[Nuwejaar 2021]
“Dis nou klaar” sou ons graag wou sê na hierdie jaar waarin die wêreld op ‘n ongekende manier tot stilstand gedwing is. In plaas van die skoon blad van ‘n “nuwe” jaar, wat ons kalender berekeninge vir ons aankondig, sit ons vasgeklem in ‘n tweede golf, ‘n mutasie van die virus, onsekerheid oor inenting, die ekonomie in flarde en algemene wanhoop in die donker tonnel van virus-politiek en regulasies wat net nie einde kry nie. As die afgelope jaar so onverwags ons lewens onderstebo kon rol, hoe kan ons dan eers begin oor die tradisionele Nuwejaarsvoornemens dink? Die meeste mense neem ‘n wag-en-sien-houding in met ‘n opinie oor alles. Die gees van aanstoot saai onmin en chaos. Sal die inentings die situasie verlig of wag daar ander skoknuus?
As mens oor ander tye in die wêreld geskiedenis lees, dan is daar beslis erger globale krisisse waarmee ons situasie vergelyk sou kon word. In die antieke wêreld was elke krisis “globaal” want mense het maar verlangs en met hoorsê nuus uit ander streke verneem. Ek dink altyd aan die wrede oorloë van Juda en Israel, veral die beleg van Jerusalem deur Nebukadneser wat ‘n jaar geduur het. Die hongersnood het so erg geword dat die mense hulle eie babas geëet het. Dikwels word die beste en die slegste van mense in krisis openbaar. Ek is seker ons is nog lank nie klaar met die analise, beriggewing en stories van 2020 nie.
Dit was vir my betekenisvol om die boek Habakuk te lees. Op die oomblik (hier tussen Kersfees en Nuwejaar] is daar soos altyd so ‘n heerlike verposing tussen feestelikheid en die eise van die Nuwejaar wat kort na Nuwejaarsdag begin. Dit is altyd kosbaar om daardie salige, vredevolle verademing te geniet. In die tyd voor Kersfees het ek begin om elke oggend vroeg Nagmaal aan myself te bedien. In die ses weke voor Kersfees het ritse en ritse slegte nuus my getref – genadiglik nie in my eie gesin nie, maar in die breër familiekring, vriendekring asook kennisse en bedienings waaroor ek by tye platgeslaan en gebroke was. Soveel mense het stryd en spanning in die Covid-situasie beleef, maar die normale gebrokenheid en verwoesting van ons ou wêreld het soos gewoonlik op ‘n drafstappie voortgewoed. Ek was in die begin van Desember stomgeslaan oor wreedheid, moord en doodslag, siekte en diepe bedroefdheid wat mense om my moes hanteer.
Al die hartseer het my weer met ‘n besondere bewustheid onder die “Skaduwee van die Almagtige” ingejaag. Vandaar die besluit om Nagmaal te gebruik – elke dag – totdat die Here aan my kommunikeer om dit te staak. Ek wil nie dat dit ‘n leë ritueel word nie, maar op die oomblik is dit ‘n vreugdevolle bron van krag in my dag. Ek lees die Bybel in my gewone gang van studie (Jesaja en Matteus op die oomblik), maar bid ook spesiaal rondom my brood en wyn vir ‘n Rhema-woord.
Dit was in hierdie nagmaal-gebed wat Habakuk 3 uitgelig is – wat ‘n vreugde! Ek gryp toe sommer die hele boek – al drie hoofstukke wat saam met die voetnotas en kommentaar van my “lees”-Bybel. [New Spirit Filled Life Bible met Jack Hayford as redakteur en die NKJV as teks] ‘n heerlike stuk insig en bemoediging is.
Die derde hoofstuk is ‘n gebed van Habakuk op die wysie van ‘n klaaglied – hoe gepas vir my stukkende siel.
2Here, ek het gehoor wat van U vertel is
en ek is vervul met ontsag vir wat U gedoen het.
Doen dit tog ook in ons tyd,
laat u dade ook in ons tyd ervaar word,
ontferm U selfs in u toorn.
3God kom van Teman af,
die Heilige kom van Paranberg af. Sela
Die hemelruim is vol van sy majesteit,
die aarde vol van sy roem.
4Hy kom met die glans van die lig,
weerligte blits uit sy hand,
sy hand so vol mag.
5Voor Hom uit gaan die pes,
in sy voetstappe volg die dood.
6Wanneer Hy staan, skud die aarde;
wanneer Hy kyk, bewe die nasies.
Die eeue-oue berge verkrummel,
die ou-ou heuwels val inmekaar,
die berge waaroor Hy van ouds af gewandel het! (Habakuk 3:3-6)
In die eerste hoofstuk vra Habakuk vrae aan die Here. Dit is die klassieke hoekom-vrae wat ons so dikwels ontmoedig word om te vra, maar wat deurgaans gevra moet word. Die vrae is ‘n verfrissing om te lees omdat dit so pertinent op ons toestande vandag toepassing vind. Die kommentaar sê: Habakkuk is a reminder that the question WHY, can. should and must be asked.
Habakuk kla oor die onreg in die land, die verwatering van die regspraak, die geweld, onderdrukking en ellende. Die Here antwoord met die versekering dat Hy iets gaan doen. Dit is dalk nie die antwoord wat Habakuk wil hoor nie, want die inval van die Galdeërs, die magtige, wrede vyande van Juda word aan hom meegedeel. Die Galdeërs verwys na die Babiloniërs wat toe begin opgang maak en wêreldheerskappy by die Assiriërs oorneem. Assirië het toe alreeds die tien stamme van Israel in ballingskap weggevoer om nooit terug te keer nie. Waarskuwings oor die teruggevalle toestand van die volk is telkens deur die profete uigelig. Geestlike en morele verval laat die mense onder die beskerming van God uitbeweeg. Hoewel God nie die ballingskap en oorlog wil en bewerkstellig nie, is dit die normale gevolg van verval.
Habakuk se tweede vraag is ‘n uitroep van verwyt omdat dit lyk asof die Here stilbly en alles net ten gronde laat gaan. Hy posisioneer homself om te “hoor”.
Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê (2:1)
Dit is belangrik om tyd te neem en jouself die stilte en tyd te gun om God te hoor praat deur sy Woord en die diep oortuiging in jou gedagtes. (Spreuke 16:3)
God antwoord Habakuk op sy tweede vraag in die tweede hoofstuk. God se antwoord is reguit en op die punt af op die individu gemik. Die openbaring moet opgeskryf word sodat dit vir almal beskikbaar kan wees. Dis nie ‘n geheim nie. Selfs iemand wat haastig is moet dit kan lees.
Habakuk skryf die woorde wat eeue later die uitroep van die Hervorming onder Martin Luther word: Die regverdige sal deur die geloof lewe.
Dit is ons leuse in moeilike tye. Ons neem nie verantwoordelikheid vir die hele wêreld en sy deurmekaar politiek en ekonomie nie en allermins vir die kerk. Die kerk behoort aan God en Hy sal sy Kerk regeer en oordeel, lei en heilig maak. Joshua gooi die keuse aan die hele volk Israel oop nog eeue voor Habakuk:
Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Joshua 24:15)
Enkele lewens word onder God se soeklig gegooi.
9Ellende wag vir hom wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ‘n ramp oor sy familie gebring het,
hy wat vir hom ‘n hoë nes wou bou
juis om ‘n ramp vry te spring.
10Met jou geknoei het jy jou familie se ondergang bewerk;
jy wou baie volke uitroei, maar daarmee het jy ‘n einde aan jou eie lewe gemaak.
11Selfs die klippe in die mure skreeu oor wat jy gedoen het,
en die balke skreeu saam.
12Ellende wag vir hom wat ‘n stad bou met moord,
wat ‘n dorp aanlê met onreg. (Habakuk 2:9-12)
God maak dit duidelik dat Hy nie onbewus is van die toestand in Juda nie. Hy sal die Galdeërs oordeel en Juda red.
Die reaksie van die profeet op God se antwoorde is ons Woord vir hierdie begin van Januarie 2021. Dit is die stuk uit die derde hoofstuk hierbo aangehaal.
Doen dit tog ook in ons tyd,
laat u dade ook in ons tyd ervaar word,
Die profeet neem kennis van die toekomstige ingryping van God wat in die profetiese openbaring aan hom gegee word, maar dan bid hy vir ingrype “in ons tyd”. Die Engels stel dit so:
O Lord, revive Your work in the midst of the years!
In the midst of the years make it known; (3:1, NKJV)
Te midde van die jare, nog voor al die dinge gebeur wat God belowe het. Ons weet God is in beheer – hy regeer oor volkere en nasies wat soos die klein stoffies op die skaal is (Jesaja 40:15), maar wat van NOU?
Dit is die lied van Habakkuk. Sy vrae is gevra en geantwoord. Die gevolg van die profetiese woord is ‘n hele nuwe perspektief op wat God doen en nie ‘n fokus op die omstandighede nie. Hy vra vir aksie VOOR die toekomsplan.
Januarie 2021 voel vir my “te midde van die jare”. Here, kom gryp in in ons tyd. Ons weet die toekoms behoort aan God, maar wat van nou?
Nou dadelik, onse Vader. Ons het U nou nodig! Dis ons gebed.
Dan gebeur iets met Habakuk. ‘n Heilige Gees-geïnspireerde perspektief verskuiwing het ‘n aller-belangrike gevolg.
Sy gebed word ‘n lofsang en verloor al die eienskappe van ‘n klaaglied. God se almag, majesteit, ewigheid en kragtige dade in die skepping laat die profeet sidder in skok en verwondering. Sy siel, gees en liggaam buig onder die asemrowende glorie van God.
Dit is in hierdie houding van onderwerping en aanbidding dat hy die lofsang skryf wat ons so graag aanhaal – met reg.
17Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
18nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder.
19Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,
op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Bodemklipvriend, staan op waar jy is, steek jou hand op en sê NOGTANS. Dit is ons leuse vir 2021.
Op hoë plekke sal ons veilig loop. Dit is die belofte vir ons tyd – te midde van die jare.