, was genoeg om hulle honger te stil en daarmee saam het hy die  geld, waarmee hulle betaal het, aan hulle teruggegee.

Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol koring gemaak moet word en dat elkeen se geld in die sakke teruggesit moet word. Daar moes ook padkos vir hulle gegee word. Alles is so gedoen vir hulle.  (Genesis 42:25)

Die weduwee se olie het nie opgehou vloei totdat al die kruike vol was nie.  As sy meer kruike gehad het, het die olie aangehou vloei.  (2 Konings 4:1-7)

Vir ons is die les dat ons behoefte vervul word, nie met mate en skaarste nie, maar met genoeg.  Lees die storie sodat geloof in jou hart groei.

God se naam is: El Shaddai – die God van Genoeg wat beteken daar is niks meer nodig nie.  

God se naam is: Jehova Jira – die God wat voorsien, dit wat nodig is in alle omstandighede.

Voorsiening is konstant en volhoubaar.  Dit is die wonderbare versekering van die gesig van Sagaria se olie-bak, wat uit die olyfbome (die bron) in die lampstaander die olie laat vloei.

Hy het vir my gevra: “Wat sien jy?” maar hy het self voortgegaan: “Ek het gesien daar is ‘n kandelaar, heeltemal van goud; bo-op is ‘n oliebak met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen. 

By die kandelaar is twee olyfbome, een regs van die oliebak en een links.” (Sagaria 4:2-7)

Kragtige woorde van belofte vloei uit die oliebak.  Die kandelaar is simbolies van die Kerk (ons), die onsigbare liggaam van Jesus wie se harte op hom gerig is.

Hy het geantwoord: “Weet jy nie wat dit beteken nie?”

Ek het gesê: “Nee, Meneer.”

Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”

Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel ‘n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip [die sluitsteen] van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!”

Serubbabel was die regverdige goewerneur wat die guns van God geniet het.  Die belofte is vir jou en van toepassing op jou lewe nou dadelik – nie eendag wanneer omstandighede verander nie.  God maak die berg ‘n pad.  

Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei.

Ek sal al my berge paaie maak, my grootpaaie sal sonder opdraandes wees. (Jesaja 49:10,11)

Salige hoop in  Christus vul ons met energie sodat ons toekoms die speelveld van God se beloftes word.

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi. (Psalms 16:6, OAB)

‘n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. (NAB)

Your pleasant path leads me to pleasant places.
    I’m overwhelmed by the privileges
    that come with following you! 
(TPT)

My choice is you, God, first and only.
    And now I find I’m your choice!
You set me up with a house and yard.
    And then you made me your heir! 
 (The Message)

Die Engels van Romeine 10:17 sê:  Faith comes by hearing [present continuous tense] and hearing by the word of God – konstante invulling van die stem van God. 

Voordat jy frustreerd verlang na die voor-virus lewe en jou idee van normailiteit, dink daaraan dat jou na-virus lewe beter gaan wees, direk volgens die beloftes van God.

As jy dalk soos ‘n mier in die groter prentjie van die wêreld voel, sal jou “berg” ‘n baan van belofte word. 


Lewer kommentaar