143. Tabernakels, Tempels, Katedrale en Kerke.

[Johannes 2]

Aanbidding is ‘n kenmerk van lewe op aarde. Dink daaraan. Oor die hele wêreld, dwarsdeur die geskiedenis, staan plekke van aanbidding sentraal in die kultuur en geskiedenis van elke volk op aarde. Sedert die antieke tye, is die mees buitengewone bouwerk en selfs sekere natuurwonders aan gode of hoër wesens toegewy.

Die woestynvolk met hulle opvou-weergawe vir ‘n aanbiddingsplek was nie anders nie. Uitgelei onder die son-aanbidders van Egipte, waar verstommende argitektoniese projekte tot eer van hulle gode aangepak is, het God se volk in die woestyn rondgedwaal sonder enigiets om hulle hernieude geloof in die wonderwerk-God YHWH (Yaveh) van hulle geloofsvoorvaders, Abraham, Isak en Jakob te anker nie.

So ‘n ent in hulle woestynwandelinge, vind ons die beskrywing en voorskrifte vir die Tabernakel, ‘n heerlike studie op sy eie. Moses beskryf noukeurig aan die volk wat God bepaal. Heilige Gees-geïnspireerde vakmanne en vroue bou en versier die Verbondsark wat die teenwoordigheid van die Allerhoogste God simboliseer. ‘n Dik-geweefde, geborduurde linnegordyn skei die Ark van die deel waar die Toonbrode (simbool van die Woord van God), die Lampstaander (simbolies van die Lig wat die Woord van God verlig en toegankllik maak) en die goue bak met wierook (simbool van aanbidding) staan. In die voorhof is die brandofferaltaar waar onskuldige bloed ons van sonde reinig en die bronsbak met water wat ons doop simboliseer. Dit is die gevestigde patroon van aanbidding oor al die eeue heen.

Ek is altyd so aangemoedig met die skrif wat die kuns en vaardigheid van die vakmanne wat aan die Tabernakel gewerk het, as ‘n direkte gawe van God beskryf.

Die Here het hom toegerus met sy Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. Die Here het vir hom en vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, die begaafdheid gegee om ander as vakmanne op te lei. Die Here het aan hulle die vaardigheid gegee om al die werk van ‘n vakman te verrig: om te ontwerp, om blou, pers en bloedrooi wolstof en linne te borduur, en om te weef. Hierdie manne kan enige werk doen en ontwerpe maak.  (Exodus 35:31-35)

Gevestig in die Beloofde Land skryf Dawid ‘n paar eeue later hoe graag hy ‘n Tempel wil bou, ‘n permanente struktuur om die wonder-God van Israel te aanbid. Sy seun, Salomo, bou ‘n Tempel wat die hoogtepunt van die Hebreeuse beskawing in antieke tye oorheers en die respek en bewondering van buurnasies afdwing. Dit bly die sentrale plek van aanbidding vir 400 jaar. Die afvalligheid van Israel het tot gevolg dat die Assiriërs hulle in ballingskap wegvoer om nooit weer terug te keer nie. Ongeveer 200 jaar later word Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig en die mense van Juda in ballingskap weggevoer.

Sewentig jaar na die ballingskap van Juda begin het, word die terugtog aangepak onder leierskap van Ezra en Nehemiah en in groot verwondering oor God se mag en leiding, word die Tempel en die muur van Jerusalem herstel. Die wonderwerke en stryd om die taak te voltooi word noukeurig opgeteken,

Onder Romeinse oorheersing, eeue later, werk die Joodse koning Herodus die Grote, dekades lank om die Tempel tot sy vorige glorie te herstel. Hy is bekend vir sy grootse, argitektoniese projekte oral in Judea in daardie tyd. Die Tempel is die trots en vreugde van Jerusalem en die sentrum van Joodse kultuur en godsdiens, gebou op die patroon van die Woestyntabernakel en die Tempel van Salomo, met ‘n paar byvoegings, soos die voorhof van die Vroue en die voorhof van die Heidene, wat nooit in die oorspronklike plan was nie.

Die Tempel was die trots van die Fariseërs en priesters en duisende pelgrims van oor die wêreld wat graag in Jerusalem se hart wou aanbid. Dit was die sentrum van ‘n Jood se daaglikse lewe en kultuur. Daar was vir hulle geen alternatief nie. As jy ‘n Jood gebore is, was jy onder die Wet van Moses en kon niks anders kies nie. Daaglikse gebed, offers, die Sabbat en die Feeste het die ritme van jou lewe bepaal. Niks anders was belangrik.

Jesus se optrede by die Tempel toe Hy die geldwisselaars daar uitgejaag het, het onmiddellike reaksie by die Joodse leiers uitgelok.

Hulle reaksie word in Johannes 2:17-25 bespreek.

Jesus se dissipels het die woorde van Psalm 69:9 onthou. Die Psalm vertel van die passie van die Messias vir die huis van God en beskryf dit so sterk soos jaloesie oor die ware aanwending van aanbidding in die Tempel. In hulle gedagtes is Jesus se optrede in lyn met die Messias.

Die reaksie van die Jode is verstaanbaar. Hulle wou Jesus se geloofwaardigheid met ‘n teken bevestig. Hulle het geweet dat die Messias tekens en wonders sou doen. Jesus moes Homself bewys deur iets bonatuurlik te doen.

Jesus se antwoord was ‘n groot probleem. Johannes skryf met die perspektief van sewentig jaar na die gebeure.

Die woorde waarmee Jesus hulle vrae antwoord, is later in Sy verhoor teen Hom gebruik. Hulle het Hom aangekla en gesê:

 “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” (Matteus 26:61)

Jesus het nooit gesê dat Hy die Tempelgebou sal afbreek en opbou nie. Hy het geweet dat die einde van Tempelaanbidding naby was. Hy het aan die Samaritaanse vrou gesê dat aanbidding in gees en waarheid nie meer plekgebonde sou wees nie.

Tempelaanbidding het nie mense na God toe gelei nie. Dit moes eintlik. Dit het heeltemal irrelevant geraak. Jesus wou die ou manier vervang met iets waarvan hulle nog nooit gehoor het nie.

God maak nuut, altyd beter as tevore. Dit is die wonderwerk-beginsel van herstel. Hy maak iets wat jy nie in jou wildste drome kan opdink nie. Kyk uit vir die nuwe. (Jesaja 42:9; 43:19)

Jesus het gepraat van ‘n Tempel wat nie deur mense hande gebou is nie. Sy koms het die einde van mensgemaakte Tempels beteken. Sy koms sou die nuwe bring, Gees-aanbidding sonder geboue en sonder dieroffers. (Markus 14:58)

Die Heilige Gees sou die gelowige toerus met salgheid en krag om met die waardigheid van die Kruis en deur die reinheid van die Bloed in die Teenwoordigheid van die Almatige in te kom.

In 19vC begin Herodus die bouwerk aan die Tempel in Jerusalem om die Jode onder Romeinse heerskappy gelukkig te hou. In 64nC is die bouwerk eers klaar. Dit het 46 jaar geneem om te bou. ‘n Skamele ses jaar daarna, in 70 nC vernietig die Romeinse weermag onder leiding van Vespasianus die Tempel sodat net die klaagmuur bly staan.

Met hierdie kennis as agtergrond is Jesus se stelling skokkend. Het Hy regtige bedoel dat die wonder en luuksheid van al hulle moeite tot niks sal kom nie? Al hierdie geld wat spandeer word, was gemors en irrelevant in God se plan – hoe dan nou?

Jesus roep die mense in diskussie oor Sy stelling. Hy stel die figuurlike tenoor die letterlike, die fisiese in kontras met die geestelike.

Verder nog, Sy stelling gaan eintlik oor die Opstanding. All mense, waarookal, sou toegang tot die opgestane Christus hê. Die alom-teenwoordige God sou aanbid word tot aan die eindes van die aarde. Die ware diepte van Sy stelling sou eers na die Opstanding waarlik verstaan word.

Die skrif wat hulle geglo het is dat hulle van die dood gered wou word. Die dood was ‘n vreesaanjaende misterie. Die Psalmis sing duisende jare gelede:

U gee my nie oor aan die dood nie. U laat u troue dienaar nie in die graf kom nie. (Psalm 16:10)

Petrus haal dit aan op Pinksterdag (Handelinge 2:31), Paulus haal dit aan in Antiochië (Handelinge 13:35). Redding uit die dood het die vertroue van die kerk in die opgestane Jesus bevestig.

In die dispensasie van die Heillige Gees hoef ons nie op enige mensgemaakte plek van aanbidding staat te maak nie. Ons aanbid in ons eie Tempel in ons diepste wese as gevolg van die Opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees.

Jesus het baie wonderwerke in Jerusalem gedoen. Baie mense het in Hom geglo, maar tog het Hy Homself nie openlik as die Messias verklaar nie.

Jesus het die mens goed geken. Hy het geweet dat ‘n wonderwerk, hoe groot ookal, gou ou nuus word. In die joernalistiek praat hulle van die “een dag wonder”. Sensasie is sensasioneel vir ‘n baie kort tydjie.

Die mense sal die wonders en tekens volg, maar baie sou nie bereid wees om hulle kruis op te neem nie, hulleself te verloën en die houding van diensbaarheid te leef nie. Oorgawe aan die wil van die Here in alles, sou die ware van die oppervlakkige skei.

Jesus wou nie die populêre stem hê nie. Hy sou hulle aanvaarding ontvang slegs as hulle presies besef het, wat aanvaarding behels. Die menigte sou Hom die Messias verklaar en dan verwag dat Hy hulle oppervlakkige verwagtinge vervul.

Hy het gekom vir soveel meer as wat die mens ooit kon droom.

Johannes gebruik drie woorde vir wonderwerk:

Teras beteken ‘n wonderlike ding. Dit het geen morele inhoud nie, eenvoudig ‘n wonder. Die Nuwe Testament gebruik nooit hierdie woord alleen om ‘n wonderwerk te beskryf nie.

Dunamis beteken krag. Ons woord dinamiet kom daarvandaan. Dit wys op buitengewone krag, effektiewe krag wat deur almal erken word.

Semeion beteken ‘n teken. Dit is die woord wat Johannes gebruik. Die daad vertel van die man, openbaar sy karakter en dien die doel om die persoon wat optree beter te ken en te verstaan.

Wonderwerke het aan die mens die aard van God getoon.

Jesus wys wie God is. Hy maak die siekes gesond, Hy troos die armes en Hy voed die wat honger ly.

Sy wonderwerke was die teken van God se liefde vir die mens.

142. In die hitte van die stryd – ‘n korrupte kerk.

[Hoofstuk 2]

In die tweede hoofstuk van Johannes, net na die vreugdevolle wonderwerk van die verandering van water in wyn, word die toneel voorberei vir ‘n vuurwarm, geweldadige konfrontasie tussen Jesus en die Tempelowerhede. (Johannes 2:12-16)

Dit is Paasfees in Jerusalem. In Johannes se Evangelie maak Jesus gereelde besoeke aan Jerusalem en die Tempel. Jesus het Sy liefde vir Jerusalem in sy weeklaag oor die stad uitgespreek in Matteus 23:37:

“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!

Elke man binne ‘n 15 myl radius om Jerusalem moes die Paasfees bywoon – een van drie uit sewe verpligte feeste om in Jerusalem te vier. Die Romeinse sensus van 4nC het berig dat 250 000 lammers tydens die Paasfees geslag is. Gewoonlik is ‘n lammetjie as offerande deur 10 mense gedeel. Dit stel die getal Jode in Jerusalem oor so ‘n feestyd op rofweg 2,5 miljoen. Geen wonder die Joodse leiers het ‘n verraaier nodig gehad om Jesus te kry, tydens die feestyd toe hulle Hom in hegtenis geneem het.

Die ander Evangelies plaas die Tempelreiniging aan die einde van Sy bediening en beskryf dit as een van die redes vir die woede wat teen Jesus opgevlam het en direk tot Sy inhegtenisname gelei het. Johannes skryf nie kronologies nie.

Volgens die profesieë oor die Messias, sal Hy na die Tempel toe kom. (Maleagi 3:1-4). Johannes wil die waarheid van hierdie profesie beklemtoon. Hy beskryf Jesus as die Een wat deure oopmaak vir almal wat na die Tempel kom met die diep verlange om God te ontmoet. Johannes is nie so bemoeid met die datum nie, eerder die aksie wat in lyn met die beloofde Messias is.

Dit was die begeerte van elke Jood, waar ookal hulle oor die wêreld versprei was, om minstens een Paasfees in Jerusalem te vier. Dit was by verre die mees belangrike fees op die Joodse kalender. Elke Jood oor 19 jaar oud het Tempelbelasting betaal, die ekwivalent van twee dae se loon.

‘n Groot verskeidenheid munte was in Judea in omloop; Roomse en Griekse silwer, munte uit Persië, Tirus en Sidon (antieke Fenicië, hedendaagse Lebanon) en Egipte. Tempelbelasting moes in Galilese sikkels of Tempelsikkels betaal word. Alle ander geldeenhede was vreemd en onrein. Vir die Tempel kon slegs “rein” en aanvaarde munte gebruik word.

Natuurlik het die pelgrims vanoor die wêreld met allerhande munte by die Tempel opgedaag. Die geldwisselaars het hulle munte omgeruil vir dit wat vir die Tempel aanvaarbaar was. As die omruilproses eerlik en reguit plaasgevind het, selfs met kommissie, sou dit goed gewerk het, maar die transaksies was minder eerbaar. Net die kommissie op die omruilproses was minstens een dag se loon.

Die welvaart van die Tempel was verstommend. Die geld het ingestroom. Die priesters en hoë priester het in weelde geleef, hoog geag deur die samelewing. Toe Crassus (‘n Romeinse leeraanvoerder) Jerusalem in 54vC beset, het hy die Tempelskatkis geroof en die ekwivalent van 2,5 miljoen pond sterling gevat sonder om die reserwes heeltemal uit te put.

Die wisselkoers is in die Talmud bepaal. Dit was nie verkeerd om kommissie by te sit nie, maar die winste het gestyg en die armes is in die naam van die Here uitgebuit.

Buiten die geldwisselaars was daar die verkopers van osse, skape en duiwe vir offerandes. ‘n Besoek aan die Tempel het gewoonlik met ‘n offerande van dankbaarheid, aanbidding of belydenis gepaargegaan. Dit was meer gemaklik om die diere daar op die drumpel van die Tempel byderhand te hê. Die Wet van Moses het voorgeskryf dat die dier sonder gebrek moes wees, en daarvoor moes die priester die dier goedkeur. Die Tempelowerhede het spesiale mense aangestel om die inspeksie te doen en vir die inspeksieproses was daar ‘n fooi. Indien die dier buite die Tempelgrense aangekoop is, was afkeuring omtrent gewaarborg. Die diere binne die Tempelgrense was sowat 15 maal duurder, maar wel as waardig en sonder gebrek gewaarborg. Weereens was dit ‘n skaamtelose uitbuiting.

Al hierdie dinge het Jesus in vlammende woede laat optree. Sy aksie was nie impulsief nie; dit was berekend en kalm. Hy het ‘n swepie gevleg en “voorberei” vir die aksie. Sommige kommentatore meen dat Sy gesig vreesaanjaend was. Die woede van die Godheid was daarin te sien. God het nie passief gestaan in die aanskoue van soveel korrupsie en onregverdigheid.

Jesus se woede was heeltemal onselfsugtig. Dit het nie oor Homself gegaan nie. Dit was alles namens die verlore mense wat God gesoek het. Hy het namens die wêreld wat verlang om God te vind opgetree en hoegenaamd nie God se ware karakter van liefde en aanvaarding in die georganiseerde godsdiens van die dag sou kon vind nie. Jesus het Homself nederig en sagmoedig genoem, maar Hy het presies geweet wanneer om sy woede los te laat op dit wat die siel van die mens verwoes.

Sy drastiese stap het rede gehad.

Die Tempel was veronderstel om God se huis te wees waar God in heiligheid en respek aanbid moes word. Aanbidding sonder respek is vreeslik. Formele en ondeurdagte aanbidding erken nie die heiligheid van God nie. Ons kan nooit ooit ons doelstelling met aanbidding vergeet nie. Hier in die voorhowe van die Tempel was argumente oor muntkwaliteit en dierpryse oorverdowend. Is dit waar iemand sy God kon ontmoet? Dit is beter om weg te bly as om die huis van die Here vir jou eie gewin te gebruik!

Paulus se woorde in 1 Korintiërs 11 wanneer hy waarsku oor die onwaardige gebruik van die Nagmaal, ego hier ook. Moet liewer nie deelneem as jy nie met jou hart en siel jou sonde bely en jou weer eens in die Kruis verbly nie. Onthou dit gaan nie oor jou eie waardigheid nie, net jou hart en siel se toewyding.

Jesus wou toon dat dieroffers heeltemal irrelevant is. Vir eeue al het die profete dit verklaar. God stel nie in die bloed van dier belang nie, eerder die gehoorsaamheid van die hart. [Jesaja 1:11-17, Jeremia 7:22, Hosea 5:6, 8:13, Psalms 51:16.]

Vind jy jou vreugde in die diens van jou kerk? Is daar vir jou vergenoegdheid in die geboue en toerusting? Ware aanbidding aan God is ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees. Bring jou vreugde-offer oor die wonderwerke in jou lewe en moenie een van Sy weldade vergeet nie.

Die Tempel moes ‘n plek van gebed gewees het.

Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: “Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees’ nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.” (Markus 11:17. Sien ook Jesaja 56:7)

In die Tempel van Salomo was daar 24/7 aanbidding.

In die tyd van Jesus het die Tempel uit verskeie voorhowe bestaan. Daar was die Voorhof van die Heidene, die Voorhof van die Vroue, dan die Israeliete en dan die priesters. Die geldwisselaars en verkopers was almal in die Voorhof van die Heidene ingedruk. Verder as hierdie punt kon geen heiden gaan nie.

Die Joodse geloof met een God was vir sommige mense in die antieke wêreld baie aantreklik . Die verwarring in die Griekse en Romeinse gemeenskappe met hulle baie gode, was so groot dat mense in groot geestelike onsekerheid kom vra het om deel van die Jodendom te word. Die Jode het hulleself as eksklusief en anders beskou en die proseliete (buitestaanders wat hulle tot die Jodendom bekeer het) net in ‘n baie klein deel van die Tempel toegelaat.

Wat verhinder ware aanbidding in ons kerke vandag? Kan dit wees dat ons eie snobbisme en ekslusiwiteit, gebrek aan liefde, warmte en verwelkoming die atmosfeer in ons kerke so koud maak, dat ‘n heiden onwelkom voel? Wat sien die mense in die voorhowe van ons kerke en in die voorhowe van die Christendom as geheel? Dalk net veroordeling en vooroordeel? Of sien hulle die liefde van ons Vader in ons eie lewens wat hulle omhels as hulle kom met die verwonding van hulle laste?

Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle ‘n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here. (Jeremia 7:11)

Wat van die kerk vandag? Al hierdie woorde is net so van toepassing op ons kerke.

Aanbidding is soos ‘n teleskoop. Ons kan die visie verskerp deur die knoppe aan die kant te draai, om die afstand tussen die oogstuk en die lens te verleng of te verkort. Die verskil in die afstand bring die objek in groter fokus.

Waar vind ons hierdie knoppe in aanbidding? Ons nader tot God met ‘n nederige gees, ‘n gebroke hart en ‘n vasberade bedoeling om Hom te soek. Dit sal die afstand laat verdwyn. As ons ons sonde bely, en Sy vergifnis deur die Kruis aanvaaar, is ons waardig om in die teenwoordigheid van die Almagtige God in te gaan.

Ons hoef nie perfek te wees nie. Ons hoef nie reg te leef nie. Ons nader deur die Bloed van Jesus, wat ons in die rein klere van geregtigheid klee om in die teenwoordigheid van God te wees.

Prys die Here vir die kruis. Ons verwelkom ons “heidene” in ‘n huis van gebed en nie ‘n rowerspelonk nie.

 

 

110. Die vrou regeer die berge.

[Hoofstuk 17]

Ons hoor hard en duidelik van vroue in ons moderne gemeenskap. Dis ook reg so. As ek terugkyk in die geskiedenis kan ek die obsessie met gelykheid goed verstaan. Oor soveel eeue is vroue as tweederangse wesens behandel, mishandel en misbruik en dit het in die vroegste tye begin.

Hoewel die skeppingsverhaal God se hart in die verband met die mensdom deel, het dinge gou onder die invloed van heiden praktyke skeefgeloop. Eva is gemaak as die ander helfte van die mensdom.

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Genesis 1:27)

Die belofte van baie afstammelinge het na Abraham en sy vrou Sarah gekom. Toe hulle besluit om God se plan “aan te help”, is ‘n slawe vrou, Hagar, ingebring om kinders te baar, wat duidelik nooit deel van God se plan was nie. Hy het Sarah vereer met die kind van die belofte. Sarah was Abraham se vrou. Tog het God Ismael geseën, nadat Sarah sy ma verneder en weggejaag het en hom ‘n groot nasie gemaak, wat in vyandskap met sy broer leef volgens die profesie van Genesis 16:9-12.

God het altyd ‘n huwelik, sy instelling, geëer. Dit is duidelik uit die geslagsregister van Jesus waar Batseba se naam nie genoem word nie. Die geslagsregister noem Salomo, seun van Dawid by die vrou van Urija (Matteus 1:6).

Regdeur die Ou Testament is vroue as minderwaardig teenoor mans behandel, met bykans geen regte nie. Ten spyte daarvan is die Bybelse geskiedenis vol van sterk vroue in politieke sowel as geestelike leierskap. Dink maar aan Debora in die tyd van die Rigters en Hulda, die profetes in die tyd van die jong koning Josia. ‘n Nader kykie in Spreuke 31 skilder ‘n duidelike prent van ‘n aktiewe, loopbaangerigte vrou met ‘n man en kinders wat trots op haar is.

Jesus het die status van vroue verander. Hy het uiters liberaal vir Sy tyd opgetree. Die blote feit dat hy met die vrou by die put van Jakob in Samaria gepraat het, was ongehoord en het sekerlik aanleiding gegee tot ‘n reuse skinderveldtog teen Hom en regstreekse veroordeling van die kerkleierskap. In daardie tyd was daar ‘n groep wat genoem is die bloeiende Fariseërs. Hulle was so ingestel op die wet om nie eers na ‘n vrou in die openbaar te kyk nie, dat hulle in mure en pilare vasgeloop het.

Vroue het ‘n belangrike rol in die lewe van Jesus gespeel en ook in die vroeë kerk. Priscilla was een van die gerespekteerde leiers soos in Handelinge 19 beskryf word. Sommige kommentatore is van mening dat sy die skrywer van Hebreërs kon gewees het, en anoniem gebly het, juis as gevolg van die vooroordeel teen vroue in leierskap.

Vandag is die feministiese beweging in die Westerse wêreld aktief. Die aggressiewe stem van die aktiviste is hard besig om vroue te probeer verhef tot die sterkere van die twee geslagte en die man te reduseer tot ‘n patetiese figuur wat geen besluite kan neem sonder ‘n brullende vrou-baas. Kyk maar ‘n bietjie dieper na nuwe TV reekse en flieks. Gelukkig vir hulle, laat vryheid van spraak as demokratiese norm hulle toe om hulle stem te laat hoor. In die midde-Ooste en Afrika, waar vroue blatant en wreed onderduk word, skreeu die afwesigheid van feministiese aktiwisme ten hemele.

Ek wonder soms waarom die vroue-held uitgebeeld word as die rigiede, skellende, geweldadige man wat niemand van hou nie en nie die ware helde, die sterk, nederige man, waarvan die gemeenskap en geskiedenis vol is.

Hier in Openbaring 17 vind ons die wyfie-duiwel (soos my ouma sou sê) van ons ergste nagmerrie. Sy sit op ‘n helderrooi dier (17:3) wat die kleur van ‘n bordeel is. Dit gee die indruk dat sy self ‘n hoer is, wat met haar vroulike lis verly.

Sy sit op baie waters, wat die chaos en verwarring van die aardse volke aandui. Sy is aangetrek in koninklike kleure, aantreklik en magtig om te regeer. Sy is met juwele bedek, goud en pêrels, wat spreek van luuksheid en rykdom. Sy is so aantreklik dat selfs Johannes in verwondering staar (17:6).

Babilon is gebou op die walle van die Eufraatrivier en is die simbool van boosheid en sonde. Die nasies is dronk van haar beker van onsedelikheid, met die veronderstelling dat hulle in hulle beswyming net meer en meer wil hê. Geld, seks en mag regeer die wêreld in soveel manifestasies op soveel vlakke van die samelewing.

Sy regeer in die woestyn wat die moontlikheid van ‘n oes en voorsiening uitsluit en spreek van honger en dors. Haar naam het ‘n verborge betekenis. Sy word aanbid deur ‘n menigte wat nie eers besef hulle aanbid haar nie, en dit ook nooit sal erken nie. Sonde kom in soveel vorme en is dikwels geheim en uniek aan diegene wat daarin betrokke is.

Die mense is verblind deur boosheid (17:8) Dit is noodsaaklik om boosheid te identifiseer en te verwerp, anders kruip sonde stadig en slinks in ons lewe in. Die dier is nie altyd duidelik nie. Ons het die wysheid van die Heilige Gees nodig om te onderskei en sterk te staan. Die engel moes aan Johannes die geheimenis van die vrou se naam openbaar. Sonde lyk nie soos sonde nie.

Die goue beker word in Jeremia 51:7 genoem as ‘n simbool van mag.

Babel was ‘n goue beker in die hand van die Here, ‘n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword.

Die engel openbaar aan Johannes haar naam. (17:5)

Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het ‘n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.”

Rome se prostitute het ‘n versiering op hulle voorkoppe gedra sodat hulle as prostitute herkenbaar sou wees. Vandag word seksslawe dikwels tatoëer met die naam van die slawedrywer. Selfs die vrou van Claudius, een van die keisers, het in die bordele van Rome gewerk. In hierdie aaklige sedelike verval is die Christendom gebore en het die mense bekeer tot sedelike waardes en reinheid in ‘n gemeenskap van konstante beskikbare kitsbevrediging van seksuele drange. Nuwe denke oor reinheid was voorwaar ‘n wonderwerk van die Kruis. Die sekulêre gemeenskap het nog niks verander nie. Vandag se gemeenskap is net so permissief en boos. Die kerk kan net staande bly in die krag van die Kruis.

Die naam van die vrou word as “verborge” beskryf. Die beskrywing is ‘n aanduiding dat haar naam simbolies is.

Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk… (2 Tessalonisense 2:7)

Sy is dronk van die bloed van die gelowiges. Die wrede vervolging van die kerk was die kenmerk van Rome en die konstante genadelose vervolging van die ware gelowiges is in die eeue daarna volgehou.

Die vrou sit op die dier met godslasterlike name en afgodery. Dit gebeur wanneer haar mag as saligheid gesien word. Soveel mense soek redding in geld, mag, seks en offer selfs hulle kinders daarvoor op.

Die dier het sewe koppe en tien horings. Dit dui op volkome mag hier op aarde. Die engel beskryf die dier soos volg:

Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie…

want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees. (Openbaring 17:8)

 In die oorwinning van Jesus aan die kruis is die dier wat in die eeue voor Christus aktief was, verslaan of soos die engel sê: , was eers en is nie nou nie. Maar hoewel hy nie meer is nie, toon hy tekens van lewe en sal opstaan uit die helse put (onderaardse diepte) om die mense weer te verlei en sy verderf op aarde voort te sit. Sy herstel is egter ‘n mars van die dood. Sy uiteinde is volkome nederlaag sonder enige hoop op herstel. (17:8)

Die sewe berge soos genoem in 17:9 is die “berge” van die gemeenskap wat ons kultuur bepaal en word deur sommige skrywers so benoem: Godsdiens, Familie, die Media, die Kunste, Besigheid, Onderwys en Regering.

Vir ons, Bodemklipvriend, die kerk van die lewende God sal die berg sing en dans. Dis ons verlossing van die vrou.

Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. (Jesaja 55:12)

Die tien konings (17:12) kan Rome en die daaropvolgende magte wees. Sewe is die volkome getal vir die geweldadige vervolging van die kerk. Die een uur wat genoem word, kan dui op die burgeroorlog in Rome van Junie 68nC tot Desember 69nC.

Sonde is dikwels as stede gesimboliseer soos Nineveh in Nahum 3:4, Tirus in Jesaja 23:16-17 en selfs Jerusalem in Jesaja 1:21 en Esegiël 16:15. Hosea se hele lewe was ‘n metafoor van die ontrouheid van ‘n losbandige vrou as simbool van God se volk en Sy troue liefde om haar terug te wen. Hosea moes elke keer sy vrou weer van die straat af gaan haal en het selfs kindes by haar gehad.

Die woestyn is dikwels ‘n plek van profesie en visioen soos vir Moses, Elia, Johannes die Doper en Jesus. Dit veronderstel afstand van die stad en die sonde met stilte vir afsondering om die stem van God te hoor. Wanneer ons onsself in die woestyn bevind onder die heerskappy van die hoer, is dit daar waar God riviere en paaie in die wildernis maak. Ons voorsiening word uitgedek op die tafel in die vallei van doodskaduwee in die aangesig van ons vyande (Psalm 23).

Die dier se uiteinde is finale afrekening (17:11), Hy is aan die verloorkant, al lyk dit nie so nie. Ons hoop is op die Skepper en die verlossing wat Hy bewerkstellig.

Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. (Romeine 8:19)

 Die Lam sal oorwing en die wat aan die Lam behoort saam met Hom. Die kerk sal staan in die oorwinning deur die Kruis en die Kroon van Jesus (17:14)

Die hoer sal deur vuur vergaan. Dit is die straf vir die dogters van priesters wat aan seksuele sonde skuldig was (Levitikus 21:9). Haar eie dienaars sal teen haar draai. Daar is geen lojaliteit in boosheid nie.

Die bepalings en doelstellings van die Here is volkome oorwinning. God werk altyd tot voordeel van die mensdom. (Romeine 8:28 en Nehemia 13:2) Hierdie skrif is pilare van bemoediging om in swaar tye staande te bly.

Die laaste versies van hierdie hoofstuk (7:14-18) is eintlik ‘n opsomming van die boodskap van Openbaring.

God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het. (Openbaring 17:17)

94. Jou naam is geskryf.

[Openbaring 3]

‘n Mens bestaan in gemeenskap. Dit is nou maar een maal ‘n feit. Ander mense ken jou naam. Sekere herinneringe is aan jou naam gekoppel, miskien ‘n vinnige ontmoeting, of helder indrukke van vriendskap vol liefde en saamlag. Ander verhoudings is meer formeel in ‘n onderrig omgewing soos skool, universiteit, of kerk. Almal voel spesiaal as die uitnodiging na ‘n uitsonderlike geleentheid met jou naam daarop, afgelewer word; wanneer jy weet ‘n gasheer sy gasvryheid en luukse voorbereiding oor jou sal uitgiet. In groter organisasies is dit besonders as iemand jou naam ken tussen duisende. Jou naam maak jou meer as net ‘n nommer of ‘n gesig. Deel van die vernedering van gevangenes is om ‘n nommer vir hulle identifisering te gebruik en hulle van hulle naam te ontneem.

Ouers vergeet nooit ‘n kind se naam nie. Wat ookal kinders sou kies om met hulle lewe te doen, hulle name is in hulle ouers se harte graveer. Afstand, geografies of emosioneel, maak eintlik nie saak nie. ‘n Kind se naam word met onwillekeurige emosie van bekommernis, vreugde, verlange, trots of teleurstelling onthou. Kinders verlaat die ouerhuis en bou hulle eie lewe. Kinders wat ouers verwerp of afskeep bring hartseer en diep verlange.

Die Here sal nooit jou naam vergeet nie. Hy het jou gemaak, lewe gegee en Sy lewe vir jou gegee. Of jy besluit om Sy liefde te verwerp of te aanvaar, Hy ken jou naam. Hoor met insig en vreugde, die Woord van God, wat in die singstem van die profeet Jesaja oor baie eeue weerklink:

Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. (Jesaja 43:6,7)

Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou ‘n eretitel hoewel jy My nie ken nie. (Jesaja 45:4)

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. (Jesaja 43:1)

Ek was ‘n klein dogtertjie toe my ma my vertel het van ‘n reusagtige prag lessenaar waarop ‘n blink gepoleerde leerboek met goue insetsels lê en ‘n massiewe engel met ‘n goue stilus. My verbeelding oor die scriba in die hemel is ‘n grootse beeld wat my met positiewe energie vul. Ek is steeds mal oor boeke en alles wat met papier en skryfbehoeftes te doen het. Hoe kan ek die majesteit en glorie van die Boek van die Lewe opdink? In Maleagi 3:16 word ons wie oor die Here gesels, se name in ‘n gedenkboek opgeskryf. Hy luister en vind vreugde in ons geselsies – selfs op hierdie oomblik. Dink daaroor. Ons gesprek het reaksie in die onsienlike – kosbaar!

Bodemklipvriend, daar waar jy nou sit en hierdie stukkie lees, word ons gesprek in die hemel opgeskryf. Onthou dis net hier by jou, in die Teenwoordigheid van ons onsienlike Pa.

Sardis – die dooie kerk

Die stad Sardis was op ‘n rif geleë met kranse aan al die kante. Toegang tot die stad was beperk tot een pad teen die krans op – nuttig gedurende oorlog. Die rif was egter te klein vir uitbreiding, dus het ‘n deel van die stad in die vallei uitgebrei. Die stad was welvarend en die koning trots. Twee maal in die antieke geskiedenis het die stad onder die arrogansie van die koning vyandige inval sleg hanteer. Gedurende die beleg van die Persiërs het die koning van Sardis na die rif gevlug en die kranse onbewaak gelaat in die vals sekerheid dat dit nie geklim kan word nie. Een Persiese soldaat het ‘n roete gevind en die heel leër daar op gelei. Die stad is oorval. Hierdie hele scenario is herhaal in die tyd van Alexander die Grote, na die val van die Persiese ryk. In die tyd van die Romeine was Sardis bekend vir hulle handel in wol. Die aardbewing wat die streek in 17nC getref het, het groot skade aangerig en die stad het sy luister en energie verloor. Dit het ‘n simbool geword van gebrek aan entoesiamse en ambisie.

Jesus hou die sewe geeste (die volheid van die Heilige Gees) en die sewe sterre (die sewe kerke wat die hele kerk simboliseer) in Sy hand. Jesus is God se volheid van die omvattende salwing van die Heilige Gees volgens Jesaja 11:2. Nie een van die kerke sal uit Sy hand gepluk word nie, ten spyte van hulle tekortkominge. Hy praat met Sy kerk, sodat hulle bewus is van hulle gebreke, hulle sonde kan bely en die weg vir seën en kragtige werke herstel. Niks is onduidelik nie.

Die aanklag van voorgee is ernsitg. Die kerk is die oplossing vir ‘n bose wêreld, maar trots en pretensie maak die kerk kragteloos en ‘n bespotting vir die ongelowiges.

Hoor die roepstem – word wakker. Dit is die woord wat na Sardis uitgaan. Dood is nie onoorkomelik nie. Jesus het die dood oorwin.

Word wakker, word wakker, ruk jou reg, Sion. Trek mooi klere aan, Jerusalem, heilige stad! (Jesaja 52:1)

Die kerk van Jesus is die nuwe Jerusalem. Die oproep om wakker te word is om die doodsheid te verruil vir die kragtige waarheid in Christus. Jesus het in Sy wandel op aarde die fisiese dood as slaap beskryf. In Sy opstanding is die dood oorwin. Dit is moontlik om dood te wees, selfs in hierdie lewe soos Paulus beskryf:

Maar ‘n weduwee wat uitspattig lewe, is dood, al leef sy nog. (1 Timoteus 5:6) Net soos die verlore seun se pa in Lukas 15:24 uitroep:

Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

Die brief aan Timoteus waarsku verder teen vormgodsdiens wat die krag verraai. ‘n Dooie kerk is ‘n kragtelose kerk.

… mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. (2 Timoteus 3:5, OAB)

Ons is geroep om die liefdesoplossing vir die wêreld te wees. Ons moet ons versterk in die kragtige waarheid van die Woord.

Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. (Romeine 6:13)

Die gevolg van sonde is die dood. Ons selfbeheersing sterf, as ons nie slegte gewoontes kan breek nie. Ons gevoelens sterf, wanneer ons gewete afstomp en skoonheid en goedheid sterf as begeerte verval in wellus en vulgêre optrede.

Hoewel Sardis nie formeel aangeprys word nie, word die waardige oorblyfsel, wie se klere nie besoedel is nie, spesiaal genoem. God sal altyd die getroue individue beskerm, hoe korrup of boos die kerk ookal is. Hy ken jou naam!

Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! (1 Korintiërs 16:13)

 Die remedie vir doodsheid is die Kruis en die Woord.

Dit is hoe ons vals leerstelling sal herken. Die vyand is veral aktief binne-in die kerk en sal alles doen om die waarheid te verdraai.

Die belofte is groots – in die ewige glorie van Jesus, aangetrek vir die huweliksfees, word ons name in die Boek van die Lewe wat deur Jesus self in die Teenwoordigheid van die Vader en die engele in die Troonkamer aangekondig . Die Boek of boeke van die hemel word dikwels in Openbaring genoem. Die Afrikaanse vertalings praat van die boek van die lewe of die gedenkboek van Maleagi. Die Engelse vertalings praat van “The Lamb’s Book of Life” so asof dit Jesus se eie boek is.

Ander plekke in die Bybel word ook van God se boeke gepraat. Moses praat van die boek wat God skryf – Exodus 32:32.

Die boeke in God se teenwoordigheid word in Psalm 69:28, Daniël 12:1, Maleagi 3:16, Lukas 10:20 en Filippense 4:3, genoem.

In die eerste kerk het die mense wit klere aangetrek nadat hulle gedoop is om feestelikheid en reinheid te simboliseer. Jesus trek self vir ons die kleed van geregtigheid aan.

I will greatly rejoice in the Lord, My soul shall be joyful in my God; For He has clothed me with the garments of salvation, He has covered me with the robe of righteousness, as a bridegroom decks himself with ornaments, and as a bride adorns herself with her jewels. Isaiah 61:10.

Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie toedrag van sake is nie vir eendag in die toekoms nie. Dit is die Woord van die Here wat nou die kerk aanspreek. Ons name word nou in die teenwoordigheid van ons Vader aangekondig. Dit is ‘n kragtige besef wat ons alledaagse lewe en denke grondiglik deurvloei. Ons is geroep om aan die feestafel in die wildernis van boosheid en gebrokenheid om ons, aan te sit en die luuksheid van ons Gasheer te geniet. (Psalm 23)

Philadelphia – die getroue kerk

Dis die grootste kompliment om te kry. In Jesus se eie woorde:

His master replied, ‘Well done, good and faithful servant! You have been faithful with a few things; I will put you in charge of many things. Come and share your master’s happiness!’ (Matthew 25:21,NIV)

Die jongste van al die stede het ‘n naam gehad wat van die Griekse woord vir broederlike liefde afgelei is. Die stad is aangelê met die uitsluitlike doel om Griekse kultuur, taal en filosofie vredevol te versprei. Dit was so opgestel dat die evangelie van Jesus maklik daar verkondig kon word.

Die stad was op die rand van ‘n vulkaniese plato met baie vrugbare grond, in besonder vir wingerde. Die stad was bekend vir goeie wyn.

Die aardbewing van 17nC in die streek het Philadelphia ‘n harde hou toegedien. Die stad het vir jare daarna nog naskokke ervaar waarin geboue gekraak en selfs verkrummel het. Meeste inwoners het vol vrees buite die stad gewoon en die wat binne gewoon het, moes dikwels vlug. Hulle kon werklik die belofte van ‘n pilaar in die Tempel van God, waarvan hulle nie sal uitgaan nie, waardeer. (Openbaring 3:12, OAB)

Die stad was ook bekend met nuwe name. Na die aarbewing het Tiberius die stad Neocaesarea (nuwe Caesar-stad) genoem en die volgende keiser Vespasianus, het die stad sy familienaam, Flavius, gegee. Later is die naam Philadelphia herstel.

Die stad het deur die eeue vele aanslae weerstaan en oorleef. Dit was lank ‘n vrye Griekse stad en die laaste vesting van die Asiese Christendom. In die 14e eeu het Islam die stad oorval, maar tot vandag is daar ‘n oorblyfsel Christene met ‘n biskop wat hulle bedien.

[In die moderne tyd is Smirna Izmir en Philadelphia Alasehir in Turkye. Al die ander stede wat in hierdie twee hoofstukke van Openbaring genoem word, is net ruïnes.]

Jesus word beskryf as heilig, wat anders of apart beteken, ‘n bevestiging van die beskrywing in Jesaja 6:3, 40:25 en 43:15. Jesus word bekryf as waar. Daar is twee woorde in Grieks vir waar: Alethes – dui op die kontras tussen waar en vals en alethinos, wat werklik teenoor onwerklik beskryf. Christus word as ‘n werklikheid verklaar.

Die sleutel van Dawid dui op gesag om in die nuwe Jerusalem oop te stel. (Jesaja 22:22) Jesus is die deur.

Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. (Johannes 10:9, OAB)

Jesus is die toegang tot die Vader. Niemand kan die deur sluit nie. Deur Jesus het die kerk toegang. Die kerk word aangeprys vir hulle getrouheid in moeilike omstandighede. Moeilikheid is dikwels die geleentheid waar ons volharding en toewyding getoets word. (Hebreërs 10:36-38)

Christus wat gou kom dui op Sy aktiewe teenwoordigheid in ons moeilike omstandighede. Dit is dan wanneer ons die volheid van Sy reddende krag ervaar. Dit dui nie op die wederkoms nie. In die gelykenis van die tien maagde word die koms van die Bruidegom verduidelik as die geleentheid waar ‘n mens die karakter van Jesus self leer ken.

Slegs met God se wysheid en onderskeiding kan ons die vals leer in die kerk onderskei, diegene wat behoort aan die sinagoge van Satan. Die waarskuwing is duidelik oor die valsheid BINNE die kerk. Dit is waar Satan aktief is om leuens en aanstoot te saai.

Philiadelphia word glad nie veroordeel nie, slegs gewaarsku en getroos.

Die uitdaging is om te volhard om die belofte te verkry en nie die kroon van oorwinning te verloor nie.

‘n Lang lys beloftes word gemaak (3:12):

Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

‘n Pilaar dui op eer en waardigheid wat veiligheid en stabiliteit bring. God se naam is ons kenmerk, soos ‘n brandmerk wat nooit uitgewis kan word nie, van liefde, eer en oorwinning. Die voorregte van die hemel word aan ons toegeken op grond van die naam van God.

“So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.” (Numeri 6:27)

Die omtrek van die stad moet nege kilometer wees, en sy naam moet van vandag af wees: Die Here is daar. (Esegiël 48:35)

Dit is hemel – daar waar die Here is. Hoe sal ons getrouheid gemeet word? Om te volhard tot die einde.

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. (2 Timoteus 4:7)

Hou goeie moed, Bodemklipvriende. Onthou die vervolging is skerp. Ek is weer opnuut blootgestel aan mense wat geloof afmaak as kinderstories en spottend my vertroue op my geliefde Jesus as feëverhaaltjies bestempel. Dit is veral in Afrikanergeledere hartseer hoe aanstoot teen die kerk en teen God self, die arrogansie van ongeloof aanblaas. Meer as ooit is dit vir my belangrik om my geloof te behou en my getuienis te leef.

Saam met die Gaither Vocal Band kan ek sing:

I know how to say thank you, I know a blessing when I see one.

93. Hoor jy die stem van die eeue?

[Openbaring 2]

Al die beelde, metafore en simbole, saam met monsters, ongediertes, getalle en engele met seëls, trompette en bakke kan oorweldigend wees, sodat ons dalk verlore raak in die poging om sin te maak uit die profesie. Word stil en hoor die refrein van die heel belangrikste woorde in die ganse Skrif:

“Are your ears awake? Listen. Listen to the Wind Words, the Spirit blowing through the churches. (Openbaring 2:7, The Message)

Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê, in gewone Afrikaans. Dit is die doel van hierdie studie. Ons kan Openbaring meerdere kere aandurf – ek hoop so – maar vir nou: God is gereed om te praat, om in te gryp in jou lewe en omstandighede op hierdie punt in tyd, sodat Hy jou kan optel en saam met Hom laat loop. Jesus is die sleutel tot hierdie Koningslewe.

Bid saam met my: Here Jesus, dankie vir die Kruis. Dankie vir die majesteit en glorie waarna ons genooi word in U. Dankie vir die eer om die Teenwoordigheid van ons Vader te ervaar en dankie vir die Wind, die Asem van God, die Heilige Gees, wat U woord in ons hart inblaas en -brand vir ‘n dieper en voller begrip wat geloof bou en vrees verban. Ons onderwerp aan U gesag sodat ons ‘n waardige lampstaander vir U lig in die wêreld kan wees. Ons sal oorwin deur die Bloed van die Lam en die woord van ons getuienis.

…want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Joh.5:4-5)

Pergamum(os) – bietjie water by die wyn – kompromie in die kerk.

Die derde kerk wat Johannes aanspreek se naam is Pergamum (Latyn) en Pergamos (Grieks). Die was die grootste stad in Klein-Asië en die streek se hoofstad op daardie stadium vir meer as 400 jaar. Die stad het gespog met die mees indrukwekkende biblioteek buite Alexandrië (Egipte) en die inwoners was gewoond aan baie besoekers uit alle dele van die wêreld.

Daar word vertel dat die woord perkament van die naam van die stad afgelei is. Perkament is van diervelle gemaak en die legende is dat die koning van Pergamum die bibliotekaris van Alexandrië vir sy eie biblioteek wou werf. Die koning van Egipte het summier die bibliotekaris in die tronk gegooi en die uitvoer van papirus (gemaak van die stam van die papirusplant wat aan die walle van die Nylrivier groei) na Pergamum stop gesit. Die scribi (dokumentskrywers) van Pergamum het skielik niks gehad om op te skryf nie en het die stokou “tegnologie” van perkamente, wat volgens sekere bronne reeds in die vyfde eeu vC gebruik is, laat herleef. Perkament is diervelle wat met spanning en leem behandel word en meer duursaam as papirus is. Pergamum het die handel in perkament vir dekades daarna beheer.

Die beeld van Jesus is met die twee-snydende swaard in Sy hand. Die Romeinse gowerneurs het ‘n kort, tongvorm swaard gedra en die reg oor lewe en dood in regspleging gehad. Christus is die ware regter oor lewe en dood. Hy oordeel perfek – altyd genadig, regverdig en met innige meegevoel. Hy kyk diep in die mens se hart en kan die diep oortuigings van die mens onderskei.

‘n Woonplek kan twee betekenisse hê: ‘n plek waar permanent of tydelik gewoon word. Die woord wat hier gebruik word is vir ‘n tydelike woonplek. Satan se troon kan verwys na die reuse tempel van Zeus, die hoofgod van die Romeine, waarin ‘n groot standbeeld wat die oorlog tussen die gode of reuse uitbeeld, Zeus se troon gevorm het. Daar was ook ‘n tempel vir die mediese god, Asclepios, wie se simbool die slang om die paal was en vandag nog die mediese simbool is. Duisende mense het daar kom offer met die hoop op genesing. Boonop was Pergamum lojaal in Caesar-aanbidding en het ‘n groot tempel te ere van Caesar gehad.

Die woord martelaar se oorpronklike betekenis was getuie. Omdat soveel Christene as gevolg van hulle getuienis doodgemaak is, het die woord in volksmond diegene wat hulle lewe gee vir die Evangelie aangedui. Pergamum se kerk word gelukgewens dat hulle getrou gebly het in ‘n seisoen van brutale vervolging waarin Antipas gestref het. Jesus gee aan hom ‘n eretitel – getroue getuie – net soos wat Hyself die martelaar was vir die boodskap waarvan Hy getuig het.

Die kerk word gewaarsku om nie afgodery en kompromie toe te laat nie. Bileam was ‘n struikelblok vir die Israeliete en die Nikolaïete het ‘n permissiewe leer verkondig waarin die morele reinheid en woordbeginsels afgewater is. Jesus waarsku daarteen. ‘n Christen is anders, afgesonder. In Grieks is die woord hagios. Ons leef sonder kompromie selfs al gaan ons met ongelowiges om. Soos Paulus dit beskryf:

Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. (1 Korintiërs 9:21,22)

Net die Heilige Gees kan ons in staat stel om in wysheid die ongelowige te akkommodeer sodat ons nie met hoogmoed en voorgee die wêreld irriteer nie.

Reinheid kom deur die Woord.

 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het. (Efesiërs 5:26)

God wat gou kom dui op Jesus se aktiewe rol in Sy kerk waarin Hy werk om te reinig sodat Hy kan seën en laat groei. Die verborge manna was in Joodse denke al die Messiaanse seëninge van die Verbond – ‘n ware fees van sielevoeding. Jesus is die Brood van die Lewe. (Johannes 6:31-35) Hy gee Homself as die hemelse porsie met al die seëninge van God se glorie in Hom.

In antieke tye was ‘n klippie simbolies van ‘n kosbare geskenk. Die Jode het klein steentjies ook met manna verbind. Wit en swart klippies het die besluite van juries aangedui – wit vir lewe en swart vir dood. In die Romeinse gemeenskap was ‘n steen (Tessera steen) ‘n bewys van voorregte vir ‘n oorwinning in die spele of afgetrede vegters (gladiators). In die Romeinse leer was ‘n wit dag ‘n vakansiedag ten tye van ‘n beleg en is aangedui deur die trekking van ‘n wit boontjie. ‘n Steentjie is dikwels aan die persoon gedra met die naam van ‘n god daarop, sodat die hulp van daardie god aangeroep kan word soos nodig. Dit was belangrik dat die naam van die god geheim is, vir meer krag. Dit is werklik asof Johannes al die bygeloof en vals hoop in die gemeenskap bymekaar gooi en Jesus as die antwoord vir alle hoop en alle vrae ooit, voorhou.

Die belofte is dat die getroues ‘n nuwe naam kry. Nuut kan beteken: neos – meer van dieselfde, kwantitatief soos ‘n nuwe potlood maar daar is baie van dieselfde soort of kainos – uniek, soos daar nog nooit was nie, kwalitatief, een van ‘n soort.

Openbaring praat dikwels van nuut in die sin van een van ‘n soort: die nuwe Jerusalem (3:12), ‘n nuwe lied (5:9), ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde (21:1,5).

‘n Persoon met ‘n nuwe naam het tradisioneel nuwe status in die Here verkry – Abram na Abraham, Jakob na Israel, Simon na Petrus en Saulus na Paulus as voorbeelde.

Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het. Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die Here sal jou soos ‘n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ‘n koninklike tulband vashou. (Jesaja 62:2)

So ‘n lieflike loon en kroon van Jesus self. Onthou die nuwe Jerusalem is die kerk – dis vir ons!

Tiatira – die korrupte kerk

Johannes skryf die langste brief aan die kleinste en eintlik minder belangrike stad van die sewe wat genoem word. Tiatira was in die vallei tussen Pergamum en Sardis geleë en moeilik verdedigbaar as gevolg van die ligging. Dit was ‘n heiligdom van fortuinvertelling. Lydia, die purperverkoopster, het in Tiatira gewoon. (Handelinge 16:14) Die stad was bekend vir handelsgildes (klubs met geheime ooreenkomste) wat elkeen onder die bekerming van een van die gode bedryf is. Die gildes het bankette gehou met die vleis wat eers aan die beskermgod geoffer is; ‘n groot probleem in die Christen gemeenskap. Indien ‘n Christen sou kies om nie hieraan deel te hê nie, sou hy prakties gesproke van alle sosiale omgang verban wees.

Die beeld van Christus in hierdie brief is dreigend soos die beskrywing in Daniël 10:6. Woede word beklemtoon in die brons voete wat onbeweeglike mag en grootsheid simboliseer. Seun van God is die gesagstitel van Christus.

Die kerk word geprys vir liefde, diens, geloof en volharding, sowel as groei in werke en goeie dade. Dit is ‘n wonderlike kompliment vir die gemeenskap van Christene onder moeilike omstandighede.

Die kritiek kom met die simbool van Jesebel, die vrou van koning Agab van Israel. Toe Agab sy Phoeniese bruid na Israel bring, het hy vir haar ‘n Baältempel opgerig. Die volk het hom kwalik geneem omdat hy Baälaanbidding in Israel toegelaat het. Elia het woedend sy optrede veroordeel. In antieke tye het nasies dikwels geglo dat hulle gode territoriaal was. So het ou Israel en Juda ook geglo, totdat God in die ballingskap Homself aan hulle as alomteenwoordige God openbaar het. Jesebel het ‘n simbool van owerspel geword om Israel se ontrouheid te illustreer. Sy is ‘n simbool van negatiewe kompromie in die kerk.

Die hele boek Hosea gaan oor die simboliese, owerspelige verhouding van God met Israel. Hosea is in opdrag van God, met ‘n prostituut getroud. Elke nou en dan het sy weggeloop met ander mans, waarna hy haar gaan terughaal. So is God gereed om ons ontrouheid te vergewe en ons verhouding met Hom te herstel. Vals lering en afgodery lei ons weg van Hom af. Die Heilige Gees en Sy woord is al wat ons van verkeerde leerstelling beskerm.

En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. (Hebreërs 4:13, OAB)

Die kerk is op ‘n siekbed geplaas, oneffektief en swak, totdat bonatuurlike reiniging en genesing plaasvind en die funksies hervat kan word.

Die dieptes van Satan, of die diep geheimenisse van Satan soos die NAB dit stel, is die wanhoop en verwarring wat vals leringe in die kerk bring. God red altyd die oorblyfsel en plaas geen las te swaar op hulle nie. Soms ondervind diegene wat teen vals lering opstaan, selfs vervolging binne die kerk. Een van die gawes van die Heilige Gees is die onderskeiding van geeste. (1 Korintiërs 12:10) God gee wysheid aan almal wat vra sonder verwyt. (Jakobus 1)

Die kerk word aangepor om te bely. Belydenis is altyd die weg tot seën en loon. ‘n Kerk wat nederig sonde bely deel in die oorwinning van Christus oor boosheid en die belofte aan Jesus van Psalm 2:8,9:

Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting. Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ‘n kleipot.”

Die môrester is die titel van Jesus in teenstelling met Lucifer wat die môrester van die hemel was voor sy val. Dit is die nuwe dag, die loon van die nasies en ons die kerk, sal skyn soos die sterre. (Daniël 12:3)

En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. (2 Petrus 1:19-21)

Laat jy toe dat die Heilige Gees jou meevoer? Die OAB (Ou Afrikaanse Bybel) vertaal dit: deur die Heilige Gees gedrywe. Ek hou daarvan. Dit dui op die bestuur en leiding van die Heilige Gees. Dit is ‘n lewe van gehoorsaamheid en waarheid, sonder verwarring in vals lering.

92. My kosbare besitting, sê die Here!

[Openbaring 2]

Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. (Maleagi 3:17)

Die briewe aan die kerke van Openbaring 2 en 3 is op ‘n hoë standaard van literêre vakmanskap geskryf. Dit vorm ‘n gestruktureerde eenheid waarin ‘n karaktertrek van Jesus, wat in die eerste hoofstuk genoem is, in die aanhef van die brief aangehaal word, behalwe in die geval van Laodicea, die laaste gemeente. Al die beskrywings van Jesus kom uit die Ou Testament waarin die opgestane Messias voorspel word. Die toneel is so opgestel dat Jesus in warm, oop en liefdevolle verhouding met sy kerk in gesprek tree.

Die kerke is simbolies van al die kerke te all tye, histories sowel as die eindtyd kerk. Die getal sewe spreek altyd van volledigheid en volle insluiting. Die stede waarin die kerke geleë was, het op ‘n handelsroete in Klein-Asië, ‘n provinsie van Rome, gelê. Dit was hoegenaamd nie die grootste of mees belangrike gemeentes in daardie tyd nie. Dit het ook niks met denominasies te doen nie, hoewel daar historiese interpretasies bestaan waarin die groter tendense van die geskiedenis van die Christendom aan die hand van die gemeentes bespreek word. Weer kan ons beklemtoon dat Openbaring op veelvuldige vlakke interpreteer kan word.

Vir nou, vra ons die Here om ons ore te salf sodat ons kan hoor wat die Gees aan ons, die gemeente, op hierdie oomblik in ons lewe sê. Die belofte is dat Hy sal praat. God se stem is die waardevolste skat ooit – nie ‘n alles omvattende interpretasie nie.

Daardie dag sal my volk my Naam bely: dat Ek die Here is, dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek! (Jesaja 52:6)

 Therefore My people shall know My name;

Therefore they shall know in that day

That I am He who speaks:

‘Behold, it is I.’

Die NAB (Nuwe Afrikaanse Bybel – 1983) praat van die die leraar van die gemeente in plaas van die engel van die gemeente soos in die OAB (Ou Afrikaanse Bybel – 1933/53). Vir die Jode was engele wat hulle oppas en oor lande en kerke waak, gald nie ‘n snaakse verskynsel nie. Dit is vir Johannes normaal om die engel van die gemeente aan te spreek. Dit is egter duidelik dat die leier van die kerk aangespreek word. Jesus praat van beskermengele in Matteus 18:10 en in Handelinge 12:15 help ‘n engel Petrus om bonatuurlik uit die tronk te ontsnap. Dit word bevestig in Hebreërs 1:13,14:

Van watter engel het Hy ooit gesê: “Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het” ? Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om dié te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Die gemeente self is ons – die bloedgewaste, wedergebore kinders van God, wat die saligheid beërwe. Leiers dra groot verantwoordelikheid vir die siele van die gemeente en word deur God self geroep en toegerus vir die taak.

‘n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat My wil is, want hy is ‘n boodskapper van die Here die Almagtige. (Maleagi 2:7)

Die skrywe aan die kerke volg ‘n patroon waarin die spesifieke gemeente aangespreek word, ‘n karaktertrek van Jesus uitgespreek word, ‘n kompliment of aanbeveling oor die werk van die gemeente uitgespel word (behalwe Sardis en Laodicea), ‘n korreksie aanbeveel word, ‘n waarskuwing uitgespreek word, ‘n uitdaging gestel word en verbondsbelofte as oorwinningsloon voorgehou word.

 

Efese – die liefdelose kerk

Efese was ‘n groot stad met ‘n hawe wat as toegang tot die streek gedien het. die stad was “vry” in terme van Romeinse adminstrasie en kon homself regeer. ‘n Romeinse prokonsul (provinsiale regter) het van tyd tot tyd besoek om seker te maak dat regering en regspraak reg verloop. Verskeie stamme en nasies het saamgewoon en die stad was bekend vir misdaad en immoraliteit. Spele in die arena het wreedheid en moord as vermaak aangebied. Dit was die sentrum vir aanbidding aan die vrugbaarheidsgodin, Diana (in Grieks = Artemis) in ‘n tempel wat as een van die wondere van die antieke wêreld beskou is. Diana se beeld was ‘n vetterige, vroue-figuur met baie borste. Bygeloof het geheers en klein voorwerpies van silwer, goud of brons is as geluksbringers verkoop wat voorspoed, genesing of vrugbaarheid belowe het. Paulus het lank in Efese gewoon en heel moontlik die briewe aan die Korintiërs uit Efese geskryf. Timoteus was die pastoor van Efese en volgens Handelinge 18 het Aquila, Priscilla en Apollos daar bedien. Dit was die woonplek van Johannes voor en na Patmos en hy is daar oorlede.

Jesus hou die sewe sterre in Sy hand. Hy is in volle beheer van Sy kerk. In sy eie woorde:

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Johannes 10:28)

Jesus loop tussendie lampstaanders. Die lampstaanders is die kerk, Hy alleen is die Lig en Hy is sonder ophou aktief in Sy kerk om te red en te genees.

Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Johannes 5:17)

Hy prys die gemeente vir hulle harde werk en volharding en al hulle arbeid ten goede, maar waarsku dat hulle goeie dade in ortodokse, liefdelose roetine verval het. Hulle haat die dwaalleer van sedelose verval en afgodery wat deur sekere groepe (Nikolaïete) as toelaatbaar, selfs binne kerkverband, voorgehou word. Die waarskuwing is om hulle sonde te bely sodat hulle van binne af rein en kragtig word.

Die eerste liefde, wat die warm opwinding van nuwe liefde beskryf, is verlore. Verlore liefde maak die kerk kragteloos en oneffektief. Getroue liefde duur vir ewig net soos Jesus liefhet.

Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. (Johannes 13:1)

Liefdeloosheid kan net deur die Heilige Gees openbaar word. Dit is Hy wat oortuig van sonde. Dit kan herken word in familiêre omgang met die goddellike, ‘n arrogante en oppervlakkige houding tot die Skrif en ‘n gebrek aan respek of onsensitiwiteit vir die Teenwoordigheid van die Here. Net soos die Here aan Jeremia (2:2) sê:

Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ‘n wêreld waar niks geplant word nie.

Die kenmerke van die liefde van die Bruidstyd is aanbidding tot God vir wie Hy is en nie net vir Sy guns en gawes nie, ‘n bewustheid van visioen en doelstelling binne die werk van die Here en die meewerking daarin met liefde en meegevoel vir die gemeente, net soos Jesus.

Die waarskuwing om die lampstaander te verwyder, is aan die leier van die gemeente gerig. God sien om na die oorblyfsel en sal die skape wat deur die wolwe verjaag word, bymekaar maak en beskerm.

 Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. (Matteus 7:15)

 Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. (Handelinge 20:29)

Uiters belangrik is om weer te besef dat die waarskuwing en korreksie dien, nie om te veroordeel en te verdoem nie, maar om die weg vir seën en herstel te baan. Ons is nie onkundig oor dit wat God vereis nie. Daar is geen verwarring in die Koninkryk van God nie. Die Heilige Gees is aktief besig om te oortuig van sonde sodat die kerk kragtig en doeltreffend boosheid teëwerk.

Aan hom wat oorwin word die Boom van Lewe in die paradys belowe. Die Boom van die Lewe is Jesus self. Die Jode het die Boom van Lewe in Eden beskryf as ‘n geurige, vrugdraende, skadyryke boom. Dit spreek van ‘n herstelde verhouding met Jesus wat voorsien en seën uit die rykdom van Sy glorie. In Sy teenwoordigheid is geen verval – net volmaakte liefde en vrede.

 

Smirna – die vervolgde kerk.

Smirna was ‘n pragtig stad, bekend as die kroon van Asië. Die seewindjie het die stad afgekoel, maar ook die rioolreuk van die stadafval wat in die see gepomp is, oor die stad gewaai. Dit was ‘n belangrike handelsentrum en die stad is beplan om die besigheidsaktiwiteite die beste te dien. Een straat, wat soos ‘n halssnoer om die heuwel uitgelê is, was bekend as die goue straat. ‘n Reuse tempel ter ere van Zeus (die hoofgod van die Romeine) was aan de toppunt en verskeie ander tempels vir ander gode is langs die straat gebou. Smirna was lojaal in Caesar-aanbidding [sien Bodemklippe 90] en ‘n beduidende kultuursentrum.

Aan hierdie stad word Jesus voorgestel as die opgestane Christus, die Eerste en die Laaste en die een wat dood was en weer lewe. Die aardse luister van die stad kan nooit vergelyk met oorwinning oor die dood. Geen kultuur of handel kan in die ware behoeftes van die mens voorsien nie. Die Jode was invloedryk en vyandig teenoor die Jesus-volgelinge. Polycarp, een van die prominente figure in die vroeë kerk, het in die arena in Smirna as martelaar gesterf. Die Christene leef onseker lewens en behoort aan die stad se laer klas. Hulle besittings kon enige tyd geplunder word en dit was amper onmoontlik om ‘n voorspoedige lewe te ly. Hulle was geestelik ryk.

Die antieke wêreld het die “goddellike gaping” in die mense se siel met ‘n reeks gode probeer vul. Dit het tot groot verwarring en eindelose diere-offers gely. Aanbidding aan een god, almagtig en alwys, was baie aantreklik. Die Jode was nie baie gewillig om heidene in hulle geledere toe te laat nie, mar het wel sommige onder streng wetsgehoorsaamheid en beperkte toegang tot die Tempel verduur. Die Weg, soos wat die Jesus-volgelinge bekendgestaan het, wat ‘n verwelkomende, liefdevolle God, gereed om te red en te seën, verkondig het, was ‘n balsem van vrede en sekerheid in ‘n wêreld van vyandige en kwaai gode wat gedurig kalmeer moes word.

Die sinagoge van Satan dui op die vyandigheid van die Jode wat Jesus-volgelinge aktief probeer uitroei het. Satan is altyd aktief binne in die kerk. Dis juis daar waar hy aanstoot en onmin wil saai en liefdeloosheid aanmoedig. Dit maak die kerk kragteloos en oneffektief, sodat die beeld van Jesus na buite verdof word. Die enigste verweer is nederige soeke na en onderwerping aan die Teenwoordigheid van God en volharde studie van die Woord, sodat ons Jesus ken in die krag van Sy opstanding. Vleeslike leierskap word deur God self verwyder soos in die geval van Korah wat teen Moses en Aaron opgestaan het. Lees daarvan in Numeri 16.

‘n Periode van 10 dae dui op ‘n beperkte, relatiewe kort tydperk. Die gevangenis in daardie dae was maar ‘n voorspel tot die dood. Die Christene is onder verskeie voorwendsels vervolg soos kannibalisme (die elemente van die nagmaal word opsetlik verkeerd vertolk), wellus (die liefdesboodskap word verdraai), familieskeurings en dislojaliteit aan Rome as gevolg van hulle weiering om Caesar te aanbid.

Die kroon van die lewe is die kroon van die oorwinnaar – in Grieks stephanos en in Latyn diadem. Die Romeine was erg oor krone. Hulle het krone gedra na bankette, die spele en selfs in hulle tempels tydens aanbidding. Die kroon van Jesus is ewig en verwys na die oorwinning oor die tweede dood.

Die tweede dood word net in Openbaring genoem (20:6,14 en 21:8) en beteken ewige verwydering van God. Die Sadduseërs, ‘n groep Joodse geleerdes amper soos die Fariseërs, het glad nie in die lewe na die dood geglo nie. Meeste Jode kon nie aanvaar dat hierdie lewe die einde van alles is nie en dat ‘n goeie lewe, presies soos ‘n slegte lewe, in stof eindig nie. Sommige het in ‘n tussenfase na die dood, amper soos die Katolieke leer oor die vagevuur, geglo. Daniel 12:2 en Johannes 5:29 praat van die grafte van die wat goed gedoen het. Vir ons is Jesus se kruiswoorde aan die moordenaar langs Hom, deurslaggewend.

Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43)

Die fisiese dood is ‘n misterie, maar nooit vreesaanjaend nie. Jesus het die dood oorwin en het die skerp pyn uit die oorweldigende finaliteit van ons hulpeloosheid by die dood, verwyder. (1 Korintiërs 15:55)

My gebed, Bodemklipvriend, is dat jy Openbaring met ‘n nederige, maar vrymoedige gees van begrip sal lees om te deel in die seën oor hierdie profesie. Veilig in die skaduwee van die Almagtige en die skuilplek van die Allerhoogste (Psalm 91) kan ons kennis neem van al die boosheid en verwarring rondom ons wat in hierdie boek beskryf en voorspel word, sodat ons bemoedig word en besef ons behoort aan die onsigbare koninkryk van God. Ons leef as pelgrims en vreemdeliinge op reis na beter, nooit slagoffers nie, eerder as oorwinnaars.

Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

(Hebreërs 11:13)

91. Geen verwarring – luister en leef!

[Openbaring 1]

In die dramatiese eerste skeppingswoorde het orde uit chaos voortgekom, nie verwarring en vernietiging nie. Vandag, as mens om jou kyk, is die deurmekaarspul so geweldig dat dit lyk asof ‘n verrukte afkopruiter planloos bloed vergiet en te midde van paniek en verdwasing, die ontreddering van die mensdom uitbuit. Regerings sukkel om orde te handhaaf; mense soek stabiliteit en sekuriteit. Orde en vrede is elemente van die koninkryk van God, daarom bid ons: laat U koninkryk kom. Wat ons leer van die majestieuse heerskappy van ons Vader, moet ons as die pêrel van groot waarde aan ons kinders oordra.

Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om dit ook aan ander te leer. (2 Timoteus 2:2, NAB)

In ons studie van die boek Openbaring, moet ons eers verklaar dat God groter is as enigiets wat ons ken of ooit mag ken en nooit deur een studie of een interpretasie verklaar kan word nie. Daar is in die veelvuldige wysheid van die Heilige Gees altyd meer en meer om te leer. Ek onderwerp in nederigheid aan die oneindige en oorweldigende voortreflikheid van ons Vader wat nooit in aardse terme voldoende beskryf kan word nie. Dit wat ons bespreek skraap die oppervlakte in ‘n voorlopige analise, wat meestal die dispensasionele interpretasie van die visioen so ver moontlik vermy. Daar is ‘n groot verskeidenheid van hierdie interpretasies waarvan ‘n hele aantal logies klink.

Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. (Deuteronomium 29:29, NAB)

Ons is in die unieke posisie in die heelal om die saligmakende krag van God te ervaar. Hierdie uitsonderlike aspek van die mens is ons kenmerk – die simbool van God se plan waarmee ons gemerk word sodat die engele ons ken. Die engele is geskape wesens. Hulle het nie redding nodig nie. Die kerk is die simbool van God se werk op aarde en maak dit bekend aan die hemelse wesens soos Paulus verklaar:

Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim. (Efesiërs 3:10, NAB)

Is dit nie ‘n heerlike, majestieuse rol om te vertolk nie? Staan sterk Bodemklipvriend, ons triomftog saam met Christus is ver bo wat jy ooit kon droom. Mag God ons toerus in elke opsig, veral met ‘n woord op sy tyd.

Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. (Jesaja 50:4, NAB)

Soos ons deur die eerste hoofstuk van Openbaring lees, wees bedag op die mees belangrike beginsels in die studie van hierdie boek. Die Heilige Gees heers oor alles. Hy openbaar die hart van God. Jesus het alles gegee, nou kom Hy om bestek op te neem.

Die teenwoordigheid van die Troon – die Drie-eenheid – is altyd positief. Die doel is om te seën. Dit is juis waarom daar oordeel, waarskuwing en onthulling van sonde is. In alles is aanmoediging en beloning vir gehoorsaamheid.

Alle oordeel en veroordeling word uitgespreek met die doel om te seën en God se goedkeuring te verkry.

Niks is onduidelik of vaag nie. Ons Vader openbaar Homself en Sy plan tot voordeel van die mensdom. Hy verduidelik die chaotiese gevolge van sonde sodat Hy kan red en genees. Sonde verhoed seën. Dit is ‘n feit. (1:1-3). Sewe seëninge word in Openbaring belowe. Kom ons juig saam.

 

  1. Seën op die Woord – om te hoor, te bewaar en te gehoorsaam (1:3)
  2. Seën op die dood (14:13)
  3. Seën op diegene wat wakker is (16:15)
  4. Seën op die genooides (19:9)
  5. Seën op die eerste opstanding (20:6) – nie deur die dood aangeraak nie. Wedergeboorte red jou van die dood.
  6. Seën op die wyse (22:7)
  7. Seën op diegene wat hulle klere gewas het (22:14)

Al hierdie seëninge is van toepassing op ons wat deur die Kruis gered is en die ewige lewe met wedergeboorte ontvang het.

Die sentrale tema van die hele boek is Christus as hoogste en superieure wese in volle sig. Absoluut alles is om Hom gesentreerd. Johannes skilder ‘n lewendige en dramatiese beeld van Jeus.

Hy word aangekondig met ‘n stem soos ‘n basuin (1:10) Die trompet of basuin was ‘n oproep van die leiers om die aandag van die volk te kry vir ‘n aankondiging of ‘n oproep om te veg. Die basuin kondig die visioen aan.

Sewe uitstaande karaktertrekke word beskryf. Alles vind sy bron in die beskrywings van die Ou Testament sodat dit bekend is vir Johannes se gehoor.

 

  1. Lang kleed
  2. Goue band om sy bors (1:13)
  3. Hare wit soos wol, soos sneeu
  4. Oë wat soos vuur vlam (1:14)
  5. Voete soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei
  6. Stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa (1:15)
  7. Swaard het uit sy mond gekom – skerp en tweesnydend (1:16)

Die sewe geeste (1:4) dui op die volheid en volkomendheid van die Heilige Gees. Die Troon is die simbool van heerskappy en gesag, wat die funksie van die Heilige Gees is. Die Troon word beskryf as die setel van outoriteit in die heelal, wat die beeld van Christus in die kerk beveel en vereis.

“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (1:8)

Johannes ignoreer sekere verbuigings in die Griekse grammatika om sy respek vir God te toon. Hy beskou God as so verhewe dat selfs taalstruktuur moet buig voor God se almag. Alpha is die eerste en Omega die laaste letter in die Griekse alfabet om aan te dui dat God absoluut alles vir altyd omsluit. God beskryf Homself so in Jesaja 44:6 and 48:12.

Die woord almagtig beskryf God met soewereiniteit oor alle dinge. Op hierdie punt in die geskiedenis was die kerk vervolg en verslae. Dit word goed beskryf in die woorde van die Engelse digter, Sir William Watson: the panting huddled flock whose crime was Christ.

Die bemoediging is sterk en duidelik en die visioen word geskryf met die oog daarop om die mense van Die Weg, soos wat die kerk op daardie stadium bekend gestaan het, op te lig, sodat hulle hulle oog kan verhef en Jesus as die triomfantelike koning sien, en in die proses verby die wrede ystervuis van die Romeinse keiser kyk.

Openbaring 19:6 verklaar in oorwinning “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning. Niks sal ons uit Sy hand ruk nie.

Johannes sien Jesus tussen die lampstaanders staan. Dit is die vuurfakkels wat openbaar, toets en bepaal. Die lampstaander was ‘n bekende simbool in die woestyntabernakel, Tempel van Salomo (1 Konings 7:49) en die visioen van Sagaria (4:2). Die lampstaander is die kerke (sewe simboliseer altyd volledigheid) en Jesus is die bron van lig. Die kerk is slegs die staander. As die kerk nie Sy lig dra nie, is dit duistere chaos binne-in die kerk. Die Heilige Gees openbaar sonde en oortuig van geregtigheid en oordeel (Johannes 16:8, OAB). In die woorde van Johannes die Doper:

Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. (Matteus 3:11)

Belangrike beginsel: die beste manier om voor te berei vir die openbaring van nuwe dinge, is om die openbaring van God in die Woord te bestudeer. Die Bybel is die openbaring van God se wil. Deur die studie van Sy woord sal Hy Sy spesifike wil vir jou lewe openbaar.

Seun van die mens (1:3) is ‘n titel wat Jesus homself gee in Johannes 1:51. Die mens is God se spesiale skepping. Die titel beskryf die oorspronklike doelstelling van God met die mens. Die mens was verlore, maar is gered deur die goddellike mens – Jesus. Die lampe verkondig hierdie waarheid. God se seun is die menseseun – God in ons.

Die lang kleed herinner aan die priesterlike kleed wat die weg na die Teenwoordigheid van God simboliseer. (Daniël 7:13.) Fyn linne en ‘n goue gordel was ook die kleed van konings en dikwels die kleed van ‘n spesiale boodskapper van die koning. Dit alles is Jesus – priester, profeet (spesiale boodskapper) en koning.

‘n Gordel is gedra wanneer ‘n lang kleed opgebind moes word vir werk. Dit dui op gereedheid vir aksie. Die Here sê in Jeremia 1 (Ampl): I am alert and active over My word to perform it.

Ons gordel is liefde. Geen aksie in die kerk kan kom sonder liefde nie. Die Fariseërs het hulle eie gordel gedra – die Wet. Liefde maak ons waardig vir aksie in die kerk. Slegs liefde sal die toets van vuur deurstaan, sonder trots en pretensie. Die vuurtoets is krisis en probleme in ons lewe.

Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. (1 Korintiërs 3:12,13)

Sy hare wit soos wol, soos sneeu is ‘n bekende beeld uit Daniël 7:9 en Jesaja 1:18 en dui op die reinheid waarmee God ons reinig.

Daniël 10:6 beskryf God se oë as vlammende fakkels. In die Evangelies kry mens die indruk dat iemand wat Jesus in die oë gekyk het, dit nooit sou vergeet nie. (Markus 3:34, 10:23 en 11:11) Sy oë het in woede geflits – Markus 3:5 en in liefde gekyk – Markus 10:21. Daar was ook hartseer in Sy oë – Lukas 22:61.

Om Openbaring te studeer is om Jesus se oog te vang. Die indruk daarvan verander ons hele uitkyk op die wêreld. in die woorde van C.S Lewis:

“I know now, Lord, why you utter no answer. You are yourself the answer. Before your face questions die away?”

Daniël 10:6 beskryf die arms en bene van die goddellike boodskapper as koper wat in ‘n smeltoond gloei. Dit word herhaal in Esegiël 1:7 as die voete van engele beskryf word. Dit simboliseer krag en spoed. God is altyd sterk genoeg en vinnig genoeg vir ons nood.

Sy stem was soos die gedruis van baie water. Dit is ‘n geluid wat nie geignoreer kan word nie. Die skepping sal aandag gee. Baie water het krag om te vernietig. God se stem word op baie verskillende manier beskryf – ook soms as die stil, sagte fluistering soos vir Elia in 1 Konings 19:12 wat die oortuiging in jou gemoed beskryf.

Die sewe sterre in sy regterhand dui op die heerskappy van God oor die ganse heelal. Hy regeer en ons hoef nie bang te wees vir die uitgestrektheid van die heelal nie. Hy hou dit in Sy hand. (Job 38:31)

Uit Sy mond het ‘n skerp, tweesnydende swaard gekom. Die swaard wat heel moontlik hier beskryf word, is die kort, breë tongvorm swaard van Romeinse soldate, nie die lang skermswaard van later jare nie. (Jesaja 11:14 en 49:2, Hebreërs 4:12)

Sy gesig was soos die son, skryf Johannes. Hy was teenwoordig by die verheerliking van Jesus op die berg soos beskryf in Matteus 17:2. In Jesus se onhoudbare glorie en heerlikheid is Sy woorde: Moenie vrees nie, net soos in Matteus 17:7.

Hy verklaar Homself die lewende Een, wat dood was en weer lewe as sy indentifisering aan Johannes. Johannes self het die leë graf ervaar daardie Sondagoggend, ‘n hele paar dekades voor hy hierdie visioen neerskryf.

Hy lewe en Hy het beheer oor die dood. Hy het die sleutels van die doderyk. In Psalm 9:13, 107:18 en Jesaja 38:10 word Sy heerskappy oor die doderyk verklaar. Jesus bring die ewige lewe (2 Timoteus 1:10). Hy leef en daarom kan ons leef (Johannes 14:19). Vir ons wat gered is deur Sy bloed is die bitterheid van die fisiese dood vir altyd verby (1 Korintiërs 15).

Aan die einde van die eerste hoofstuk is dit duidelik dat Openbaring slegs verstaan kan word in die lig van die simbole van die hele Skrif. Johannes het die boodskap in die bekende kode en simbole van dit wat sy gehoor sou ken, geskryf. Hy het homself die geliefde dissipel genoem. Jesus het Johannes nie meer liefgehad as Sy ander volgelinge nie. Johannes het ‘n spesiale openbaring gehad van hoe lief Jesus almal het, en het dit geleef en ervaar. Wat ‘n wonderbare openbaring! Mag ons onder dieselfde openbaring kom onder die woord wat Johannes hier skryf.

Dit is ons kode waarin ons die boodskap bring – LIEFDE.

Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. 1 Korintiërs 13:2.

Bodemklipvriend, toets jouself. Miskien voel jy die opwinding van openbaringskennis, beter insig en groter begrip. Ek hoop so. Dit is goed… maar, lees verder:

Die liefde is geduldig,

         die liefde is vriendelik;

                  dit is nie afgunstig nie,

is nie grootpraterig nie,

         is nie verwaand nie.

Dit handel nie onwelvoeglik nie,

         soek nie sy eie belang nie,

                  is nie liggeraak nie,

                           hou nie boek van die kwaad nie.

Dit verbly hom nie oor onreg nie,

         maar verheug hom oor die waarheid.

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles

 

85. K.E.R.K.

 

Dit is nou maar eenmaal so dat die woord kerk sekere gevoelens en gedagtes ontketen. Vir sommige mense is die onwillekeurige reaksie negatief. Bitterheid teenoor mense en leiers in die kerk is algemeen. Soveel pyn spruit uit teleurstelling en veroordeling in die verlede, wat oor jare in die gesprek oor kerk ingemessel word en aanleiding gee tot ‘n skerp afkeur van mens en organisasie in individuele harte.

Ek is waarlik dankbaar dat ek as tiener in die kerk ‘n sosiale kring gevind het, wat my deur moeilike jare ondersteun het. Ek kan nie regtig die lering of preke onthou nie, maar ek onthou die vriendelikheid van die leiers, die organisasie om saam pret te hê, en die ander jongmense baie goed. Die kerk was egter vir my oudste twee seuns in hulle tienerjare ‘n teleurstelling. Hulle het nie so ‘n gemaklike tuiste in die tienerbediening gevind nie en ons as ouers kon niks daaraan doen nie, al het ons so begeer dat hulle moes ondervind wat ons gehad het.

Dit is met opset dat die opskrif van hierdie Bodemklip soos ‘n afkorting geskryf is. Binne die woord kerk, moet ons ‘n nuwe konsep vestig – positief en vars. Daar is sekerlik heelwat moontlikhede, maar ek sou graag die grondbeginsel van kerk vestig met die woorde: Kom Eers Reguit Kruis [toe].

Die kruis van Jesus staan sentraal – altyd. Net dit wat volgens die volle impak van Jesus se kruisdood gebeur, het plek in die kerk.

Met hierdie beginsel in plek as prioriteit, kan ons terugkyk na Esra se aankoms in Jerusalem om die tempel te herstel. Die Here wek hierdie geleerde man op om die volk te ondersteun in die herstel van die tempel. Hy kom met die goedkeuring van die magtigste heerser van die Antieke Wêreld. So het Esra die reis aangepak:

[…] en wat my guns laat vind het voor die koning en sy raadsmanne en voor al die magtige vorste van die koning. Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die HERE my God oor my was, en ek het die hoofde uit Israel versamel om saam met my op te trek. (Esra 7:28, OAB*)

Kerkorganisasie begin reeds op die reis. Esra beskou die families wat saamtrek noukeurig en vind geen Leviete nie. Tradisioneel het die stam van Levi tempeldiens gedoen. By die uitdeel van die grondgebied deur Joshua by die aankoms in die beloofde land, het die Leviete geen grond ontvang nie, omdat hulle hulle lewe sou wy aan aanbidding en lering in voltydse bediening en deur die volk onderhou sou word.

Esra organiseer 220 tempeldienaars uit die stam van Levi nog voor sy aankoms in Jerusalem (Esra 8:15–20.) Verder het hy twaalf priesterowerstes afgesonder en aan hulle die kosbaarhede vir die tempel oorgegee. By hulle aankoms in Jerusalem het die priesters en die Leviete die silwer en goud afgegee en brandoffers aan die Here gebring.

By die herstel van aanbidding het die volk se sonde duidelik geblyk en Esra tree in om by God om vergifnis te smeek. Hy het sy klere geskeur en sy hare en baard uitgetrek (Esra 9:3). Hy was diep ontsteld oor die afvalligheid van sy volk en het in gebed ingetree vir hulle. Hy het so gebid dat die mense om hom kom staan het en aan die huil gegaan het. Diep berou het hulle harte geraak. Hulle het met trane hulle sonde besef en bely.

Hierdie geleentheid is gekenmerk deur gebed, sondebelydenis en ‘n diepe besef van God se woord. Dit is betekenisvol dat Esra se reaksie op sy eie moedeloosheid en ontsteltenis ‘n lang, ernstige gebed waarin hy God se almag en soewereiniteit beklemtoon, was. Hy bid en bely namens die volk totdat hulle saam met hom kom bid. Hy het nie uitgegaan en links en regs tereggewys, veroordeel en blaam uitgedeel oor die jammerlike toestand van die tempel en stad nie. Hy het gebid en uit die gebed kom ‘n oproep tot suiwering en bekering.

Voordat die tempelherstel kon begin, moes die volk die vreemde vroue wat hulle getrou het, skei en die vrouens en kinders van hulle wegstuur. (Esra 10:44)

Vir ons moderne ore is dit geweldige drastiese maatreëls tot suiwering. Die Ou Testament is egter vir ons die simboliese voorbeeld van ‘n goddelike lewe. Sekulêre leefwyses wat soos ‘n “getroude vrou” in die Christelike lewe tuis is, erodeer die kerk van binne en maak die Christen kragteloos. Ons weet tog almal dat die kerk soveel maal al die slagoffer was van kwaadpraat, skinder, aanstoot, hoogmoed, trots, liefdeloosheid, selfsug, statusbeheptheid – ag, ‘n lang lys aaklighede. Al hierdie sondes verhinder die teenwoordigheid van God, maak die kruis van Jesus tot niks en skep ‘n speelveld vir die duiwel waar hy boelie en boks tot die bloed loop. Onthou hy is besonder ingestel daarop om die kerk te neutraliseer.

In Johannes 8 lees ons van die vrou wat in owerspel gevang is en deur die Fariseërs voor Jesus gebring is. ‘n Interessante stukkie “kerk” wat in die strate van Jerusalem afspeel. Ek veronderstel almal ken die toneel wat beskryf word in Johannes 8:1–11.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes is aktief in dit waaraan hulle hulle lewens wy. Hulle is die leiers van die Joodse volk, wat in wese deur hulle geloof in Yahweh gekenmerk word. Sy wette en voorskrifte is die fondament van hulle samelewing en die leiers van die kerk is verantwoordelik vir die lering en toepassing daarvan in die daaglikse lewe van hulle medeburgers. Indien daar enige dispuut oor die toepassing van ‘n wet ontstaan het, was dit heeltemal normaal om dit voor die rabbi te bring.

Hoewel hulle Jesus nie eintlik as ‘n rabbi wou erken nie, bring hulle ‘n vrou wat in owerspel gevang is, voor Hom. Enige Jood sou weet dat owerspel, afgodediens en moord sondes is wat die doodstraf dra. Levitikus 20 en Deuteronomium 22 skryf die doodstraf voor vir albei partye wat owerspel gepleeg het. Interessant dat die man in hierdie geval nie saam aangekla is nie.

Dit is duidelik dat die doodstraf vir die vrou volgens die fel oordeel van die wet van Mosesnie te betwyfel is nie. Die kerkleiers was oortuig dat hulle ‘n perfekte teologiese strik vir Jesus kon span. Soos William Barclay dit stel: …and here they thought they had impaled him inescapably on the horns of a dilemma. [New Daily Study Bible]

Indien Hy deelneem aan die doodstraf sou Hy nooit weer sy boodskap van liefde en genade kon verkondig en ‘n vriend van sondaars genoem kon word nie. Hy sou terselfdertyd in stryd met die Romeinse wet en owerhede optree aangesien die Jode nie toegelaat is om iemand ter dood te veroordeel nie, selfs in die lig van hulle godsdienswette. Rome het wet en orde beheer en oor doodstraf die finale uitspraak gemaak. Het hulle dalk gedink Jesus besef dit nie en dat dit Hom in die moeilikheid by Rome sou bring?

Indien Hy haar sou vryspreek en vergewe, sou Hy direk in stryd met die wet van Moses optree. Hulle sou vry voel om Hom van permissiwiteit aan te kla, aangesien Hy mense dan indirek vrymaak van die sonde van owerspel.

Jesus het neergekniel en in die sand geskryf. Op hierdie punt is die kommentare ‘n vryspel van fikse denke oor ‘n magdom moontlikhede. Sommige meen dat Hy nie meer die haat en veroordeling in die kerkleiers en skare kon verdra nie en vir krag en insig gebid het. Sommige meen dat Hy die sondes van die klipgooiers opgeskryf het en hulle skynheiligheid so ontbloot het dat hulle bang was hulle dade word openbaar gemaak. Die Griekse woord wat vir skryf gebruik word is graphein. In hierdie geval word die woord katagraphein gebruik wat beteken om iets op die rekord teen iemand op te skryf.

Sou dit wees dat Jesus die rekord van hierdie sadistiese skare teen hulleself opgeskryf het?

Tog het die kerkleiers op ‘n antwoord aangedring. ’n Antwoord het hulle gekry:

Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Johannes 8:7, NAB*)

Die luidkeelse aanklaers het stil-stil verdwyn. Die stille aanklag teen hulle het sekerlik soos donderweer in hulle binneste gedruis. Hulle het weggeglip, weg van die Bron van vergifnis, wat ook hulle sou kon vryspreek.

Toe Hy alleen met die vrou agterbly het Hy haar gevra of sy iemand sien wat die oordeel oor haar gaan voltrek. Daar was wel oordeel oor haar sonde. Sy het sonde gedoen; dit is nooit ontken nie. Jesus het haar vrygespreek. Hoe kon Hy dit doen? Owerspel is ernstig – volgens Hom ‘n grond vir egskeiding soos in die Bergpredikasie van Matteus 5 duidelik uitkom.

Jesus het geweet Hy is op pad kruis toe vir haar sonde ook. Hy was altyd bewus van sy hoë roeping om die finale prys te betaal. Hy kon haar vryspreek op grond van wie Hy is.

In kerkverband is sy afskeidswoorde aan haar betekenisvol.

[…] Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie. (Johannes 8:11, NAB)

Jesus het haar nie na die sinagoge gestuur vir onderrig in die wet van Moses nie, hy het haar nie na die rabbi vir geestelike lering en leiding gestuur nie, hy het nie ‘n lang voorskrif oor ‘n rein lewe en ‘n lang relaas oor ‘n nuwe leefwyse gegee nie. Hy het haar weggestuur met woorde van genade, in volle vertroue dat sy woorde genoeg is om haar hele toekoms in Hom te verseker.

Engels het twee woorde vir genade – grace en mercy. Grace se definisie, volgens Strong se Konkordansie, is: the unmerited favour of God. Dit beteken God se guns oor ons is nie iets wat ons verdien of kan verdien nie; dit word oor ons uitgestort uit sy liefde tot ons voordeel. Mercy word so gedefinieer: compassion or forgiveness shown toward someone whom it is within one’s power to punish or harm.

Volgens Merriam-Webster: mercy implies compassion that forbears punishing even when justice demands it.

Mercy word soms in Afrikaans met die woord barmhartigheid vertaal. Dit is egter belangrik om die betekenis daarvan ten volle te begryp. Dit het te doen met die terughouding van straf. Dit kan net toegepas word deur ‘n persoon wat in ‘n posisie van outoriteit tot ‘n ander persoon staan. Ek kan die straf oor my kind versag of terughou. Daar is ‘n verkeerde daad wat straf veronderstel. Die persoon wat die straf moet uitvoer besluit om dit uit genade te weerhou.

God het Homself aan Moses openbaar as ‘n barmhartige God. Hy is dus die Bron van strafopheffing! Nie net dit nie – Hy is die Een wat ons straf op Hom geneem het. Dit is weer eens die sentrale tema van die Kruis – strafopheffing.

[…] Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. (Jesaja 53:4, NAB)

Dit was die “kerk” van Jerusalem se strate. Dit was nie ‘n plek van veroordeling nie. Dit was die plek van vryspraak en vrymoedige voortgang in ‘n toekoms van ongebondenheid aan die sonde en skande van die verlede.

Jesus het geweet as Hy haar daar vryspreek is sy in die hande van sy Vader en die Heilige Gees – geborge en veilig. Die Heilige Gees sal leer en lei. Hy oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Johannes 15.) Dit is nie die kerk wat die sonde uitskreeu, veroordeel en straf nie. Die kerk is die plek van liefde en barmhartigheid SODAT die Heilige Gees die oortuigingswerk kan doen. Sonder liefde is daar nie sprake van konstruktiewe sondebewustheid nie.

Die Heilige Gees wat werk laat die mense saamkom, saam bid en saam huil. Diep oortuiging kom deur ware verootmoediging en daar in die kerk moet die vryspraak in die Naam van Jesus geskied. Dis kerk aan die voet van die Kruis!

 

 

 

*OAB = Ou Afrikaanse Bybel

*NAB = Nuwe Afrikaanse Bybel

 

84.Die plek van saamwees.

Dit was die hoogtepunt van hulle bestaan. Die prag en praal van die mees indrukwekkende gebou van die antieke tyd, het die glorie van Salomo se koningskap gekroon. Sy wysheid, wat hy so dramaties van die Here afgebid het, was ver buite die grense van sy koninkryk bekend. Hy het die lewenslange begeerte van sy vader Dawid uitgeleef en ‘n majestieuse gebou as tempel van aanbidding vir Yahweh, die God van sy hart, gebou.

Dawid se woorde in 1 Kronieke 29:1:

Koning Dawid het die hele vergadering soos volg toegespreek: “My seun Salomo, die één wat deur God gekies is, is jonk en sag, maar die werk is groot. Hierdie paleis is nie vir ‘n mens bedoel nie, maar vir God die Here.

 Die tempel van samekoms sou met net die beste boumateriaal gebou word. Dawid lys self wat hy bydra in verwagting vir die begin van die bouwerk. In dieselfde hoofstuk in die volgende verse roep hy die volk op tot ‘n uitgieting van hulle beste, net soos hy:

Met alles in my vermoë het ek vir die huis van my God materiaal gereed gebring: goud vir die goudwerk, silwer vir die silwerwerk, brons vir die bronswerk, yster vir die ysterwerk, hout vir die houtwerk, oniks met die gesteentes om daarrondom in te lê, steentjies vir mosaïekwerk, allerlei edelstene en ‘n groot hoeveelheid marmer.

Omdat die huis van my God my na aan die hart lê, skenk ek ook nog my besit aan goud en silwer bo en behalwe alles wat ek reeds vir die heiligdom gereedgebring het:

honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met ‘n gawe aan die Here?”

 Ofir se goud was in die antieke wêreld as die beste kwaliteit en die suiwerste bekend. Maak ‘n voorstelling in jou geestesoog: mure wat met silwer oorgetrek is, soveel marmer, goud en edelstene, oniks en mosaiek – gebou met die voorneme dat daar niks soos dit bestaan nie en dat so ‘n projek nie gou herhaal sal word nie.

Die tempel van Salomo, soos in die Bybel beskryf, was nie ‘n kopie van die heidense tempels van Egipte en Phoenicië soos wat deur argeoloeë herkonstrueer is nie. Die grootse argitektoniese wonder van die tiende eeu voor Christus, was in soveel opsigte uniek en het bly staan vir 410 jaar.

Dit was die fisiese gebou. Die belangrikste egter, was die teenwoordigheid van die Here in die tempel. Dit is die kern, die hoeksteen, dit waarop dit werklik aankom.

2 Kronieke 7:1:

Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul.

So oorweldigend was die teenwoordigheid van die Here dat die priesters nie daar kon ingaan nie.

Dit is in die lig van hierdie glorie en uitnemendheid dat ons die taak van die terugkerende ballinge in Esra 7 moet beskou. Die taak is oorweldigend. Nebukadneser het dit sy besigheid gemaak om die Hebreërs te verneder en wou seker maak dat daar van die prag en praal van die tempel absoluut niks oorbly nie. Die diepe verootmoediging en aanbidding van die tempel van Salomo was lankal verkoud en vergete. Die volk het afgedwaal en die profete wat die terugkeer na ware aanbidding afgesmeek het, vermoor en verjaag. God se straf is in die persoon van Nebukadneser in vernietiging en vernedering uitgewoed.

Die verwoesting was so effektief dat argeologiese onsekerheid oor plek en voorkoms vandag nog voortduur. Die onsekerheid is egter nie van toepassing op die geestelike “argeologie” van die tempel nie.

God woon in die lofsange van sy volk, sing die psalmis in Psalm 22:4:

Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!

Daar is geen twyfel nie. Die kernbeginsel van die tempel staan vas: God vul die plek van samekoms met Sy teenwoordigheid. Dit is kosbaar bo alles en die hoogste doel van alles.

Die oorweldigende prag en praal van die tempel van Salomo, was juis ‘n rede vir die moedeloosheid van die terugkerende ballinge. Met al die goedgesindheid en geskenke van die Persiese heerser, was dit nie moontlik om die fisiese glorie van die tempel van Salomo te herstel nie. Persië was veel groter en magtiger as die Babelonië van Nebukadneser. Babelonië was maar net ‘n provinsie van Persië. Die waardevolle tempelelemente, wat deur Nebukadneser weggevoer is, was steeds in veilige bewaring. Een van die opdragte van die Persiese heerser, Artasasta, was om dit alles saam met Esra na Jerusalem terug te stuur, plus wat ookal nodig is uit die koninklke skatkis. [Esra 7:18-21] Ek vergaap my weer eens aan die noukeurige antieke administrasie!

Esra berei hom voor vir die reis na Jerusalem met al die kosbaarhede wat aan hom toevertrou word. So ‘n reis was vol gevare, veral van bendes rowers wat reisigers aangeval, uitgemoor en van alles beroof het. Esra se antwoord vir die gevare is ‘n vasdag en gebed vir beskerming. In sy eie woorde motiveer hy sy ernstige gebed om beskerming.

Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. [Esra 8:22]

Deur sy gebed beskerm Esra sy eie getuienis! Hy kon nie by homself verby kom nie. Hy het dan teenoor die koning getuig van ‘n groot en gedugte God wat sorg en straf.

Volle vertroue op God bring hulle ongedeerd, sonder die beskerming van die soldate van die magtigste ryk op aarde, met al die skatte in Jerusalem aan – waarlik ‘n wonderwerk. Dit was nogal ‘n trek met onder andere 22 ton silwer, drie en ‘n half ton goud, 100 stukke silwerware en fyngepoleerde brons net so kosbaar soos goud. [8:31]

Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie.

Bouwerk aan die tempel wat voor Esra se aankoms begin het, het drupsgewys opgehou. Die mense het na hulle eie bouwerk en eie boerderye teruggekeer. Esra arriveer vol moed en ten volle toegerus om ‘n nuwe inspuiting vir die herstelwerk te wees! Esra 7:28:

Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou.

Wonderwerke kenmerk die lewensreis om die plek van samekoms te herstel. Individuele gebed, kragtige getuienisse, respek van en vir die owerhede en doelgerigte administrasie vorm die fondament van die herstelwerk aan die tempel.

Net so behoort hierdie elemente die pilare van die samekoms te wees. Dit is wat die kerk in essensie is.

Die kerk is ‘n gemeenskap van individue wat die Here in gees en waarheid aanbid, wat die kragtige werking van die Heilige Gees in die alledaagse lewe begeer en ervaar, wat op afgespreekte tye bymekaar kom om Sy teenwoordigheid te vier. Paulus beskryf ‘n christelike lewe wat al die elemente van ‘n goeie kerkdiens bevat.

Kolossense 3:16:

 Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.

Dit is die kerk van Christus. Die aanbidding manifesteer in ‘n groot verskeidenheid denominasies wat elkeen met te min en soms met te veel ywer streef om die kerk van Handelinge te wees, om God se teenwoordigheid te ervaar en Sy woord te hoor en te leef. Denominasies wat die ywer om God se teenwoordigheid te ervaar verloor het, word afgestomp en veroordelend. Die enigste oplossing vir sulke oorgerustheid en selfvoldaanheid, is om die woorde van God aan Salomo weer in te drink.

1 Konings 6:12,13:

Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou.

Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.

Die teenwoordigheid van God in die kerk is die kenteken van ware kerk. Alles wat verkeerd is en pyn veroorsaak kom uit selfvoldane, selfregverdige en hoogmoedige leerstelling en ingesteldheid. Liefde oortuig van genade – niks anders nie. Geen leerstelling kan die beginsels van genade vervang nie.

Jakobus 2:13:

Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

 Mercy triumphs over judgment!

 Die kerk van Psalm 23 waar die feestafel in die vallei van doodskaduwee berei word, terwyl vyande magteloos toekyk en goedheid en guns my volg sodat ek in die huis van die Here kan woon al die dae van my lewe; dit is die tempel van samekoms.

Die prag en praal van Salomo se tempel word in die persoon van die Heilige Gees vir ons herstel. Die ballinge moes tevrede wees met ‘n tempel wat van sy glorie ontneem is. Haggai 2:3:

 Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?

 In Haggai belowe die Here die bannelinge van ouds dat die latere tempel die glorie van die vroeëre ver sal oortref. Haggai 2:9:

Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

Die tempel van die toekoms? Dis ons! Die kerk van Christus is die grootste van al die tempels wat gebou is.

Hebreërs 12:22-24:

Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

Kyk na die beskrywing in Openbaring van die Nuwe Jerusalem – die kerk. Openbaring 21:2,3:

En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

 Dit is ons, die kerk van Jesus, die bruid wat versier word om Jesus se tweede koms te verwag. Wat ‘n wonderlike lewensverwagting!

Skep moed om die tempel te herstel sodat God by ons kan woon. Sy woonplek is by die mense in die plek van samekoms – die feestelike samekoms.

Hoe lyk ons? Kyk hoe mooi is jy, bruid van Jesus: Openbaring 21:11-21:

Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos ‘n kristalhelder opaal…

 Gryp jou Bybel en lees die woorde totdat jy besef woorde ontbreek…