216. Gesalfde sintuie

Ons is na alles net mense.  Wat ons sien, ruik, hoor, proe en voel maak saak.  In ons sintuie beleef ons die wêreld om ons.  Ons oordeel op grond daarvan, ons geniet ervaringe op grond daarvan en ons vermy plekke en mense as gevolg van sintuiglike ervarings.  Dit is fisies ons enigste verwysingsraamwerk.

As ons sintuie ons fisiese wêreld so oorheers, wat gebeur in ons innerlike, in die geestesrealm? God se Woord praat dikwels oor ons sintuie.  Ek dink maar aan Jesus wat Jesaja (6:9,10) aanhaal in ‘n veroordelende, verwytende, amper moedelose toon:

Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle oretoegedruk en hulle toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’  (Matteus 13:15)

Jesus spreek ons sintuie aan om dieper te kyk en te verstaan.  Dit is die wysheid waarvan ons laaskeer gepraat het.  Oë en ore word direk in verband gebring met begrip en geestelike genesing.  Dit is asof Jesus sê: Kyk reg, hoor mooi, sodat Ek jou kan genees.  As jy nie reg kyk en reg hoor nie, sal jy ook nie kan verstaan nie.  As jy nie verstaan nie, kan jy nie genesing kry en reg lewe nie.

Genesing is die doel. In ons geestelike pad deur hierdie wêreld is dit onmoontlik om “skoon” en onaangeraak te bly.  Ons tel dinge op soos jaloesie, bitterheid, woede, vrees, onvergewensgesindheid en aanstoot om maar ‘n paar te noem.  Soms is die dinge wat ongeregtigheid in ons werk, glad nie ons skuld nie.  Ander mense se sonde veroorsaak aaklige gevolge in ons binneste.  Dink net aan die wreedheid en onregverdigheid wat kinders vandag moet hanteer.  Hulle word groot met vrees en woede wat hulle uitkyk op die lewe bepaal en niemand kan hulle daarvoor verkwalik nie.  Die wêreld is boos en ons vyand wil vernietig en moor (Johannes 10:10).

Die gevolge van die boosheid in ‘n mens se lewe is heeltemal logies.  Elke mens wat so te nagekom is, het rede om woedend en bitter te wees.  Dis geen illusie nie.  Daarom lees ons in Jakobus van ‘n ander soort wysheid.

Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie.

 Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies,

want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.  (Jakobus 3:13-16)

Mens kan gou sê dis maklik om so te praat!  Dis glad nie so maklik om van jaloesie en bitterheid ontslae te raak nie.  Jaloesie groei so maklik in ons as ons voel dat ons nie regverdig behandel word nie.  Ander se guns in die lewe en werkplek is nie altyd so ‘n blymoedige saak vir ons nie., veral as ons groot tragedie en pyn ervaar het.  Dis heeltemal redelik om jaloers te word, heeltemal verstaanbaar om bitterheid te koester – maar dis nie wys nie.  Wysheid is nederige gedrag, goeie dade en “goeie” wysheid.

Wysheid word gedefinieer as die vermoë om te dink en op te tree op grond van kennis, ondervinding, begrip, insig en gesonde verstand.  Dit klink baie goed en positief.

Ek moet erken dit was vir my ‘n skok dat daar iets soos “slegte” wysheid is.  Wysheid is vir my so ‘n positiewe woord en iets waarna ek streef, dat ek amper nie wil aanvaar dat wysheid sleg kan wees nie.  Ek sien God as die enigste ware bron van wysheid en klou vas aan die eerste hoofstuk van hierdie selfde Jakobus wat skryf dat ons wysheid van God kan vra en dat Hy dit gee sonder verwyt.  Ek doen dit baie en ek ervaar God se wysheid in my lewe. Ek ervaar hoe Hy help dat ek die regte dinge doen en praat.  Maar daar is wysheid wat sonde, pyn en onregverdigheid in jou begrip rasionaliseer. Om dit te verstaan moet ons Jesus self vra.  Hy het ‘n storie vertel.  (Matteus 20)

Die eienaar van ‘n wingerd het vroeg in die oggend uitgegaan om arbeiders te huur.  Ek kan my voorstel dat daar iewers ‘n plek was waar die werkloses gestaan het, soos ons dikwels sien.  Daar het hy ‘n paar opgelaai en met hulle ‘n loon ooreengekom. Later die dag het hy weer gegaan en nog ‘n paar gebring.  Na middagete het hy weer uitgegaan en nog arbeiders gaan haal.  Selfs met net ‘n uur se werk oor, het hy nog arbeiders gaan haal.  Sy motief om dit te doen is duidelik.  Daar was ‘n mate van simpatie met werkloosheid want hy sê: Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?  Hy het seker gedink sonder werk het hulle ook niks te ete nie.

Teen die aand het hy al die werkers byeen geroep en hulle betaal wat hy met hulle ooreengekom het. Daar was groot verwagting by die arbeiders wat eerste gehuur is.  Hulle het gedink hulle gaan meer kry, maar kry toe net wat daar met hulle ooreengekom is. Hulle kla dadelik by die eienaar.

Sy antwoord is:  ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.  Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’  (Matteus 20:13-15)

Die OAB sê: Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?

Hoe hanteer jy God se guns oor ander, terwyl jy voel jy het baie om te hanteer?  Kan jy jou Meester so volg dat jy God se geregtigheid aanvaar en jou eie lewe nie aan ander meet nie?  Hoe kyk jy na jou lewe?

Dit is onmoontlik om deur die lewe te gaan sonder aanstoot en alles wat daarmee saamgaan soos jaloesie, bitterheid en woede.  Dit sê Jesus self:

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. (Lukas 17:1)

Struikelblok – mooi woord, baie beskrywend.  Die Grieks is skandalon.  Dit beteken ‘n lokval met aas daarin.  Dit is presies wat die satan vir mens stel – ‘n lokval van aanstoot met die aas van menslike regverdigheid en verwagting daarbinne.  As jy trap, bloei jy en die pyn is werklik en ondraaglik.

‘n Struikelblok is iets wat gebeur wat jou laat struikel in jou voorneme om reg te leef.  Dit is onreg wat teenoor jou gepleeg word.  Dit kan klein wees of dit kan jou verwond sodat jou sielsbloed stort.  Sielswonde het Jesus nodig.  Sielswonde word net gesond met die liefdesaanraking van ‘n goeie en regverdige God in wie se Hande jy kan ontspan, wat ook al met jou gebeur.

Dink ‘n bietjie na hieroor.  Laat toe dat die Heilige Gees jou van aanstoot en bitterheid oortuig.

Dit is presies waarvan Jakobus hier skryf.  Hy kontrasteer dit met Goddellike wysheid.

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.

 Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.  (Jakobus 3:17,18)

Diep woorde met wye betekenis.  Dis die moeite werd om nog daaroor te dink en te praat.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s