94. Jou naam is geskryf.

[Openbaring 3]

‘n Mens bestaan in gemeenskap. Dit is nou maar een maal ‘n feit. Ander mense ken jou naam. Sekere herinneringe is aan jou naam gekoppel, miskien ‘n vinnige ontmoeting, of helder indrukke van vriendskap vol liefde en saamlag. Ander verhoudings is meer formeel in ‘n onderrig omgewing soos skool, universiteit, of kerk. Almal voel spesiaal as die uitnodiging na ‘n uitsonderlike geleentheid met jou naam daarop, afgelewer word; wanneer jy weet ‘n gasheer sy gasvryheid en luukse voorbereiding oor jou sal uitgiet. In groter organisasies is dit besonders as iemand jou naam ken tussen duisende. Jou naam maak jou meer as net ‘n nommer of ‘n gesig. Deel van die vernedering van gevangenes is om ‘n nommer vir hulle identifisering te gebruik en hulle van hulle naam te ontneem.

Ouers vergeet nooit ‘n kind se naam nie. Wat ookal kinders sou kies om met hulle lewe te doen, hulle name is in hulle ouers se harte graveer. Afstand, geografies of emosioneel, maak eintlik nie saak nie. ‘n Kind se naam word met onwillekeurige emosie van bekommernis, vreugde, verlange, trots of teleurstelling onthou. Kinders verlaat die ouerhuis en bou hulle eie lewe. Kinders wat ouers verwerp of afskeep bring hartseer en diep verlange.

Die Here sal nooit jou naam vergeet nie. Hy het jou gemaak, lewe gegee en Sy lewe vir jou gegee. Of jy besluit om Sy liefde te verwerp of te aanvaar, Hy ken jou naam. Hoor met insig en vreugde, die Woord van God, wat in die singstem van die profeet Jesaja oor baie eeue weerklink:

Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. (Jesaja 43:6,7)

Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie. (Jesaja 45:4)

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. (Jesaja 43:1)

Ek was ‘n klein dogtertjie toe my ma my vertel het van ‘n reusagtige prag lessenaar waarop ‘n blink gepoleerde leerboek met goue insetsels lê en ‘n massiewe engel met ‘n goue stilus. My verbeelding oor die scriba in die hemel is ‘n grootse beeld wat my met positiewe energie vul. Ek is steeds mal oor boeke en alles wat met papier en skryfbehoeftes te doen het. Hoe kan ek die majesteit en glorie van die Boek van die Lewe opdink? In Maleagi 3:16 word ons wie oor die Here gesels, se name in ‘n gedenkboek opgeskryf. Hy luister en vind vreugde in ons geselsies – selfs op hierdie oomblik. Dink daaroor. Ons gesprek het reaksie in die onsienlike – kosbaar!

Bodemklipvriend, daar waar jy nou sit en hierdie stukkie lees, word ons gesprek in die hemel opgeskryf. Onthou dis net hier by jou, in die Teenwoordigheid van ons onsienlike Pa.

Sardis – die dooie kerk

Die stad Sardis was op ‘n rif geleë met kranse aan al die kante. Toegang tot die stad was beperk tot een pad teen die krans op – nuttig gedurende oorlog. Die rif was egter te klein vir uitbreiding, dus het ‘n deel van die stad in die vallei uitgebrei. Die stad was welvarend en die koning trots. Twee maal in die antieke geskiedenis het die stad onder die arrogansie van die koning vyandige inval sleg hanteer. Gedurende die beleg van die Persiërs het die koning van Sardis na die rif gevlug en die kranse onbewaak gelaat in die vals sekerheid dat dit nie geklim kan word nie. Een Persiese soldaat het ‘n roete gevind en die heel leër daar op gelei. Die stad is oorval. Hierdie hele scenario is herhaal in die tyd van Alexander die Grote, na die val van die Persiese ryk. In die tyd van die Romeine was Sardis bekend vir hulle handel in wol. Die aardbewing wat die streek in 17nC getref het, het groot skade aangerig en die stad het sy luister en energie verloor. Dit het ‘n simbool geword van gebrek aan entoesiamse en ambisie.

Jesus hou die sewe geeste (die volheid van die Heilige Gees) en die sewe sterre (die sewe kerke wat die hele kerk simboliseer) in Sy hand. Jesus is God se volheid van die omvattende salwing van die Heilige Gees volgens Jesaja 11:2. Nie een van die kerke sal uit Sy hand gepluk word nie, ten spyte van hulle tekortkominge. Hy praat met Sy kerk, sodat hulle bewus is van hulle gebreke, hulle sonde kan bely en die weg vir seën en kragtige werke herstel. Niks is onduidelik nie.

Die aanklag van voorgee is ernsitg. Die kerk is die oplossing vir ‘n bose wêreld, maar trots en pretensie maak die kerk kragteloos en ‘n bespotting vir die ongelowiges.

Hoor die roepstem – word wakker. Dit is die woord wat na Sardis uitgaan. Dood is nie onoorkomelik nie. Jesus het die dood oorwin.

Word wakker, word wakker, ruk jou reg, Sion. Trek mooi klere aan, Jerusalem, heilige stad! (Jesaja 52:1)

Die kerk van Jesus is die nuwe Jerusalem. Die oproep om wakker te word is om die doodsheid te verruil vir die kragtige waarheid in Christus. Jesus het in Sy wandel op aarde die fisiese dood as slaap beskryf. In Sy opstanding is die dood oorwin. Dit is moontlik om dood te wees, selfs in hierdie lewe soos Paulus beskryf:

Maar ‘n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. (1 Timoteus 5:6) Net soos die verlore seun se pa in Lukas 15:24 uitroep:

Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

Die brief aan Timoteus waarsku verder teen vormgodsdiens wat die krag verraai. ‘n Dooie kerk is ‘n kragtelose kerk.

… mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. (2 Timoteus 3:5, OAB)

Ons is geroep om die liefdesoplossing vir die wêreld te wees. Ons moet ons versterk in die kragtige waarheid van die Woord.

Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. (Romeine 6:13)

Die gevolg van sonde is die dood. Ons selfbeheersing sterf, as ons nie slegte gewoontes kan breek nie. Ons gevoelens sterf, wanneer ons gewete afstomp en skoonheid en goedheid sterf as begeerte verval in wellus en vulgêre optrede.

Hoewel Sardis nie formeel aangeprys word nie, word die waardige oorblyfsel, wie se klere nie besoedel is nie, spesiaal genoem. God sal altyd die getroue individue beskerm, hoe korrup of boos die kerk ookal is. Hy ken jou naam!

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! (1 Korintiërs 16:13)

 Die remedie vir doodsheid is die Kruis en die Woord.

Dit is hoe ons vals leerstelling sal herken. Die vyand is veral aktief binne-in die kerk en sal alles doen om die waarheid te verdraai.

Die belofte is groots – in die ewige glorie van Jesus, aangetrek vir die huweliksfees, word ons name in die Boek van die Lewe wat deur Jesus self in die Teenwoordigheid van die Vader en die engele in die Troonkamer aangekondig . Die Boek of boeke van die hemel word dikwels in Openbaring genoem. Die Afrikaanse vertalings praat van die boek van die lewe of die gedenkboek van Maleagi. Die Engelse vertalings praat van “The Lamb’s Book of Life” so asof dit Jesus se eie boek is.

Ander plekke in die Bybel word ook van God se boeke gepraat. Moses praat van die boek wat God skryf – Exodus 32:32.

Die boeke in God se teenwoordigheid word in Psalm 69:28, Daniël 12:1, Maleagi 3:16, Lukas 10:20 en Filippense 4:3, genoem.

In die eerste kerk het die mense wit klere aangetrek nadat hulle gedoop is om feestelikheid en reinheid te simboliseer. Jesus trek self vir ons die kleed van geregtigheid aan.

I will greatly rejoice in the Lord, My soul shall be joyful in my God; For He has clothed me with the garments of salvation, He has covered me with the robe of righteousness, as a bridegroom decks himself with ornaments, and as a bride adorns herself with her jewels. Isaiah 61:10.

Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie toedrag van sake is nie vir eendag in die toekoms nie. Dit is die Woord van die Here wat nou die kerk aanspreek. Ons name word nou in die teenwoordigheid van ons Vader aangekondig. Dit is ‘n kragtige besef wat ons alledaagse lewe en denke grondiglik deurvloei. Ons is geroep om aan die feestafel in die wildernis van boosheid en gebrokenheid om ons, aan te sit en die luuksheid van ons Gasheer te geniet. (Psalm 23)

Philadelphia – die getroue kerk

Dis die grootste kompliment om te kry. In Jesus se eie woorde:

His master replied, ‘Well done, good and faithful servant! You have been faithful with a few things; I will put you in charge of many things. Come and share your master’s happiness!’ (Matthew 25:21,NIV)

Die jongste van al die stede het ‘n naam gehad wat van die Griekse woord vir broederlike liefde afgelei is. Die stad is aangelê met die uitsluitlike doel om Griekse kultuur, taal en filosofie vredevol te versprei. Dit was so opgestel dat die evangelie van Jesus maklik daar verkondig kon word.

Die stad was op die rand van ‘n vulkaniese plato met baie vrugbare grond, in besonder vir wingerde. Die stad was bekend vir goeie wyn.

Die aardbewing van 17nC in die streek het Philadelphia ‘n harde hou toegedien. Die stad het vir jare daarna nog naskokke ervaar waarin geboue gekraak en selfs verkrummel het. Meeste inwoners het vol vrees buite die stad gewoon en die wat binne gewoon het, moes dikwels vlug. Hulle kon werklik die belofte van ‘n pilaar in die Tempel van God, waarvan hulle nie sal uitgaan nie, waardeer. (Openbaring 3:12, OAB)

Die stad was ook bekend met nuwe name. Na die aarbewing het Tiberius die stad Neocaesarea (nuwe Caesar-stad) genoem en die volgende keiser Vespasianus, het die stad sy familienaam, Flavius, gegee. Later is die naam Philadelphia herstel.

Die stad het deur die eeue vele aanslae weerstaan en oorleef. Dit was lank ‘n vrye Griekse stad en die laaste vesting van die Asiese Christendom. In die 14e eeu het Islam die stad oorval, maar tot vandag is daar ‘n oorblyfsel Christene met ‘n biskop wat hulle bedien.

[In die moderne tyd is Smirna Izmir en Philadelphia Alasehir in Turkye. Al die ander stede wat in hierdie twee hoofstukke van Openbaring genoem word, is net ruïnes.]

Jesus word beskryf as heilig, wat anders of apart beteken, ‘n bevestiging van die beskrywing in Jesaja 6:3, 40:25 en 43:15. Jesus word bekryf as waar. Daar is twee woorde in Grieks vir waar: Alethes – dui op die kontras tussen waar en vals en alethinos, wat werklik teenoor onwerklik beskryf. Christus word as ‘n werklikheid verklaar.

Die sleutel van Dawid dui op gesag om in die nuwe Jerusalem oop te stel. (Jesaja 22:22) Jesus is die deur.

Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. (Johannes 10:9, OAB)

Jesus is die toegang tot die Vader. Niemand kan die deur sluit nie. Deur Jesus het die kerk toegang. Die kerk word aangeprys vir hulle getrouheid in moeilike omstandighede. Moeilikheid is dikwels die geleentheid waar ons volharding en toewyding getoets word. (Hebreërs 10:36-38)

Christus wat gou kom dui op Sy aktiewe teenwoordigheid in ons moeilike omstandighede. Dit is dan wanneer ons die volheid van Sy reddende krag ervaar. Dit dui nie op die wederkoms nie. In die gelykenis van die tien maagde word die koms van die Bruidegom verduidelik as die geleentheid waar ‘n mens die karakter van Jesus self leer ken.

Slegs met God se wysheid en onderskeiding kan ons die vals leer in die kerk onderskei, diegene wat behoort aan die sinagoge van Satan. Die waarskuwing is duidelik oor die valsheid BINNE die kerk. Dit is waar Satan aktief is om leuens en aanstoot te saai.

Philiadelphia word glad nie veroordeel nie, slegs gewaarsku en getroos.

Die uitdaging is om te volhard om die belofte te verkry en nie die kroon van oorwinning te verloor nie.

‘n Lang lys beloftes word gemaak (3:12):

Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

‘n Pilaar dui op eer en waardigheid wat veiligheid en stabiliteit bring. God se naam is ons kenmerk, soos ‘n brandmerk wat nooit uitgewis kan word nie, van liefde, eer en oorwinning. Die voorregte van die hemel word aan ons toegeken op grond van die naam van God.

“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” (Numeri 6:27)

Die omtrek van die stad moet nege kilometer wees, en sy naam moet van vandag af wees: Die Here is daar. (Esegiël 48:35)

Dit is hemel – daar waar die Here is. Hoe sal ons getrouheid gemeet word? Om te volhard tot die einde.

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. (2 Timoteus 4:7)

Hou goeie moed, Bodemklipvriende. Onthou die vervolging is skerp. Ek is weer opnuut blootgestel aan mense wat geloof afmaak as kinderstories en spottend my vertroue op my geliefde Jesus as feëverhaaltjies bestempel. Dit is veral in Afrikanergeledere hartseer hoe aanstoot teen die kerk en teen God self, die arrogansie van ongeloof aanblaas. Meer as ooit is dit vir my belangrik om my geloof te behou en my getuienis te leef.

Saam met die Gaither Vocal Band kan ek sing:

I know how to say thank you, I know a blessing when I see one.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s