232. Vars olie

Die jaar staan op sy kop, en wat ‘n jaar is dit nie!  Elke nou en dan is die gedagte van onwerklikheid voorop in my kop.  Ek assosieer die begin van die virus-nuus met die bed in my spaarkamer waar ek geslaap het terwyl my man moes isoleer na ‘n buitelandse reis.  Daar het ek in die aand so deur die nuus op my foon geblaai en in verstomming dit probeer inneem.  Menige oggende gedurende hierdie afgelope maande het ek wakker geword en gedink hoe vreemd die gebeure van hierdie jaar is.  Sonder twyfel is die jaar gemerk met dood, vrees en onrus.

Hier teen middel-Maart het die kerk-stem weerklink.  Ek het saam met ‘n organisasie met die naam: Watchmen over the nations my Zoom-vaardighede opgeskerp en op hulle webtuiste saam gebid vir die hele wêreld.  Die wêreldwye gebed is uit Jerusalem deur Messiaanse Jode gelei.  Kort daarna het die profetiese stemme begin opgaan en berig wat God sê oor die krisis.  Die woord “reset” het dikwels voorgekom.  Ek het dit as positief ervaar en gebid dat die aaklighede van ons moderne samelewing soos dwelmhandel en sekslawerny ‘n doodshou toegedien word.  

Onlangs het dieselfde woord weerklink in die toesprake van die Sekretaris-Generaal van die VN, die hoof van die IMF en selfs Prins Charles toe hulle “The Great Reset” aankondig wat ‘n nuwe wêreldorde moet inlei en wat kwansuis reeds op 3 Junie begin het.  Ons moet maar sien wat daarvan kom. 

Stadigaan het die ekonomiese krisis die hoofnuus geword.  Die Amerikaanse politiek en onrus op die strate oorheers steeds die hoofopskrifte.  Ons betree nou die derde derde van die jaar.  Baie min mense op hierdie planeet kan sê dat hulle lewens normaal verloop het. Miskien is daar hier en daar in afgeleë streke mense wat nie geraak is nie.  Die impak is groot – op almal.  Net om te dink hoeveel mense deur die dood van dierbares geraak is, onder omstandighede waarin hulle nie eers deur die normale rituele van afskeid kon gaan nie.

Waar staan jy?   Wat dink jy?  Wat is die grootste bekommernis vir jou tussen nou en Kersfees?

Menige kere gedurende die jaar het ek die woorde van die Psalmis gebid.

Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels.(Psalms 17:8)

Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke,

u geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see. U sorg vir mens en dier, o Here.

Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil.  (Psalms 36:5-7)

Hoor hoe mooi in The Message.

God’s love is meteoric,
    his loyalty astronomic,
His purpose titanic,
    his verdicts oceanic.
Yet in his largeness
    nothing gets lost;
Not a man, not a mouse,
    slips through the cracks.

 How exquisite your love, O God!
    How eager we are to run under your wings,
To eat our fill at the banquet you spread
    as you fill our tankards with Eden spring water.
You’re a fountain of cascading light,
    and you open our eyes to light. 
(Psalms 36:5-9)

Ek wou weggesteek wees.  Ek het in my verbeelding myself en my familie onder die reuse vlerke van ‘n arend “gesien”.   God se vleuels is ons veilige hawe, ons sterk toring en skuiling in die storm.

Maar een of ander tyd moet ons opstaan en nuwe planne maak.  Hier in die noordelike halfrond begin ‘n nuwe skooljaar hierdie week (eerste week in September) en in Amerika reeds einde Augustus.  Die kindertjies leer van fisiese afstand handhaaf, maskers in die klas, hande was, ensovoorts.  Eendag gaan hulle die snaakse maatreëls onthou en vir hulle kinders vertel van die virus.  

Die virus is naam is Corona.  Dit is die Latyn vir kroon.  ‘n Mens sou amper kon sê dat die jaar gekroon is met Corona.  Ek sê amper, want ons as kinders van die Here weet beter.  Ons weet wat sê die Skrif.

kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed!  (Psalms 65:12)

Dit is my verklaring oor 2020 – die kroon van my jaar is nie Corona nie, maar God se goedheid en sy oorvloed.

Dit is tyd om op te kyk en vorentoe te kyk met verwagting en hoop.  Hoe sal ons weet dat God voorsien as ons nie wreed uit ons “normaal” gepluk word nie?

Stap vir ‘n oomblik saam in Sagaria en kyk met ‘n nuwe blik op die woorde van die profeet van so verskriklik lank gelede.

Toe vra ek vir die engel: “Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?”

En verder het ek ook vir hom gevra: “Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?”

Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” en ek het gesê: “Nee, Meneer.”

Toe sê hy: “Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.” (Sagaria 4:11-14)

Spesiale olyfolie was die olie wat die lampe van die kandelaar in die Tabernakel brandend gehou het.  Jesus staan tussen die kandelare of staanlampe in Openbaring 1.  Die kandelaar of staanlamp is die kerk en die olie die Heilige Gees.  Jesus is die Lig, net soos Hy self gesê het.  As die kerk (onsigbare liggaam van gelowiges) nie die Heilige Gees-olie laat vloei nie, is die lig dood en die kerk donker.  Dit is die simboliek dwarsdeur die Ou en Nuwe Testamente.  Dink maar aan die gelykenis van die Maagde in Matteus 25.

Twee olyfbome aan weerskante van die kandelaar moet die lamp van olie voorsien.  Dit is wat die lig aansteek.

In ons lewe is die Heilige Gees die olie wat Jesus se lig in ons lewe skyn.  Ons moet vol olie wees.  Die kommentaar op Sagaria praat van vars olie wat die lig aansteek.  Dit is die vernuwing en varsheid van insig in God se Woord en die kragtige wonderwerke wat ons lewe kenmerk.

Dit is die lig van Jesus wat die toekoms verhelder.  Dit is in die verwagting van wat Hy doen, wat ons die einde van die kalenderjaar tegemoet storm, sonder twyfel of swaarmoedigheid.  Ons is die gesalfdes wat in diens staan van die Liggaam van Jesus, die ware Kerk, die Nuwe Jerusalem.

Hoe word ons vol met vars olie?  Vra dit!  Bid saam met my hierdie woorde:

Here, vul my op met die Heilige Gees, die asem van God self, sodat ek in my gees en gedagtes die kragtige werking van U Gees ervaar.  

Maak my hoof vet met olie sodat my beker oorloop (Psalms 23:5, OAB)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s