Die lewe is geweldig onregverdig – dis ‘n feit. So ‘n welbekende argument teen ‘n God van liefde. Hoe kan daar soveel stryd wees, soveel hartseer en gebrokenheid? Bitterheid en innerlike verwonding is een van die grootste oorsake van soveel dinge wat verkeerd, boos en verdraaid in ons gemeenskap is, om nie te praat van geestessiektes en stukkende verhoudings nie. Dit was die oorsaak van die eerste moord op aarde, toe Kain se jaloesie van hom besit neem en hy Abel sy broer vermoor. Selfs vandag word moord gepleeg uit jaloesie, aanstoot wat woede en bitterheid word en die innerlike pyn wat nie aangespreek en vergewe word nie. Sielswonde is ‘n speelveld vir die duiwel en dit word ‘n bloedige slagveld wat ons denke en optrede beheers.
Ons het gepraat oor aanstoot. Dit is soos ‘n lokval met aas daarin waarin mens beland as gevolg van verkeerde woorde en dade van die mense om ons. Dit verwond sodanig dat ons met die kleinste herinnering daaraan in die spiraal van woede of depressie kan verval. Ek sien in my verbeelding een van daardie aaklige toestelle waarin ‘n dier trap en in pyn en desperaatheid sy been afkou om los te kom. Dikwels is dit ‘n gat in die grond wat goed gekamoefleer is sodat mens onverwags in die skerp tande van die lokval val. Hang jy onderstebo in vernedering in een van daai lokvalle wat jou voet aftrap en die tou die gevangene in ‘n boom ophys, as gevolg van die woorde van die mense in jou lewe. Verbeel jou hoe jou siel lyk van ander se sonde in jou lewe.
Sielswonde is moeiliker as liggaamswonde. Dit is moontlik om sielspyn goed weg te steek en voor te gee alles is reg. Trots sal ons verhoed om hulp te kry. Ons verwonding is dikwels ‘n verleentheid en sal ons nie toelaat om die negatiewe emosies te erken nie. Dit sal ons verneder om te erken dat ons iets wil hê wat iemand anders het. Trots is ‘n vyand.
‘n Nederige en gebroke hart en gesalfde oë wat altyd op Jesus gerig is, is die enigste genesing.
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. (Lukas 17:1)
‘n Siel wat in bitterheid en woede verval is ‘n lewe van buierige uitbarstings, selfbejammering en verbrokkelde verhoudings. Aanstoot kan werklik wees of dit kan net in jou eie gemoed woed. Daar is mense wat werklik verwond is en daar is diegene wat dink dat hulle onregverdig behandel of mishandel is. Albei is ewe erg en albei het God se genesende Hand nodig. Die aanstoot in jou hart kan jou hele lewe vergiftig.
Iemand het gesê: Om bitterheid te koester is soos om elke dag ‘n beker gif te drink en te hoop iemand anders gaan dood.
Hoe gouer ons ons eie gemoed aan God onderwerp en die beginsels van die Woord leef, hoe beter vir ons en almal om ons. Ons kan nie toelaat dat ander se sonde in ons lewe soveel van ons denke en tyd steel nie. Tyd wat ons gebruik om die seer oor en oor te beleef is leeg en teen-produktief. Gebruik die tyd om daaroor te bid en jou seer voor die Here te bring, sodra jy daaraan herinner word, bid. Onthou die duiwel wil jou in jou seer hart vasbind sodat jy jou doel en potensiaal misloop.
Daarom is dit so belangrik om Jesus se woorde te hoor en te memoriseer:
‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Johannes 10:10)
A thief is only there to steal and kill and destroy. I came so they can have real and eternal life, more and better life than they ever dreamed of. (The Message)
Die doel van hierdie studie is om aanstoot te ondersoek en te weet hoe die lokval inmekaar steek sodat ons beter voorbereid is om dit te hanteer. Dit is ‘n struikelblok wat in die hel uitgedink word, met ‘n agenda om ons so gebonde te hou dat ons in bitterheid en woede nie die doel waarmee ons geskep is kan leef nie. Sien die boosheid en sien die persoon deur wie dit kom deur die oë van Jesus. Die mens wat jou aanstoot veroorsaak is ‘n mens net soos jy – menslik en feilbaar.
Dit is ook moontlik dat jy aanstoot in ander mense veroorsaak het. Jy mag dalk nie eers daarvan bewus wees nie. Iemand kan iets teen jou hou en nie daaroor praat nie. Dit mag ook wees dat jy dit glad nie bedoel het nie. Dawid vra die Here om sy onbewuste sonde te vergewe.
Wie sien sy eie dwalinge raak? Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie. (Psalm 19:13)
Moenie in aanstoot of die self-veroordeling van sonde verval nie.
‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra.
Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring.
Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam. (2 Timoteus 2:24-26)
Aanstoot sit jou in die hand van God se vyand. As jy nie jou woede, bitterheid, selfbejammering en innerlike pyn na God bring en sy genesing daarvoor vra nie, is jy in die hel se tronk!
Hoe sal ons voorberei? Moet jy al die moeilike en bakleierige mense uit jou lewe dryf? Dit is dalk nie so effektief as wat jy hoop nie. Dikwels kom aanstoot uit ‘n baie onverwagte bron.
Dit is dikwels mens baie naby aan jou, wat jou die seerste maak. Mede-Christene slaan diep wonde. Die duiwel is aktief in die kerk. Dit is waar hy sy saad van liefdelose en genadelose woorde en dade saai sodat daar onmin en kwaadpratery binne die gemeenskap van heiliges moet wees.
This isn’t the neighborhood bully
mocking me—I could take that.
This isn’t a foreign devil spitting
invective—I could tune that out.
It’s you! We grew up together!
You! My best friend!
Those long hours of leisure as we walked
arm in arm, God a third party to our conversation.(Psalm 55:12-14, The Message)
Hoe nader die verhouding, hoe groter is die aanstoot. Egskeiding, broers en susters, rebelse kinders, mishandeling van ouers veroorsaak sulke diep wonde dat ons selfs ‘n ganse leeftyd daaronder ly.
In die moderne gemeenskap is selfsug die heersende gees.
Don’t be naive. There are difficult times ahead. As the end approaches, people are going to be self-absorbed, money-hungry, self-promoting, stuck-up, profane, contemptuous of parents, crude, coarse, dog-eat-dog, unbending, slanderers, impulsively wild, savage, cynical, treacherous, ruthless, bloated windbags, addicted to lust, and allergic to God. They’ll make a show of religion, but behind the scenes they’re animals. Stay clear of these people. (2 Timothy 3:1-5 The Message)
Ek besef dit is ‘n geval van makliker gepraat as gedoen. Sê nou dis jou familie wat hy beskryf, of jou skoonfamilie. Hoe hanteer jy al die gemors wat die wêreld na jou slinger? Jy is dalk nog kwaad oor die politiek, besoedeling, klimaatsverandering, die virus, seks-slawerny en al die ander wreedhede wat in ons moderne gemeenskap lewens verwoes, waarvan jy daagliks opdateer word op die skerm van die foon in jou hand. Hoe dink jy daaroor, hoe besluit jy en wat is jou aksie?
Die antwoord is die Woord van God, net soos altyd. Lees gerus Spreuke 4. Kom ons lees saam Filippense 4:4-7:
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.
Ons raak aan die groter beginsels van ‘n lewe van oorwinning. Moenie opgee nie – ons reis saam verder.