215. Kyk reg – na wat saak maak

Wysheid is een van die mees positiewe woorde op aarde – sonder twyfel.  Ek wil wys wees.  Die woord is aan die heup verbind met ‘n ander woord wat vir my spesiale betekenis het – uitnemendheid (excellence).  Kragtige woorde wat beide my hart roer tot ‘n strewe na ‘n beter lewe.  Met die inwerkende krag van die Heilige Gees, kan ons gedagtewêreld en besluite sodanig verander, dat ons die diep vreugde en vrede van ‘n Koninkrykslewe ervaar.  Ek begeer om met die toerusting van die gawes van die Heilige Gees die vrug van die Gees te leef, sodat ek altyd weet wat belangrik is en hoe om die lewe se kompleksiteit te hanteer.

Dink net – ‘n mond vol van die regte woorde, denke van wysheid en ‘n hart vol genade en liefde – dit is ‘n uitnemende lewe.

Die wonder van dit alles is dat dit moontlik is.

In die woorde van Jesus in Matteus 5:48:

Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Ek moet erken, dit is woorde wat ek oorgeslaan het vir meeste van my lewe.  Hoe op aarde kan dit enigiets met my te doen hê?  Die woord: volmaakis nie so positief in my kop nie.  Die blote gedagte aan ‘n perfekte lewe oordeel my mislukkings, onvolmaaktheid en stryd.  Die kommentators van die Nuwe Testament sien dit as een van die tekste wat moeilik interpreteer.

Die Griekse woord vir volmaak is teleios.  Dit is ‘n woord wat op ‘n baie spesiale manier aangewend word.  ‘n Dier wat gereed was vir die offer, sonder gebrek, is teleios genoem.  ‘n Volwasse man was teleios,in kontras met ‘n jong seun.  ‘n Student wat ‘n omvattende kennis van sy vak verkry het, was teleios teenoor ‘n jong beginner.  Dit is nooit gebruik in die sin van ‘n foutlose lewe nie.

Vir die Grieke was volmaaktheid funksioneel.  ‘n Perfekte objek is so beskryf op grond van ontwerp en funksionaliteit.  ‘n Volmaakte mens was iemand wat sy roeping en doelstelling ten volle besef en leef.  Die byvoeglike naamwoord, telos, beteken ‘n doel, ‘n mikpunt na ‘n spesifieke uiteinde.  Die insig in ‘n lewensdoel spreek van ‘n volmaakte lewe.

As ‘n mens iets om die huis sou wou regmaak, sal mens sorg dat jy die regte gereedskap het vir die doel.  As die werk klaar is en die objek is herstel, dan sou ‘n mens die stuk gereedskap wat jy gebruik het, as teleiosbeskryf.  Die gereedskap is aangewend volgend die doel van sy skepping en het die taak suksesvol voltooi.

Jesus sê vir ons – wees volmaak.  Wat was dan die doel waarmee ons geskep is?  Genesis laat geen twyfel nie.

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”  (Genesis 1:26)

Ons is geskape om soos God te wees.

‘n Leerling is nie hoër as sy leermeester nie, maar iemand wat volleerd is, sal aan sy leermeester gelyk wees.  (Lukas 6:40)

Een van die hoof eienskappe van God is wysheid.  As ons strewe om soos Hy te wees, sal ons soeke na wysheid ons denke oorheers.

Ons gaan vir ‘n rukkie in Jakobus vertoef.  Hy skryf baie oor wysheid en die voorskrifte vir ‘n lewe van geloof – veral oor wat ons praat en doen.  In die eerste hoofstuk praat hy oor geloof wat getoets word – ‘n redelike moeilike inleiding vir so ‘n brief aan ‘n wye gehoor.  Hy skryf aan die Joodse Christene wat oor die wêreld versprei is.

Die diaspora van die Jode oor die wêreld het altyd met groot verlies en hartseer gepaard gegaan. Die blote feit dat hulle so verspreid is, spreek van diep beproewing.  Jakobus bemoedig hulle met hierdie woorde:

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.  En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. (Jakobus 1:2-4)

Hier word volmaaktheid met die frase: volle geestelike rypheid vertaal.  Dit is nader aan die ware betekenis van die Grieks en gee meer die indruk van iets wat in jou gewerk word, eerder as futiele pogings tot ‘n foutlose lewe.

Probleme op ons lewenspad moet met vreugde aanvaar word – sjoe!  Dit klink so onmoontlik.  Hoe sal ek nou met ‘n groot glimlag die slegte nuus en struikelblokke van my lewe absorbeer?  Dit klink na ‘n kop-in-die-sand-houding en dit staan my glad nie aan nie.  Dit is natuurlik glad nie wat hierdie woorde bedoel nie.

Dit is ‘n teen-intuïtiewe houding wat ons oog op Jesus sit in elke probleem en uitdaging van ons lewe, met die verwagting dat ons innerlike wese in sy liefdevolle Hand gevorm word, al die onnodige woede en vrees uitgesif en ontbloot word sodat ons aan die voet van die Kruis in ware vryheid kan juig.

Ons plaas onsself in die hand van die Pottebakker sodat ons denke en dade vernuwe word.

Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak.  Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.  (Jeremia 18:3.4)

Hierdie nuwe blik, waar ons ons oog op Jesus hou, beteken weer eens dat ons nooit ‘n slagoffer van ‘n situasie is nie.  Ons is in beheer, in gebed, saam met God. Hy is magtig en goed en sal elke situasie tot ons voordeel laat uitwerk. (Romeine 8:28)

Vreugde binne swaarkry is nie ’n emosionele reaksie nie.  Dit is intensionele, intelligente evaluering van die omstandighede uit God se perspektief. Ons kyk na die probleem as ‘n instrument om ons te vorm en te bou tot ware oorwinnaars in die onsigbare koninkryk van God op hierdie aarde.  Oorwinning is slegs moontlik as ons die drek en afval van haat, woede, vrees en onvergewensgesindheid aflê en plek maak vir liefde en genade wat ons vaartbelyn en toegerus vir ons reis verder maak.

Sien jouself met ‘n stinkende, vrot mantel van geestelike bagasie op jou rug.  “Kyk” in geloof hoe jy by die Kruis kniel en dit verruil vir ‘n pragtige wit linnekleed.  Volg die raad van die Koopman – Openbaring 3:18.  Kry vir jou mooi klere vir jou naaktheid.

Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.(Openbaring 3:17)

Geduldige volharding in swaar tye is nie ’n passiewe aanvaarding van ongunstige omstandighede nie.  Geduld is kragtig.  Dit is ‘n positiewe standvastige, moedige ingesteldheid wat ons in die denk-realm van God self verplaas.  Ons reis is op die grootpad, die hoofweg van Heiligheid.

En dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel — selfs die dwase sal nie dwaal nie. (Jesaja 35:8, OAB)

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here;  soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.  (Jesaja 55:8.9)

Hoor die Stem – dit roep na ‘n hoër lewe.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s