193. Buitengewoon en bonatuurlik – dis vir my!

“He is not the soul of Nature, nor any part of Nature. He inhabits eternity: He dwells in a high and holy place: heaven is His throne, not his vehicle, earth is his footstool, not his vesture. One day he will dismantle both and make a new heaven and earth. He is not to be identified even with the ‘divine spark’ in man. He is God and not man.”   

C.S. Lewis, Miracles

Die woorde van die ou profeet Jesaja is poësie.  As mens dit in Afrikaans of Engels lees, is dit nie dadelik duidelik nie, maar dit is volgens die geleerdes wel so in Hebreeus.  Jesaja het gesing.  Ek kan my net voorstel hoe hy die skerp oordele oor goddeloosheid, bose stede en harde harte in ‘n diep, kwaai stem gesing het.  Dan was daar ander kere, waar hy die oproep tot bekering en terugkeer na God met die passie van die Heilige Gees in sy eie hart uitgekreet het.  Soms voel Jesaja vir my soos ‘n ouer vriend, ‘n oupa wat ek nooit geken het nie, verseker die mentor wat ek nodig het, meerdere male in my lewe.

Ek wonder hoe het Jesaja 61 in sy stem en woorde geklink.  Dit is wonder-woorde van uitkoms, uitredding en ‘n wonderwerkende God wat alles in sy Hand hou.  Kan jy in jou gees sy woorde hoor?

Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is,

om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos,

die dag waarop Hy vir dié in Sion wat treur, eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Hulle sal genoem word: Bome van Redding. Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.

Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou, plekke herbou wat lankal verlate lê, hulle sal verwoeste stede weer opbou, plekke wat geslagte lank verlate lê.

Net die eerste verse roer in my ‘n passie om die Gees van die Here op my te ervaar. sodat ek self die woorde van God praat.

In hierdie paar verse word die hartseer en hopeloosheid van die wêreld aangespreek.  Dit is opmerklik hoeveel klem op treur, hartseer en die beperkinge van gevangeneskap geplaas word.  God is bewus van die wat treur.  

Die gebrokenheid en sielsverdriet van ‘n lewe op aarde is ‘n puinhoop van trane en depressie.  As vrees en angs ons nie in die gevangenis hou nie, dan is depressie en moedverloor die tralies van binding.  Die goeie nuus van Jesaja is die sielsremedie wat oor die eeue heen ego.  Dit is die Psalms van Dawid se uitstaande tema.

Prys die Here!  Kyk op en besef dat jy in daardie puinhoop van trane deel van ‘n groter plan is.  Laat jou siel die Here aangryp soos ‘n drenkeling aan ‘n reddingsboei vashou. “Sien” jouself as ‘n Boom van Redding.

In die woorde van hierdie selfde Jesaja: Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; (Jesaja 54:11,OAB) – kyk op en jou siel sal leef.

Jy is die juweel in God se kroon. (Maleagi 3:16-18)

Dit is jy, die stormgejaagde, wat die puinhope gaan opbou.  Jy gaan die verwoeste stad se mure herstel.  Jy sal vryheid vir die gevangenes aankondig en vreugde in plaas van hartseer leef.

Hier is egter ‘n belangrike beginsel wat duideliker in die Engelse vertaling gestel word.  Lees saam met my 61:3 in die NKJV.

To console those who mourn in Zion,
To give them beauty for ashes,
The oil of joy for mourning,
The garment of praise for the spirit of heaviness;
That they may be called trees of righteousness,
The planting of the Lord, that He may be glorified.”

In hierdie vers is daar iets konkreet wat aan die oplossing gekoppel word.  Die “oil of joy” en die “garment of praise” is metafore vir geestelike beginsels, maar dit kom uit die praktiese van die alledaagse. Elke mens het behoefte aan olie – dit is ‘n lewensmiddel.  Ons neem dit in – elke dag.  Elke mens moet aantrek – ons loop nie kaal nie – inteendeel, ons is obsessief oor aantrek.  Dink maar aan die persentasie klerewinkels in elke winkelsentrum.

Olie gaan binne in ons lyf en ‘n kleed is om jou lyf te bedek.  Dink net as ons werklik hierdie geestelike beginsels drink en aantrek – die olie van blydskap en die kleed van lofprysing. Onthou dit is die mooiste, eleganste bedekking vir jou lyf wat daar ooit kan wees.  Wat sê die Bybel hier?  Jou stene is in sierklei en jou fondamente is saffiere.  Maleagi praat van juwele vir ‘n kroon.

Jare gelede het my ma ‘n droom gehad oor my en my man.  Sy droom sy stop met haar kar in die inrypad van ons huis en moet ‘n swaar kis vir ons aflaai.  Ons staan op die stoep sonder om hulp aan te bied.  Die kis is toe, maar sy weet sy moet dit oopmaak en sien wat binne is.  Toe sy voor ons staan met die kis en dit oopmaak was dit vol van die mooiste mantels wat sy ooit gesien het.  Die swaar materiaal was met edelstene en sy borduurgaring in die pragtigste patrone uitgewerk. Sy het die droom vir my vertel en toe self gaan bid oor die betekenis daarvan.  Sommer vroeg die volgende oggend het sy gebel.

Die Here sê: Die mantels is ons getuienisse van uitkoms en Woord-antwoorde wat ons in gebed gekry het.  Dit is die edelstene en borduurwerk.  Ons moet die mantels dra.  Ons moet “lyk” soos die werk van God.

Wat kan ek sê? Ek sou graag wou hêdie mense van my moet sê: O, hier kom ou Prys die Here alweer aan!

Trek aan, Bodemklipvriend en “dra” jou lofprysing.  Breek uit die gevangenis van swaarmoedigheid met die konstante bewustheid van Sy edelstene in jou siel en gees.  Elke traan is ‘n diamant op jou kleed.

My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.  (Psalm 56:9)

Laat ons woorde die woorde van Jesus wees van wie gesêis:

God het Hom gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking. (Johannes 3:34)

 


One thought on “193. Buitengewoon en bonatuurlik – dis vir my!

  1. Amen & Prys God die Almagtige!!

    Dankie dankie dankie vir hierdie ongelooflike insig, ek voel gekleed en beskerm, ek is REG vir die wereld!!

    Baie liefde

    Mardene

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s