298.  …dat die stof so staan

Dis nie altyd maklik om ‘n idioom te verduidelik nie.  Dit leer mens gou in ‘n ander kultuur wat sy eie sêgoed geniet.  Die natuur en die weer, die landskap en die seisoene is ‘n ryk bron van daardie kort frases wat so raak ‘n saak of situasie kan beskryf, maar heeltemal Grieks klink vir iemand wat nie weet nie. (Weer ‘n idioom)

Ons bestudeer Matteus in ons weeklikse Bybelstudie.  Dit is heerlik om aan die “voete van Jesus” te sit en uit Sy mond te leer.  ‘n Vriendin uit Engeland stuur vir my ‘n pragtige preek van die leraar van die SA Gemeente, dr Sebastiaan van Dyk.  Dit is juis toe ons oor die bediening van Johannes die Doper en sy tronkstraf, doop van Jesus en die roeping van die eerste dissipels in Matteus 3 en 4 gesels, dat die preek so toepaslik die agtergrond verduidelik, wat my diep tref.

In die gesprek raak ons aan die gedeelte in Lukas wat die insident gedurende die Pasga-besoek aan Jerusalem, toe Jesus twaalf jaar oud was, vertel.  In die notas het ek heerlik geskryf aan die gewone verloop van ‘n Joodse seuntjie se lewe totdat hy amper 13 jaar oud was.  Hy het die eerste boeke van die Bybel, die Wet, baie vroeg in sy lewe begin leer en het dit teen 12 jaar oud uit sy kop geken, woord vir woord, met nog ‘n paar Psalms daarby. 

Sommige van die jong seuns, het natuurlik baie talent getoon en kon dan voortgaan met die studie van die Geskrifte.  Hulle het ‘n rabbi gekies om te volg en by te leer, amper soos ‘n intense klerkskap, met ‘n volle indompeling in die leerstelling en kommentare van die hoog geleerdes onder die volk van Israel.  Soms het van die prominente en bekende rabbi’s ‘n uitnodiging aan ‘n uitstaande student gerig met die bekende woorde: Volg my.  Dit was ‘n groot eer en het totale lewenstoewyding vereis. 

Tipies sou so ‘n jongman 15 tot 17 jaar by die rabbi spandeer, hom oral volg, sy lewenswyse aanleer en uit sy mond en kennis die hoë tradisie van Joodse geleerdheid voortsit.  Op dertigjarige ouderdom kon hy sy eie studente of dissipels roep en sy kennis met hulle deel.

Vir die seuns wat nie so leergierig of intellektueel bedrewe was nie, het daar eintlik net een opsie oorgebly.  Hulle het by die huis gewoon en die familie besigheid geleer en bedryf.  

Nadat Johannes die Doper deur Herodes Antipas in die tronk gesit is, het Jesus Nasaret verlaat en na Kapernaüm verhuis, wat die begin van ‘n nuwe fase in sy lewe aangedui het. Dit was die einde van die tyd van voorbereiding, die kreet van Johannes wat tot vandag toe weerklink, vir die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal wegneem.

Galilea, die noordelikste distrik van Palestina, het nie tot by die Middellandse See-kus gestrek nie, as gevolg van die ligging van Fenisië (die huidige Libanon).  Dit het in die noordooste aan Sirië gegrens en die See (eintlik Meer) van Galilea het die oostelike grens bepaal.  Alhoewel nie ‘n groot gebied nie, was Galilea dig bevolk en die vrugbaarste streek in Palestina, met, volgens Josefus, meer as tweehonderd dorpe, elk met ‘n bevolking van minstens vyftienduisend mense.

Die Galileërs was bekend vir hul gereedheid om leiers te volg en opstande te begin.  Hulle was bekend vir vinnige humeure en ‘n geneigdheid tot twis, sonder om terug te deins.  Hulle was eerder ingestel op waardigheid as om die korttermyn-voordele van ‘n situasie uit te buit.

Die term Galilea kom van die Hebreeuse woord galiyl, wat ‘n sirkel beteken.  Die volledige naam van die area was Galilea van die Heidene, wat dui op blootstelling aan nie-Joodse invloede en idees.

Daar was letterlik duisende vissersbote rondom die meer.  Daar het Jesus geloop en baie spesifiek twee stelle broers as eerste dissipels geroep.  Dit was duidelik nie die eerste maal wat hulle Jesus ontmoet het nie en van hulle was dissipels van Johannes die Doper, wat na sy arrestasie teruggekeer het na die familie-besigheid, naamlik visvang.

Die beskrywing is baie spesifiek – hulle het alles net so gelos en Jesus gevolg.  Daar is nie eers ‘n sweempie weerstand van hulle pa, Sebedeus, wat die voorsiening van die familie alleen verder moes bedryf nie.  Dalk was daar ander broers – ons weet nie.  Daar was wel loonarbeiders saam met Sebedeus.  (Markus 1:20)

Ons moet besef hoe ‘n groot eer dit was om deur ‘n rabbi geroep te word.  Jesus was dertig jaar oud, presies die tyd dat ‘n rabbi met sy dissipels (studente) ‘n intense studie-pad begin loop.  

Hulle sou saam met hom leef, eet en werk.  Bo alles sou hulle elke aktiwiteit en rustyd van sy lewe meemaak.  Dit was intense opleiding, die letter van die Skrifte met al die elemente van praktiese toepassing daarvan in die alledaagse.  

‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.  (Lukas 6:40) sê Jesus.

Hulle sou die “studie-juk” van die rabbi op hulle skouers dra.  Paulus het dit ook gesê: Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg. (1 Korintiërs 11:1)

Die Fariseërs het ‘n toegewyde lewe, met duisende regulasies, so moeilik gemaak, dat dit skaars moontlik was om dit na te kom.  Gewone mense het na hulle opgesien om te weet hoe om te leef.  Die boekrolle was nie beskikbaar vir die gewone mense om te bestudeer nie.

Jesus verwyt die Fariseërs (Matteus 23:4) dat hulle juk te swaar is vir die mense om te dra.  Hy nooi die vermoeides uit om Sy “juk”, sag en maklik, op hulle skouers te neem.  (Matteus 11:28-30)  Jesus se juk, die studie van Sy leer, is die beste om ons toe te rus vir ons elke dag.  Dit is ‘n juk wat individueel gevorm is uit genade en liefde, spesifiek vir elk mens.

Daar was nog ‘n idioom wat op die rabbi-dissipel verhouding van toepassing was.  Die dissipel het so naby aan sy rabbi geleef dat hy met rabbi-stof oordek was.  Die paaie in die antieke wêreld was meeste grondpaaie vol stof en klippe.  Die paaie is net vir koninklike besoeke reggemaak.  Dit is waarom voete-was so belangrik was.  Die stof van die pad het sandaal-voete baie vuil gelos.

Maar dink vir ‘n oomblik waar ons die meeste stof sal optel as ons baie naby aan iemand loop – in die woestyn natuurlik.  Dit is die stof-fabriek van die natuur.  Boonop spreek ons idioom: dat die stof so staan, van intense aktiwiteit, nie rondstaan en ginnegaap nie, eerder beweging en werk.

Dit is ook so dat die woestyn-tye van die lewe ons nader aan ons Rabbi dwing.  Ons loop nie net saam nie – ons lê aan Sy voete, klou aan sy Hand en loop so naby dat ons die Woord uit Sy mond goed kan hoor.  Dit is woestyn-tye wat ons ore so oopmaak, dat ons die “trompet” hoor en Sy koms ervaar.  Hy sal ons nooit verlaat – dis die belofte – veral nie daar waar ons in Sy stof leer om te leef nie.

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”  (Matteus 11:28-30)  

“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” (The Message)

Sal jy naby kom en leer dat die stof so staan?  …sodat jou lewe so volledig deur die Woord van God gevorm word, soos wat Jesus s’n was. 


Lewer kommentaar