Ja ek weet. Dit is al weer daai tyd van die jaar. Die lysie is gemaak. Wat noem hulle dit nou? “Resolution Dining”. Dieet is so laasjaar. Dis natuurlik weer Nuwejaarsvoorneme tyd. Selfs al het al die planne en al die goeie bedoelinge van verlede jaar hierdie tyd nie heeltemal of dalk glad nie uitgewerk nie, is die versoeking om nuwe ooreenkomste met daardie moeilike persoonlikheid, naamlik Self, te maak, net te groot. Hier gaan ons weer.
Dit is natuurlik presies wat ‘n voorneme is – ‘n ooreenkoms, ‘n kontrak as jy wil. Dit is ‘n geformuleerde besluit om iets in die toekoms te onderneem. Sou ‘n mens ‘n formele kontrak aangaan, is daar meestal ‘n professionele persoon met spesialiteitskennis, soos ‘n prokureur betrokke. Ons is egter heeltemal gemaklik om ‘n toekomstige gedragspatroon te onderneem waarby net onsself betrokke is, sonder die inset van enige spesialiteitskennis. Miskien kan die sukses, al dan nie, van ons voornemens in die verlede, juis aan hierdie metode van beplanning gemeet word. Kom ons kyk ‘n bietjie nader na hierdie ooreenkomste en na die spelers op die terrein van die toekoms.
Niemand kan vir ons besluit nie. Die normale verloop en roetine van ons lewe hang van ons eie besluite af. Ons lewe kan drasties verander deur dramatiese gebeure en krisisse van buite ons eie besluitnemingsrealm. Dit is in ‘n sekere sin ook “normaal”. No man is an island, skryf John Donne. Ons is nie alleen by ons lewe betrokke nie. Elke dag is ander mense in ons spasie van werk en leef. Daardie mense het invloed op ons besluite en is dikwels ‘n integrale deel van die inhoud van ons self-ooreenkomste.
Die prentjie raak meer gekompliseerd. In dieselfde mate waartoe ons besluite deur die mense in ons lewe beïnvloed word, so word hulle lewe deur ons beïnvloed. Die mense in ons lewe maak dinge ingewikkeld en hulle ooreenkomste met hulle Self, bepaal hulle optrede teenoor ons. As ons die verhoudings en invloed in en om ons moet teken, is die inderdaad ‘n spinnerak van fyn weefwerk, dalk georden en mooi, dalk met ‘n paar los drade en ‘n paar dwars drade. Dalk is die web wat om jou is, ‘n gevangenis wat benoudheid in jou skep en dalk is daar ‘n paar gapings wat jy nie weet hoe om te oorkom nie.
Dit is juis hierdie onsekerheid in besigheidstransaksies wat die inset van ‘n spesialis vereis. Waarom op aarde sou ons dit nie in ons persoonlike lewe toepas nie? Ons ooreenkomste met onsself is dan juis dit wat op ‘n diep vlak ons lewensvreugde en sielsvrede bepaal. Waar is die riglyn, die roete en bewese waarheid om ons toe te rus om besluite met sekerheid, vreesloos en vredevol, in die misterie van die toekoms te maak?
Tog het my volk My vergeet en wierookoffers gebring vir gode wat nie bestaan nie, gode wat my volk laat struikel het op sy pad, op die pad wat hy van ouds af loop; hy het op ompaaie begin loop, op ongebaande weë. (Jeremia 18:15)
Daar is ‘n pad. Daar is aanduidings en rigtingwysers. Daar is ‘n waarheid wat oor eeue bewys is. Daar is sekerheid in die onsekerheid. Daar is ‘n waarborg van ‘n goeie einde. Daar is uitnemendheid in gebrokenheid. Daar is ‘n beter manier.
Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die grootpad, op die pad wat jy moet loop. Kom terug, Israel, kom terug na jou stede toe. (Jeremia 31:21)
Lees saam oor die belofte, die belofte van die paaie van ouds. Jesaja 35 is ‘n belofte van seën as jou lewensbesluite in ooreenkoms met die Woord van die Here geneem word.
Dit is nie net genesing en herstel nie, maar skoonheid daarby. Dit praat van ‘n pad, ‘n pad wat selfs ‘n dwase sal volg en nog die regte pad loop. ‘n Hoofweg, ‘n grootpad deur die woestyn wat toegang tot die waarheid bring. Dit is wat ‘n hoofweg is – makliker toegang tot die plek waar jy wil heengaan. Dit belowe die Here in die onsienlike. ‘n Pad vir jou siel.
There will be a highway
called the Holy Road.
No one rude or rebellious
is permitted on this road.
It’s for God’s people exclusively—
impossible to get lost on this road.
Not even fools can get lost on it. (Isaiah 35:8, The Message)
Dit is die pad, die belofte van rigting, die waarborg van die regte uiteinde, selfs as jy foute maak. Die belangrikste besluit van jou lewe sal wees om die pad te loop.
Miskien is dit die enigste voorneme wat nodig is hierdie jaar. ‘n Eenvoudige gebed om jou lewe aan die God te onderwerp. ‘n Gebed van oorgawe sal jou die besitting van die Allerhoogste God maak. So ‘n gebed is moontlik gemaak deur die Kruis van Jesus.
Dit is die enigste manier om die pad te loop wat die beloftes van seën in Jesaja 35 waarborg. Dan is die pad duidelik, ‘n gebaande weg in die sekerheid van waarheid en beskerming in alle moontlike krisisse van hierdie lewe.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. (Psalms 139:5)
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.” (Psalms 91:1,2)
Dit is die belangrikste kontrak van die jaar. Hierdie ooreenkoms met die Allerhoogste God en die riglyne van sy Woord is die belangrikste voorneme.
Dit is bo aan die lys.
Hier is die hele Jesaja 35. Die hoofstuk het net tien versies. Lees dit en drink dit in. Skryf dit op jou hart. Lees dit elke dag vir tien dae.
Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God.
[Onderwerp elke aspek van jou lewe waaroor jy bekommer aan hierdie belofte]
Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier, Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf; God kom julle red!”
[Hoor hoe die Here in jou lewe praat met hierdie woorde – bid vir elke mens wat jy as ‘n vyand beskou en vra die Here om die situasie met hulle onder sy gesag te werp]
Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing.
[Bely jou blindheid voor God, vra hom om jou doofheid te genees, staan op, lig jou hande op en sing ‘n loflied]
Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld.
[Gee jouself oor aan die Here. As daar ‘n woestyn in jou binneste is, sal daar strome van lewende water uit jou vloei. Jesus het dit belowe – dit is die waarheid: Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ” (Johannes 7:38)]
Die verskroeide aarde sal ‘n moeras word, dorsland waterryke wêreld. Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is, sal gras en riet en biesies groei.
[Onderwerp elke moontlike bekommernis en vrees aan hierdie belofte]
Daar sal ‘n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, dit sal net wees vir mense wat reg lewe; dwase sal nie meer op die pad kom nie.
Daar sal nie leeus op die pad wees nie, daar sal nie roofdiere op loop nie, hulle sal glad nie daar kom nie. Net die mense wat deur die Here gered is, sal die pad gebruik.
[Verklaar jou begeerte om God se pad te loop. In gebed, met die eenvoudigste woorde van jou hart, vra die Heilige Gees om jou te lei op die Heilige Hoofweg]
Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer, hulle sal juigend in Sion aankom, hulle sal altyd straal van blydskap, hulle sal vol vreugde en blydskap wees; ellende en smart sal verdwyn.
[Moenie toelaat dat jou verlede jou vreugde steel nie. Jou oorgawe sal ‘n groot verligting in jou binneste bewerkstellig. Vertrou die Here met ALLES. Hy wag dat jy vra. God is meer gereed om jou gebed te antwoord as wat jy is om te bid]
Geseënde 2020.