107. Kom op na die berg!

[Openbaring 14]

Dit is een van die kragtigste metafore in die Bybel. God kies ‘n berg om Sy teenwoordigheid aan die Israeliete te openbaar. Moses is berg op om die Wet te ontvang. Toe die volk slawe was, het hulle in die steengroewe en slote vir die Farao se ambisieuse argitektuur geworstel. God het hulle uit die put na die berg in woestyn gelei.

Beelde van berge is majestieus en inspirerend. Bergklimmers meet en klim die berge van die aarde met ongelooflike passie en toewyding. ‘n Berg is so tekenend van iets wat groter en magtiger as die mens is. Twee skrifte was oor die jare vir my pilare van inspirasie.

Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. (Jesaja 55:12)

Kan jy jou voorstel – ‘n berg wat jubel en juig. Prys die Here in harmonie met die berge wat skuif.

Ek het van Habakuk 3 die eerste keer in my vroeë twintigs gehoor toe ek die klassieke boekie, Hind’s Feet on High Places (Hannah Hunnard) die eerste keer gelees het. Sedertdien is dit ‘n pilaar van krag en bemoediging; die hele hoofstuk, maar veral die laaste versie:

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. (Habakuk 3:19)

In my gedagtes sien ek die bergskape en bergbokke van Europa en Kanada wat met verstommende slim voetjies hoog in die kranse huppel.

Baie jare gelede is my broer in ‘n frats ongeluk ernstig beseer. Hy het perdgery op ‘n Sondagmiddag. Ses dae later is hy in die hospitaal oorlede. As ek terugkyk oor my lewe, was dit sekerlik die donkerste en hartseerste tyd in ons familie. Ten spyte van al die vrae en trane, het die Here vir my ma ‘n skrif gegee die nag waarin hy dood is, amper soos ‘n voorbereiding op die verskriklike telefoonoproep wat kort daarna gekom het. Sy het “gehoor” van die berg van die hemel.

Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is. (Hebreërs 12:22-24)

As daar ooit ‘n beeld is wat onstuitbaar in my gedagtes geplant is, is dit die berg van die nuwe Jerusalem, die stad van God, by God met ‘n feestelike samekoms. Hoe kan die dood ooit ‘n verskrikking wees met so ‘n versekering? Johannes beskryf die beeld nog verder.

Dit is die beeld van ‘n glorierijke kerk in Openbaring 14.

Die getal, 144 000, is die simbool vir al die heiliges van die Here (7:1-17). Hulle is verseël en getel in ‘n perfekte kubus – 10x10x10=1000 en 12×12=144. Die perfekte kubus is die vorm van die Allerheiligste in die Tempel en verteenwoordig die ruimte van die Teenwoordigheid van God, toeganklik gemaak deur die Kruis van Jesus vir almal wat Hom aanroep. Dit is ‘n simboliese getal en kan nooit letterlik geïnterpreteer word nie. Dit simboliseer genoeg plek vir almal wat die keuse uitoefen vir saligheid.

Die berg Sion is die simbool van die samekoms van God met Sy volk in wonderbare gemeenskap en feestelikheid, ontvanklik vir Sy woord. Die naam van die Vader is op hulle voorkoppe, herkenbaar as Sy eiendom, in teenstelling met die merk van die Bees van die vorige hoofstuk. (13:16,17)

 In die antieke wêreld was ‘n merk baie belangrik. Dit het verskeie dinge aangedui:

  • Eienaarskap: slawe en dier is gebrandmerk. Daar was geen dispuut oor so ‘n merk nie en dit kon nie verwyder word nie.
  • Lojaliteit: soldate het dikwels die naam van ‘n gerespekteerde generaal op hulle gebrand.
  • Sekuriteit: ‘n merk op ‘n persoon het hom selfs in die dood beskerm, net soos Jesus se bloed ons deur die dood beskerm.
  • Afhankliheid: die Arabiese stamleiers het hulle mense gebrandmerk as hulle verantwoordelikheid. Ons is afhanklik van die Lam van God.
  • Veiligheid: die Siriërs het hulle gode op hulle gewrigte getattoëer. In die tempel van Heracles was asiel beskikbaar, selfs vir ontsnapte slawe. Hy is gemerk om hom te beskerm. Niemand kon dit ignoreer nie. Net so is ons in die Tempel van die hemele veilig – die teenwoordigheid van Jesus.

Die stem van God klink soos ‘n groot watermassa en donderweer, maar terselfdertyd soos siterspelers. Dit is majestieus en sag tegelyk, ‘n buitengewone beskrywing van die klank van die stem van God wat vrede en kalmte in die hart van ‘n vreesagtige mens bring.

Die gereddes kan sing oor God en hulle getuienisse op ‘n manier waarop geen ander hemelse wese kan nie. Die engele ken nie die wonder van redding en vergifnis nie. Ons kan sing van krag deur moeilike tye en geestelike groei met Jesus self as die leraar in die dieper dinge van God.

Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim. (Efesiërs 3:10)

Die woorde van Jesus aan Sy dissipels was: volg My. (Johannes 1:43, Markus 2:14) Hy het dit ook van die ryk jong man gevra (Markus 10:21) en die onbekende dissipel met die verskonings in Lukas 9:59.

Dit is ook ons prioriteit – om Jesus te volg.

Jesus antwoord hom: “As Ek wil hê dat hy in die lewe moet bly totdat Ek weer kom, is dit nie jou saak nie. Volg jy My!” (Johannes 21:22)

 Hierdie woorde van Jesus is vandag nog net so waar. Ons is sy volgelinge (Openbaring 14:4) waarookal Hy gaan, soms in die woestyn (Hooglied 3:6)

Jesus was die offer van die Eerstelinge of die Eerstelingsgerf met Sy opstanding. Hy het aan Maria gesê dat sy Hom nie moet aanraak nie. Hy was die heel beste van die oes van die kerk wat sou volg. Jesus is God se beste vir ons.

Uit hulle mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie; hulle was onberispelik. (Psalms 32:2) ‘n Leuen in die tong van enigiemand is skokkende verraad wat verwond en aanstoot gee. Misleiding verdraai die waarheid en het ‘n impak op alle vlakke van die lewe.

Jesus is sonder vlek of rimpel en Hy verander ons om in Sy beeld te groei. Jesus was die volmaakte offer (Efesiërs 1:4, Kolossense 1:22).

Net soos Hy moet die kerk rein en heilig wees. (Efesiërs 5:26,27).

Drie engele word geroep om te aanbid en die goeie nuus van die Evangelie te verkondig. Die tweede engel voorspel die ondergang van Rome en die oordeel en verwoesting vir diegene wat die Lam verwerp en die bees aanbid.

Die evangelie van Jesus is vir almal sonder uitsondering en sonder aansien van persoon.

En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” (Matteus 24:14)

Die ewige, eeu-oue, oneindige en onveranderlike boodskap is soos God – geen begin en geen einde. Net soos Jesus sê:

Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” (Matteus 24:35)

Die evangelie is altyd twee-snydend – dit red en oordeel. Dit is die roeping van God na almal wat Hy gemaak het. Paulus se prediking in Listra (Handelinge 14:15) bevestig God se soeke na Sy mense, deur die profete, Sy seun, die natuur en die aarde self.

Dit is die unieke aard van ons God – Hy soek ons, Hy vergewe ons en Hy het ons lief – voordat ons enigiets doen ten spyte van onsself.

H.B. Swete noem dit “an appeal to the conscience of untaught heathenism, incapable as yet of apprehending any other.”

Gedurende die tyd wat Openbaring geskryf is, was Babilon die naam vir Rome. Rome sou val en die nasies sou ly onder die immoraliteit en vernedering. Hulle het regeer met ‘n ystervuis – wreed en lank (14:8).

Babilon is ook die simbool van die okkulte, afgodery en sedeloosheid. Die stad word veroordeel en die inwoners drink die wyn van God se woede. Dit is aanbidding van die bees wat die inwoners van Babilon kranksinnig van sedeloosheid en afgodery maak. Die simbool van die stad is ‘n prostituut wat ‘n man wyn voer, sodat hy nie haar verleiding sal weerstaan nie.

Daar is ‘n beker in die hand van die Here. Dit is vol skuimende wyn met gif gemeng. Hy laat die goddeloses van die aarde daaruit drink; hulle moet selfs die afsaksel opdrink, die beker leegdrink. (Psalm 75:9)

Jeremia (25:15,16) en Jesaja (51:17) praat van die beker van God se toorn. Sy oordeel is waar en reverdig. Hy is die volmaakte en enigste regter. Sy oordeel is nie vreesaanjaend nie. Dit kom slegs as al die geleentheid vir bekering uitgespeel is. Selfs die natuurrampe en die verwoestende gevolge van sonde dien om mense tot bekering te lei met die doel om te vergewe en te red. Dit is die kernboodskap van Jesus. Hy red, hy herstel en Hy nooi ons na die feesmaal.

Die derde engel bring die boodskap dat aanbidding van die bees net hartverskeurende tragedie meebring. Die teenwoordigheid van die engele op aarde beteken altyd daar is nog geleentheid vir redding. Daar is ‘n keuse om te maak. Daar is geen rus vir die bees-aanbidders nie. Vrede kom net van God af. Geen vrede of vreugde kom van ander bronne nie – dis altyd vals. Die bron van ware lewe is ons Vader.

Dan word die ondergang van die apostasie (kerkverlater) aangekondig. Dit is vreeslik. Dit is wraak op verraad van die Evangelie. Dit word so beskryf in Jesaja 34:8-10:

 Die dag van die wraak van die Here het gekom, die jaar van vergelding ter wille van Sion se saak. Die riviere van Edom sal in teer verander, sy grond in swael: sy land word een stuk brandende teer. Dit sal bly brand, dag en nag; die rook sal aanhou opstyg. Geslagte lank sal die land in puin lê; tot in die verre toekoms sal niemand ooit weer daar rondtrek nie.

Die woorde van die Hebreër-skrywer weerklink: want ons God is ‘n verterende vuur. Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val. (Hebreërs 12:29 ,en 10:31)

Dit is verskriklik om God se seën wat oor geslagte heen belowe is, te versmaai en jou nasate onder die dekmantel van Sy guns en genade te verwyder. Ons keuses maak al die verskil aan ons nageslagte.

Die wonderbare belofte van Jesaja 44 en 65:23 weerklink oor ons kinders as gevolg van ons onderwerping aan die evangelie.

Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope. (Jesaja 44:3,4)

 Daar is rus vir die gelowige in die dood (Openbaring 14:13). Die belofte vir rus in die dood word in 1 Tessalonicense 4:16 en 1 Korintiërs 15:18 bevestig en staan in dramatiese kontras met Openbaring 14:11:

Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”

Kom ons verklaar saam met Paulus dat ons die wedloop voleindig en die geloof behou. Selfs te midde van telerustelling met ander Christene en God se manier van dinge doen, sal ons nie aanstoot neem en struikel nie. God is goed – altyd!

Die uitdaging is on God so onvoorwaardelik lief te hê soos wat Hy ons het.

Ons oorwinning is gewaarborg (Judas 24). Ons word deur vuur gelouter. (Openbaring 3:18 en Psalm 66)

In die finale versie van hierdie hoofstuk sien ons die Seun van die Mens soos beskryf in Daniël 7:13,14.

“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ‘n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. “Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.

Meer engele vergader met oesinstrumente om die simboliek van die koringland en die wingerd voort te bou. (Jesaja 5)

Dis twee bekende beelde. Joël 3 beskryf die oes. Jesus bevestig die metafoor in Markus 4:29, Matteus 13:24 – 3, 13:37-43.

Die druiwepers is dikwels ‘n simbool van God se oordeel. (Klaagliedere1:15 en Jesaja 63:3)

Die druiwepers was buite Jerusalem geleë. Dit is simbolies van die heidene wat na Jerusalem gebring is om daar geoordeel te word. Binne in die stad is die teenwoordigheid van God en redding moontlik. Joël 3:2,12 verduidelik die nasies wat in die vallei van Josafat vergader en geoordeel word.

Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne-in jou verdeel word.  Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal ‘n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe. (Sagaria 14:1,4)

Die engele en Jesus sal die oes inbring – nie die kerk nie. Jesus bevestig dit in die gelykenis van die basterkoring in Matteus 13. Die kerk is nie die regter nie – ons is vry daarvan. Ons plig is om die evangelie van vrede en genade te verkondig, sonder veroordeling. God alleen is die regter en Hy doen dit perfek.

Die beskrywing van die “bloed wat aan die tooms van die perde raak” is kwalitatief en nie kwantitatief nie. Dit bevestig dat die oordeel voltooi is. Die mate – 1600 stadia (die Afrikaanse vertaling maak dit 1600 kilometer, maar ander vertalings het ander interpretasies) – is die grootte van die gehele land Palestina.

[A Stadia is a Greek measurement and is about 192 meters long. So this makes 1,600 Stadia about 300km (180 miles) long and horses’ bridle is about 1.5m (4 ft 6 in) high.]

Die oordeel is volkome en verskriklik.

Laat die kerk juig in die volmaaktheid van die Plan van God vir hierdie aarde.

God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees. Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen. (Romeine 16:25-27)

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s