150. Gereed vir Desember?

[Johannes 4]

Ek skryf hierdie stukkie aan die begin van Desember en dit is weer eens soos dit altyd is. Die eerste week is verby voordat ek gereed is en beslis voordat ek my kan instel vir hierdie feesmaand.

Ek het voorheen al oor Kerstradisies geskryf. Hier is ‘n paar woorde van lank gelede wat ek graag sou wou herhaal.

Die aankondigings het reeds begin. Die liggies is op. Die versierings is lankal uitgedink. Die klein- en groothandel van die wêreld maak gereed om te oes. Kopseer oor geskenke en reisplanne vir die Kerstyd is pynlik en werklik. Die geldlaaie raas harder as die musiek in die winkelsentrums.

 Ek het nie eintlik raad vir die toestand van sake nie. In die sienlike realm sal Kersfees kom en gaan soos altyd. Die blatante verdraaiing van die waarheid en die flagrante uitbuiting van die wonder, word net meer intens tot weersinsvlak gedryf. [Bodemklippe 79]

Ons familie het nooit die Kersvader-fantasie ondersteun nie. Ons kan nie met sekulêre storietjies die waarheid verdof nie. God die Vader is so ‘n wonder-karakter en om van kleins af die Vaderhart van liefde en goedheid te bevestig, is ‘n geleentheid wat eenvoudig nie vermors kan word nie. Ons het wel ‘n boom met versierings wat vir my die simbool is, van die tak uit die stomp van Isai wat uitspruit en vrug dra.

Bodemklipvriende, moenie wegskram van die Fees nie. Dit maak nie saak dat die datum verkeerd is en die aanslag van goddeloosheid mens teen die bors stuit nie. Ons is nooit slagoffers nie. Gebruik die geleentheid. Dit word in prag en praal vir ons aangebied. Tree bewustelik in die Fees en bewapen jou met ‘n word in season – ‘n seënbede oor almal wat jy mee te doen kry. [Jesaja 50:4]

Die Kerskaartjies sal weer uitgaan net soos soveel jare in die verlede. Elkeen sal die storie van die stal, die herders, die engele, die wyse manne, Maria, Josef en baba Jesus weer vertel. Soveel opvoerings sal soek vir ‘n Maria en Josef, ‘n paar herders en engele met ‘n lyntjie of twee om te sing en te praat wat die eenvoudige gebeure in Bethlehem uitbeeld – gebeure wat die wêreld vir altyd verander het. Selfs in soveel ongelowige gemeenskappe sal die storie weer vertel word, met balle en tinsel, klokke en geskenke. Iewers in die duisternis van geestelike verwarring sal ‘n kind vra – hoekom. Ons God regeer sê die profeet Jesaja. God sal hom antwoord op Sy baie spesiale manier. Hy werk waar ons dit nie sien nie.

Maar… ons is nie onkundig aangaande die waarheid nie. Ons weet waarom en ons verbly ons in die ware betekenis van Kersfees. Ons is die kerk van Jesus. Kom ons skakel in by radio Kersfees en hoor die klokke van die koninkryk oor die oes in hierdie wêreld waar ons die fees vier, lui.

Wat is op die spyskaart hierdie Kersfees? Ek is seker ons dink aan goeie kos om te eet. Tradisionele geregte of iets eenvoudig – Kersfees is ‘n ganse bedryf op sy eie met kos en drank vir die fees van een dag in die jaar.

Terwyl Jesus met die Samaritaanse vrou gesels, het die dissipels gaan kos kry. Dit was duidelik almal was honger. Toe hulle terugkom was hulle besorg omdat Jesus niks eet nie. Hy was nie meer honger nie.

Maar Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie.” Die dissipels sê toe vir mekaar: “Sou iemand dalk vir Hom iets te ete gebring het?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi. (Johannes 4:32-34)

Jesus praat oor die oes wat gereed is. Kom ons eet saam aan Sy woorde. (Johannes 4:35-38)

Die oes was een van die kerntemas van Jesus se woord op aarde. Hier in Samaria sien Hy die werk van Sy vader. Hy sien die vrug en salwing op Sy eie woorde. Hy praat oor die oes as die simbool van God se land. God as die saaier is ‘n tema wat reeds in die Ou Testament voorkom. Hosea het sy seun Jisreel genoem wat beteken: God strooi en saai. Die oes is simbolies van seën op arbeid.

Die Jode het die landboujaar in ses dele van twee maande elke verdeel. Dit was genoem: saaityd, winter, lente, somer, oestyd en die tydperk van hitte. Jesus het geweet die dorp Sigar in die middel van ‘n koringstreek is. Landbougrond was skaars in Israel. Dit neem slegs vier maande van saaityd tot oestyd. Hy het oor Samaria gekyk en gesien die oes is gereed. Weer het Hy die geestelike en die fisiese teenoor mekaar gestel om Sy punt te maak. In Samaria was die oes gereed op al die vlakke.

In die gewone gang van sake het die mense op die oes gewag. In die goddellike realm was die oes in Samaria skielik. Die mense was honger vir die Woord van God, die belofte van die Messias en geestelike voeding.

Die oestyd is ‘n tyd van vreugde. Die saaier en die een wat die oes afhaal is saam bly. Kyk hoe stel die Psalms dit:

Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra. (Psalms 126:5-6)

Net onder die oppervlakte van die denke van die Jode in daardie tyd was die droom van ‘n Goue Eeu. Die beloofde land was nie ‘n woestyn nie. Dit was eintlik ‘n land van melk en heuning soos die belofte van ouds. Die wingerde sou die reuse druiwetrosse lewer wat die spioene van eeue gelede amper nie gedra kon kry nie.

Die beeld van die reuse druiwetros aan die drabalk van die spioene is die simbool van God se oorvloed. Die beloofde land het ‘n woestyn geword as gevolg van sonde en afgodaanbidding.

Jesus brei sy visie van die oes uit.

Die dissipels sal oes waar hulle nie gesaai het nie. Jesus se woorde en sy Kruis sal die saad wees wat die dissipels sal oes. Dit is waarmee ons ook nog besig is.

Die dag sal kom wanneer die dissipels saai en ander oes. Die Christendom sal strooi en saai en ander sal oes. Daar is altyd ‘n oes. Niks is ooit verniet nie en die Woord kan nie ledig terugkeer nie, al kan mens dit nie sien nie.

Hier is ons in die maand Desember. Ons word weer herinner aan soveel geleenthede. Die oes wag. Ons kan nie faal om die aantrekkingskrag na hierdie vreugdefees te oes nie.

Ons word herinner aan die uitdagings van bediening oor jare met moed en durf. Ons plant bome en sien hulle groei, maar ons sien nie wanneer hulle ou pragtige reuse word nie. Dit sien ons net as iemand anders hulle geplant het.

Johannes 4:39-42 druk die kernwaardes van die koninkryk van God uit. Dit is ‘n skrifgedeelte wat uitbeeld hoe hoorsê openbaringskennis word.

Die Samaritane het die waarheid uit ‘n onverwagte bron gehoor. Sou hulle gekies het om van die Messias te hoor uit die mond van hierdie vrou? Heel moontlik nie.

Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” (Romeine 10:14-15)

‘n Nader verhouding bring dieper kennis. Toe hulle aan Hom voorgestel is, wou hulle Hom nie laat gaan nie. Om waarlik Jesus te ken, gebeur nie deur iemand anders nie. Jy moet Hom innooi – self.

Ontdek en gee oor – ‘n wonderlike Kerskombinasie.

Johannes noem Jesus die Redder van die wêreld. Hy is die enigste een wat dit doen. Hy dink aan die dag in Samaria en hy is nog in verwondering oor die gebeure daar, selfs baie jare daarna.

Die Ou Testament noem God die God van Redding. In die tyd wat Johannes skryf, het die Romeinse keiser die titel vir homself geneem.

Jesus was nie net die perfekte voorbeeld nie. As ons soos Hy moes wees uit ons eie krag sou ons ontmoedig en frustreerd gewees het, vol skuld en verwyt. Hy stel ons in staat om die lewe van God te leef. Hy red van hopeloosheid en boosheid. Die Samaritaanse vrou is ‘n voorbeeld van Sy reddende krag. Haar gemeenskap het op haar neergesien en haar verwerp. ‘n Ander lewe was vir haar net ‘n onbereikbare droom. Jesus het die bande van haar verlede gebreek en haar ‘n nuwe toekoms gegee. Dit is redding!

Die oes is gereed, Bodemklipvriende. Trek jou partytjieskoene aan – die bereidheid vir die Evangelie van Vrede. (Efesiërs 6:15)

En jou Kersfeesklere?

Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ‘n bruidegom met ‘n priesterkroon op, soos ‘n bruid met haar juwele aan. (Jesaja 61:10)

Jou oorwinnaarskleed is uitgeborduur met jou getuienis in die pragtigste edelstene. Dit is die versiering van jou lewe – waarheid en goedheid, insig en wysheid, genade en getrouheid, hulp waar nodig en soveel meer uit die rykdomme van Jesus.

Bring die oes in. Stel jou in vir die Kersfeesmaand en “sien” die oes wat gereed is.

 

Luister saam met my na hierdie ou gunsteling so pragtig vertolk.

[Youtube=https://youtu.be/v5mdybeyLVc]

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s