[Openbaring 3]
Die laaste kerk in die reeks van sewe, kry geen kompliment nie. Eintlik is dit ‘n skrikwekkende onderskeid om te maak. In ‘n gebroke, onvolmaakte wêreld is die verwagting om volmaak te wees, geweldig. Dit is duidelik uit die voorskrifte aan die ander kerke dat hulle nie as volmaak beskryf word nie, maar wel komplimenteer word. Tog sê Jesus self:
“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matteus 5:48)
En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. (Jakobus 1:4)
In hierdie twee verse word dieselfde woord vir perfek in Grieks gebruik naamlik teleioi. Die definisie daarvan is pragtig en bemoedigend, nie ‘n onbereikbare teiken nie. Dit dui op gehele genesing van tekortkominge en geestelike volwassenheid. Volmaaktheid in Christus is ‘n lewe van wysheid en kragtige besluite wat met hulp van die Heilige Gees die regte reaksie in moeilike omstandighede bepaal.
Laodicea – die louwarm kerk
Daar was soveel as ses stede met hierdie naam gedurende die eerste eeu nC. Hierdie Laodicea was belangrik as gevolg van sy ligging op die pad na die Ooste. Die stad het wydsbeen oor die hoofweg gelê. Reisigers het by die hek van Efese ingekom en by die hek van Sirië uitgegaan. Dit was bekend as ‘n bank en finansiële sentrum met ‘n aktiewe kommersiële lewe. Die inwoners was ryk genoeg om hulle eie stad te herbou na die aarbewing van 17nC. Hulle het geleef met die houding dat hulle nie God of Rome nodig het nie.
Die stad was bekend vir die vervaardiging van klere, veral pragtige, sagte, swart wol. Dit is veral gebruik vir die mantel wat oor ander klere gedra is en die trimita genoem is. Die klere was wonderlik, maar hulle was naak in God se oë.
Laodicea was ook ‘n mediese sentrum wat bekend was vir oogsalf. Oogbehandeling was skaars in die antieke tyd en blindheid het maklik ingetree by onbehandelde oogtoestande. Die oogspesialiste van Laodicea kon nie hulle geestelike blindheid behandel nie, wat nog diagnoseer.
Die woorde van die opgestane Jesus spreek tot die trots en welvaart van die inwoners. ‘n Groot hoeveelheid Jode het soveel geld vir tempelbelasting na Jerusalem gestuur, dat die goewerneur ‘n beperking op valuta wat uitgaan geplaas het. Na die regulasie in plek was het die Jode hulle tempelgeld in goud betaal, maar dit is as smokkelware beskou en in beslag geneem. Die Jode was welvarend en invloedryk.
Jesus is Amen, ‘n eenvoudige verklaring wat volgens Jesaja 65:16, die volle waarheid waarborg – die Naam van God wat getrou is. Dit is waarheid bo all twyfel, net soos Jesus altyd gesê het: Voorwaar, voorwaar (OAB) en in die NAB: Dit verseker ek julle. In Grieks is dit amen, ‘n woord wat so geliefd geword het, mens sou dink dit is oorspronklik Afrikaans. Dink vir ‘n oomblik hoe ‘n gebrek aan waarheid, dinge wat mens sonder voorbehoud op kan staatmaak, in die wêreld vandag is en juig in die waarheid van God se woord en Sy beloftes. Woorde wat jou toekoms uitbytel én waarborg – prys die Here.
Jesus is die getroue getuie. Die tipiese skryfstyl van herhaling in ‘n koeplet, sodat die hoorder kan onthou, word weer toegepas.
Jesus is die begin van die Skepping volgens Johannes 1:3. In Hom is alle dinge.
God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. (Kolossense 1:16)
Sonde en dood is die keuse van die mens. God is lewe en gee lewe. Hy skep en red.
In die buurdorp van Laodicea was warmwaterbronne. Die water is warm of koud gedrink en was helend van aard. Indien die water lou was het dit die mense letterlik naar gemaak. Die woorde wat gebruik is, het die uiterstes aandgedui: koud = psuchros – vriespunt en warm = zestos – kookpunt.
Dit is moeilik om deur te breek in die gemoed van onverskillige mense. Onverskilligheid – ‘n gehele gebrek aan oortuiging of passie – word dikwels aangedui as ‘n ysige houding. Die enigste deurbraak moontlik is in ‘n effektiewe, kragtige en veral liefdevolle kerk. Liefde oorkom al die hindernisse.
Dit is onmoontlik om neutraal teenoor Jesus te staan. Hy staan vir altyd in die geskiedenis van die mensdom om verwerp te word of aanvaar te word. Hy het ‘n naam wat almal ken en wat altyd reaksie uitlok. Tog is daar baie wat in Sy naam dinge doen, wat Hom nie ken nie. Die kerk is kragteloos sonder Jesus. Dis net ‘n lewe van aanbidding en ‘n warm, intieme verhouding met Hom, wat die antwoord vir onverskilligheid is.
Die oordeel is op die punt af, sonder om doekies om te draai.
Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. (Openbaring 3:17)
Die oplossing vir hierdie armoede en gebrokenheid is in die volgende versie. Goud wat deur vuur gelouter is, is die kosbare getuienis van redding en herstel in jou eie lewe. In die vuuroond van die lewe, loop die vierde man saam met jou en leer jy Hom in Sy wonderwerkende krag ken.
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. (1 Petrus 1:7)
Geld of goud kan nooit ons karakter verander nie. Dit is die liefdevolle inwerking van die Heilige Gees wat ons diepste wese aanraak en so ons denkpatrone rig.
Net so is dit sedert daardie eerste sonde, net die Here self wat ons naaktheid met onskuldige bloed bedek (Genesis 3:21). Dit is die klere wat Hy gee, wat ons aantrek vir die feesmaal van Sy voorsiening. ‘n Sondige lewe laat jou in die skande kom en ontbloot jou naaktheid voor die wêreld. Ons vernedering word deur Jesus self bedek en Sy herstel laat ons weer ons kop oplig om die lewe in die oë te kyk.
“When I passed by you again and looked upon you, indeed your time was the time of love; so I spread My wing over you and covered your nakedness. Yes, I swore an oath to you and entered into a covenant with you, and you became Mine,” says the Lord God. (Ezekiel 16:8, NKJV)
Die Here beklee ons met ‘n kleed van geregtigheid om ons waardig in Sy teenwoordigheid in te neem.
I will rejoice greatly in the Lord, My soul will exult in my God; For He has clothed me with garments of salvation, He has covered me with a robe of righteousness, as a bridegroom puts on a turban, and as a bride adorns herself with her jewels. (Isaiah 61:10)
Die kerk is waar mens toegerus word vir ‘n lewe in die Teenwoordigheid van die Here. Die gehele inhoud van Romeine en Galasiërs is daarop gemik om die kerk te reinig en voor te berei vir ‘n verhouding van volheid. Die Fariseërs het pragtige mantels gehad, maar was naak voor Jesus.
Put on the Lord Jesus Christ. (Romans 13:14)
… and have put on the new man who is renewed in knowledge according to the image of Him who created him (Colossians 3:10).
Alles in ons lewe is afhanklik van ons eie insig, met ander woorde hoe ons dit beskou. Geestelike oë, of begrip van die onsienlike, maak ‘n diep en blywende verskil in besluite en ek glo, selfs fisiese gesondheid wat die verloop van jou lewe bepaal. Net om leuens van waarheid te onderskei verg insig en is bepalend in jou werk, opvoeding en verhoudings.
Hoe mens kyk, hang van jou lewensbeskouing af. Hoor wat sê Paulus hieroor as hy blinde denke verduidelik:
But their minds were blinded. For until this day the same veil remains unlifted in the reading of the Old Testament, because the veil is taken away in Christ. (2 Corinthians 3:14)
Omstandighede kan jou verblind, sodat jy nie met insig kan kyk nie.
Because of this our heart is faint; Because of these things our eyes grow dim; Lamentations 5:17
Sigh therefore, son of man, with a breaking heart, and sigh with bitterness before their eyes. Ezekiel 21:6
Bitterheid en onvergewensgesindheid maak jou blind. Jy kan eenvoudig nie gesonde verhoudings geniet of effektief werk nie.
In Jesus kry jy genesing, oogsalf. Jy sien die leuen, maar meer belangrik sien jy die uitkoms.
Die storie van Hagar in die woestyn is altyd vir my ‘n les. Sy het die woestyn ingevlug vol bitterheid en selfbejammering oor wat Sarah aan haar gedoen het. Soos ek die storie lees was haar lot heel onregverdig en Sarah was katterig en dislojaal. Hagar het rede vir hartseer gehad. Daar het sy in ‘n toestand van dors beland en haar kind eenkant gesit om nie te aanskou hoe hy van dors doodgaan nie. Vreeslik.
God wys haar die put met water – uitkoms. Ek is oortuig Hy het nie gou ‘n put geskep nie. Die put was daar. Hagar het dit nie gesien nie.
Lees gerus die storie in Genesis 16. Sy gee die put ‘n naam wat juis die feit onderskryf: Lagai-Roï.
U is ’n God wat sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien? (Genesis 16:13,14)
Ons belangrikste gebed is die gebed van die blinde man; ek weet ek het dit al dikwels gesê, maar ek vergeet dit nog – ai! Here, dat ek kan sien!
God se tugtiging, teregwysing, korreksie bring die vredevolle vrug van geregtigheid (Hebreërs 12). Ons is nooit onseker nie. Onthou: Hy IS liefde en kan niks doen as dit nie uit liefde gebore is nie. Hy sal ons deurdra met agapan, wat soos volg definieer word:
An unconquerable attitude of goodwill, which nothing can turn into hate or indifference.
Sy liefde word ook beskryf met philei: the dearest and tender affection.
Die straf, wat ons tog so bang is om oor te praat soos wat dit in Spreuke 3:12 geskryf is, is noodsaaklik vir ons om ons verkeerde pad raak te sien. Dit dwing ons om weer te besin en die fout te sien [elegchein in Grieks] en so ons lewenswyse fyner in te stel, sodat ons die seën kan geniet. Dit wat vir ons soos straf is, is die helder lig van Jesus op ons lewe wat sonde ontbloot en ons verkeerde denke transformeer.
Dissipline is ‘n saak van vreugde. Efesiërs 4:17-19, Psalms 94:12, Job 5:17, Hebreërs 11:6-8,12. Dit is die druif wat in die wynpers onder druk is, waaruit die wyn gemaak word.
Jesus staan by die deur en klop. Hy is die perfekte heer wat nooit Homself inforseer nie. Die keuse is altyd vir ons om Hom nie in te laat nie. Die deurknop van jou hart sit aan die binnekant. Hy klop as die liefling van jou siel.
Geen ander godsdiens het die visie van ‘n god wat die mens opsoek nie.
In die antieke tyd was ontbyt gejaag en middagete ‘n saamdra, kosblik-tipe ete. Die aandmaaltyd [deipnon ] was ‘n rustige familie byeenkoms om te praat en te geniet en die mees belangrike maaltyd van die dag. Dit is hier waar Jesus saam sit en die geselskap geniet.
Die loon vir die kerk is groots. ‘n Troon in die ooste was meer as ‘n sitplek, eerder ‘n bank, waar meerdere persone kon sit. Op daardie troon sal hierdie telerustellende kerk saam met Jesus sit! Is dit nie ‘n blye getuienis van herstel en seën nie?
Dis ons Jesus. Hy sal ons opsoek en bring by die Sy troon wat Hy met ons deel.
… and raised us up together, and made us sit together in the heavenly places in Christ Jesus. (Ephesians 2:6)
Afrikaans:
Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee,
Dis nie vir eendag nie. Dis vir nou. Dis nie vir daar ver nie. Dis vir die onsienlike hier by jou met onmiddellike impak in jou lewe.
Neem jou plek in. Moenie in die rioolpype van die lewe wegkruip nie. Raak ontslae van die sonde, trek jou aan, kyk diep en sit aan by die feesmaal.