Kyk maar om jou. Hoe sou jy ons wêreld beskryf? Gee dit jou hoop of dreineer dit die laaste greintjie moed uit jou beendere? Sonder twyfel sal 2020 in die geskiedenis geskryf staan as ‘n jaar van onsteltenis, nie net ten opsigte van die virus nie, maar ook met betrekking tot die woede in die strate, die ekonomiese ontwrigting, so baie mense wat dood is asook politieke en mediese krisisse wat sommer vinnig op mekaar volg of gelyktydig gebeur.
Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is, sê 1 Korintiërs 13.
For now we see but a faint reflection of riddles and mysteries as though reflected in a mirror, but one day we will see face-to-face. My understanding is incomplete now, but one day I will understand everything, just as everything about me has been fully understood. (1 Corinthians 13:12, TPT)
Dit is waar dat ons eendag na die dood, of as die Here gekom het, in ‘n ander dimensie saam met hom, die wêreld waarlik sal sien, met die insig en wysheid wat net van God af kom.
Maar wat van nou? Hoe moet ons maak met alles wat aangaan? Ons is die kerk, die Nuwe Jerusalem. Ons hou die boosheid terug met ons blote teenwoordigheid hier op aarde. Terwyl ons bid en weerstand bied teen als wat sleg is en afbreek, oorwin ons die wêreld met die bonatuurlike en wonderwerkende krag van liefde. Dit is die verhewe doel van God. Ons, wat saligheid aan die moedeloses, die siekes en lydendes verkondig, is die draers van die Kruis, geseël met die seël van God op ons voorkop. Die seël van God (Openbaring 7:2,3) simboliseer dat al ons doen en late, wat uit gedagtes voortspring, redding en genesing verkondig aan ‘n mensdom wat in pyn en armoede, verwoesting en ellende, sonder hoop op uitkoms krepeer.
In die Bybel lees ons dikwels van mense, God se mense, in die wildernis of woestyn. Dit is ‘n plek van fisiese oorlewing, waar honger en dors, die mees basiese behoeftes, skielik die grootste prioriteit word. Hagar het in die woestyn ingevlug met Ismael, haar seun. Toe sy byna van dors omkom en die kind al verlaat het, sodat sy nie sy laaste stuiptrekkings in doodsbenoudheid moet ervaar nie, het die Here haar oë oopgemaak en die put gewys. Dit was haar redding. Ek is oortuig, God het nie gou ‘n put daar geskep nie. Die put wás daar en Hagar het in haar bitterheid teen Sarah, wat haar weggejaag het, nie die uitkoms gesien nie. Hagar was ‘n slaaf met min of geen beheer oor haar eie lewe nie. Sy is gebruik om ‘n baba vir haar meester te voorsien en toe die seuntjie nog ‘n kleuter was, is sy weggejaag in ‘n jaloerse, woede uitbarsting van Sarah. Hagar is gered en gee die put ‘n naam – Lahai Roï – ek sien op die Een wat my sien.
Is dit moontlik dat die uitkoms vir ons probleem ons in die gesig staar, maar ons woede oor die politiek, ons bitterheid teen korrupsie en onregverdigheid en hartseer oor verlies ons so blind maak, dat ons nie God “sien” nie. Hy het alreeds ons gebed geantwoord. Ons kan die nie sien sonder die openbaringskennis van die Heilige Gees nie.
Dit is onmoontlik om al die geloofshelde se wildernis-ondervindings hier neer te skryf. Die wildernis was ‘n plek van beskerming en profetiese insig.
Die woestyn is ‘n skoonheidskuur. Ja sowaar!
“Wie is dit wat daar soos ‘n rookwolk uit die woestyn uit kom, omgewe deur die geur van mirre, van wierook, van al die lekkerruik-kruie in die handel? (Hooglied 3:6)
Elia het die verstommende ondervinding gehad dat ‘n Engel hom bedien met kos en water, sodat hy fisies so sterk geword het, dat hy veertig dae kon loop tot by die berg van God. (1 Konings 19:5-8) In Elia se diep moegheid na sy konfrontasie met die Baäl priesters, versterk die maaltyd en die nuwe opdrag van God hom in so ‘n mate dat hy kon aangaan met dit wat sy roeping vereis het. Hy moes deur die wildernis van Damaskus terugkeer, weer eens vir veiligheid.
Elia was oortuig dat hy alleen oorgebly het na sy slagting van die priesters. Hy kla by die Here dat hy alleen is en dat sy lewe bedreig is, maar God openbaar aan hom die oorblyfsel, God se getroue dienaars wat dwarsdeur die geskiedenis die vlam laat brand het. (1 Konings 19:18). So het Esegiël die oorblyfsel geseël (Esegiël 9:4-6) en die Engel in Openbaring 7. God bewaar sy Kerk. Die getroues is dikwels diegene wat verborge is en nie so maklik raakgesien kan word nie. Moenie vir ‘n oomblik dink hulle is nie daar nie.
Ek het eenmaal van ‘n olyfboom gelees; sommer op ‘n spyskaart van ‘n Italiaanse restaurant. Dit is ‘n boom wat floreer in moeilike omstandighede waar baie ander plante sal verdroog en kwyn. Die olyfboom wil nie opgepiep wees nie. Hy groei in klipperige, droë grond onder ‘n skroeiende son. Daar dra hy vrug en gee die klipharde, suur vruggie wat in spesiale prosesse ingelê word om die delikatesses van die wêreld te voorsien. Die olie word in ‘n parsingsproses tot ‘n dik geel-goue heerlikheid in bottels oor die hele wêreld verskeep. Waar hy staan, gee hy koelte, dra vrug en leef lank en ongestoord in die wildernis waar min ander bome kan oorleef.
Die toegewyde olyfolie het die lampstaander in die Tempel laat brand. Dit is die simbool van die Heilige Gees wat ons ook in ons “lampies” (die kerk is die lampstaander – Openbaring 1) moet hê, sodat krisis en verlies ons dieper onder die vleuels van die Allerhoogste sal inbring.
Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels. (Psalms 17:8)
Wêreldgebeure sou mens ook met duisternis kon beskryf. God is Lig, sal ons dadelik antwoord – geen plek vir duisternis in my lewe nie. Dis die waarheid, sonder twyfel. Jesus is die enigste mens op aarde wat ooit gesê het: Ek is die Lig van die wêreld. Nogtans, is God oral – ja selfs in die duisternis. As omstandighede donker lyk sal jy God daar vind.
Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was. (Exodus 20:21)
“Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. (Deuteronomium 4:11 en 5:22)
Dié dag is ‘n dag van toorn, ‘n dag van nood en benoudheid, ‘n dag van storms en verwoesting, ‘n dag van donkerte, van duisternis, ‘n dag van wolke, van swaar onweer, (Sefanje 1:15)
Dit is die oordeelsdag wat hier deur Sefanje beskryf word; ‘n dag waarin die kinders van die Here sal juig omdat al die lyding en swaarkry deur die Here geoordeel word. Vir ons is daar vreugde in die duisternis waar ons God ontmoet. Daar is belofte in die donkerte. Reik uit daarna. Stel jou verwagting in die Here.
Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word, die rykdomme wat weggesluit is, sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel. (Jesaja 45:3)
In die antieke wêreld was die see die simbool van chaos en boosheid. Die onbekendheid van die oseane en die beperkte tegnologie om bote veilig te navigeer, het die see skrikwekkend gemaak. Dit was ‘n reuse watermassa waarvan die diepte nie bepaal kon word nie en waar groteske en majestieuse see-wesens nou en dan hulle teenwoordigheid getoon het, genoeg om almal op land die skrik op die lyf te jaag.
In Openbaring 13 waar die Bees-monster wat Satan verteenwoordig bekendgestel word, kom hy uit die see. Waar hy vandaan kom, dra by tot die onverstaanbare en onverklaarbare verwoesting wat hy verteenwoordig.
Die Eufraat-rivier was ‘n breë lewensaar wat deur die stad Babilon gevloei het. Babilon se stadsmure was ‘n wonder van die antieke wêreld. Tussen die jare 605 en 562 vC het die Babiloniërs drie mure om Babel gebou, veertig voet hoog en so breed dat strydwaens resies op die mure kon jaag. Binne die muur was genoeg landerye, tuine en diere om kos vir die mense te voorsien in die geval van ‘n beleg. Die Babiloniërs self was baie ingenome met hulle indrukwekkende situasie, soveel so dat hulle heeltemal ontspan het. Die Persiërs het heimlik die vloei van die rivier in ‘n mensgemaakte meer ingelei, sodat die rivier onder die stadsmuur so verklein het dat die hele Persiese weermag daar kon in marsjeer en die Babiloniërs oorval, terwyl hulle vrolik en gulsig feesgevier het. Water wat opdroog het in die antieke geskiedenis sinoniem geword met die gedagte dat die vyand inkom.
Jesus sê: Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” (Johannes 7:38)
As die water ophou vloei, sal die vyand inkom.
In Israel se geskiedenis het God sy beheer oor die see en die rivier duidelik getoon in wonderwerke wat die verloop van die geskiedenis van die volk ingrypend bepaal het.
Moses se staf het die Rooi see (of Riet See) gekloof en in die proses om Israel se veiligheid te bewerkstellig, sommer finaal met hulle vyande afgereken.
Net voor die Beloofde Land word die Jordaan-rivier in vloedtyd opgedroog sodat die volk kan deurgaan. Dit versterk hulle geloof sodat hulle die vyand in die land kan verslaan. God se wonderwerk skep vrees in die inwoners van Jericho, in so ‘n mate dat die Ragab uitreik en die verspieders help. Ons ken al die wonderwerke wat volg.
Alles wat moeilik lyk en voel, alles wat donker lyk en bang maak, alles wat chaos is en verwarring skep, bring jou op die plek van wonderwerke. God is daar waar boosheid jou bedreig. Kyk op en “sien” Jesus by jou. Hy sal jou nooit verlaat nie.
Lees asseblief die hele Jesaja 43.
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie… (Jesaja 43:2)
So sê die Here, Hy wat ‘n pad gemaak het deur die see, ‘n deurgang deur die magtige waters...(Jesaja 43:16)
Verhoog jou verwagting…