248. Veilig by die leeus

Sommige  Sondagskoolstories bly by mens, veral seker die van hulle waar  diere betrokke is soos Daniël in die leeukuil en Jona en die walvis.  Die onmoontlikheid van Daniël se storie en die fabel-aard van die walvis-storie dra by tot die verbeelding-insette wat by die storie betrokke is en maak ‘n groot indruk.  My seuntjies het met groot oë geluister en seker ervaar dat ek redelik ernstig oor die stories is, in teenstelling met al die ander fabels wat ek vir hulle vertel het, soms sommer uit my kop.  Ek sou enigiets uitdink om hulle sover te kry om stil te lê!

Die leeukuil storie is oud en welbekend.  Daniël word as ‘n jong seun na Babilon weggevoer, na ‘n besondere wrede beleg van Jerusalem rondom 587vC wat meer as ‘n jaar geduur het.  Hy is deel van die suidelike koninkryk van Israel, Juda, wat die stamme Juda en Benjamin insluit.  Ons weet nie of hy in Jerusalem was tydens die beleg nie, maar hy ons ontmoet hom in die paleis van die magtige  Babiloniese heerser Nebukadneser.  Gewoonlik het die verowerende mag die beste en slimste jongmense bymekaar gemaak en teen hulle sin weggevoer om in diens van die koning te werk.  

Daniël was ongeveer sestien of sewentien jaar oud toe hy weggevoer is na die paleis.  Op daardie ouderdom sou sy Hebreeuse godsdienspraktyke goed gevestig wees en sou hy al saam met die ander mans aan die Feeste in Jerusalem en besoeke aan die Tempel van Salomo deelgeneem het.  Sy geloof was sy vaste fondasie wat hom regdeur sy lewe in ‘n vreemde en brutale heidense bestel gerig en gedra het.

Hy word verhef tot ‘n hoë posisie aan die hof van Babilon met sy verstommende kennis van Nebukadneser se droom en die uitleg daarvan.  Soms is die Bybelstories snaakser as enige fabels wat die mens kan opdink.  

Nebukadneser droom en roep al sy towenaars en goëlaars bymekaar om die droom uit te lê.  Sonder om die droom te vertel, kondig hy aan dat hy hulle almal in stukke gaan kap as hulle hom nie kan help nie.  Hulle redeneer met die koning oor sy onmoontlike versoek en nadat hulle verklaar het dat geen mens so iets kan doen nie, word hulle summier gevange geneem.  Ook Daniël en sy vriende word bedreig.  Daniël weet van niks en doen subtiel navraag by die hoof van die lyfwag.  Hy gaan vra toe uitstel by die koning, lê die droom uit, sonder dat hy die droom gehoor het en red al die ou towenaars en waarsêers se lewens.  Hy verklaar die bron  van sy kennis met groot bravade voor die koning. (Daniël 2:28)  Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar…

Nebukadneser regeer vir meer as veertig jaar oor Babilon.  Hy verower Jerusalem so min of meer in die helfte van sy regering.  Dit moes iewers in die laaste twintig jaar van sy regering wees wat hy Daniël ontmoet en verhef tot ‘n ereplek in sy hof.  In sy trotse gedagtes  van grootheid, word hy vir ‘n tydperk verneder tot gras-vretende dier-status.  Daarna erken hy die gesag van die Almagtige God en bely sy geloof in hom.  Hy word terug op sy troon herstel. 

Nebukadneser word opgevolg deur sy seun, toe skoonseun en nog twee heersers.  Daniël oorleef die troonopvolgings een na die ander wat opsigself ‘n wonderwerk is.  Gewoonlik het die een heerser ontslae geraak van die vorige een se hofdienaars ter wille van onverdeelde lojaliteit.  

Belsasar was ‘n kroonprins van Babilon en het regeer in die plek van sy pa wat in ‘n soort ballingskap uit sy eie keuse was.  Hy hou ‘n fees waarin hy die goue bekers van die Tempel in Jerusalem, wat sy voorganger saam na Babilon gevoer het, in arrogansie en trots van dronkenskap laat haal en gebruik.  Die bekende storie van die hand wat op die muur skryf,  bring Daniël weer op die voorgrond.  Dit word aanvaar dat al die towenaars en waarsêers wel die skrif aan die muur kon lees, maar nie die moed gehad het om dit aan die dronk, ontstelde koning te sê nie. (Daniël 5:9)  Daniël het aan ‘n hoër gesag verantwoording gedoen en ten spyte van Belsasar se beloftes van geskenke en heerskappy (5:16) onbevrees die oordeel oor Belsasar uitgespreek.  Daniël huiwer nie om die hele storie van Nebukadneser se vernedering vir Belsasar te vertel nie.

Kores, die Persiër, verower Babilon en ons lees van Daniël aan die hof van Darius die Meed, wat saam met die Persiërs op daardie stadium die grootste deel van die Midde-Ooste oorheers.   

Die beloning van Belsasar en die hoë posisie wat Daniël in die hof van Darius beklee, maak hom die slagoffer van haat en jaloesie.  Daniël, as een van drie hoofministers aangestel oor honderd en twintig goewerneurs-generaal, het die koninkryk met uitnemendheid regeer sodat die koning meer welvarend was.  Hy het sy beste gegee in die heidense realm wat hy gedien het.  Dit het gelei tot geweldige vernedering en leuens teen hom, sowel as ‘n verstommende wonderwerk van beskerming en verhoging.

Met die sameswering teen hom, waarin die amptenare die koning, Darius, oortuig om ‘n wet uit te vaardig dat vir ‘n tydperk van dertig dae slegs die koning aanbid mag word, word Daniël voor die koning gebring soos ‘n gevangene.  Hulle het geweet hulle sal hom uitvang, want hulle het  sy gewoonte om drie maal per dag te bid, aanskou.  Dit was ook duidelik dat dit die enigste manier was om hom vas te kry.  Sy onbeskaamde verkleefdheid aan God was alombekend.  Dit is nie duidelik wat die voordeel van so ‘n wet vir Darius sou inhou nie, behalwe nog meer lof en eer as wat hy in elk geval as ‘n heerser in die antieke tyd oorvloed van gehad het.

Vir Darius, loop die hele ding skeef.  Hy besef nie dat die versoek van die hofamptenare so opgestel is om Daniël uit te vang en glad nie oor sy eer as heerser gaan nie.  Eers toe Daniël soos ‘n krimineel voor hom gesleep word, word die hele ding duidelik.  Mens kan sy woede daaroor verstaan.  Hy bestee ‘n slapelose nag aan ‘n manier om Daniël te red en moet besef dat met al die aardse mag en gesag wat aan hom toegeken is in sy posisie as heerser, hy deur die onbuigsaamheid van sy eie bevel absoluut niks daaraan kan doen nie.  Hy is vas en sy minderes het die oorhand oor hom.  Hulle het groot vrymoedigheid om hom te herinner dat hy sy dekreet nie mag terugtrek of verander nie (6:16).

Die koning moes self die leeukuil met sy seëlring verseël.  Hy maak ‘n profetiese verklaring van hoop oor Daniël se lewe, dat die God wie hy met soveel volharding dien, hom sal red. (6:17)

‘n Pynlike onregverdige situasie, openlike diskriminasie en vervolging op grond van iets wat hoegenaamd nie in die belang van Babilon was nie.  Die onmag van die koning om enigiets aan die ongeregtigheid van die gevolge van sy eie optrede te doen, dra niks by tot die uitkoms nie en Darius weet dit.

Nog ‘n slapelose nag vir Darius, totdat hy die volgende oggend vroeg die leeukuil nader met woorde wat oor eeue weergalm.

Daniël, dienaar van die lewende God, was jou God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red? (6:23)

Was jou God in staat?

Daniël stap ongeskonde en vol vreugde onder die indruk van die geweldige wonderwerk wat hom van die honger leeus gered het, uit die kuil van ongeregtigheid en diskriminasie.  Sy onskuld skyn soos die middagson (Psalm 37:5).  Hy kan met vrymoedigheid die almag van sy God verkondig.

Antieke regspleging draai nie doekies om nie.  Skuld word toegeskryf en die teregstelling is blitsig.  Die honger leeus vreet die vyand.  Die situasie word omgedraai.  Die ongeregtigheid word gestraf.

Ons leef in ‘n baie sensitiewe tyd waarin sommige ongeregtigheid van die verlede selektief aan die groot klok gehang word in ‘n poging om die pyn en mislukking van sekere samelewings te verlig.  Soveel onregverdigheid, ongelykheid en diskriminasie vind steeds op ‘n daaglikse basis plaas en die histeriese straat-stemme forseer die aandag van die media op insidente en diskriminerende wetgewing.  Sou mens bietjie dieper in die geskiedenis krap, sal mens gou vind dat die skuldenaars self ook aan soortgelyke ongeregtigheid blootgestel is.  Die feodale stelsel in Europa en Rusland en die klasse-ongelykheid in Brittanje het mense vir eeue in armoede vasgevang, waarvan daar geen uitkoms was nie.

Die stemme oor ongelykheid en bitterheid is harder as ooit, meer aggressief en vergesel van ‘n diepe onvergenoegdheid.  Meer en groter word vereis, van alles wat een groep wat deur die media geteiken word, ooit kan doen om op te maak vir ‘n geskiedenis van haat en onderdrukking.

Daar is net een oplossing.  Ons leeukuil van verdrukking en ongeregtigheid is God se geleentheid om met wonderwerke en bonatuurlike uitkoms die samelewing op ‘n diep vlak te verander, sodat dit meer lyk soos die liefdevolle en vergewensgesinde wêreld wat Hy kom koop het met die wrede ongeregtigheid van Jesus se kruisdood.  

Dit is die enigste oorlewing in die leeukuil van rassisme en haat.  Ons gryp na die hoër beginsels van liefde en vergifnis, wat God self in ons hart werk, sodat ons sonder ‘n letsel uit ‘n kuil van onregverdigheid en ongeregtigheid stap waar ons omring word met die honger leeus van bitterheid, haat, onvergenoegdheid en vernedering.  

Politiek gaan ons nie red nie.  Daarvan is Darius die beste voorbeeld.  Hy staan hulpeloos en toekyk hoe die verloop van politiek die alleen-heerskappy van sy antieke magsbasis uit sy hande ruk en ‘n bestel skep waarmee hy glad nie saamstem nie.

Wat is ons modus operandi in al hierdie dinge?  Wat sal ons daarvan sê?

As God vir ons is, wie kan teen ons wees.  Ons leef die onvoorwaardelike goedgesindheid en onbeperkte welwillendheid van Agapé-liefde.  Dis ‘n liefde wat ons WIL en nie wat ons VOEL nie.

Wat ‘n wonder-uitdaging!  Mag die God wat in staat was om Daniël uit die kuil van ongeregtigheid te red en sonder ‘n letsel sy regmatige plek te laat inneem, ons in staat stel om ons gemeenskap op ‘n dieper vlak te verander as wat politiese, ekonomiese en sosiale faktore dit ooit kan regkry.


Lewer kommentaar