301.  Na alles…wat wil jy tog?

Oor baie jare van studie en groepe vroue in Bybelstudie lei, het ek meer en meer die kern-belang van die onsigbare Koninkryk van God, die Kerk van Jesus, sy Liggaam, beklemtoon. Dit is ‘n grootse konsep in die onsienlike realm.  Dit is ‘n versameling baie besondere mense wie se harte verkleef is aan die Nasarener, gefokus op die Kruis, ‘n heilige priesterdom, ‘n uitverkore geslag, God se eie en soms eienaardige uitsoeksels.  (1 Petrus 2:9)

Die gevolg was ‘n vars interdenominele aanslag op ons byeenkomste waar ons eenvoudig geweier het dat dogmatiese verskille ons van stryk af bring.  Gereformeerdheid, Pinkster en ander tradisies het in die vrede van een passie en verwondering oor die Bybel en die wysheid wat dit bied, verdwyn.  Stadig maar seker het die Here my in die meer tradisionele kerke ingelei.  Ek het my bid-passie vir kinders by die skole waar my kinders ingeskryf was, gevoeg en is vandag nog vriende met wonder-Christene uit die Anglikaanse kerk, die Baptiste en ‘n hele reeks ander Engelse denominasies.  

Net toe ek sou kon dink, ek is oop en onbevooroordeeld kry ek ‘n Katolieke skoondogter en ‘n buurvrou uit die Grieks-Ortodokse kerk.  Ek moes leer en aanhou leer.  Dit is die gevolg van ‘n wilsverklaring wat my hartsbegeerte uitdruk: ek is oop en gewillig om te leer.  As ek dit in Engels kon bid:  Lord, grant me a teachable spirit.

Sekere godsdienstige rituele was vir my vreemd.  Ek was gewoond aan ‘n besondere klem op Paas en die gebeure rondom die Kruis en Opstanding as die kern-gebeure in enige Christelike tradisie.  Van baie klein af was ek gewoond aan kerk toe gaan, baie kerk, oor Paastyd.  Ons kampdienste was ‘n tien-dag fees van ou vriende, kuier en kerk.  [Bodemklippe 122]

Ek moet erken die eerste maal wat ek van Lent gehoor het, was in die fliek, Chocolat. Daarna het ek gehoor hoe verskeie mense om my Lent vier en deesdae is dit, soos ek dit ervaar, prominent in baie kerke.  Dit is ‘n waardige tradisie en iets wat moet lei na ‘n dieper insig in die Kruisdood van Jesus, groter vreugde in die Fees van die Opstanding en boonop die vervulling in die Persoon van Jesus van drie Lente-feeste van die Jode.  Dit is die veertig dae voor Paas – ‘n tyd van dink en nadink, veral met dissipline en vleeslike onthouding.

Maar… is dit al?  Meeste Lent-gesprekke gaan oor elemente wat mense uitskakel – sekere kosse, bederf-dinge soos sjokolade of wyn, ‘n paar praat oor TV-kyk en daar is sekerlik ander dissiplines waarvan ek nie weet nie.  

Nou is alles verby.  Na die Paasnaweek moes meeste mense hulle terughaas na skool en werk, gewone verpligtinge en die lewe soos altyd.  Hoor mens die getuienisse van Lent-tyd wat lewens op ‘n diep vlak verander het?  Praat ons oor dieper insig wat ons uitkyk op die chaos om ons verander en verdiep?  

Wat wil ons nou eintlik?  Sou ons dalk na alles en met alles nader aan God beweeg? Hoor maar wat vra Miga. (6:6-8)

Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan,

as ek voor die hoë God gaan kniel?

Moet ek met offers na Hom toe gaan,

met jaaroud kalwers?

Sal die Here duisende ramme aanvaar

saam met tienduisende offers van olie?

Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde,

hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?

Watter offers kan ek bring om voor God te mag staan?  In The Message is dit skerp en duidelik.

How can I stand up before God
    and show proper respect to the high God?
Should I bring an armload of offerings
    topped off with yearling calves?
Would God be impressed with thousands of rams,
    with buckets and barrels of olive oil?
Would he be moved if I sacrificed my firstborn child,
    my precious baby, to cancel my sin?

Ons kan nooit bekostig dat ons aandag afgelei word met ons eie offers, wanneer die wonder-offer van die Bloed van God self in sy Seun Jesus vir ons die ENIGSTE pad na God toe oopvlek.  Dit is SY manier en geen poging van ons kant kan dit ooit verander of verbeter nie.  

Het jou Lent-dissipline jou in trane van transformasie op jou knieë voor die Kruis gebring of is jy verlig om weer sjokolade te mag eet?  Wat is jou Lent-getuienis? Weer Miga.

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:

Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,

dat jy liefde en trou sal bewys,

dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

But he’s already made it plain how to live, what to do,
    what God is looking for in men and women.
It’s quite simple: Do what is fair and just to your neighbor,
    be compassionate and loyal in your love,
And don’t take yourself too seriously—
    take God seriously.

Die Kruis is die grootste en belangrikste gebeure in die geskiedenis van die mensdom ooit – vir die verlede en die toekoms.  Daar kan nooit iets wees wat ons fokus daarop verdof nie.  Dit is ALLES en dit is meer as genoeg.

Ek weet dat ‘n Lent-dissipline gaan oor die kruisiging van ons eie vlees.  Dit is ook reg so, solank ons denke en aksies in gehoorsaamheid en aanbidding aan die Kruis-gebeure onderwerp word.  

Of jy nou geslaag of gefaal het in wat ookal jy vir Lent beplan het, die Kruis het nie verander nie, selfs nie as jy baie suksesvol en bevredigend jou Lent-dissipline onderhou het nie.  Moenie dat jou vleeslike sukses of mislukking jou dieper insig en nuwe wyn (die leerstellinge van Jesus) steel nie.

Kniel weer by die Kruis en gryp vas in gebed en verootmoediging … totdat jy die splinters in jou hand voel.

And don’t take yourself too seriously—
    take God seriously.

Skryf jou Lent-getuienis van 2024.  


Lewer kommentaar