218. So gemaak en so laat staan

Ons beste voorbeelde van die kompleksiteit van menslike lewens en al die moeilikheid wat ‘n lewe op aarde kan opdis, kom so dikwels uit die Bybel.  Een ding is seker: God is eerlik met ons.  Die karakters in die Bybelstories word sonder moderne politieke korrektheid of enige ander waas van pretensie voorgehou.  Rou emosie en onverdunde wroeging word soms met min woorde en baie veronderstellings oorvertel.  Heilige Gees insig help mens om die  hartseer en woede wat noodwendig met die gebeure sou saamgaan, te onderskei sodat die hemelse perspektief van God se plan en voorsiening duidelik die punt maak dat God alle omstandighede tot ons voordeel kan rig.

Die storie van Josef neem ons terug na die tydperk rondom 1400vC, die middel van die Bronstydperk en die begin van komplekse samelewings.

Jakob was ‘n ryk swerwer wat met duisende stuk vee die beste weivelde uitgesoek het.  Sy oupa, Abraham, is deur God uit Ur naby die Persiese Golf geroep om te trek en die land Kanaän in te neem as die land waar God vir Abraham ‘n groot nageslag sal gee.  Jakob is as een van ‘n tweeling broers gebore.  Sy pa, Isak, se vrou Rebekka was onvrugbaar vir baie jare. Isak het vir haar gebid en sy het swanger geraak met ‘n tweeling.  Haar gebed tot God oor die ongemak van die swangerskap is so geantwoord:

“Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.”  (Genesis 25:23)

Dit was die begin van ‘n lewenslange stryd tussen Jakob en Esau.  Jakob se bedrog in die ritueel van die eersgeborene seën het aanleiding gegee tot jare der jare se aanstoot, oneerlikheid en woede.  Jakob is na Laban, ‘n oom van hom, gestuur om te werk.  Daar het hy op Laban se jongste dogter Rachel, verlief geraak en Laban se vereiste van sewe jaar arbeid vir haar nagekom.  Op die aand van sy troue, het Laban sy oudste dogter Leah vir Jakob gegee en nog sewe jaar arbeid vir Rachel vereis.

Leah het maklik kinders gehad.  Haar hartseer en gevoel van verwerping van haar man is duidelik in die name van haar eerste drie seuns.  Reuben beteken: kyk ‘n seun, wat vir Jakob iets moes beteken aangesien ‘n seun as ‘n groot seën beskou is.  Die tweede seun, Simeon beteken: God het gehoor en weet en die derde seun, Levi: saamgevoeg, het daarop gewys dat Leah graag die aanvaarding van haar man wou wen.  Haar vierde seun noem sy Juda wat prys beteken.  Uiteindelik sit sy haar oog op die Here en nie op haar man nie. Intussen is Rachel ook met Jakob getroud maar onvrugbaar.  Sy gee haar slavin vir Jakob en twee seuns word gebore.  Leah gee haar slavin ook vir Jakob en nog twee seuns word gebore. Daarna het Leah nog twee seuns en ’n dogter.  Uiteindelik raak Rachel swanger en Josef word gebore.

Jakob trek Josef voor. Hy is die gunsteling.  Hy is die spreekwoordelike bedorwe brokkie en ‘n pyn vir sy familie.  Jakob moedig hom aan om stories aan te dra oor sy broers en vertoon sy liefde vir Josef in ‘n pragtige, veelkleurige mantel wat hy vir hom gee.  Josef het geen wysheid of takt en vertel sy broers die drome wat hy gehad het.  In ‘n koringland is sy gerf die grootste en hulle gerwe buig voor hom neer en in die hemele buig die son, maan en sterre voor hom neer.  Sy vermetelheid ken geen perke en hulle aanstoot word woede en wrede planne van moord.  Reuben keer en stel voor dat hulle hom in ‘n put gooi om Josef ‘n les te leer, met die gedagte om later Josef uit die put te red.  Agter sy rug verkoop hulle Josef as ‘n slaaf aan Egiptiese slawehandelaars. Reuben kan nie anders as om saam te speel met die liegstorie aan Jakob nie.

Die leuens en bedrog bring chaos in die huis van Jakob.  Wanorde, wetteloosheid en wreedheid kenmerk die lewens van die broers. Lees maar daarvan in Genesis 38 en 49. Die insident met Juda en sy skoondogter lees soos fiksie.  Dit het ‘n groot impak op die familie.  Tamar word in die geslagsregister van Jesus genoem en simboliseer die mishandelde, verworpe vrou.  Jare later het Rachel vir Benjamin om Jakob in sy oudag te vertroos, maar Rachel sterf in kindergeboorte.

Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.  (1 Johannes 3:15)

‘n Mens sou kon dink dat moord en doodslag die enigste oplossing vir seker situasies in die lewe is.  Die vermaaklikheidsbedryf kry mens gedraai om die menslike regter wat met wapens en vaardigheid sogenaamde kits-geregtigheid uit veg en dan summier die vonnis voltrek.    Sou die geskiedenis van die wêreld dalk anders gewees het as die kerk sy groot roeping tot liefde, geregtigheid, vergifnis en erkenning aan die enigste Regter oor die mensdom volledig uitgeleef het?  Liefde en vergifnis is die moeiliker en minder duidelike pad, maar altyd die beste.

Josef se storie is nie klaar nie.  Hy werk as ‘n slaaf in die huis van Potifar, onderskei homself as ‘n uitstaande dienskneg en vang die oog van Potifar se vrou.  Met ‘n vals beskuldiging van haar, land Josef in die tronk met geen ondersteuning, geen hoop en sonder enige kontak met sy familie.  In die huis van Jakob het hy God leer ken.  Hoewel dit nie so beskryf is nie, sou mens kon dink dat Josef sy toevlug na die God van sy vader neem.  Hy lê die drome van die bakker en die skinker van Farao uit en daar is ‘n sweempie hoop, wat met tyd maar weer sterf.

Dan is daar deurbraak. Die farao droom en Josef word geroep. Almal ken die storie – hy is tweede in bevel van die ganse Egipte, vereer deur die farao, met ‘n pragtige vrou en twee seuns.

Maar die nie die einde van die storie nie.  Die storie se triomfantelike einde is die hoogs-emosionele, hartverskeurende herontmoeting met sy broers, versoening met hulle en ‘n herontmoeting met sy bejaarde pa.  Die herstel van die huis van Jakob in Egipte is die hand van God en die volvoering van die beloftes aan Jakob ten spyte van ‘n lewe van gebrokenheid en aanstoot.

Josef praat met sy broers vanuit ‘n hemelse perspektief.  Sy gemoed is vernuwe.  Sy gedagtes en woorde is in lyn met God se voorsiening en uitkoms.  Al die jare van lyding het ‘n vredevolle vrug van geregtigheid voortgebring.  Vergifnis is verewig in die naam van sy seun Manasse, wat beteken: Ek het vergeet.

God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte.  (Genesis 45:7,8)

Die triomf van Josef is nuwe denke, ware insig, wyse woorde, kragtige dade en ‘n sekerheid van roeping – ‘n uitmuntende lewe inderdaad.

Mercy triumphs over judgment (James 2:13)

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s