240. Die superieure mag van Een en een.

Herlewing is ‘n soewereine beweging van God deur die werking van die Heilige Gees in toegewyde mense.  Dit begin met ‘n diep waardering vir die heiligheid van God en in hoe ‘n mate ons sonde ‘n gruwel in sy oë is.  Herlewing is nie kerke vol mense nie; dis mense vol van God.  

Dit is ‘n beweging met so ‘n sterk aanslag in die wêreld dat gemeenskappe hervorm.  Dit is die radikale omkeer van individue met bekering wat selfsug in opoffering en liefde verander.  Die hervorming van ‘n lewensbeskouing in ‘n mense is die kragtigste instrument vir die hervorming van ‘n gemeenskap.  Die vrugbare grond vir bekering en wonderwerke is gebed – individueel en korporatief.  In gebed word die Koninkryk van God op aarde as prioriteit uitgespel.

Daar was talle herlewings in die Ou Testament, hoofsaaklik as gevolg van die hervormings van godvresende konings.  Asa het die afgode uitgeroei (1Konings 15:12).  Jehu het afgode uitgeroei en die Ba’al tempels afgebreek (2 Konings 10:27), so ook Jojada. (2 Konings 11:18).  Die jong koning Josia het verskeie hervormings aangepak en so van bygelowe ontslae geraak.  Hy het die Tempel skoongemaak en die afgode in die Kidron-vallei verbrand (2 Konings 23:4).  Koning Josafat het die Asrod pale afgebreek en sy koningskap aan God gewy (2 Kronieke 19:3) asook Hiskia (2 Kronieke 31:1). Selfs Manasse het die land gereinig na sy bekering in die tronk van sy vyand (2 Kronieke 33:15).  Esra en Nehemia het die altaar (aanbidding) en die muur (beskerming) van Jerusalem (die kerk) herstel.

Jesus het gekom om die teruggevalle kerk te herstel en saligheid en redding vir al die nasies aan te kondig.  Op Pinksterdag is die Kerk van Jesus gebore.  Deur die ganse geskiedenis het dieper insig en profetiese visie van individue wat ‘n dieper lewe saam met God nagestreef het, gevloei.  Die Hervorming wat deur Europa en Engeland die gehele landskap van die Kerk verander het en selfs diep hervorming in Katolisisme veroorsaak het, word met een man geassosieer – Martin Luther.  

Van toe af kon elke herlewing in die wêreld teruggespeur word na die gebed en toewyding van een individu of ‘n klein groepie mense wat die verval om hulle ter harte geneem het en vurig tot God om uitkoms gebid het.  

Andrew Murray senior in Suid-Afrika het elke Vrydagaand vir ses en dertig jaar vir herlewing gebid.  Die herlewing in Amerika in die 1800s kom uit die Logan-distrik van Kentucky waar ‘n Presbiteriaanse kamp konferensie onder die bediening van James McGready die Baptiste en Metodiste genooi het om saam met hom die Here te soek.  Ongeveer twintigduisend mense het ‘n ses-daagse byeenkoms bygewoon.

Joseph Jenkins in Cardiganshire, Wallis in 1904 het ‘n dieper verhouding met die Here gesoek en ander genooi om saam met hom te bid.  In een van die dienste het ‘n sestien-jarige meisie opgestaan en haar diep liefde vir die Here bely.,  Hierdie getuienis het die mense so geroer dat hulle van die teenwoordigheid van die Heilige Gees bewus geraak het.  Meer dienste het gevolg waar die mense hulle sonde bely het en hulle liefde vir God openlik verkondig het.

Die lering oor ‘n dieper lewe saam met God het stadig oor die hele Wallis versprei.  Die impak op die samelewing was verstommend.  Misdaad het afgeneem en die howe was stil.  Selfs die myn-ponies wat die trokke onder in die steenkoolmyne getrek het, moes gewoond raak aan vriendelike woorde in plaas van ‘n gevloek en slanery.  Daar word gereken dat honderd en vyftigduisend mense in die eerste ses maande van 1904 tot bekering gekom het.

Daar is ander voorbeelde van spesiale “ontwakings”, soos herlewing dikwels beskryf is, waarin dieper insig en kragtige innerlike hervorming die voorspelbare en vervelige sinneloosheid van religieuse rituele wegvee en vervang met ‘n passievolle uitlewing van individuele liefde vir God.  Dit is ‘n inspirasie om daarvan te lees en die uitdrukking daarvan in ‘n gemeenskap te ervaar. 

Ons wêreld is desperaat vir geestelike hernuwing.  Die mense is verward en verwond.  Die Christendom het die antwoorde vir die groot vrae van die lewe en verkondig ‘n liefdevolle God-pa wat wonderwerke doen en bonatuurlik ingryp in absoluut enige situasie wat aan hopeloosheid oorgegee is.  Ons het die oplossing.  Ons God regeer, sing Jesaja duisende jare gelede. (Jesaja 52:7)

Kom ons lui 2021 in met die roep om herlewing.  Dit begin by ons.  Ons gebede maak ‘n verskil – nie altyd groot korporatiewe bidure en byeenkomste nie – ons kan in elk geval nog nie bymekaarkom nie as gevolg van die virus wat woed.   God roep ons tot individuele gebed om homself aan ons te openbaar.

In die tweede hoofstuk van Habakuk is die woorde geskryf wat die kreet van die Hervorming geword het.  Habakuk het sy mense as profeet bedien ongeveer 600 vC.  Dit was eers in 1517 dat die uitroep van persoonlike regverdigmaking deur geloof die magtige werking van die korrupte godsdiens van die dag gekonfronteer het.  Vir baie mense in daardie tyd het dit heeltemal onmoontlik gelyk om die verreikende kloue van die mags-behepte Pouslike gesag te ontsnap.  Die Hervorming en die durf van Martin Luther het vir altyd die geestelike landskap van die Christendom verander.

Ons het weer ‘n landskap-verandering nodig.  Die pandemie woed voort.   Natuurrampe saai chaos op ons planeet.  Politiek verdeel en gee aanstoot.  Kerkleiers stry oor aardse politiek wat net die stoffies in die skaal van God is (Jesaja 40:15).  Oral is mense verwond met teleurstelling en woede.  Almal soek oplossings en uitkoms.  God is gereed om in te gryp vir die wat vra en sy universele uitnodiging wat oor eeue al weerklink, aanvaar.

Dit is tyd om die tyd te onderskei.  Staan terug, word stil en besef dat die mag aan die werk is groter as die woede van die straat-stemme.  Kan die van ons gesê word wat in ‘n middel-vers opmerking van Issaskar-stam gesê is: 

van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan:  (1 Kronieke 12:32)

Is jy gereed vir herlewing?  Dit is die vurige en kragtige gebed van die regverdige wat die hemele sal open (Jakobus 5:16).  Jy is die regverdige – bloed-gekoopte, skoon-gewaste, wedergebore kind van die Allerhoogste.  Die Kruis van Jesus is jou regverdigmaking en geregtigheid – nie ‘n foutlose lewe nie.

Maak die deur van jou hart oop en vra die Heilige Gees om jou omgewing te roer – soos die geluid van ‘n geweldige stormwind…  (Handelinge 2)

Die regverdige sal deur die geloof lewe.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s