302.  Kom net oor dit!

Harde woorde.  Soos hy daar staan, is die titel van hierdie stuk ‘n baie onsimpatieke en negatiewe stelling.  Gewoonlik word dit met ‘n ongeduldige houding en sonder aansien van die hartseer van die persoon aan die ontvangkant, uitgeskel.  Uit die mond van jou medemens kan dit vir die ontvanger ‘n wond slaan, bo-op die seer wat daar reeds is.  

Uit die mond van God kom dit duidelik en amper skerp na die volk onder die profetiese leiding van Sagaria.  Dit is neergeslane en moedelose mense, tot onlangs bannelinge van die Babiloniese ryk.  Hulle het onder leiding van Esra en Nehemia teruggekeer na die ruïnes van Jerusalem.  Baie van hulle oues van dae onthou die wreedheid van die amper jaar-lange beleg van Nebukadneser toe hulle in nederlaag en verhongering as slawe na Susa, die vooruitstrewende hoofstad van ‘n wêreldryk, weggevoer is. 

Saam met Haggai word Sagaria geroep om die volk te bemoedig en die vooruitskouing na nuwe grootsheid onder ‘n beloofde leier weer op te wek.  Die Messias, die nuwe Koning, sou hulle herstel na ‘n nuwe plek van heerskappy en daarom moes die werk aan die Tempel voortgesit word.

In die tyd van terugkeer, as die wonde van herinneringe weer oopgekrap word, vestig nuwe tradisies onder die vrygemaaktes.  Hulle onthou!  Hulle onthou elke gruweldaad van die vyand, gebrokenheid oor die kinders en geliefdes wat dood is, die seuns wat geveg en gesterf het.  Vir elke pyngedagte word ‘n vasdag uitgeroep sodat die foltering van ‘n volk wat vertrap word, nooit vergeet word nie.  

By die terugkeer van die bannelinge praat God duidelik met hulle en gee die opdrag dat die vasdae in feesdae sal verander.  Die belofte is duidelik:

Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda ‘n dag van vrolikheid word, ‘n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is.  (Sagaria 8:18,19)

Hulle trane en verskeurde harte word in die woorde van die profeet vertroos.  Hulle woon tussen die oorgroeide rommelhope en verwaarloosde pilare van voormalige glorie, die Tempel van Salomo.  Net die aanskoue van die verwoesting roer die emosies van die mense tot so ‘n mate dat verlies veredel word in die rituele van rou.

Is dit dan nie reg om pyn en verlies met groot waardigheid en diepe nadenke te vereer nie? Ons kan nie ons eie lewenspad so gering ag dat ons nie alles – die goeie en die slegte – onthou en herdenk nie.  Dit is ook so dat emosionele pyn ‘n skerp dolk in ons hart weer kan draai sodat die “wond” bloei en genesing weer en weer gesoek moet word.  Ons roep ‘n emosionele vasdag uit en “bad” weer in die siele wonde van ons verlede. 

Ons word in die moderne sielkunde aangemoedig om daaroor te praat.  Dit is reg so.  Ons kry ‘n “voice” om ons pyn te verwoord en die marteldade van ander se sonde in ons lewe oor te vertel.  Dit is ook reg.  

Dit is egter nie reg om daarmee aan te hou sodat die verwonding ons as mens definieer en ons handelinge met ander mense en God bepaal nie.  Deel van die eienaarskap van emosionele wonde is om dit herhaaldelik uit te spreek, selfs as mens voel dat jy reeds genesing ontvang het.  Iewers moet mens klaarkry daarmee en optree in die oorwinning van volkome genesing.

Laat jou vasdag ‘n feesdag word.  Dit is wat God vir jou wil doen. Jou feesdag sal ander na jou toe aantrek want dit sal die teken van jou volle genesing wees. 

Hoe is dit dan moontlik om die geweldige hartseer van die verlede te oorkom?  

Die kenmerk van ‘n feesdag van ou Israel was trompet-geklank.  Die feeste is aangekondig en afgesluit met trompette, die ramshoring van die ou volk.  Die geluid van die trompet het groot opgewondenheid losgeketen.

Dit trompet is simbolies vir God se stem.  Die stem van God maak al die verskil.  Die woorde van God in die mond van Sagaria het die fees aangekondig.  Waarheid en vrede was die kenmerk van die fees.

Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o Here, hulle wandel in die lig van u aangesig.

In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.  (Psalm 89:16,17)

Dit is die ware genesing van ou wonde.  Waarheid en vrede.  Waarheid is die beloftes van God dat Hy ons nooit sal verlaat nie en vrede is die gevolg van die woorde van God in jou binneste.  Vrede bring genesing.  Dit is onmoontlik om diep vrede voor te gee.  Dit is ook nie moontlik dat boosheid vrede bring nie.  Vrede kom net van die Here af.  Net Hy, die Vredevors, kan vrede gee.  Dit is ‘n spesiaal en van onskatbare waarde. 

Die waarheid van die Kruis en al God se beloftes wat Ja en Amen in Jesus is, is die sleutel tot ‘n lewe “in die aangesig” van God self, sy wonder Teenwoordigheid waar daar oplossings vir alles is – elke moontlike aanval op jou geestesgesondheid.

Again I received a Message from God-of-the-Angel-Armies:

“The days of mourning set for the fourth, fifth, seventh, and tenth months will be turned into days of feasting for Judah—celebration and holidayEmbrace truth! Love peace!” (Zechariah 8:18 – The Message)

Kan ons bekostig om vas te klou aan die bakens van boosheid in ons verlede?  Hou ons aan die verwonding bely sodat ons opnuut aangeval word met pyn en verwerping?

Staak die vasdae en roep jou feesdae uit!  Vier fees oor jou verlossing.  Skryf jou getuienis… in jubeling voor die aangesig van die Here.


Lewer kommentaar