[Openbaring 12]
Ons leef in die dae van fantasie stories. Ek kry die indruk dat die filmmakers hulleself meer geniet as hulle gehoor wat in towerwêrelde van misterie en verbeelding weggevoer word. Die gesprekke rondom die nuutste snaaksighede van outeurs en regisseurs klink soos ‘n vreemde taal van die toekoms.
Openbaring is ‘n opvolging van gebeure wat net soos die moderne fantasieë klink. Geen filmmaker het egter nog die kits-draaiboek aangepak nie. Die vier perde van die eerste vier seëls is al in films gebruik, maar intussen is die vreesaanjaende perde van The Lord of the Rings se swart ruiters, selfs meer skrikwekkend uitgebeeld. Wat van die aksie en natuurrampe van die trompette en die bakke waaroor ons nog gaan gesels?
Dieper en dieper in die kode van die profesie, moet ons weer bewus word van ons doel. Hierdie studie is ‘n bekendstelling van die “geheime taal”, as ek dit so kan noem, van die eerste eeu se Christene in ‘n vyandige en wrede politieke bestel. Hulle skryf die boodskap te midde van ernstige vervolging van ‘n reuse, drakoniese wêreldryk, wat sy voormalige glorie wil terugwen, met eerlose en skandalige geweld en korrupsie.
In hierdie atmosfeer van magspel op die hoogste vlak van regering, word die eerste Kersfees gevier. ‘n Baba word gebore met doodgewone ouers, vasgevang in die administrasie van ‘n wêreldryk, veel groter as wat die ouers ooit kan begryp. Watookal ons glo van die eeu-oue Kersstorie en watse “foute” in ons verhaal mag wees soos die datum, die mense en die verloop van gebeure of die spesifieke omstandighede, dit het deurgedring tot die hoogste vlak van die heerskappy van daardie tyd. Soveel Joodse geleerdes het al geskryf oor die onverklaarbare gebrek aan geregtigheid by die verhoor van die Sanhedrin daardie nag in Jerusalem, toe niemand besef waarmee hulle eintlik besig is nie. Slinkse strategie het die magtige Romeinse owerhede oortuig tot ‘n wreedaardige teregstelling waarby hulle eintlik nie betrokke moes wees nie. Die verloop ken ons goed. Die storie is geskryf. Ons hang goue balle aan die Kersboom om die wonder te gedenk – ook reg so.
Kom ons kyk dieper. God se woord roep ons altyd tot dieper insig. Ons ken die storie van die fisiese wêreld. Dit gaan oor ‘n baba in ‘n grot of ‘n stal – nes jy wil, ‘n engelkoor wat aan die herders wat die Paaslammers oppas verskyn wat hulle na die baba haas, wyse manne wat deur ‘n ster gelei word, grootoog ouers wat die vervulling van die profesie aanskou en ‘n mal koning wat babas slag om sy eie onsekerheid te oorkom – nogal ‘n storie!
Stap saam in die bonatuurlike realm van Openbaring 12 en hoor hoe Johannes al die tekens van goddellikheid en skoonheid inspan om die geestelike gebeure van Kersfees te beskryf.
Die son en die maan word dikwels in die Woord gebruik. God se kleed is lig soos in Psalm 104:2 beskryf word. In Maleagi 4:2 word Jesus as die son van geregtigheid met genesing in Sy strale beskryf. Die Hooglied (6:10) se geliefdes is mooi soos die maan en helder soos die son. In hierdie hoofstuk van Openbaring word die dramatiese beskrywing van die vrou van die hemel vir die heidene ook toeganklik as hy haar kroon van stersimbole beskryf. Dit is die twaalf astrologiese sterretekens.
Onthou altyd, watookal in die natuur en heelal vir die valse en negatiewe gebruik word, alles behoort aan God en ons sal nie toelaat dat enige hemelliggaam, pragtige gesteentes of ander natuurlelemente van ons gesteel word nie. Ons is die kinders van die Skepper daarvan.
Die vrou is die Messiaanse gemeenskap waaruit die Messias gebore word. Sy is in kraam en haar pyn simboliseer die verdrukking deur die eeue en die verwagting vir die vervulling van die belofte.
Vroue in die Ou Testament was dikwels simbolies van die bruid van Jesus.
Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is die Here die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem. (Jesaja 54:5)
Jeremia (3:6-10) het heelwat te sê oor die hoer wat ontrou is en net soos Hosea wat sy hele lewe met ‘n ontroue vrou leef as is ‘n metafoor vir Israel se ontrouheid aan die Here en Sy groot genade en vergifnis oor die volk. God beloof om Homself aan Sy volk te verloof (Hosea 2:10-20) met al die vreugdevolle verwagting van ‘n bruilofsfees en die beskerming en voorsiening inherent aan ‘n huwelik.
Die hoogtepunt in Openbaring is die bruilofsfees van die Lam (19:7, 21:9) en Paulus skryf dat ons aan God verloof is.
Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. (2 Korintiërs 11:2)
Die kerk is sedert Pinksterdag die gemeenskap uit wie die Messias verkondig word. Die kerk is altyd vroulik, net soos Jerusalem altyd vroulik aangedui word. Die ou Jerusalem het Jesus gekruisig en die doelstellings van God gefaal. Die nuwe Jerusalem, die kerk, bring die plan van God vir die mensdom tot uitvoering. Die bose magte, duiwels en menslik, wil die kerkgemeenskap vernietig, maar dis onder God se beskerming en kan nie vernietig word nie.
Die groot, vuurrooi draak is ‘n bekende simbool van Babilon. Die beeld kom in die Ou Testament voor as Rahab in Jesaja 51:9: Gryp in, Here, gryp in! Toon u mag, u krag! Gryp in soos in die ou tyd, soos in tye lank gelede. Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie, wat die seemonster deurboor het nie?
Die monster word in die meeste vertalings met draak vertaal.
Die draak word beskryf met “sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone”. Dit beteken volkome mag oor die koninkryke van die aarde en gesag om te regeer. Dit stel die twee spelers vir die toekoms van die mens teenoor mekaar. Boosheid vernietig alles wat God goed gemaak het. Die stryd vind sy hoogtepunt in die kruis van Jesus.
Die kind, wat met ‘n ystersepter regeer, is Jesus. Die kind word weggeruk in die hemel in, buite die bereik van de draak. Die vrou vlug in die woestyn in vir die voorsiening en versorging van die Here. Die tydperk is weer eens, 1260 dae, drie en ‘n half jaar of 42 maande. Dit is dus beperk en vooraf bepaal.
Die veilige plek is by God. Die hemel is waar Hy is. Dit is die skaduwee van die Almagtige en die skuilplek van die Allerhoogste.
HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. (Psalm 91:1,2, OAB)
Die woord vir weggeruk is dieselfde woord wat in 1 Tessalonicense 4:17 en 2 Korintiërs 12:2 gebruik word vir die wegraping van die heiliges na die hemel. Johannes se klem is hier op die hemelse Jesus, nie Sy aardse lewe nie. Dit gaan alles oor die verheerlikte Jesus as oorwinnaar oor alles wat boos is. In die groter tydspel van die heelal was Jesus se lewe op aarde net ‘n spikkel. Selfs daardie spikkel in tyd, het ewige en deurslaggewende gevolge.
Die vlug na die woestyn word beskryf as ‘n plek van veiligheid en voeding. Vir Elia, net soos vir ons, is dit ‘n plek van goddellike voorsiening. (1 Konings 17:1-7 en 19:1-8) Kort na die geboorte van Jesus het hy en sy ouers vir Herodus se moordplanne gevlug (Matteus 2:13).
Gedurende die swaar vervolging van Antiochus Epiphanes het die priesters die boekrolle met die wet en die profete in die woestyn versteek. In die groot gevegte van 70nC, waarin Jerusalem deur die Romeinse aanvoerder, Titus, vernietig is, het die mense die wildernis in gevlug.
Die kerk vandag vind ook veiligheid en afsondering in die wildernis. Dit is dikwels in die moeilikste omstandighede waar die tafel voorberei word. Daar in die vallei van doodskaduwee sit ons aan God se tafel en geniet Sy voorsiening en teenwoordigheid. Hy wil saam met ons die aandmaaltyd, die uitgerekte lekker lang sit, geniet. Gesels en ontspan in Sy teenwoordigheid, is die salf vir ‘n siek en moeë siel. (Openbaring 3:20)
Satan is God se vyand. Hy maak oorlog teen God en die kinders van God. Dit is simbolies van die oorlog in die hemel, toe ‘n derde van die engele saam met Lucifer uit die hemel uitgedryf is. (Jesaja 14 en Esegiël 28) Lucifer is beskryf as die môrester, die aanbiddingsleier. Selfs die Farao, in die tyd van Moses, het homself as die môre- en die aandster beskryf. Musiek is steeds vol boosheid, met ‘n agenda om mense weg van God te lei. Terselfdertyd is daar op die oomblik ‘n ontploffing in aanbiddingsmusiek oor die hele wêreld.
Lucifer het as gevolg van trots die bose heerser geword. Ons word ernstig deur Paulus teen trots vermaan. (1 Timoteus 3:6)
Satan het nog toegang tot God, soos wat ons lees in Job 1:6-9 en 2:1-6 en Sagaria 3:1,2. Satan beteken teenstaander. Balaam (Numeri 22) word ook soos ‘n satan beskryf omdat hy die engel teenstaan. Hy is altyd die aanklaer, teen Job en teen Joshua in Sagaria 3.
Wees bedag op die kras stem van die aanklaer wat so sterk in kontras met die sagte, liefdestem van die Here staan.
In Grieks word die Satan diabolos genoem, iemand wat vals beskuldig. In die Nuwe Testament word Satan die verleier genoem. In Matteus 4, Markus 1 en Lukas 4 word die versoeking van Jesus en Satan se rol daarin beskryf.
Daar is baie beskrywings van Satan se werk in die Bybel. Hy is nie kreatief nie. Sy strategieë is alles neergepen tot ons voordeel. Hy is skelm en agterbaks en weet presies hoe om ons swakhede uit te buit.
Hy versoek Jesus, plant die verraad-plan in Judas se kop (Johannes 13:2,27 en Luaks 22:3), hy veroorsaak Petrus se vernedering (Lukas 22:31), hy oortuig Ananias om te lieg (Handelinge 5), hy is die oorsaak van siekte en pyn (Lukas 13:16, Handelinge 10:38, 2 Korintiërs 12:7), hy verhinder die evangelie deur leuens en misleiding (Matteus 13:9), verdraai die Woord van God (Markus 4:15, Lukas 8:12) en gebruik elke moontlike skelmstreek om God se plan te verydel (Efesiërs 6:11, 2 Korintiërs 2:11).
Jesus leer ons om te bid dat ons van die bose verlos sal word. (Matteus 6:13) Satan is die heerser van die wêreld.
Ek sal nie meer lank met julle kan praat nie, want die owerste van die wêreld is aan die kom. Hy het geen mag oor My nie, (Johannes 14:30) Sien ook Johannes 12:31,16:11.
Satan se geskeidenis is ‘n tragedie. Hy was eens so groot en pragtig en nou is hy verneder en oorwonne. Sy toekoms is sy finale nederlaag. Op die oomblik woed sy strategieë oor die wêreld met oënskynlike sukses. Hy is ‘n slapelose wagter oor alles wat vernietig en verneder.
Die oorwinning van die kerk is sy nederlaag. Ons keuses is sy verwonding. Ons oorwinning is deur die bloed van die Lam. Daar is vir ons geen veroordeling nie. Die aanklaer het geen mag oor ons nie.
Hy sal altyd poog om Chrsitus in Sy kerk aan te val. Christus is Sy kerk. Toe Paulus die kerk so wreed vervolg het, het op die pad na Damaskus die stem hoor vra: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Handelinge 9:4)
Die vrou ontsnap met arendsvlerke.
‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. (Exodus 19:4)
Arendsvlerke was sedert die vroegste tye ‘n pilaar van bemoediging en ondersteuning in die swaarste tye.
Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie. (Deuteronomium 32:11,12)
…maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (Jesaja 40:31)
Die vlerke van ‘n arend word simboliseer in Jesus se uitgestrekte arms aan die kruis. Dit is altyd insluitend.
Die draak is woedend omdat die vrou ontsnap. Hy gebruik die vloed om te verwoes, maar die aarde sluk die rivier in. In God se hand is die natuur ondersteunend en nie vyandig en verwoestend nie. In Klein-Asië is dit heel natuurlik vir ‘n rivier om vir stukke onderaards te vloei en later weer bogrond voort te gaan.
Die belofte aan die kinders van God staan vas. God beheer die vloed. (Psalms 42:7, 124:4, 32:6.)
As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, (Jesaja 43:2)
Prys die Here. Hy regeer!