[Johannes 4]
…daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar. (Jesaja 29:14)
Behold, I will again do a marvelous work among this people, a marvelous work and a wonder
Die feesdae is naby. Daar is soveel om te doen – reisplanne, gaste, inkopies en die finale afrondings vir watookal ons fees behels.
Kersfees is spesiaal – sonder twyfel. In die Christelike of sekulêre kalender is dit uitgemerk vir ontspanning en familie. Dit is dae van vreugdevolle weersiens met uitsonderlike voorbereidings of dit is dae van ou wonde, diep woede of tragiese teleurstelling.
Waar bevind jy jou in hierdie week voor Kersfees? Is jy vas in ‘n maalkolk van aktiwiteite en voorbereidings en in ‘n staat van paniek? Is jy dalk alleen met niks om na uit te sien nie? Is Kersfees ‘n berg van bitterheid wat nog nie geskuif het nie? Is dit die eerste Kersfees na tragedie of die eerste Kersfees met ‘n nuwe baba in die familie?
Waarookal jy is en in watter omstandighede ookal jy jou bevind, is dit nou die tyd om stil te word en jou wonderwerk te ervaar. Een of ander tyd sal daar ‘n opdienbord vol lekkerte voor jou verbygaan vir jou om jouself te help. Selfs as dit nie in die fisiese wêreld moontlik lyk nie, is God gereed met ‘n wonderbord vol majesteit en glorie. Dit is gewaarborg in die geboorte van daardie baba so lank gelede in ons aardse tydsberekening. Hy wag op jou uitroep.
Sal jy saam met my ‘n oomblik stil word en jou gedagtes op die gebeure van Kersfees rig? Kom sit aan by die ware feestafel om as jou anker in die dae wat kom te dien. Die wonder van die spelonk buite Bethlehem ego daar waar jy is.
In hierdie oomblik van gebed is daar een ding wat uitstaan bo alles – die hart van die Vader. Kersfees is ons teleskoop om ons hemelse Pa se hart te sien. Dit is weer vir my onderstreep toe ek skryf. Sy hart is hier by ons in ‘n gebroke wêreld, Sy oog op die hart wat op Sy goedheid en liefde reageer. As jy die deur oopmaak, hou jy Kersmaal saam met Hom.
Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. (2 Kronieke 16:9)
Sy hart is ontbloot in die gebeure van Bethlehem. Waar is jou hart? Veilig in vertroue op Hom? Jy kan feesvier in Sy teenwoordigheid. Dit is God se begeerte. Net soos die Psalmis dit stel (32:8):
Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.
Ons het al in Bodemklippe oor die reënboog gepraat. Onthou ons het gesê dat die reënboog altyd daar is, dit hang net af hoe ons kyk. Ons het ‘n prisma nodig, ‘n Heilige Gees bril om te kan sien. Kersfees is so ‘n wonderprisma. As ons deur die Kersprisma kyk, dan sien ons die reënboog – die volheid van die verbondsbelofte wat aan Noag gemaak is. Die Verbond is die hart van die Vader wat belowe om jou te help as jy in jou hart vra.
Kies Hom in hierdie stil oomblik wat ons saam het en kry vir jou ‘n wonderwerk. Hoe gebeur dit?
Kom ons gaan na ons Bybelstudie in Johannes 4, die laaste verse, nie die storie van die geboorte nie, die storie van ‘n aktiewe Jesus wat tussen die mense in nood werk. Johannes 4:46 en verder:
In Kapernaum was daar ‘n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was…
Die man wat na Jesus toe kom is ‘n amptenaar (basilikos) aan die hof van Herodus. Jesus was die skrynwerker in een van die dorpies om die meer. Jesus was in Kana en die man van Kapernaum, sowat 50 kilometer uit mekaar, so dit sou die amptenaar ‘n rukkie geneem het om weer by die huis te kom.
Die toneel is eienaardig, om die minste te sê. ‘n Belangrike man reis na ‘n ander dorp om die hulp van ‘n onbelangrike skrynwerker te soek. ‘n Hele klomp trots is reeds afgesluk. Sy nood is groot. Dit maak glad nie meer saak wat die mense gaan sê nie.
Hy weier om ontmoedig te word. Jesus se woorde is nie baie positief nie.
Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.”
Jesus het heel moontlik die skare wat om die gebeure gevorm het, aangespreek. Hy het seker gemaak dat die man ernstig is in sy soeke om hulp net soos met die Kanaänitiese vrou in Matteus 15:21-28. As die man in woede omgedraai het, was dit sy verlies.
Sy geloof het sy gevoelens oorbrug. Dit is uiters belangrik.
Hier is ‘n edelman, ‘n hoë amptenaar met verrassende geloof. Dink jy dalk dit was maklik om net die woorde van ‘n eenvoudige skrynwerker te glo, om te draai en met geen teken van uitkoms, huis toe te gaan nie? Ek dink nie so nie. Hy was soos ‘n reddelose drenkeling wat vasklou aan die laaste stukkie hoop in sy gemoed.
Die ontmoeting met Jesus illustreer die kragtige invloed van vrede wat die woorde van Jesus in die edelman gewerk het. Sy hoop het sy geloof aangevuur. Die waarheid van Jesus se woorde het hom kalmeer.
Hy het oorgegee. Hy en sy hele huis het geglo. Hy het nie net die genesing ontvang en vergeet nie. Die wonderwerk het groot impak op hom en sy huis gehad. Daar aan Herodus se hof kon dit nie maklik gewees het nie. Die nuus van die genesing het sekerlik opslae gemaak en aanleiding gegee tot aantygings van malligheid en spottery.
Hy het die feite aanvaar. Hy het oorgegee aan sy wonderwerk. Sy behoefte is aangespreek, sy noodroep is gehoor en hy het die man wat die oplossing gebring het, vereer.
Dit is die ware Christenlewe.
Ons lewe in die dae na die opstanding. Ons ken God se krag. Sal jy oorgee en Hom vertrou? Vra Hom nou. Vra al verstaan jy nie.
Sy oog is alreeds op jou. Ontvang die vrede saam met die woorde:
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Dankie Ansophie. Geseendw Kersfees en Voorspoedige Nuwe Jaar! ❤️❤️Baie liefde