226. Pinksterfees met hemelwoorde

Woorde uit die hemel, woorde van God verander die wêreld.  Dis taal soos God dit bedoel het.  Die tale van engele wat hier op aarde gepraat word.  Ons weet almal hoe moeilik dit is om ‘n vreemde taal aan te leer.  Dit is ‘n lang proses wat net met jou eie toewyding en dissipline kan geskied.  Ek het al gewens daar is ‘n mikroskyf wat in jou kop ingeplant kan word wat jou die taal op ‘n skinkbord aanbied, maar helaas – leer en oefen en oor en oor is die enigste manier om ‘n ander taal te praat en te verstaan.

Ek leer Italiaans omdat ek ‘n kleindogter het wat Italiaans as moedertaal gaan praat.  Ek sukkel en dis moeilik.  Ek kyk die Italiaanse televisiekanaal en vang hier en daar ‘n woord.  Dit gaan nog ‘n ruk wees voordat ek die Italianers se vinnige, ineengestrengelde woorde kan uitmaak.  Ek het nuwe waardering vir taal en geniet “my” Afrikaanse idioom en eenvoud opnuut.  Ek is vreeslik trots op Afrikaans se ongekompliseerde strukture met soveel moontlikhede van uitdrukking.

As God iets doen dan doen Hy dit goed.  Lees gerus die eerste gedeelte van Genesis 11.

Die storie van die toring van Babel is eienaardig, om die minste te sê. Die mense van die aarde kom na die vloed bymekaar en beplan om ‘n toring te bou. Almal het een taal gepraat en was eensgesind oor die projek. Volgens die prentjies in die Kinderbybel het hulle al ver gevorder voor die taalverwarring gebeur het. Hulle taaleenheid het hulle baie kragtig gemaak. God self sê dat niks vir hulle onmoontlik sal wees nie en verwar hulle taal. As gevolg daarvan versprei hulle oor die aarde soos wat Hy oorspronklik bedoel het.

Eeue later gebruik God ‘n wonderwerk van taal om Sy kerk te verenig sodat hulle die krag van eenheid kan ontvang.

Die gebeure van Pinksterdag is vooruit geloop met Jesus se laaste woorde op aarde voor sy Hemelvaart.  Dit is uiters belangrike woorde, bloot uit die feit dat dit afskeidswoorde is.  Enige mens is intens bewus van die woorde by afskeid en dit was ‘n baie besonder tipe afskeid.

Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.

 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:4,5,8)

Net na hierdie woorde het ‘n wolk hom weggeneem sodat hulle hom nie meer kon sien nie.

Op Pinksterdag het taal die ongelowiges verbyster en die kerk gevestig. (Handelinge 2:4)

Op Pinskterdag het die dissipels bekende tale gepraat – in Grieks: dialektō (Handelinge 2:8)

Twintig jaar na Pinsterdag kom Paulus by bekeerlinge in Korinte en vra of hulle die Heilige Gees ontvang het. Hulle is herdoop (die enigste plek in die Bybel wat daarvan praat), omdat die doop van Johannes voor die bediening van Jesus plaasgevind het en Paulus die beginsel van doop in die Naam van Jesus wou vestig, sodat dit met sy dood en opstanding in verband gebring word (Romeine 6)

Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. (Handelinge 19:6)

Die ongewone tale of klanke word hier vertaal uit die woord in Grieks: glossolalia en was die teken van die inwonende Heilige Gees om die gelowige toe te rus as ‘n kragtige getuie.

In Korintiërs praat hy van glossolalia wat onbekende tale was en in Handelinge 2 word daar van dialekto gepraat, wat bekende tale was.

Hier is die kommentaar daaroor:

 The characteristic of this mysterious language is that it betokened a converse alone with God, such as the angels have. But rising out of this, is that the Holy Spirit gave impulse and power to the speaker to make his language for himself for what he had to utter at that very moment, so that the language moulded itself specially in the mouth of each individual respectively for that which had to be uttered.

Die gebed in ongewone tale is een van die pilare van gebed. Die ongewone tale of klanke wat in ons mond vorm, is die taal van die Heilige Gees.  Dit is ons stap in geloof om met hemelwoorde te kommunikeer.

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.  (Romeine 8:26)

Ons het tyd en privaatheid nodig sodat die Heilige Gees vir ons kan intree. Soms is dit deel van heeldag-kommunikasie. Dit is die onderwerping van enige moeilike situasie aan Koninkryksgesag enige plek en enige tyd – deurgaans – sommer in die kar, in die kombuis, tussen ander mense.

Hierdie gawe van die Heilige Gees is vir ons persoonlike aanmoediging en opbouing en gebeur volgens Jesus se voorskrifte oor gebed in Matteus 6 – in privaatheid.

Dit kan ook in die kerk of ons samekomste gebeur en daarvoor gee Paulus die voorskrifte in 1 Korintiërs 14.

Vir enigiemand wat hierdie woorde lees of hoor, vir wie dit vreemd en onaanvaarbaar klink – wees die kerk van Berea.

Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. (Handelinge 17:11)

Hulle het sowaar seker gemaak dat wat Paulus sê die waarheid is!

Ons het die Bybel beskikbaar. Dit is hoe ons moet optree – altyd. Ons moet seker maak en die Heilige Gees vra om die Skrif aan ons te verklaar. Die Heilige Gees is ons leermeester. Hy sal ons lei in alle waarheid. Dit is wat Jesus sê. (Johannes 6:63)

Wat is ons volgende stap? Presies wat die mense op die dag van Pinkster gedoen het.

 By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

 Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

 Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (Handelinge 2:37-39)

Dit is Heilige Gees kommunikasie, nooit ‘n obsessie nie – net die gevolg van onderwerping aan die Woord van jou Vader.

Kom ons vier hierdie baie besondere Pinksterfees 2020 met vreugde en verwagting in jou hemelse taal.

[Bodemklippe 129 en 130 – Mei/Junie 2017]

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s