233. Woon en werk rustig voort

Dis altyd so.  Net sodra dit lyk asof daar ‘n globale krisis is, gaan die stemme op wat die einde van die wêreld aankondig.  Sommige klink soos die doemprofete van ouds wat klaagliedere sing oor die politiek, klimaat en al die “sondes” van industriële ontwikkeling, politieke leiers en publieke opinie.  Daar is ‘n wrede afwesigheid van hoop en ‘n geweldadige  aanwesigheid van verdoeming.  Ek dink nie ek het al ooit soveel onlogiese en ondeurdagte histerie in die media en die straat-stemme van gewone mense, as ek so ‘n woord kan formuleer, soos nou gehoor nie.

Ek dink die aanhaling van George Orwell geld veral nou se dae: 

Sometimes the first duty of intelligent men is the restatement of the obvious.  

Kan ‘n mens in sulke dae vasgryp aan die normale verloop van die lewe met die bekende roetine van die konvensionele?  Waarmee was jy besig voor Maart 2020?  Ek lees nou die dag dat die slegste idee van 2020 was om ‘n jaarbeplanner te koop.  Sou mens ooit kon dink dat die uitdrukking: ek sal nie aan hom/haar raak met ‘n tien-voet paal nie, sal verander na ‘n ses-voet paal en internasionale beleid word?

Daar is baie dinge om te verwerk.  Ek is dikwels bewus van soveel mense wat dood moes hanteer sonder die tradisionele rituele van afskeid wat tog ‘n verskil in ‘n treurproses maak.  Miskien was ek net meer bewus van die mensdom as ‘n geheel, uitgelewer aan beleidmakers wat in die donker rondtas met hulle oog op wetenskap vir leiding, terwyl hulle reëls maak om te veg teen ‘n onsigbare en onbekende vyand.

Daar was al voorheen groot rampe op wêreldfront.  Dan het daar ook, soos nou, baie mense die eindtye aangekondig aan ‘n gretige, vreesagtige gehoor wat gereed is vir die volgende dramatiese episode van die grilverhaal.  Hulle was meestal verkeerd.  Ek sê meestal, omdat groot rampe tog verandering bewerkstellig, nie altyd negatief nie.  Elke stel filosofieë van ons wêreld het sy eie apokaliptiese verhaal wat met groot oortuiging en fanfare in onseker tye en rondom verandering oor die klankversterkers van die tyd uitgebasuin word.  Die Babiloniërs en Grieke het gewoonlik totale vernietiging en totale vervanging verkondig.  Vir hulle was die huidige wat hulle moes hanteer heeltemal boos en so sleg dat geen god wat sy naam werd is, sou afdaal en iets goeds daaruit probeer maak nie.

Dit is inderdaad net die Christelike wêreldbeskouing wat verkondig dat God saligheid en redding aan die wêreld bied om iets heeltemal goed uit iets heeltemal boos te maak.  Ek kan weer sê wat ek al soveel maal geskryf het: Daar is geen gemors te groot vir ons Vader om iets mooi en wonderlik daaruit te maak nie.

Dit is die beginsel van Jesaja 61 wat ek in Engels aanhaal omdat dit ‘n bekende refrein is: Beauty for ashes, the oil of joy for mourning and a garment of praise for the spirit of heaviness.  (Jesaja 61:3)

Net die volgende vers is die basis van God se denke van herstel oor groot rampe:

Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou, plekke herbou wat lankal verlate lê, hulle sal verwoeste stede weer opbou, plekke wat geslagte lank verlate lê.

Maar ons praat oor die stemme uit die klankbane van ons lewens.  Of dit nou in boekvorm, of YouTube of Facebook of Apps van gekose mentors weerklink; dit is die stemme wat ons lewe en denke beïnvloed.

Iewers in die middel van Junie, het die groepie vroue wat gewoonlik in my huis vir Bybelstudie vergader oor die somertyd, omdat al die kerkprogramme sluit om die somer te geniet, besluit om weer die Boek Openbaring aan te pak.  Ek het die studie reeds in 2015 geskryf en in 2016 op Bodemklippe gepubliseer.  Dit is ‘n studie wat kalmte en rustigheid in ontstuimige tye bring.  Dit is die laaste woord van God oor wat in die wêreld aangaan en die heerlike rus in die kennis dat Hy alleen in beheer is.  

Die studie se aanslag is die klassieke-histories interpretasie en is hoegenaamd nie ingestel om ‘n dispensasionele tydlyn daar te stel nie.  Dit is egter opmerklik dat die dispensasionele, “voorspellings”-element, in werklikheid die sensaionele, in die tyd van krisis harder opklink as die logiese, rasionele analise wat ‘n arend-sig oor die gebeure na Jesus se Hemelvaart, belig.

Of jy op hierdie stadium die studie wil aanpak of nie, die heel eerste vyf woorde van Openbaring is die woorde wat die grootste impak op enigiets wat mens in hierdie tyd oor die apokalips of eindtye behoort te hê.  Lees dit maar.  Ek hou van die Ou Vertaling (OAB).

Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur…

Jesus is die misterie, die Plan van God vir saligheid en redding.  Die openbaring van Jesus, wat met sy lewe op aarde, die hart van God in mensvorm laat leef het, moet altyd, sonder uitsondering, die fokus van elke kommentaar uit profetiese geledere wees.   Elke boek, elke profesie, elke reeks woorde, elke vloedgolf woorde moet Jesus en Jesus alleen as die fokuspunt uitlig en beklemtoon.  Openbaring is by uitstek ‘n evangelistiese oproep tot bekering. 

Ek wil nooit te kenne gee dat daar net een manier is om Openbaring te interpreteer nie.  Daarvoor is die woorde net te ryk en te diep.  Daar is verskeie vlakke van interpretasie, maar om Openbaring te sien in die simboliese en metaforiese verklaring vir alles wat die afgelope tweeduisend jaar gebeur het en wat nou besig is om te gebeur, is vir my opbouend en ‘n inspirasie.

“Sien” jouself agter die wit perd met Jesus vooraan in hierdie tyd van verwarring en stryd.  Jy is deel van die skare van heiliges wat die agterhoede vorm van die hemelse leërskare wat deur Jesus aangevoer word.  Ons is nie op aarde alleen in die stryd en verwag om eendag hom in sy triomftog te sien nie.  Ons is nou saam met hom in sy triomftog oor die bose magte.

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. (2 Korintiërs 2:14)

Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. (Kolossense 2:15)

Wat is ‘n triomftog?  In antieke tye was dit gebruiklik vir ‘n koning wat van die oorlog af terugkeer en die oorwinning behaal het, om op ‘n wit perd deur die strate van die hoofstad van sy land te ry terwyl sy burgers hom juigend terug verwelkom.  Sy soldate het agterna geloop en die geskenke wat na hulle gegooi is, ontvang.  Verder af in die lyn was die oorwonne volk was as slawe weggevoer is met hulle koning wat agter ‘n perd aangesleep is.  Mens sien ‘n bietjie daarvan in die opera Aida.

Wat sê dit vir ons vandag en vir elke dag wat kom?  Ek het met die laaste byeenkoms (op Zoom) vir almal die Engelse parafrase van Psalm 37:1-6 uitgespel as die laaste woord oor paniekerige eintyd-profesieë:  Keep calm and carry on.

Dit is die pragtige woorde van die Nuwe Vertaling (NAB) wat die titel van hierdie stukkie is.

Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. [shrivel like grass clippings]

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.

Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag.

Net soos Hy altyd gedoen het, sal Hy weer en weer voorsien.  Ons krag is in ons eie getuienis van die getrouheid van God.

Laat Openbaring dit uitbasuin.  Hoe sal ons oorwin?

Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. (Openbaring 12:11, NAB)

En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. (OAB)

They defeated him through the blood of the Lamb
    and the bold word of their witness
. (The Message)

Elke belofte van God staan vas en is van toepassing op ons lewe nou.  Dit is ons oorwinning.  Dink vir ‘n oomblik na oor jou lewe tot hier.  Dink aan jou getuienis.  Ek haal The Message vir jou aan:  Settle down and stick to your last.  Keep company with God and get in on the best.

https://youtu.be/ZOBIPb-6PTc    Hoor wat hulle sing: 

The promise still stands.  He’ll do it again.  I see You move; You’re moving mountains…

Psalms 37:1-6 in The Message:

1-2 Don’t bother your head with braggarts
    or wish you could succeed like the wicked.
In no time they’ll shrivel like grass clippings
    and wilt like cut flowers in the sun.

3-4 Get insurance with God and do a good deed,
    settle down and stick to your last.
Keep company with God,

    get in on the best.

5-6 Open up before God, keep nothing back;
    he’ll do whatever needs to be done:
He’ll validate your life in the clear light of day
    and stamp you with approval at high noon.


2 thoughts on “233. Woon en werk rustig voort

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s