93. Hoor jy die stem van die eeue?

[Openbaring 2]

Al die beelde, metafore en simbole, saam met monsters, ongediertes, getalle en engele met seëls, trompette en bakke kan oorweldigend wees, sodat ons dalk verlore raak in die poging om sin te maak uit die profesie. Word stil en hoor die refrein van die heel belangrikste woorde in die ganse Skrif:

“Are your ears awake? Listen. Listen to the Wind Words, the Spirit blowing through the churches. (Openbaring 2:7, The Message)

Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê, in gewone Afrikaans. Dit is die doel van hierdie studie. Ons kan Openbaring meerdere kere aandurf – ek hoop so – maar vir nou: God is gereed om te praat, om in te gryp in jou lewe en omstandighede op hierdie punt in tyd, sodat Hy jou kan optel en saam met Hom laat loop. Jesus is die sleutel tot hierdie Koningslewe.

Bid saam met my: Here Jesus, dankie vir die Kruis. Dankie vir die majesteit en glorie waarna ons genooi word in U. Dankie vir die eer om die Teenwoordigheid van ons Vader te ervaar en dankie vir die Wind, die Asem van God, die Heilige Gees, wat U woord in ons hart inblaas en -brand vir ‘n dieper en voller begrip wat geloof bou en vrees verban. Ons onderwerp aan U gesag sodat ons ‘n waardige lampstaander vir U lig in die wêreld kan wees. Ons sal oorwin deur die Bloed van die Lam en die woord van ons getuienis.

…want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Joh.5:4-5)

Pergamum(os) – bietjie water by die wyn – kompromie in die kerk.

Die derde kerk wat Johannes aanspreek se naam is Pergamum (Latyn) en Pergamos (Grieks). Die was die grootste stad in Klein-Asië en die streek se hoofstad op daardie stadium vir meer as 400 jaar. Die stad het gespog met die mees indrukwekkende biblioteek buite Alexandrië (Egipte) en die inwoners was gewoond aan baie besoekers uit alle dele van die wêreld.

Daar word vertel dat die woord perkament van die naam van die stad afgelei is. Perkament is van diervelle gemaak en die legende is dat die koning van Pergamum die bibliotekaris van Alexandrië vir sy eie biblioteek wou werf. Die koning van Egipte het summier die bibliotekaris in die tronk gegooi en die uitvoer van papirus (gemaak van die stam van die papirusplant wat aan die walle van die Nylrivier groei) na Pergamum stop gesit. Die scribi (dokumentskrywers) van Pergamum het skielik niks gehad om op te skryf nie en het die stokou “tegnologie” van perkamente, wat volgens sekere bronne reeds in die vyfde eeu vC gebruik is, laat herleef. Perkament is diervelle wat met spanning en leem behandel word en meer duursaam as papirus is. Pergamum het die handel in perkament vir dekades daarna beheer.

Die beeld van Jesus is met die twee-snydende swaard in Sy hand. Die Romeinse gowerneurs het ‘n kort, tongvorm swaard gedra en die reg oor lewe en dood in regspleging gehad. Christus is die ware regter oor lewe en dood. Hy oordeel perfek – altyd genadig, regverdig en met innige meegevoel. Hy kyk diep in die mens se hart en kan die diep oortuigings van die mens onderskei.

‘n Woonplek kan twee betekenisse hê: ‘n plek waar permanent of tydelik gewoon word. Die woord wat hier gebruik word is vir ‘n tydelike woonplek. Satan se troon kan verwys na die reuse tempel van Zeus, die hoofgod van die Romeine, waarin ‘n groot standbeeld wat die oorlog tussen die gode of reuse uitbeeld, Zeus se troon gevorm het. Daar was ook ‘n tempel vir die mediese god, Asclepios, wie se simbool die slang om die paal was en vandag nog die mediese simbool is. Duisende mense het daar kom offer met die hoop op genesing. Boonop was Pergamum lojaal in Caesar-aanbidding en het ‘n groot tempel te ere van Caesar gehad.

Die woord martelaar se oorpronklike betekenis was getuie. Omdat soveel Christene as gevolg van hulle getuienis doodgemaak is, het die woord in volksmond diegene wat hulle lewe gee vir die Evangelie aangedui. Pergamum se kerk word gelukgewens dat hulle getrou gebly het in ‘n seisoen van brutale vervolging waarin Antipas gestref het. Jesus gee aan hom ‘n eretitel – getroue getuie – net soos wat Hyself die martelaar was vir die boodskap waarvan Hy getuig het.

Die kerk word gewaarsku om nie afgodery en kompromie toe te laat nie. Bileam was ‘n struikelblok vir die Israeliete en die Nikolaïete het ‘n permissiewe leer verkondig waarin die morele reinheid en woordbeginsels afgewater is. Jesus waarsku daarteen. ‘n Christen is anders, afgesonder. In Grieks is die woord hagios. Ons leef sonder kompromie selfs al gaan ons met ongelowiges om. Soos Paulus dit beskryf:

Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. (1 Korintiërs 9:21,22)

Net die Heilige Gees kan ons in staat stel om in wysheid die ongelowige te akkommodeer sodat ons nie met hoogmoed en voorgee die wêreld irriteer nie.

Reinheid kom deur die Woord.

 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het. (Efesiërs 5:26)

God wat gou kom dui op Jesus se aktiewe rol in Sy kerk waarin Hy werk om te reinig sodat Hy kan seën en laat groei. Die verborge manna was in Joodse denke al die Messiaanse seëninge van die Verbond – ‘n ware fees van sielevoeding. Jesus is die Brood van die Lewe. (Johannes 6:31-35) Hy gee Homself as die hemelse porsie met al die seëninge van God se glorie in Hom.

In antieke tye was ‘n klippie simbolies van ‘n kosbare geskenk. Die Jode het klein steentjies ook met manna verbind. Wit en swart klippies het die besluite van juries aangedui – wit vir lewe en swart vir dood. In die Romeinse gemeenskap was ‘n steen (Tessera steen) ‘n bewys van voorregte vir ‘n oorwinning in die spele of afgetrede vegters (gladiators). In die Romeinse leer was ‘n wit dag ‘n vakansiedag ten tye van ‘n beleg en is aangedui deur die trekking van ‘n wit boontjie. ‘n Steentjie is dikwels aan die persoon gedra met die naam van ‘n god daarop, sodat die hulp van daardie god aangeroep kan word soos nodig. Dit was belangrik dat die naam van die god geheim is, vir meer krag. Dit is werklik asof Johannes al die bygeloof en vals hoop in die gemeenskap bymekaar gooi en Jesus as die antwoord vir alle hoop en alle vrae ooit, voorhou.

Die belofte is dat die getroues ‘n nuwe naam kry. Nuut kan beteken: neos – meer van dieselfde, kwantitatief soos ‘n nuwe potlood maar daar is baie van dieselfde soort of kainos – uniek, soos daar nog nooit was nie, kwalitatief, een van ‘n soort.

Openbaring praat dikwels van nuut in die sin van een van ‘n soort: die nuwe Jerusalem (3:12), ‘n nuwe lied (5:9), ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde (21:1,5).

‘n Persoon met ‘n nuwe naam het tradisioneel nuwe status in die Here verkry – Abram na Abraham, Jakob na Israel, Simon na Petrus en Saulus na Paulus as voorbeelde.

Die nasies sal sien dat jy gered is, Jerusalem, al die konings sal sien dat jy mag het. Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die Here sal jou soos ‘n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ‘n koninklike tulband vashou. (Jesaja 62:2)

So ‘n lieflike loon en kroon van Jesus self. Onthou die nuwe Jerusalem is die kerk – dis vir ons!

Tiatira – die korrupte kerk

Johannes skryf die langste brief aan die kleinste en eintlik minder belangrike stad van die sewe wat genoem word. Tiatira was in die vallei tussen Pergamum en Sardis geleë en moeilik verdedigbaar as gevolg van die ligging. Dit was ‘n heiligdom van fortuinvertelling. Lydia, die purperverkoopster, het in Tiatira gewoon. (Handelinge 16:14) Die stad was bekend vir handelsgildes (klubs met geheime ooreenkomste) wat elkeen onder die bekerming van een van die gode bedryf is. Die gildes het bankette gehou met die vleis wat eers aan die beskermgod geoffer is; ‘n groot probleem in die Christen gemeenskap. Indien ‘n Christen sou kies om nie hieraan deel te hê nie, sou hy prakties gesproke van alle sosiale omgang verban wees.

Die beeld van Christus in hierdie brief is dreigend soos die beskrywing in Daniël 10:6. Woede word beklemtoon in die brons voete wat onbeweeglike mag en grootsheid simboliseer. Seun van God is die gesagstitel van Christus.

Die kerk word geprys vir liefde, diens, geloof en volharding, sowel as groei in werke en goeie dade. Dit is ‘n wonderlike kompliment vir die gemeenskap van Christene onder moeilike omstandighede.

Die kritiek kom met die simbool van Jesebel, die vrou van koning Agab van Israel. Toe Agab sy Phoeniese bruid na Israel bring, het hy vir haar ‘n Baältempel opgerig. Die volk het hom kwalik geneem omdat hy Baälaanbidding in Israel toegelaat het. Elia het woedend sy optrede veroordeel. In antieke tye het nasies dikwels geglo dat hulle gode territoriaal was. So het ou Israel en Juda ook geglo, totdat God in die ballingskap Homself aan hulle as alomteenwoordige God openbaar het. Jesebel het ‘n simbool van owerspel geword om Israel se ontrouheid te illustreer. Sy is ‘n simbool van negatiewe kompromie in die kerk.

Die hele boek Hosea gaan oor die simboliese, owerspelige verhouding van God met Israel. Hosea is in opdrag van God, met ‘n prostituut getroud. Elke nou en dan het sy weggeloop met ander mans, waarna hy haar gaan terughaal. So is God gereed om ons ontrouheid te vergewe en ons verhouding met Hom te herstel. Vals lering en afgodery lei ons weg van Hom af. Die Heilige Gees en Sy woord is al wat ons van verkeerde leerstelling beskerm.

En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. (Hebreërs 4:13, OAB)

Die kerk is op ‘n siekbed geplaas, oneffektief en swak, totdat bonatuurlike reiniging en genesing plaasvind en die funksies hervat kan word.

Die dieptes van Satan, of die diep geheimenisse van Satan soos die NAB dit stel, is die wanhoop en verwarring wat vals leringe in die kerk bring. God red altyd die oorblyfsel en plaas geen las te swaar op hulle nie. Soms ondervind diegene wat teen vals lering opstaan, selfs vervolging binne die kerk. Een van die gawes van die Heilige Gees is die onderskeiding van geeste. (1 Korintiërs 12:10) God gee wysheid aan almal wat vra sonder verwyt. (Jakobus 1)

Die kerk word aangepor om te bely. Belydenis is altyd die weg tot seën en loon. ‘n Kerk wat nederig sonde bely deel in die oorwinning van Christus oor boosheid en die belofte aan Jesus van Psalm 2:8,9:

Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting. Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos ‘n kleipot.”

Die môrester is die titel van Jesus in teenstelling met Lucifer wat die môrester van die hemel was voor sy val. Dit is die nuwe dag, die loon van die nasies en ons die kerk, sal skyn soos die sterre. (Daniël 12:3)

En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte. Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. (2 Petrus 1:19-21)

Laat jy toe dat die Heilige Gees jou meevoer? Die OAB (Ou Afrikaanse Bybel) vertaal dit: deur die Heilige Gees gedrywe. Ek hou daarvan. Dit dui op die bestuur en leiding van die Heilige Gees. Dit is ‘n lewe van gehoorsaamheid en waarheid, sonder verwarring in vals lering.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s