178. Openbaring van waarheid.

[Johannes 16]

Ek is seker dit het al met jou ook gebeur. Iemand sal sê, moenie bekommer nie, dis beter so. Jy sal diep sluk en sug in die ongeduld van onbegrip oor hoekom op aarde hierdie beter kan wees. Dit gebeur dalk meer met kinders wat aan onverstaanbare volwasse besluite onderwerp word, soms sonder verduideliking.

Ons is God se kinders en daar is tye wat ons nie verstaan nie. Mense sê oppervlakkige dinge om gebeure te verklaar soos: dit was geluk, omstandighede het net so uitgewerk, die sterre was belyn. Pyn en mislukking word toegeskryf aan “bad luck”, die noodlot of wrede oordele oor die persoon se eie vermoeëns om die lewe te hanteer.

Ek het al dikwels oor openbaringskennis geskryf. Dit is vir my een van die sentrale temas van my lewe en die doel van alles wat ek doen.

Die heel eerste maal wat ek die ondervinding gehad het dat God met my praat, was toe ek net 14 jaar oud was. Die eindeksamen van graad 9 was ‘n vol rooster en die eksamens was formeel en streng.

Ek was gespanne en moedeloos die aand voordat ek Wiskunde en Latyn moes skryf met net ‘n kort breek tussen die twee vraestelle. In daardie tyd het my ma die Bybel bestudeer met ‘n desperaatheid vir uitkoms uit al ons probleme. Daardie aand het ek my Bybel opgetel en besluit ek sal in die middel oopmaak sodat ek ‘n Psalm kan lees –  enige Psalm om my kalm te kry. Die Bybel het oopgegaan in Jesaja – ek het nie eers geweet daar is so ‘n boek in die Bybel nie!

My oog het op hierdie woorde geval:

Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. (Jesaja 41:10)

Stadig het die besef in my hart kom vestig dat God praat met my, ‘n arme gespanne skoolkind, direk in my omstandighede in. Ek was so oorstelp van vreugde en verligting. Ek kon studeer en lekker slaap. Vandag weet ek dat die Heilige Gees het die waarheid van die woord in my innerlike wese gekommunikeer. Ek was suksesvol in die eksamen maar ek kan nie die besonderhede onthou nie. Wat ek wel kan onthou is my ondervinding dat God my hartroep gehoor het en geantwoord het. Vandag, 44 jaar later kan ek dit as ‘n getuienis neerskryf en dit is helder in my gedagtes.

Dit is hier in Johannes 16 waar ek die lering van Jesus oor die Heilige Gees begin verstaan het. Hy het Sy dissipels vertel van die Heilige Gees wanneer Sy fisiese  teenwoordigheid die aarde verlaat het.

In hulle hartseer verwarring na die kruisiging, het die dissipels onthou wat Jesus gesê het, dat dit beter is dat Hy weggaan want dan sal die Heilige Gees kom. In die vlees was Hy beperk tot tyd en plek. In die Gees was daar geen beperkinge nie. Hy is altyd by ons net soos Hy belowe het in Matteus 28:20.

Ons het die gawe van ononderbroke gemeenskap met God.

Jesus gee hier ‘n volmaakte opsomming van die werk van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees oortuig ons. Die woord in Grieks is elegchein en dit is in die kruisondervraging van ‘n getuie in ‘n hof gebruik.

‘n Kruisondervraging vind plaas om ‘n persoon so te lei om sy skuld te beken en meer lig op die feite te werp. Menslike regsgeleerdes moet ‘n getuie met vrae lei om die waarheid te ontdek. Die getuienis kan sterk of swak wees.

Die Heilige Gees is die volmaakte advokaat. Hy weet reeds die kleinste besonderhede van ons innerlike, beter as wat ons self weet. Hy oortuig in volmaakte liefde om ons swakhede en mislukking te hulp te kom en herstel te bring.

1) Hy oortuig van sonde [amartias – om die doel te mis] met liefde sodat ons oortuiging ons by God bring om ons op te hef.

Sonde is nie altyd duidelik nie. Die Jode was oortuig dat hulle die regte ding doen deur Jesus ter dood te laat veroordeel. Later het Sy boodskap hulle harte geraak (Handelinge 2:37) en hulle kon hulle sonde bely. Slegs die Heilige Gees kan mense van sonde oortuig – nie ander mense nie.

2) Die Heilige Gees oortuig van geregtigheid [dikaiosunēs =  die toestand wat vir God aanvaarbaar is, wat deur Hom goedgekeur word, integriteit, reinheid, korrektheid, dade en denke onderworpe aan die wil van God].

Net soos die Romeinse offisier by die kruis wat in ‘n oomblik die waarheid besef het, so oortuig die Heilige Gees ons in ‘n oomblik van die waarheid van Jesus in ons innerlike wese.  Hoe is dit moontlik dat die kerk van Christus se fondament die dood van ‘n Joodse misdadiger so lank gelede is? Die geloof in die opstanding is die werk van die Heilige Gees.

3) Die Helige Gees stel ons in staat om met insig en begrip te oordeel [kriseos, krisis = onderskeiding om ‘n besluit te maak]. Ons omstandighede is kompliseerd en dinge is nie altyd duidelik nie. Ons het wysheid nodig om die regte besluite te neem.

By die kruis is boosheid vir alle tyd en ewigheid oorwin. Die onderskeiding om boosheid te herkenis ‘n werk van die Heilige Gees.

Alles saam is ons saligheid en vryheid in Jesus. Hy is ons Redder en die straf vir ons sonde was op Hom.

Wat is die waarheid? Die Heilige Gees is die gees van Waarheidwant Hy openbaar Jesus aan ons.

Openbaring is ‘n proses– dit is meer en dieper vir diegene wat die soek. Ons begin by basiese kennis en beweeg aan tot lewensveranderende openbaringskennis.

Alle openbaring het gevolge.

Geloof ondersoek openbaring.

Slegs in waarheid kan ons verstaan wie God is en die meer komplekse gedeeltes van die Ou Testament verstaan.  Die heidene en vals gode wat uitgewis moes word, is vir ons die simboliek van boosheid en valsheid wat ons bind en waarvan ons in Jesus bevry word.

Openbaring is dinamies. God praat, God werk, God red en seën sonder onderbreking. Jesus leef en is die lewende waarheid.

Waarheid is ‘n gawe van God. Dit is nie ‘n mens se ontdekking nie. Ons leer dit stadig, maar dit is daar en die bron daarvan is God.

Openbaring van waarheidis die betekenis en interpretasie van wie Jesus werklik is. Jesus is onuitputlik. Ons kan Hom nooit ten volle verstaan nie. Hoe meer ons soos Hy word, hoe meer verstaan ons Hom.

Hy is die enigste persoon wat ooit gesêhet: Ek is waarheid. Al die mense wat aanspraak gemaak het dat hulle die Messias is, of selfs God is, het nog nooit hierdie moedige, alles-omvattende stelling gemaak nie. Jesus is bekend daarvoor in die verwysingsraamwerk van soveel mense oor so ‘n geweldige lang tyd.

Kan ons vir ‘n oomblik stil word en ons harte oopmaak sodat die Heilige Gees ons op ‘n diep vlak van die waarheid van Jesus kan oortuig?

 

 

175. O die wonder van die asem van God.

[Johannes 14]

First this: God created the Heavens and Earth—all you see, all you don’t see. Earth was a soup of nothingness, a bottomless emptiness, an inky blackness. God’s Spirit brooded like a bird above the watery abyss.  (Genesis 1:1,2, The Message)

Hy was altyd en sal altyd wees – die derde persoon in die Drie-eenheid. Ek moet erken dat die leer van die Drie-eenheid vir my  nog altyd maar moeilik was om te verstaan. By tye het ek gedink ek sal maar net aanvaar wat hulle sê, maar soms kon ek net nie my kop om dit kry nie. Miskien is daar selfs vandag nog iets wat ek nie heeltemal verstaan nie.

My dierbare Sondagskoolonderwyser het dit een manier verduidelik. Hy het gesê  dis soos ‘n appel. Daar is die skil, die vleis en die kern met die pitte. Saam noem ons dit ‘n appel en dis een ding. Apart is dit appelskil, afgeskilde appel en ‘n appelstronkie. So is dit ook met die Drie-eenheid. Dit is God, die Vader, God, die Seun en God, die Heilige Gees. Saam is hulle God.

In my kop was dit nog steeds drie aparte wesens. Stadig het ek meer geleer. Ek het besef die Heilige Gees is die asem van God, veral in die leer rondom die droë beendere in Esegiël 37. Lees die wonderwoorde in The Message:

God, the Master, told the dry bones, “Watch this: I’m bringing the breath of life to you and you’ll come to life. I’ll attach sinews to you, put meat on your bones, cover you with skin, and breathe life into you.You’ll come alive and you’ll realize that I am God!”

In die volgende verse is dit duidelik dat die asem lewe gee.

“Prophesy to the breath. Prophesy, son of man. Tell the breath, ‘God, the Master, says, Come from the four winds. Come, breath. Breathe on these slain bodies. Breathe life!’ So I prophesied, just as he commanded me. The breath entered them and they came alive! They stood up on their feet, a huge army.

Dit is duidelik  – net soos Genesis 2:7:

God formed Man out of dirt from the ground and blew into his nostrils the breath of life. The Man came alive—a living soul!

Toe kom ek op die pragtige Kersstorie van Max Lucado af: An Angel’s story, wat ek kan aanbeveel as ‘n voorlesing vir Oukersaand of iewers rondom Kersfees. Dit was toe eers dat ek die volheid van die reïnkernasie begryp. Jesus is God self; Sy saad in die maagd. Daarom kan ons sê: Immanuel – God met ons.

Op hierdie stadium van my lewe glo ek God het ons Sy hart in die lewe en aard van die man Jesus op aarde gewys. Jesus het die woorde van lewe ge-asem om die lewe wat God bedoel in die mense in te blaas. God het nie Sy kind laat sterf nie: God self het gesterf. Die verhouding van ouer kind, waarin God Jesus Sy seun noem, het die onomkeerbare en onbreekbare band tussen die Godheid figure uitgebeeld.  Jy kan nie kindskap ontdoen nie.

Die Heilige Gees is God se asem; die universele bron van lewe.

Hier in Johannes 14 laat Jesus die verlore bewustheid van die Heilige Gees herleef. Hy verduidelik die rol van die Heilige Gees in ons. Hy belowe ‘n Helper.

Ons leef nie ons lewens alleen nie. Die Heilige Gees is in ons. Die Griekse woord is parakletos.Dit is ‘n woord vol betekenis-nuanse en amper onmoontlik om presies te omskryf. Dit sluit trooster, helper, gunstige getuie, kennersadviseur, bemoediger, altyd beskikbaar in tye van nood, alles in.

Trooster kom van die Latynse woord fortis, wat braaf beteken. Die Heilige Gees maak ons braaf. Hy stel ons in staat om hierdie lewe te hanteer en as oorwinnaar te triomfeer. Watookal moeilik is, al die swaar tye en take – ons het bonatuurlike hulp.

Jesus sal ons nooit alleen laat nie – sonder ‘n ouer waarvoor die Griekse woord maklik herkenbaar is: orphanos.  Mens hoor dikwels die lering oor Christene wat ly aan ‘n weesgees. Hulle is kinders van God wat nie die volheid van die erflating van Jesus besef nie, altyd streef na meer en sukkel om oorwinning te smaak.

Jesus praat hier oor sy terugkoms. Hy bedoel Sy verskynings na die Opstanding en hulle ervaring van die opgestane Jesus. Jesus maak ons geestelik lewendig wanneer Sy gees in ons binneste woon – dit is wedergeboorte.

Ons het die Opstandingskrag in ons.

Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.(Romeine 8:11)

In die volgende gedeelte raak Jesus aan belangrike beginsels. (14:18-24)

Liefde is die fondament van alles.

Gehoorsaamheid is die bewys van liefde.

Liefde en gehoorsaamheid hou ons veilig in die volle openbaring van wie Jesus is. Jesus is die opgestane Christus en die finale openbaring van God.

Hou die voorskrifte. Geen boosheid kan ooit Jesus ontvang nie.

In die volgende gedeelte praat Hy weer oor die Heilige Gees. . (14:25-31)

Die Heilige Gees leer ons alles wat ons moet weet. Dit is die manier om volwasse te word – ‘n ontvanger van kennis, ‘n wese wat leerbaar is – dieper en dieper in die waarhede van God. Ons kan nooit ooit terugsit en ontspan oor ons kennis nie. Daar is altyd meer. Die avontuur sal nooit eindig nie.

Die Heilige Gees sal ons herinner aan alles wat Jesus gesêhet. Jesus is die waarheid en ons het Sy woorde nodig. Sy woorde is die Brood van die Lewe. Ons het die Heilige Gees nodig om die lewe se praktikaliteite te hanteer.

Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.(Johannes 6:63)

Die toegepaste waarheid is wysheid.

Die Heilige Gees help ons om die waarheid te leef. Ons optrede is in volle onderwerping aan Sy krag en leiding.

Jesus gee vrede. Shalom beteken nie net die afwesigheid van moeilikheid nie. Dit beteken soveel meer. Dit beteken alles tot die hoogste goed vir die persoon wat met hierdie woord geseën word. Jesus se vrede is die vrede van oorwinning, die oorwinnaar se vrede en nie die onwillige onderwerping om uit die moeilikheid uit te bly nie. Dit is ‘n vrede wat in ons harte heers sonder inagneming van die omstandighede.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.(Filippense 4:6,7)

Ons toekoms is vryheid van vrees en angs en alle aardse beperkinge wat ons weerhou van die glorie van Jesus in ons. Na die dood het ons die hoop op iets beter. In die krag van die Heilige Gees word ons verander om die volheid van die seën te ontvang. God blaas lewe en waarheid in ons.

Jesus het geweet die kruis is die finale stryd. Sy dood was oorwinning, nie tragedie nie.

Die kruis was die finale wraak op sonde en die redding en regverdiging uit die greep van enige boosheid. Dit was wel vernedering en pyn, maar dit het die grootste simbool van gehoorsaamheid en liefde in die ganse geskiedenis geword. Jesus se lewe se hoogtepunt was die kruis. Alles wat Hy gedoen en gesêhet, het in die kruis gekulmineer.

 

“Until you have given up your self to Him you will not have a real self. Sameness is to be found most among the most ‘natural’ men, not among those who surrender to Christ. How monotonously alike all the great tyrants and conquerors have been: how gloriously different are the saints. . . . Nothing in you that has not died will ever be raised from the dead. Look for yourself, and you will find in the long run only hatred, loneliness, despair, rage, ruin, and decay. But look for Christ and you will find Him, and with Him everything else thrown in.”

CS LEWIS

 

 

 

 

 

 

 

 

139. Wat van jou?

Het jy al ooit jouself in die geskiedenis in verbeel? Waar sou jy geleef het in die dorpies van die Middeleeue, ‘n edelman in ‘n kasteel, ‘n ridder wat vir die hertog veg of dalk die hertog self? Dis redelik moeilik om as vrou te ambisieus oor die geskiedenis te dink, hoewel die geskiedenis vol sterk vroue was. Ek is beslis nie Joan of Arc nie! Vroue wat ek bewonder is selfs verder terug in die geskiedenis – Deborah in Rigters en Huldah in 2 Konings 22. Lees gerus.

Kom ons reis saam na die walle van die meer in Galilea waar almal gepraat het van ‘n man wat mense gesond maak, met die Fariseërs en Skrifgeleerdes argumenteer en na die armes uitreik. Kan jy jou die gepraat rondom die pleine en putte van die Judese dorpies voorstel? Miskien was jy ‘n suksesvolle besigheidsman in die visbedryf om die meer, waar jy die vars vis in sout ingelê het, om te verskaf aan die Romeinse goewerneurswoning in Caeserea of Herodes se paleis in Jerusalem.

Die afgelope Paastyd was ek in die kerk by ‘n preek oor Jesus se intog in Jerusalem op Palm Sondag. Op die skerm was ‘n pragtige foto uit een van die Jesus-flieks wat die gebeure uitbeeld. Terwyl ek na die mense om Jesus kyk, het ek skielik gewonder waar ek sou wees. Ek moet erken ek het ‘n lewendige verbeelding, maar ek het al verskeie kere ondervind dat die Heilige Gees beheer van my verbeelding neem om my geloofsbeelde te wys. Dit is onmoontlik vir my om te dink dat ek self in staat sou wees om dit uit te dink. Een van die mees kragtige geleenthede was toe ek van ‘n oorweldigende vrees verlos is, in die oomblik toe die Here vir my Sy voorsiening en beskerming wys.

Terwyl ek na die skerm staar, het ek vreeslik hartseer geword. Ek het myself nie daar voor met ‘n tak in die hand gesien nie. Ek kon net dink dat ek met my natuurlike supisieuse en huiwerige geaardheid, meer die agterhoede sou vorm en eers sien hoe hierdie ding uitspeel. In gebed wou ek die Here om verskoning vra dat ek so ongelowig sou wees in die werklikheid om Jesus. Ek het Maria Magdalena en Johannes se toewyding bewonder, wat ten spyte van groot risiko Jesus tot by die kruis gevolg het.

In daardie oomblik het die Heilige gees my van die teenoorgestelde gedagte oortuig. In my gees het ek Sy liefdevolle stem “gehoor” wat sê dat ek presies sou wees waar ek nou is. Ek was bewus van die wonderwerk van geloof, saligheid en geestelike insig in die misterie van God wat im my lewe die heel kosbaarste ding is.

Die stap om jou lewe aan Jesus te onderwerp, is ‘n koue rasionele besluit, gevolg deur die wonderwerk van wedergeboorte wanneer die Heilige Gees in jou innerlike wese woonplek opneem. Ek was vol vreugde oor die insig dat Jesus bonatuurlik in die lewens van mense openbaar word, toe net soos nou.

Vir my was dit ‘n oomblik van groot blydskap. Ek was sommer lus en skreeu Hosanna! Ek weet hoe lief ek Hom het en hoe kosbaar Sy woord vir my is, bo alles in hierdie wêreld. Deur die res van die diens het ek my eie intog in Jerusalem geniet, reg daar aan Jesus se sy.

Hoe het die mense geweet Hy is die Messias was hulle so lank verwag het? Dit is juis die tema van hierdie eerste hoofstukke van Johannes. Hy stel Jesus se saak soos ‘n advokaat in ‘n hof, met getuies en bewyse uit die ou geskrifte wat die titel Messias, onderskryf.

1:32-34

Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die geleentheid van Jesus se doop was vir Johannes die Doper ‘n diep en onderskeidende gebeure. Daar by die waters van die Jordaan het God Homself as ‘n drie-eenheid openbaar met ‘n stem uit die hemel, Jesus in die doopwater en die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif wat op Hom afdaal. Dit was iets wat net die geestesoog met geïnspireerde insig kon sien.

Die doop (Grieks = baptizein, wat beteken om te onderdompel) van Jesus was ‘n kernbelangrike gebeurtenis.

Die duif was ‘n heilige dier. Dit is nie gejag nie en nie geëet nie. Die simbool van ‘n duif was iets baie bekend en geliefd. Die duif het aan Noag die olyftak gebring – ‘n simbool van God se voorsiening. (Matteus 3:16)

Dit was met Jesus se doop dat die Heilige Gees op Jesus kom rus het, op ‘n manier wat vir Johannes die Doper duidelik was.

Die Hebreeus vir Gees is ruach en dit beteken wind. Die Gees van God gee ons drie dinge:

  • KRAG: dit word in Handelinge 2 as ‘n geweldige stromwind beskryf.
  • LEWE: die bestaan van ‘n mens is deur die asem van God.
  • GOD: dit is die manier waarop ons hier op aarde ‘n verhewe, goddellike lewe kan lewe.

Die Gees het die profete geïnspireer. (Miga 3:8,Jesaja 59:21,Jesaja 61:1, Esegiël 36:26-7)

Die Gees bring God se waarheid, gee die mens insig om die waarheid te sien en die vermoë om die waarheid te leef en te verkondig. Vir die Jode was dit nie nuut nie.

Johannes gaan uit sy pad om te verklaar dat die Gees van God op Jesus bly. Dit is nie tydelik nie, dit is ewig. Net soos dit vir ons ‘n ewige inwoning is. Die Heilige Gees deurweek ons wese om die Woord te verstaan en ‘n gees-beheerde lewe te leef. Dit is waarlik God se vuur in ons binneste. ‘n Geesgebed is ‘n uitroep van die hart met geen gedagte aan teologie of liturgie nie, Dit is ‘n wonder-ontmoeting met God self in die privaatheid van die binnekamer soos Jesus self leer. (Matteus 6)

Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. (Jesaja 11:2)

Dit was die belofte oor die Messias. Net so word ons die belofte deelagtig in ‘n Geeslewe.

1:35-39:

Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

Johannes die Doper wys na Jesus as die groot leermeester, terwyl hy weet dat sy dissipels Jesus gaan volg. Hy het geen jaloesie gevoelens nie. Sy oog was op die visioen van die Messias, waarvoor hy die mense voorberei het.

Dit is ‘n ware dissipel – sy oog bly op die visie en die hoër roeping van die Koninkryk van God.

Wat is die visie vir jou lewe?

Neem ‘n oomblik en vra die Heilige Gees om jou gedagtes te inspireer. Skryf dit neer. (Habakkuk 2:15)

Jesus draai om en praat met die volgelinge. Dit is Sy karakter – Hy nader tot ons, as ons die eerste stap gee. Hy maak deure oop. (Jesaja 45:1 en Openbaring 3:8)

Jesus wat omdraai is ‘n pragtige voorbeeld van God se initiatief. Hy kon ons tegemoet, net soos die pa in die storie van die verlore seun. Maak die prentjie van jou hemelse Vader wat jou in Sy arms opvang.

We seek God when He has already found us – Augustinus.

 Die kernvraag is natuurlik: Wat soek jy?

Jou begeerte moet uitgespreek word. Die mense wat Jesus volg kan dalk wettiese argumente soek, of nasionaliste wat ‘n geweldadige oplossing soek. Hulle was nederige mense wat hulle Messias gesoek het. Hulle het heel moontlik verward en onwaardig gevoel en ‘n diepe sielsleemte ervaar. Dit is die perfekte plek om te wees – donker lewens wat by die Lig uitkom om vir altyd te verander.

WAT SOEK JY?

Soek jy veiligheid en materiële voorspoed? Dis nie verkeerd nie. In die geestelike realm tel dit as lae ambisie. Dit is onbevredigend om God te soek net as ondersteuning vir jou eie doelstellings in die lewe. Dit is heeltemal anders as jy Hom soek om waarlik jou lewe in Sy te lig te beskou.

Die dissipels vra: Waar woon Jesus?

Hulle noem Hom rabbi, wat letterlik beteken: my groot meester. Dit was ‘n titel van respek vir ‘n wyse man. Johannes skryf aan die Grieke en gebruik die woord vir onderwyser.

Wat beteken hulle vraag?

Hulle wil nie die kort antwoord hê nie. Hulle wil sit en lank praat, baie vrae vra. Dit is nie net ‘n oppervlakkige nuuskierigheid nie. Hulle wil Hom ken.

Jesus antwoord: Kom saam en kyk.

Sy woorde was bekende woorde wat ‘n leermeester vir sy studente gesê het. Dit het beteken dat hulle saam ‘n pad van leer-ondervinding sal stap, verkieslik oor ‘n lang tydperk.

Johannes was sonder twyfel een van die dissipels waarvan hy skryf. Hy maak ‘n nota van die tyd – 4nm – net soos in ‘n dagboek. Hy dink terug aan daardie middag in Galilea toe sy lewe vir ewig verander het.

 

 

 

130. Hemelwoorde wat die aarde verander.

Ons is deurgaans in die proses om God te soek, terwyl ons weet Hy is wonderbaar, daar is niemand soos Hy nie en dat Hy ons liefhet met ‘n ewige liefde volgens Sy karakter van goedheid en waarheid. Ons klop aan die deur van die hemel, biddend met die Heilige Gees wat Jesus belowe het, met die woorde wat ons omstandighede en gemeenskap verander.

In die lig van die glorie van God in die hemele, het ons vrese en bekommernisse ‘n agterstiplek in ons gdagtes omdat die teenwoordigheid van die Almagtige God wat hemel en aarde in Sy hand hou, dit beweeg. Ons fokus op Sy liefde en krag, hanteer ons aardse stryd.

In 1 Korintiërs 12 en 14 bespreek Paulus die gawes van die Heilige Gees sowel as die manifestasie daarvan in die samekomste van gelowiges.

Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om ‘n woord van wysheid te praat, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan ‘n ander die gawe om te profeteer, en aan nog ‘n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ‘n ander om dit uit te lê. (1 Korintieërs 12:8-10)

Hierdie gawes word uitgedeel deur die Gees soos Hy wil en en soos die behoefte ontstaan.

Paulus praat ook oor die gawes van die Heilige Gees in Romeine 12. Ons het die Heilige Gees nodig om te leef soos wat hy in hierdie hoofstuk ‘n geesvervulde lewe uiteensit. Die standaard is hoog en ons enigste hoop is die kragtige toerusting van die belofte van die Vader om ‘n lewe van uitnemendheid te leef.

Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid. (Romeine 12:6-8)

Dit is die gawes vir elke gelowige om kragtig en effektief in die gemeenskap van gelowiges te funksioneer.

And God has appointed these in the church: first apostles, second prophets, third teachers, after that miracles, then gifts of healings, helps, administrations, varieties of tongues. 29 Are all apostles? Are all prophets? Are all teachers? Are all workers of miracles? 30 Do all have gifts of healings? Do all speak with tongues? Do all interpret? 31 But earnestly desire the best (those needed in a specific situation) gifts. And yet I show you a more excellent way. (1 Corinthians 12: 28-31)

Ek haal die Engelse vertaling hier aan, omdat die Afrikaans in die laaste sinnetjie heeltemal verskil. Die laaste sin is die inleiding vir die volgende hoofstuk. Wat is die uitnemende weg, die heel beste manier van leef en die basis vir alle genadegawes? LIEFDE.

Sonder liefde is alles tevergeefs en leeg. Die liefde wat beskryf word is agapé – liefde uit keuse, nie ‘n toevallige ek-hou-van-jou nie. Dit is liefde wat nie van ‘n gevoel of ‘n chemiese of natuurlike aantrekkingskrag afhanklik is nie. Dit is liefde wat onstuitbare goeie bedoelings teenoor ‘n ander mens uitleef, sonder om enigiets terug te verwag of die waarde van die ander persoon in ag te neem. Dit is liefde wat ons vir ewig vry maak van die reaksie en opinies van mense om ons.

Dit is in die eerste versie van hierdie hoofstuk wat Paulus praat van die tale van mense en engele.

Kom ons gaan terug na die storie van die toring van Babel in Genesis 11.

Die storie van die toring van Babel is eienaardig, om die minste te sê. Die mense van die aarde kom na die vloed bymekaar en beplan om ‘n toring te bou. Almal het een taal gepraat en was eensgesind oor die projek. Volgens die prentjies in die Kinderbybel het hulle al ver gevorder voor die taalverwarring gebeur het. Hulle taaleenheid het hulle baie kragtig gemaak. God self sê dat niks vir hulle onmoontlik sal wees nie en verwar hulle taal. As gevolg daarvan versprei hulle oor die aarde soos wat Hy oorspronklik bedoel het.

Eeue later gebruik God ‘n wonderwerk van taal om Sy kerk te verenig sodat hulle die krag van eenheid kan ontvang. Op Pinksterdag het taal die ongelowiges verbyster en die kerk gevestig. (Handelinge 2:4)

Op Pinskterdag het die dissipels bekende tale gepraat – in Grieks: dialektō (Handelinge 2:8)

Twintig jaar na Pinsterdag kom Paulus by bekeerlinge in Korinte en vra of hulle die Heilige Gees ontvang het. Hulle is herdoop (die enigste plek in die Bybel wat daarvan praat), omdat die doop van Johannes voor die bediening van Jesus plaasgevind het en Paulus die beginsel van doop in die Naam van Jesus wou vestig.

Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. (Handelinge 19:6)

Die ongewone tale of klanke word hier vertaal uit die woord in Grieks: glossolalia en was die teken van die inwonende Heilige Gees om die gelowige toe te rus as ‘n kragtige getuie.

In Korintiërs praat hy van glossolalia wat onbekende tale was en in Handelinge 2 word daar van dialekto gepraat, wat bekende tale was.

Hier is die kommentaar daaroor:

The characteristic of this mysterious language is that it betokened a converse alone with God, such as the angels have. But rising out of this, is that the Holy Spirit gave impulse and power to the speaker to make his language for himself for what he had to utter at that very moment, so that the language moulded itself specially in the mouth of each individual respectively for that which had to be uttered.

Die gebed in ongewone tale is een van die pilare van gebed. Ons het tyd en pirvaatheid nodig sodat die Heilige Gees vir ons kan intree. Soms is dit deel van heeldag-kommunikasie. Dit is die onderwerping van enige moeilike situasie aan Koninkryksgesag enige plek en enige tyd – deurgaans – sommer in die kar, in die kombuis, tussen ander mense.

Hierdie gawe van die Heilige Gees is vir ons persoonlike aanmoediging en opbouing en gebeur volgens Jesus se voorskrifte oor gebed in Matteus 6 – in privaatheid.

Wat nou? Wees die kerk van Berea.

Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. (Handelinge 17:11)

Hulle het sowaar seker gemaak dat wat Paulus sê die waarheid is!

Ons het die Bybel beskikbaar. Dit is hoe ons moet optree – altyd. Ons moet seker maak en die Heilige Gees vra om die Skrif aan ons te verklaar. Die Heilige Gees is ons leermeester. Hy sal ons lei in alle waarheid. Dit is wat Jesus sê. (Johannes 6:63)

Wat is ons volgende stap? Presies wat die mense op die dag van Pinkster gedoen het.

By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (Handelinge 2:37-39)

Gaan terug na jou binnekamer met jou geliefde Bybel daar en vra die Heilige Gees om homself aan jou te openbaar. In die soete en liefdevolle teenwoordigheid van jou Pappa sal jy die hemelse taal op jou eie tong vorm in ‘n stap van geloof.

 

Dit is nie ‘n onderwerp vir obsessie nie –

dit is ‘n gevolg van onderwerping.

 

 

 

129. Anderkant die deur.

Na al die gesoek kom jy by ‘n deur. Dit is ‘n misterie. Werklik, na al die gebed, al die heen en weer voor die Here oor bekommernisse en vrese – is daar ‘n plek waar jy nog nooit was nie?

Natuurlik is daar!

Daar is ‘n meer noukeurige weg wat wag.

Intussen het daar ‘n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ‘n begaafde spreker met ‘n deeglike kennis van die Skrif. Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes.

 Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak. (Handelinge 18:24-26)

Is jy gereed vir meer? Is jy gewillig om te gaan waar Jesus lei?

Jesus gee ‘n derde opdrag in Matteus 7.

Klop en vir jou sal oopgemaak word.

Het jy al ooit die ondervinding gehad dat ‘n deur waaraan jy geklop het, omtrent onmiddellik oopgaan – so asof jou aankoms verwag is?

Die Here inisieer ook hierdie deel van jou gebed. Hy sê aan die kerk in Laodicea.

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. (Openbaring 3:20)

Ek hou van die woord feesmaal. Die Ou Vertaling sê: maaltyd. Jesus wil saam met ons eet. Dit is meer duidelik in die woorde van ouds. In Juda was ontbyt maar haastig en vroeg; middagete gewoonlik uit ‘n sakkie wat saamgedra is maar die aandete was rustig en uitgerek, dikwels op die dak van die huis in die koelheid van die aandlug. Die woord hier in Openbaring is die woord vir die aandmaal. Dit was die tyd vir gesels en geniet. Dit is wat Jesus bedoel. Klop, kom in en geniet ‘n rustige gesels.

As jy klop, het Hy al reeds geklop. Die deur swaai oop. In jou hart kan jy aansit by die tafel wat gedek is…

U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. (Psalm 23)

Dit is die tafel binne jou donker dieptes, in die vallei van doodskaduwee. Daar word jy ontvang soos ‘n eregas en word jy oorlaai met hartlikheid.

Dit is waar jy die belofte van die Vader ervaar.

En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.” (Lukas 24:49)

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.

God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” (Johannes 4:23,24)

The Father is seeking people whose worship is spiritually alive and true-hearted”. He isseeking worshippers, so we can be assured that if we will worship Him, He will show up!

 Worship invites and gives place for the glory of the Lord to be realized and to bless at a given place. It is an act of God’s sovereign choice and grace, but it is not arbitrary, random, or accidental. It is a decisive action He promises in response to genuine human hunger for Him.   Jack Hayford

Om die Here in Gees en waarheid te aanbid is nie om meer energie en groter moeite in gebed in te werk nie.

Die Gees lei ons na die hart van God. God is gees, daarom kommunikeer Hy met ons gees in ons wedergebore mens. Jesus het self gesê Hy is die Weg die Waarheid en die Lewe – alles gebeur deur die Kruis.

In gebed ervaar ons die toerusting van die Heilige Gees, net soos op Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees en die geboorte van die Kerk. Ons leef in die dispensasie van die Heilige Gees net soos Jesus gesê het:

Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. (Johannes 14:16-18)

 Die Heilige Gees is Jesus in ons. Net ons gebed om Jesus in te nooi, word deur die Heilige Gees binne ons gewerk. Jesus het op Sy dissipels geblaas.

Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! (Johannes 20:22)

Jesus gesels met Nikodemus om die onsienlike koninkryk van God op aarde te verduidelik. The Message stel dit so mooi:

Jesus said, “You’re not listening. Let me say it again. Unless a person submits to this original creation—the ‘wind-hovering-over-the-water’ creation, the invisible moving the visible, a baptism into a new life—it’s not possible to enter God’s kingdom. When you look at a baby, it’s just that: a body you can look at and touch. But the person who takes shape within is formed by something you can’t see and touch—the Spirit—and becomes a living spirit. (John 3: 5,6: The Message)

Ons besluit om Jesus te volg, bring wedergeboorte. Ons gees word herbore om die Gees van God in ons te laat woon sodat ons ‘n nuwe mens word. (2 Korintiërs 5:17)

En tog was Jesus se laaste woorde aan Sy dissipels voor Sy hemelvaart:

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:8)

Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag is die sleutel tot die gawes wat die Kerk toerus om kragtiglik en effektief die werk van Jesus te doen.

Kom loop die kragloop van die Gees in die Kerk.

 

 

 

 

 

68. Wat het jou betower?

‘n Godsdiensspook is gevaarlik. Timoteus waarsku daarteen. ‘n Gedaante van godsaligheid – in Totius-Afrikaans. Deurskynende, wolkagtige kerkaktiwiteite sonder substansie, sonder krag, sonder Jesus.

Godsdiensspoke wat in die beweging wat hulle die Christendom noem, deur die ander spoke in alle denominasies op die plein van neutraliteit en gemakzone-kerk voortgesleep word en saampraat oor die oorweldigende boosheid, misdaad sonder hoop op oplossing, natuurrampe en ‘n wêreld wat besig is om ‘n vullishoop van onverantwoordelike energie-gebruik en onbenullige moord op mens en dier te word. Waar is jou God van liefde, vra hulle een-dimensionele en oppervlakkige redenasie? Hoe kan enigiemand nog glo in ‘n liefdevolle Vader wat ‘n plan het vir hierdie bloedbad van huismoles in ons voorstede en internasionale politiek met geweldadige, ekstremistiese fanatici met swart vlae en moord op hulle lippe?

Die nugter, rasionele verantwoordeliheid van die intellek is die enigste uitweg, gaan hulle voort. Die boosheid en vernietiging om ons is ‘n feit, gemaklik om waar te neem in die konkrete werklikheid van die sigbare. Hoekom is ‘n abstrakte proses binne in die innerlike dimensies van die onsigbare, die bron van die kragtige wonderwerk wat ons wêreld eintlik nodig het?

Kragtelose Christene gee die Christendom ‘n slegte naam. Godsdiens sonder Jesus en Sy bewuste Teenwoordigheid en werking op ‘n diep vlak in ons harte in onderwerping aan Sy Heilige Gees, maak oorlog in die naam van die kerk, slag die wetenskaplikes wat nuwe teorieë verkondig en veroordeel die sondaar so skerp dat hy nie by saligheid en redding uitkom nie. Woorde sonder wysheid, sonder liefde, sonder krag word die kenmerk van ‘n kerk sonder die Heilige Gees.

Die wetenskap is God se Werk, die Bybel is God se Woord. Die twee kan nooit mekaar weerspreek nie en indien dit dalk so lyk, is dit slegs die mens se gebrek aan kennis om dit te versoen.

Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. [1 Korintiërs 13:12]

Ons teologie moet hierdie phenomeen in die volmaakte liefde van ons Vader hanteer. Kerk staan nie teenoor wetenskap nie. Kerk behoort die onderbou van wysheid en aanmoediging vir die wetenskap op alle vlakke verskaf.

Waar pas ons in? Ons is maar net die gewone mense wat wonder oor God en Sy heelal in ons poging om te verstaan en ‘n lewe van oorwinning op ‘n planeet te leef, wat met die feite tot ons beskikking ‘n onbelangrike plek in die groter prentjie inneem.

Dit is die uitdaging van dieper insig en begrip van die onbegryplike. Dit is die belofte van die Heilige Gees, die wonderwerk in ons binneste, die transformasie van ons siel sodat ons multi-dimensioneel kan leef en nie soos ‘n wurm wat op die grond sleep, sin probeer uitmaak van wat om ons gebeur nie.

In hierdie proses van sin maak uit die onbegryplikheid om ons, is die antieke woorde van profete uit die ou beskawings van 500 jaar vC, soos salf vir windmeul-gedagtes.

Esegiël 36: 26,27:

En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee…

En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.

‘n Persoon wat die rasionele besluit neem om sy lewe aan God te onderwerp, ervaar die voorbereidingswerk van die Heilige Gees. In wedergeboorte word die innerlike mens gevul met ‘n nuwe gees – ‘n herbore gees – ‘n nuwe baba-gees. Maar daar is meer.

Net in die volgende vers in Esegiël belowe God om Sy Gees in ons binneste te gee, sodat ons in Sy weë kan wandel. Dit is ver verwyderd van die menslike pogings om die wet te onderhou. Dit is die Gees van God self wat in ons werk om Sy insettinge te ken en te leef.

Die proses is twee-ledig. Ons gees word nuutgemaak in wedergeboorte en dan kom vul God se Gees ons binneste. Dit is soos die bouer van die huis wat anders is as die inwoner van die huis. Die bouer werk aan die huis om dit tot stand te bring, maar die eienaar van die huis leef binne, eet binne, bly binne.

God se Gees kom woon in ons net op uitnodiging. Iemand het eendag gepreek en die Heilige Gees beskryf as ‘n ware heer – a true gentleman. Hy kom in op uitnodiging en vertrek sonder protes as Hy nie meer welkom is nie.

‘n Nuwe gees is God se werk – die vervulling met die Heilige Gees is God self in my.

Ons is ‘n drie-eenheid net soos God. Met die klem op die uiterlike, konkrete en sigbare is ons vlees. Met die klem op die innerlike, abstrakte en onsigbare is ons gees. Die vlees sien een-dimensioneel slegs volgens dit wat met die sinne waargeneem kan word; die gees “sien” met insig en begrip dit wat in openbaringskennis deur waarheid (Jesus) interpreteer word.

Diepe insig is slegs in Jesus moontlik. Hy is waarheid en lewe. Deur Hom word die Woord aan ons duidelik en hoor ons God se stem. Die Heilige Gees kommunikeer volgens God se wil met God self. Dit is die enigste effektiewe kommunikasie met God.

Hierdie invulling met God self is die belofte van Pinkster. Dit is kragtige en effektiewe dissipelskap. Dit is waarna ons binneste verlang. Vra dit van die Here.

Hier is drie vertalings van 2 Timoteus 3:5:

…mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.

They will act religious, but they will reject the power that could make them godly. Stay away from people like that!

For [although] they hold a form of piety (true religion), they deny and reject and are strangers to the power of it [their conduct belies the genuineness of their profession]. Avoid [all] such people [turn away from them].

‘n Sterk waarskuwing inderdaad. ‘n Waarskuwing teen kragtelose Christene, naam-Christene, kerk-Christene – daardie Christene wat die wonderwerkende, almagtige God reduseer tot ‘n goue kalf – ‘n vorm van godsdiens wat in hulle eie gemak-zone inpas.

Galasiërs 3:1

Is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel?

o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie?

Liewe Bodemklipvriend, dit is Pinkstertyd. Weet jy waaroor dit gaan? Dit is die jeuglike fees wat die hoogtepunt van die Opstanding en Hemelvaart vier. Dit is die tyd wat weer beklemtoon dat God die tweede deel van die belofte waar maak vir almal wat dit vra. Word vervul met God self. Die Gees van God in jou binneste waar jy op ‘n diep vlak kontak maak met die God is van wie ons saam met Moses verlede week gesing het:

O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? [Exodus 15:1]

Ons reis saam in die krag van die Opstanding en Hemelvaart en laat ons godsdiensspook-karakter ver agter…