Meeste mense stem saam dat ons in buitengewone tye leef. Dit is nie dikwels dat ons so bewus is van die wêreld as ‘n globale geheel wat ‘n gemeenskaplike vyand in die gesig staar, terwyl almal wild en wakker oplossings soek op verskeie fronte.
Gedurende die afgelope jare het ons dikwels die aantygings oor onwetenskaplike denke gehoor en die verheffing van wetenskap as die god van ons tyd aanskou. Ek ondersteun die bewondering van wetenskap wat ons wêreld op soveel maniere beter maak, maar in die woedende debat oor ons aarde, is natuur- en wildbewaring belangriker as ‘n gesonde-gebore baba. Aktiviste sal in die straat skreeu oor besoedeling en alternatiewe energie (wat ek natuurlik ondersteun sonder die aktivistiese straat-geskreeu), terwyl die hoogste simbool van nuwe lewe en hoop, ‘n baba, by die miljoene vermoor word. Sou dit kon wees dat God vir ons die oplossing gestuur het in die geniale bydrae tot ons wêreld van een van daardie babas?
Aborsie, geslagsidentiteit, ras en ongelykheid, om maar ‘n paar te noem, is vuurwarm twispunte in die vonke van party-politiek, aangeblaas in die mikrofone van die media in ons huise en klaskamers. Al hierdie geskilpunte moet aangespreek word op ‘n groot verskeidenheid vlakke, maar dit sit elke mens onder druk om ‘n opinie te vorm en uit te spreek. In die proses gryp mense na openbare figure se uitsprake, artikels en mening-manipuleerders in die media en selfs die Bybel om hulle soeke na waarheid en uitkoms te formuleer.
Ongelukkig is die wêreld vol idiote wat nie soos ek dink nie! Daarom kan ek my vinger uitsteek en kritiseer.
Hoor die woorde van Jesaja: (58:4)
Julle vasdae loop uit op twis en rusie,
julle dam mekaar met die vuis by.
Julle kan nie op hierdie manier vas
en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. (58:4)
As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en
die leuenagtige woord, (58:9b, OAB)
Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. (59:3)
Hoe moet ‘n Christen sy woorde in die openbare debat van vandag navigeer?
Onthou almal die armbandjies van ‘n paar jaar terug met die afkorting WWJD daarop? What would Jesus do – is op silikon, plastiek en allerhande versiering gedruk en gedra. Te midde van die populariteit daarvan het ek dikwels gewonder hoeveel mense stil word en dink oor wat dit beteken. Soveel van die impak gaan verlore in die familiariteit van so ‘n stelling.
Dit is inderdaad uiters relevant in die publieke debat van ons dag.
Kom ons dink bietjie aan die politiek in die tyd van Jesus, wat nie op enige manier minder toepaslik op die alledaagse lewe as vandag se politiek was nie.
Ons vind Jesus dikwels in openbare ruimtes, waar hy met die siekes en ellendiges omgaan, maar ook met die geleerdes en adellikes, die skares en die individu. Hy het in die nag met een man, Nikodemus, gesit en die dieper teologie van die Jode bepraat. Hy het ‘n uur of twee tussen Jerusalem en Emmaus gestap om ‘n gesprek oor homself met twee mense te deel. In elke gesprek was die hooftema die Koninkryk van God en die hoër lewe van uitnemendheid wat sy Koms en Kruis gebring het. In die geval van ‘n berekende woede-uitbarsting in die voorhof van die Tempel het Hy sy optrede duidelik gemaak – die herstel van sy Vader se huis na ‘n huis van gebed.
In al sy jare op aarde noem hy nie eers een maal die naam van die Romeinse keiser nie – die magtigste heerser van die grootste ryk in die hele geskiedenis. Te midde van wrede diskriminasie, vernedering, ongelykheid en wydverspreide slawerny is sy woorde op die punt af op die individu gerig met die groter visie van God se koninkryk as basis. Hy weet sy tyd is beperk. Hy mors nie tyd op allerhande praatjies en debatte oor die sake van die dag nie. Hy is doelgerig en afgemete en daarom is sy aanslag so kragtig dat die wêreld vir altyd anders is na sy lewe op aarde. Van hom het die profeet gesê:
Hy sal nie roep nie, hy sal nie hard skree nie,
hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie. (Jesaja 42:2)
Die Romeinse Ryk van die eerste eeu het ten spyte van ‘n gesofistikeerde regstelsel en regering, met ‘n harde hand die volkere wat hulle verower het, ‘n duidelike tweede klas behandeling gegee. Hulle eie burgers kon darem op ‘n meer waardige doodstraf reken – onthoofding of die gifbeker in plaas van ‘n kruisiging of ander onmenslik-wrede doodmaak-metodes. ‘n Kruisiging is gereken as die ergste en vervloek in die oë van die mense (Galasiërs 3:13).
Die belastingstelsel was korrup en verkreupelend. Dit was heeltemal normaal vir ‘n berede afdeling Romeinse soldate om in een van die dorpies in Judea in te jaag en die familie wat agter geraak het met belasting uit te sleep en as slawe te verkoop – ook die kinders. Romeinse administrasie was indrukwekkend vir daardie tyd – hulle het goeie rekords gehou en elke nou en dan ‘n sensus opname gedoen.
In die vier eeue tussen 200 vC en 200 nC was ongeveer ‘n kwart van die bevolking slawe. Oor tyd het miljoene mans, vroue en kinders hulle lewe in ‘n regtens en sosiale bestaansleemte gely, met geen regte van enige aard. Hulle kon niks besit nie en het geen vrye tyd of privaatlewe gehad nie. In meeste gevalle was die lewe van ‘n slaaf doodgewoon hel. Baie hoë klas en welvarende Romeine het slawe as ‘n uitbreiding van hulle ledemate gebruik – altyd teenwoordig en altyd beskikbaar. Slawerny was brutaal en onmenslik. Slawe is in dieselfde klas as diere gereken.
In die tyd van Jesus was die Jode wat in diens van die Romeinse owerhede belasting ingesamel het, van die mees gehate lede van die Joodse gemeenskap. Daar was ‘n hele aantal wat heel gewillig die taak vervul het. Die beloning was die moeite werd en korrupsie kon mens ryk maak. Die Romeine, sonder ‘n morele riglyn, was ongesteurd met korrupte metodes, solank die voorgeskrewe bedrae ingesamel en oorbetaal is.
Een van hulle was Matteus – inderdaad die Evangelie-skrywer! (Markus 2:14; Lukas 5:27) Hy is deur Jesus geroep om hom te volg. Dit dui aan dat hy vry was om sy pos te bedank, hoewel ek dink dat daar wel navrae, dalk onvriendelik, uit Romeinse geledere sou wees. Die uitkoms is vir hom gemaak – wie weet – dalk het hy wel die diep begeerte gehad om uit die stelsel uit te kom en Jesus het dit onderskei. (Dit is natuurlik net my eie mening.)
Judas, die Iskariot en ‘n ander dissipel van Jesus, was ‘n rebel. Hy was deel van ‘n beweging wat hulle vir die geweldadige omverwerping van Romeinse heerskappy beywer het. Hy was fanaties en sou maklik in die woede van vandag se aktiviste gekategoriseer kon word. Judas se affiliasie was geheim, anders sou hy vinnig deur die ystervuis van Romeinse politieke waaksaamheid sy lewe verloor het. Sy motivering was heeltemal geregverdig. Sy mense is na alles baie wreed onderdruk. Die Romeine het met geweld politieke oorheersing afgedwing.
Judas en Matteus het dieselfde Jesus gevolg, die Man wat liefde, vergifnis, genade, nederigheid en vrede verkondig het. In al die tyd van sy bediening het Jesus nooit die Romeinse keiser genoem nie. Hy het nie ‘n delegasie Rome toe gelei om oor slawerny te protesteer nie. Hy het nogal skerp na Herodus verwys, ‘n mede-Jood, wat die politieke spel in die hand van die Romeine gespeel het. Toe kerkleiers Jesus oor belasting konfronteer, het Hy gemaklike antwoorde gegee. Gee aan die keiser wat hom toekom en kry die Tempelbelasting met ‘n wonderwerk uit die mond van ‘n vis (Matteus 17:24-27; 22:15-22). Die basies beginsel is dat God voorsien terwyl die politiek sy onredelike en onregverdige bes doen.
Judas is ‘n getuie van al die wonders van hierdie Man saam met wie hy vir drie jaar in Judea rondreis. Geen wonder hy het gedink die tyd het gekom om Jesus se hand te dwing. Indien hy ‘n arrestasie sou kon bewerkstellig, soos hy besef het die leierskap wou hê, dan kon hy ‘n situasie skep waarin Jesus sy almag kan bewys en die Romeinse owerhede laat terugsteier sodat die Jode kan heers, net soos die profete voorspel het. Die wet van Moses sou weer die regmatige plek inneem as die geldende regstelsel en almal sal gelukkig wees, behalwe natuurlik die Romeine, maar wie gee nou in elk geval vir hulle om.
Sy bose plan het vorm aangeneem. Hy was so opgenome in sy beplanning dat hy die groter prentjie heeltemal miskyk. Hy gee nie aandag toe Petrus uitblaker dat Jesus die Christus die Seun van die lewende God is nie. Jesus bevestig Petrus se woorde as ‘n openbaring van die Vader en voorspel sy dood en opstanding alles in dieselfde hoofstuk (Matteus 16:16; 21). Judas “verkoop” sy vriend aan die gretige kerkleiers. Dit is redelik duidelik dat hy alleen sy plan formuleer en uitvoer – dalk sou die ander dissipels hom probeer stop het. Hy besef nie dat Jesus wel die Een is wat sy hart begeer, maar heeltemal anders te werk gaan as die vooropgestelde idee wat Judas in sy kop het nie.
Judas onderskei nie die tye nie. Hy voel hy moet optree. Sy regverdiging is die onregverdigheid rondom hom. Hy beskou sy lewe, sy land en mense sonder insig in die kosmiese gebeure waarin hy homself bevind wat die ganse mensdom vir tyd en ewigheid verander. Hy is oorgegee aan sy eie plan, sy eie opinie. Sy naam word die naam van die verraaier vir altyd na hom.
Hy leef om dit te berou. Hy sien hoe dinge verkeerd loop. Hy sien die verloop van die arrestasie – ‘n klein weermag wat gestuur word om een man in boeie te bind. Hy sien, bo alles, Jesus se houding, sy oorgawe aan die geweld wat hom aangedoen word. Die “wonderwerk” wat Judas verwag, gebeur nie, maar die soldaat se oor word wonderbaarlik genees met die hand van Jesus, wat Judas so goed ken.
Ons weet nie presies hoe ver Judas die gebeure van daardie nag gevolg het nie. Ons ontmoet hom weer in die Tempel waar hy woedend die geld neergooi in ‘n poging om sy plan in trurat te gooi. Hy skreeu aan hulle: Ek het onskuldige bloed verraai. Sy selfdood daardie selfde nag is ‘n tragedie.
Petrus volg die verhoor. Ewe dapper begewe hy hom in die voorhof van die huis van die Hoë Priester. Daar verloën hy Jesus drie maal, maar hy is naby genoeg aan sy vriend om hom in die oë te kyk. Een kyk van Jesus het Petrus bewaar van dodelike selfverwyt. Daardie kyk het sy siel gered. Baie trane later kon hy voor hom kniel, vergifnis ontvang en sy liefde aan Jesus bely.
Ek het geen twyfel dat herstel vir Judas beskikbaar was nie. Judas het nie besef met wie hy te doen het nie.
Mag God aan ons gee om naby genoeg aan hom te bly sodat ons die groter Plan kan sien sodat ons met omsigtigheid die tye onderskei. Dit is te maklik om in die gebeure van die dag verwring te raak en flenters van verwarring in vrees en kommer te verval
Ons hoor die roep van Habakuk: Die regverdige sal deur die geloof lewe.
Ons is nie geroep om die wêreld te red nie. Ons is geroep om getrou aan God in ons wêreld te leef. Ons is nie geroep vir opinie nie, behalwe as jy in ‘n posisie van invloed is en op jou knieë wysheid uit die hemel vra met die gawe van onderskeiding. Debatvoering is goed, solank ons nie aanstoot gee en vyande maak nie. Die huidige twisgierige party-politiek waarin vryheid van spraak op ‘n diep vlak aangetas word, is aanduidend van die onderliggende woede van die openbare debat. Dit is nie die manier waarop ons die oplossings sal vind wat ons so nodig het nie.
So sê die Here, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe! (Jesaja 45:11, OAB)