106. Onderwêreld van die onbekende.

[Openbaring 13]

Die onbekende is vreesaanjaend, aaklig, grillerig, skrikwekkend en angswekkend – dink maar aan soveel woorde as wat jy kan om dit te beskryf. Elke woord en meer nog was nodig om die gevoelens van die antieke wêreld oor die see te beskryf. Die see was ‘n misterie van reuse skepsels en donker, onbekende water wat onverwags in ‘n verwoestende storms kon ontwikkel. Die storms het  hulle houtbote in stukke geruk en die hulpelose seevaarders verdrink. Tog moes soveel reise per boot aangepak word. Judea was ‘n verraderlike seereis ver van die res van die Romeinse ryk en Rome.

Hoofstuk 13 begin soos ‘n dramatiese gedig:

En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering.

Die anti-Chris sal uit die see opkom, die simbool van chaotiese politieke gebeure.

Dit is hoe die voller prentjie van die valse drie-eenheid begin vorm aanneem. Dit is uiters belangrik om die kinders van God bewus te maak van boosheid se groter plan en hulle sodoende toe te rus op elke moontlike vlak van die lewe.

Satan delegeer mag na twee diere. Dit is ‘n samestelling van Daniël se monster in Daniël 7:2-7. Dit beskryf die verpersoonliking van alle boosheid – ‘n leeu met arendsvlerke, die simbool vir Babilon, die beer as simbool van Mede, ‘n luiperd met vier vlerke – die simbool vir Persië en ‘n dier wat nie genoem word nie, wat die ryk van die Grieke onder Alexander die Grote aandui, wat alles vertrap. Al die diere kan gelyktydig in die Romeinse Ryk gesien word in die beskrywing van H.B. Swete:

 The empire has the vigilance, craft and cruelty of the leopard, ever ready to spring upon its prey; it has the crushing strength of the bear; it is like the lion whose roar terrifies the flock.

Paulus het respek vir die owerhede van die dag gevra. Hy was ‘n Romeinse burger en het daarop staatgemaak in sy sendingtaak tot voordeel van die Evangelie. Hier in Openbaring is daar ‘n duidelike skuif in die houding teenoor die regering. Dit is oorlog tussen die kerk en die owerhede en Rome is die verpersoonliking van alles wat boos is.

Die eerste dier verteenwoordig anti-Christelike regering en politieke mag. Die tweede dier verteenwoordig anti-Christelike godsdiens, filisofie en ideologie. Saam skep hulle ‘n leuenagtige, misleidende sekulêre gemeenskap, ekonomie en kultuur. Die derde dier is die Vals Profeet (13:11).

Die dier van Openbaring sluit alles waaroor Daniël gepraat het in. Die sewe koppe en tien horings dui op die regeerders van Rome en die daaropvolgende politieke heersers van die wêreld. Wêreldleiers neem dikwels godslasterlike name vir hulleself soos God, Redder, Goddellik en so voorts.

Godslastering is alle afkrakende woorde en gesprek. Dit is om wat menslik is, goddellik te noem en wat boos is, goed te praat. Dit is die leuen wat vandag in die wêreld heers. Dit is ‘n spottende afmaak van die woorde van aanbidding van die kinders van die Here: “Wie is soos ons God” (Exodus 15:11).

Dit is uiters belangrik om te besef dat ons in die realm van die valse drie-eenheid woon en ingelig is oor die strategie van boosheid. Ons Vader wil nie hê dat ons vergaan as gevolg van ‘n gebrek aan kennnis. Ons is die heiliges, die kerk, getrou en sterk om in Sy krag en genade moeilike tye te deurstaan.

Die kop van die dier is verwond met die kruisiging, maar dit is genees en hy kan voortgaan met sy bose planne. Sekere Romeine en selfs lede van die kerk van daardie tyd, het geglo dat Nero, ‘n besondere wrede en walglike keiser, na sy dood weer geleef het om voort te gaan om die kerk so verskriklik te vervolg.

Openbaring 13:9,10 herinner aan God se oordeel teen Juda in Jeremiah 15:2,3. Die vervolgdes en verjaagdes moet hulle vertroue in God behou en nie die metodes van die Dier en Draak aanneem nie. Dit word deur Jesus bevestig in Matteus 26:52:

Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.

Die evangelie van liefde kan nie met die geweld van mense verdedig word nie. God sal Sy woord verdedig en vergeld.

Die ander dier is die Vals Profeet (13:11), die mondstuk van die vals drie-eenheid. Hy word beskryf as ‘n lam, in teenstelling met die ware Lam van God, Jesus. Caesar-aanbidding (soos in Bodemklippe 42 verduidelik is) dien as simbool van die poging om jou redding en uitkoms in die politieke bestel te soek. Satan kan ook bonatuurlik werk met tekens en wonders in die okkulte met die doel om te mislei.

Vir die ongelowige is die gekruisigde Jesus nie die oorwinnaar nie. Die ongelowige sien net die kopwond van die Dier wat genees is en dit lyk aanvaarbaar en selfs aantreklik. Net die ware gelowige kan die waarde van die oorwinning van die Kruis begryp. Die ongelowige word maklik mislei. Hy sien die afgodsbeeld en die vuurtekens en val plat om te aanbid, hoewel hy nooit enige aanbidding van enigiets sal erken nie. In werklikheid is die verwerping van Jesus, aanbidding van die Dier.

Die merk (666) is die vals seël van God (Openbaring 7:2-4). In die tyd van Caesar-aanbidding het die magistraat sertifikate uitgedeel sodat elke inwoner bewys kon lewer dat hy verklaar het, Caesar is god.

Grieks en Hebreeus het nie aparte numeriese sisteme nie. Al die letters van hulle alfabet het numeriese waarde. Die getal 666 is die waarde van die naam van die Dier.

Die Jode het volgens die voorskrifte van Exodus 13 en Deuteronomium 6, letterlik die Woord van God, die Wet, op hulle voorkoppe en gewrigte gedra. Slawe is met ‘n brandmerk, gebrand om hulle status onuitwisbaar te maak. Dit is ‘n stigma genoem en het eiendom aangedui – een mens wat aan ‘n ander behoort. Jy behoort aan die een wie jy aanbid.

Ons, die kerk, dra die seël van die doop.

Die waarskuwing teen misleiding kom sterk in 2 Thessalonicense 2:3-12:

 Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.

Die Woord van God waarsku en berei voor op die strategie van die bose en die wêreldorde van die vals drie-eenheid.

Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. (1 Johannes 2:22)

En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. (1 Johannes 4:3)

Die Boek van die Lam (13:8) is die hemelse register van almal wat aan God behoort. Ons name staan daar geskryf sedert die vroegste tye (1 Petrus 1:20). Dit is nie uitverkiesing nie, dit is God se vooraf wete; Sy voorkennis. Hy is alwetend en staan buite tyd. Die hele geskiedenis is vir Hom ‘n oogwink. Hy weet wie gaan Hom verwerp met ‘n harde hart tot die einde toe. Ons weet hy wil dat almal gered word. (2 Petrus 3:9).

Niks wat die Dier, Vals Profeet of Satan kan doen kan ons ooit uit Sy hand pluk nie.

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s